Goedkoop Venesië

Dat Venesië goedkoop kan wees is seker die teenoorgestelde wat jy al gehoor het. Maar voor ek verduidelik moet ek bieg dat dit nie baie maklik is om ‘n ‘ hoe ek dit gedoen het’ te skryf nie. Eerstens, dit is wat dit is en mens kan nie regtig ‘n ‘spin’ daraan sit nie. Dis maar meer ‘n feite aksie as ‘n storie. En tweedens, ek is effens dwars. So, hoe ek dinge doen of benader, is maar nie altyd hoe die deursnee mens dit sal doen nie. Iemand moet seker die pienk skaap wees in die trop. En dit is nou maar ek. Hier volg die ‘hoe ek Venesië gedoen het’. Dis maar baie ‘graterig’, maar almal kan die ‘vleis’ bylas soos dit hulle pas.

Hoe kan dit goedkoop wees?

Voor ek hierdie avontuur aangedurf het, het ek ure gespandeer aan beplanning. Beplanning is die helfte van die pret van ‘n vakansie en as jy nie in eerste wêreld geldeenhede verdien nie, is dit ‘n noodsaaklikheid (Veral as ek sien hoe die rand waarde geval het vandat ek ‘n paar maande terug daar was tot nou).

Gratis Venesië

Daar is baie gratis dinge om te doen het ek gevind. Ek het die hele dag rondgeloop en so baie dinge gesien wat alles gratis was. Van die groot toeriste antreklikhede kos niks nie. Plekke soos die San Marco plein met sy Basilica di San Marco. Ek het myself ongelukkig misgis met hoe gewild daardie toeristeaantreklikhede is en het nie kans gesien vir die toue mense wat buite in die son staan en hulle beurt afwag nie. Wat mens van die buite kant af sien is egter ook indrukwekkend, en mens hoef nie noodwendig in te gaan nie. Ek wou eerder klomp dinge sien as om in ‘n ewige tou te staan om een ding te sien. My tyd was immers beperk tot een dag.

Venesië op 'n begroting
San Marco plein met sy Basilica di San Marco wat gratis is. Die toring en die museum hier regs staan egter bakhand.
Goedkoop Venesië
Die brug wat sug is deel van die museum hier bo.

Sonbeskerminging is vêr van gratis.

So gepraat van in die son staan. Baie dinge in die waterstad is wel vêr van gratis. Ek moes ‘n hoed koop want ek het myne vergeet. Dit was noggal ‘n dom fout. ‘n Fout wat ek aanneem klomp mense maak want orals word hoede verkoop, teen die koste van arms en bene natuurlik. Ek het geloop van verkoper tot verkoper, en op ‘n kol het ek net besef, of ek brand dood, of ek betaal ‘n belaglike prys vir ‘n hoed.
Het toe ‘n belaglike prys vir ‘n hoed betaal. Ek moes. Want ek het nie ‘n voorgeskrewe sonbril nie en tot ek my hoed gekry het, het my twee vergrootglase my oë in roesyne verander en ek het seker 10 fronsplooie bygekry.

Terug by die allerbelangrike ‘gratis’ gedeelte

Ek het honderde kiekiewaardige plekke gesien en beleef sonder om ‘n sent daarvoor uit te haal. Was heen en weer oor die beroemde Rialto brug en seker ‘n honderd ander wat oor honderde kananale kruis. En dit is mos eintlik die ‘claim to fame’ van Venesië. Waterstrate en brûe.



Minder bekend, maar bo-aan my lys van dinge om te sien was die park aan die einde van die eiland. Daar kan jy sit op ‘n bankie en uitkyk oor die ‘toeriste aansig’ van Venesie.

Ek het nie in toue gestaan vir enige iets in Venesië nie, en as ek nou terugdink daaraan is ek steeds nie spyt nie. Ek voel nie asof ek uitgemis het op enige iets nie. Inteendeel, ek dink ek het baie meer as die gemiddelde toeris gesien wat net storm en tou by al die hoof aantreklikhede. My ‘grate-dag’ was dus meer as voldoende in my oê. Jy kan die storie van my dag in Veneisë hier gaan lees.

Vul die tenk.

My kosbegroting het voorsiening gemaak vir wegneem pastabokse, want dis pasta, dis Italië en komaan, dis fênsy pasta in ‘n wegneemboksie! Wie sal dit nie wil probeer nie?! Maar na die arm wat die hoed my gekos het, en die feit dat ek nie ‘n idee gehad het hoe om by die pasta plek op die kaart uit te kom nie, het ek na ure se verdwalery nie die moed gehad om ‘n volskaalse soektog te loods nie.Gewoonlik is ek goed met kaarte, ek hou daarvan om te weet waar ek is, maar daar was net te veel straatjies en brûe en kanale op my klein kaartjie om myself te oriënteer. En ek wou elkgeval net net breinloos agter ‘n kaart aangeloop het nie.

Kaart van Venesië
Hierdie was my kaart, vol sirkels en pyle, maar op die einde van die dag was dit maar net ‘n mooi bont ‘vis’ (kyk mooi….).

My terugval plan was om ‘n supermark op te spoor. Maar daardie soektog het ook nie vrugte gewerp nie. Hulle steek daai kosgange diep weg vir ons buitelanders.Seker in die hoop dat toeriste dan maar eerder by die peperduur resturante aanklop. Daar was gelukkig nog een plan oor. Die kos wat ek saamgebring het.

Noodvoorraad

Jip, ek het kos ingesmokkel. Uit vorige ondervindinge het ek geleer dat dit ‘n goeie plan is om ‘n paar ekstra dinge saam te sleep vir ingeval. Ingeval daar ‘n vakansie dag is. Ingeval van Sondae (meeste plekke waar ek was is Sondae en Vakansie dae net dit, rusdae, en jy gaan sukkel om oop plekke op te spoor. ‘n Boks beskuit en koffie moes my een keer amper 3 dae aan die gang hou). Of sommer net ingeval jy verwaal en nie kos kan opspoor nie (soos met my geluk).

In my noodvoorraad hierdie keer was bokse kits oats, granola stafies en cappuccino. En ek weet kos