Ek en myself in Italië

Eindelik sit ek lank genoeg stil om my eerste woorde te wissel oor my 2 weke in Italië.

Na ‘n epiese beplanning – en spaar veldtog kon ek my tasse pak, maar dit was nie so maklik om by die lughawe uit te kom nie. Net mooi op die dag wat ek die 10 ure lughawe toe moet aandurf, was daar ‘n landswye staking, om nie eers te praat van die padversperrings op elke liewe dorp waardeur ek moes ry Johannesburg toe nie. Moes inderhaas ‘n ander plan maak om by die lughawe uit te kom, maar kon darm op nommer 99 vanaf Kimberley ‘n vlug haal OR toe van waar die langverwagte wegbreek na Italië kon begin.

Hier my Italië in ‘n oogopslag

  • Istanbul: pragtige veilge stad 🌷
  • Venesië: ruik soos dam 😉
  • Milan: Duomo & Da Vinci🚁
  • Die Como Meer: Menaggio, Varena & Bellagio, prentjie mooi 🌄
  • La Spezia :was maar net slaapplek
  • Cinque Terre : Staproetes tussen die 5 dorpies, kan baie mooi wees in mooi weer🏃‍♂️
  • FIrenze: almal dink aan kuns, maar ek dink aan roos tuine en snaakse padtekens🌹
  • Pisa: klim die skewe toring uit en ontdek klokkespel heel bo🎼
  • Rome: Hoogtepunt van my reis!👌
  • Napels ; Daar loop wragtig waar nog ‘mobsters’ rond en ek het nie veel van die stad van pizza gedink nie🍕
  • Amalfi Kus: Amalfi & Positano, pragtige suurlemoen dorpies🍋
  • Pompeii: by hierdie antieke stad strand ‘n staking my🌊

Istanbul

Ek het gevlieg met die Turke en is baie beïnduk met hulle. Danksy hulle kon ek op die eerste en die laaste dag ‘n begeleide toer van Istanbul meemaak.

Istanbul is heeltemal anders as wat ek verwag het dit gaan wees. Ek het ‘n derde wêreld land verwag, maar wat ek daar gekry het het alle verwagtinge oortref. Die stad is abnormaal skoon en netjies. Ek het nog nooit sulke netheid iewers anders gesien nie. Wat ek ook nog nooit gesien het nie is hoe hierdie mense diere behandel. Orals is rondloper diere, maar hulle is so goed versorg en mak. Hulle word gevoer en versorg deur die mense van die stad. Dit is die 2 goed wat ek altyd sal aan dink: abnormale netheid en goedversorgde diere.

Istanbul
Tulpe in Istanbul, en ons het al die tyd gedink Nederland het alleenreg.
Istanbul
Die Blou Moskee
Istanbul
Mielies op wiele langs die Hagia Sofia
Istanbul
Tuine tussen die Blou Moskee en Hagia Sofia

Venesië

Na my dag in Istanbul is ek Venesië toe. Die eerste ding wat ek gedink het toe ek uit die vliegtuig kom is dat dit soos plaasdam ruik. Dit was al laat toe ek by my slaapplek uitkom so kon eers die volgende dag die damreuk gaan soek.

Italië

Vroeg uit die vere die eerste môre en ek begin ‘n verkenningstog wat skrik vir niks. Ek is later so verwaal dat ek nie idee het van waar ek is nie. Wanneer mens verwaal is jy op jou eie, maar wanneer jy ‘n landmark raakloop is daar mense oral. Dit was my eerste ontnugtering. Mense oral. Ek het gedink ek is daar in die stil seisoen want dit was nog ‘n ent weg van somer. Ek was verkeerd. Later hoor ek dat hulle nie meer af seisoene het nie. Die 3 koudste maande is wel stiller, maar hulle is nooit meer ‘alleen’ nie. Die inwoners sê dat hulle glad nie meer hul eie stad kan geniet nie omdat die toeriste alles oorneem. Dit is noggal hartseer vir hulle. Mens dink nie daaraan nie.

Ek hou nie van so ‘n gedruis om my nie en het dus ander plekke gaan soek wat mooi is. Die beste een wat ek gekry het was die tuine an die uithoeke van die eiland. Om van hier af weer by die huis te kom was ‘n storie en ‘n half. Dit het ure en ‘n paar blase gevat voor ek dit kon regkry.

Italië

 

Milan

Na Venesië is ek na Lake Como.  My trein stop in Milan en ek gaan stoor my bagasie. Ek wou baie graag die Duomo gaan uitklim, maar die hordes mense wat my daar ingewag het, het my van plan laat verander. Die klimmery kon nie gebeur nie want die bordjie sê dat die gemiddelde wagtydperk 90 minute is nadat jy eers in ‘n ander ry gaan staan het om ‘n kaartjie te koop. Ek het ‘n kans gevat by die kaartjieplek, maar nugter weet hoe daardie bondel- almal- saam aksie werk. Moes maar tevrede wees met ‘n foto  en die vooruitsig van die meer.

Italië

 

Lago di Como

Het daar in ‘n Hostel gebly met ‘n miljoen rand uitsig. Van daar kan mens net oor die meer staar en tot by die Alpe in die vêrte sien. Die dorpies hier rond is prentjieboek mooi, maar met heeltemal te veel steil trappe. Die dorpies is teen die hellings ingedruk, daar is dus nie paaie nie, so die mense moet elke dag daai trappe na hul huise toe op- en afklim. Ek is sommer klaar uit asem as ek dink aan sakke inkopies of tasse daar op en af te sleep. Het geen oorgewig mense gesien nie, so die trappe is tog goed. Ek het ook nie vir George raakgeloop nie. Hy moet seker mombakkies aansit wanneer hy sy neus by die huis uitsteek, want hier is net te veel mense wat hom sal bestorm.

Italië
Italië
Italië
Italië

 

La Spezia

Van die prentjie mooi Como meer dorpies, gaan ek Wes na die kus toe. Dit  klink makliker gesê as gedaan. Die verkeer was so belaglik dat my bus ‘n uur laat by die treinstasie aangekom het. Ek het dus 2 treine gemis. Die volgende trein was laat, met die gevolg dat ek die volgende 2 treine gemis het en nuwe kaartjies moes koop wat arms en bene gekos het omdat dit ‘last minute’ kaartjies was. Dit bederf noggal ‘n dag.

Daar aangekom was ek noggal moeilik. Laat bus. Verskeie gemiste treine. Kettingreaksies. Bewolkte weer. 20 minute se tas sleep tot by die Hostel en ‘n gewaarwording dat ek dalk ‘n kiem onder lede het. Gelukkig is die Hostel iets uit die boeke en verbreek alle steriotipes vir daardie tipe verblyf. Ek deel wel ‘n kamer met n paar ouerige mense, een van wie met ‘n suurstof masjien slaap. Die ding brrrr die hele aand tussendeur die klank van iemand wat lug suig deur n pyp.

Chinque Terre

Italië Riomaggiore
Italië
Italië Corneglia
Italië

Die rede vir hierdie landuit uitstappie na die kus was om die staproetes tussen die dorpies van die Chinque Terre te gaan stap. Ongelukkig het ek teen stapdag ‘n morsige verkoue en dit sous boonop. Maar as ‘n mens so vêr gekom het, bly jy nie in die bed nie. Daar wanddel ek toe in my helder geel reënjas en wilde pienk sambreel tussen die dorpies deur. Die dorpies is baie klein en oulik, maar ek wil net een ding weet. Waarom in die lewe verf niemand hulle huise nie? Dit was ‘n groot telleurstelling vir my. Hierdie oulike piekenienie dorpies wat so erg vervalle lyk. Ek hoor dit is veronderstel om deel van die ‘Italian charm’ te wees, maar dit ‘charm’ my glad nie. Ek wil almal net Plascon toe stuur.

Italië

 

Firenze

My 3 Medlemons en buisie ACC moes my maar deurhaal want die volgende oggend gaan ek Florence toe. Dit reën steeds en ek moet my tas in die reën al die pad terug sleep na die stasie toe. Gelukkig is die treine meer betroubaar vandag en daar is geen kettingreaksies nie. Aand een woon ek ‘n pizza en gelato klas by en loop Suid Afrikaners daar raak, en ek waardeer die bietjie geselskap. Hulle wys my ook so ‘n paar van die aantreklikhede en ek bou ‘n kaart in my kop van Firenzi vir die volgende dag.

Italië Roostuin Florence
Italië Roostuin Firenze
Italië Duomo

 

Pisa

Na ontbyt, trein ek Pisa toe, want mens kan nie so naby wees en nie die bekende toring gaan sien nie. Ek is baie gelukkig hier en kry die laaste kaartjie vir die volgende tydafdeling om die toring te gaan uitklim. Het my heel misgis met hoe skeef die ou is en sommer met my eerste tree val ek amper om. Heel bo is daar ‘n klomp groot klokke. Who knew?!. Mens sien dit glad nie op al die kiekies nie.

Italië Toring van Pisa
Italië Toring van Pisa
Italië Pisa

Ek ontdek hier dat my allerbelangrike pakkie sakdoeke weg is. My gevolgtrekking was dat een of ander ‘sucker’ my gesakkerol het omdat hulle gedink het die vierkant in my sak is ‘n kamera of ‘n foon. Wonder bo wonder met die afgaan slag kry ek dit op ‘n trap. Wat ‘n groot geluk vir my! Dit is maar die klein dingetjies wat mens gelukkig maak wanneer jy ‘n hardnekkige kiem het wat nie wil padgee nie.

Terug in Firenze doen ek net ligte verkenning en besluit om relatief ‘vroeg’ in die bed te kom om te probeer die kiem doodslaap (dit het nie gewerk nie).

Vespas word toe nooit gery nie

2de more is vroeg uit die vere want dit was Vespa toer dag. Die ding waarna ek die heel meeste uitgesien het. Maar behalwe vir die reën, loop te veel ander dinge skeef. My bloed kook nou nog as ek dink aan al die drama. Daar was toe geen Vespa toer nie, en die hele dag was meestel gemors danksy ‘n minder goeie toermaatskappy.

Italiê Toskaanse vark
Blink is sy snoet en tong gevryf
Italië
Toskane Italië
Italië Ou Brug Floraans

 

Alle paaie lei na Rome

Ek het Toskane verlaat vir die Ewige Stad. Rome het my aangenaam verras al was daar soveel mense. Ek het gedink Rome is net ‘n ‘tourist trap’. Dalk is dit ‘n lokval vir toeriste, maar ek was mal oor hierdie ou stad en sou defbeslis, as ek geweet het wat ek nou weet, langer daar gebly het.

Die oorspronklike plan was om direk na aankoms na Peter’s Basilica te gaan, maar daar kom ek toe die langste tou van die week teë. Hulle maak gelukkig al hulle deure en mesdeursoekers 7am oop, die nuwe plan ws dus ‘n Maandag ‘bright & early’ besoek.

Wolbreuke en pasta

Ek maak ‘n ander plan en besluit om rond te wandel totdat my pasta klas begin. Dit klink  goed en gaaf. Tot die wolkbreuk. Du Du Du Duuuuuu. 🎼Nie eers my reenjas én sambreel kon my droog hou nie. Daar kon vissies lewe in my skoene. Ek het later uit pure moedeloosheid op ‘n vensterbank gaan sit, ‘n semi tent met my reënjas gebou en my skoene onderstebo teen die muur laat staan. Die reën het seker eers na ‘n uur bedaar.

Italië Rome
Rome
So mooi bedruppeld na die reën

Hoekom het ek bly sit in die reën? Wel dis nie so maklik om die metro stasis te vind as jy nie jou omgewing ken nie, en daar is groot dele wat nie metrostoppe het nie. En dis hoekom ek my bevind het op ‘n vensterbank. Dit was net die maklikste opsie op daardie oomblik. Ek sou defbeslis eerder ‘n warm koffie onder bersie wou geniet het. ‘n Fotograaf het waardeer dat ek en my helder reënafweerders daar gesit het. My bedremmelde hopie moes seker ‘n interessante beeld gemaak het teen al die grys rondom my, want toe ek weer sien neem hy fotos. Sou graag wou weet wat hy daai fotos genoem het.

Na die pasta was dit darm droog en ek kon weer loop en verken. Kon met moeite die ‘Fontana di Trevi’ en ‘Piazza di Spagna’ opspoor, maar dit lyk asof daar ‘n mierplaag is wanneer mens aankom en al die mense sien. My gunsteling ontdekking van die hele tyd was egter die Pinocchio winkel kompleet met ‘n Geppetto wat staan en poppe kerf of sy houtwerkbank.

Gratis Sondag

Kolosseum

Weer vroeg ut die vere uit op die nuwe dag want vandag is die eerste Sondag van die nuwe maand en dit beteken gratis ingang by die Kolosseum en die Forum. As mense elle lange toue staan waar hulle n aardige bedraggie moet betaal, hoe gaan ‘n gratis ingang tou lyk? 8 uur klok ek in in die ry vir die 8:30 opening. Daar is reeds seker 300 toeriste, as dit nie meer was nie,in die tou, maar toe hulle oopmaak beweeg dit verbasend vinnig. Dit het my ontstel dat mense lawwe fotos daar binne neem. Dit lyk asof niemand dink aan al die tragedie wat hier afgespeel het nie. Asof dit net nog ‘n toeriste aantreklikheid is wat mense van hulle lysis moet af-‘tick’, maar dat hulle nie ‘n idee het waarom dit so ‘n bekende plek is nie. Dis nou maar my opinie.

Kolosseum
Kolosseum

Die Forum

Die Forum oorkant die pad vang my onkant. Ek het gedink ek gaan net gou vining sien wat daar te siene is en aanbeweeg. Maar eerstens is die oppervlak massief, en tweedens, die ruïnes wat daar staan laat my verstom. Ek probeer die ‘dots connect’ tussen dit wat oorgebly het en toe dit nog heel was, maar ek sukkel. Ek kan wel sien dat Rome al daai jare terug ‘n ‘spectacular’ (ek kan glad nie aan ‘n beter beskrywende Afrikaanse woord dink nie, tensy ek vir Paula begin aanhaal) stad gewees het. Pinochio en die Forum loop hand aan hand wat my gunsteling besoeke van die vakansie betref.

Italië Roman Forum
Italië Roman Forum
Italië

 

Laaste opstaan in Rome

Half 6 die volgende môre was ek oppad, wou in die vroeë oggend sien hoe lyk van die plekke sonder mense. Wou net ‘n bietjie stilte beleef in hierdie ou stad. Maar ek was nie die enigste een wat daardie behoefte gehad het nie want oral is klaar mense. Maar darm nie naastenby so baie soos in ‘gewone’ ure nie.

Rome het my die meeste verras. Ek wou net die Kolosseum besoek het (en die Appian way), maar ek het baie gehou van Rome wat ek nie gedink het ek sal nie, en as ek eendag weer kan teruggaan sal ek meer tyd daar spandeer.

Pompeii en Amalfi

Laaste stop was Napels. Maar dit was ‘n vieslike plek vir my. Ongelooflik vuil en ek kon nie help om te wonder of die mense vrywillig daar bly nie. Maar my doel was nooit om Napels te besoek nie. Ek wou Pompeii en die Amalfi kus gaan sien. Dit was net sleg om na ‘n mooi dag terug te keer na hierdie donker vuil plek.

Amalfi en Positano

Elkgeval, teen die tyd wat ek my Amalfi skedule moes aanpak was ek al goed moeg. Ek het dus heelwat mider gesien as wat die plan was. Ek kan wel sê dat die Amalfi kus baie meer ‘brownie points’ as die Chinque Terre kus kry. Dit was net vir my mooier en oper. Hulle is erg oor hulle suurlemoene en keramiek hier en dit versier alles langs die kus af. Plus ek kon op ‘n paar veerbote ry!

Pompeii

Laaste dag is Pompeii dag. Die preservering van alles is indrukwekkend, maar vir een of ander rede het ek meer gehou van die Forum. Kan nie ‘n tasbare rede vir dit gee nie. Dit was nou maar net so. Nes die Forum, is Pompeii ook ‘n baie groot plek. Dalk groter. Mens kan maklik ‘n hele dag hier rondloop. Ek het egter net ‘n halwe dag vir Pompeii begroot want ek wou die ander helfte in Sorrento deurbring.

Maar ek het nog ‘n klein bietjie ongeluk oor. Murphy het nog nie genoeg moeilikheid veroorsaak nie. Toe ek by die Pompeii stasie aankom hoor ek die vervoerdienste staak! Asof ek nie genoeg daarmee te doen kry by die huis nie!! En daar sit ek gestrand in die middel van êrens die dag voor my vlug!

Ek weet nie wat was erger nie, die gestrand wees of die boeliebeef blik wat hulle van die trein gemaak het toe hulle weer begin ry. Daar was onmoontlik baie mense ingedruk. Ek kan eerlikwaar nie sê hoe dit moontlik was om net by elke stop nog in te prop nie. Jy staan terwyl net meer en meer mense in druk terwyl jy aan een arm hang soos ‘n vink teen die dak. Nie dat mens sou kon omval  met al die hordes om jou nie. Ek het net later daar gestaan met toe oë sodat ek nie my varkies moet verloor nie.

En met daai boeliebeefblik treinstorie was my vakansie in Italië om.

Italië op ‘n stokkie

Alleen wees en ‘n volgende keer

As ek gelukkig genoeg is om weer te gaan sal ek meer tyd in Rome en die Amalfi kus spandeer, en bly op die kleinste plattelanddorpie met n treinstasie in Toskane.

Verder kan ek sê dat alleen reis nie so erg is wat almal dink nie. Maar aan die einde van 2 weke wil mens met iemand kan praat. Ek sou ook my kleintoon gee vir iemand om die helfte van die verantwoordelikheid te dra . Verantwoordelikheid met die uitkyk vir sakkerollers (mens word oral daarteen gewaarsku), om te help om nie te verwaal nie, en as daar verwaal is, om te help om die regte pad te kry. En om te help om die horlosie dop te hou. Dis noggal ‘n pyn om kort-kort te kyk hoe laat dit is want die bus kom, die boot  kom, jou afspraak is amper.

Dit sou lekker gewees het om te weet dat as jy laat of verwaal is, jy nie die enigste een is nie (missery likes ‘mos’ company) en dat daar ‘n ekstra paar oë sou wees om op die uitkyk te wees vir ‘n oplossing. Ek moet ook noem dat ek, vrou alleen, nooit onveilig gevoel het nie en kon tot in die aande rondloop sonder om kriewelrig te voel. Dit was dus glad nie die rede waarom ek ‘n ekstra reisiger sou waardeer het nie. So die kort en die lank van dit is dat alleen reis is nie sleg nie, dit sou net lekkerder met ‘n ekstra mens of 2 gewees het.

Meer inligting oor my Italië avontuur kom, byt vas!

Hierdie was net ‘n kort opsomming van my avonture in die land van pasta. As jy meer ‘vleis’ om die hierdie storie soek, of wil weet wat ek gedoen het om daar te kom, gaan druk op die skakels. Hulle sal jou vat na die storie of die ‘hoe toe’ (want dit klink soos how 2 in die moedertaal 😉).

Iistanbul
Weer in Istanbul oppad terug. Istanbul was die ‘bookends’ vir die vakansie.
Follow me here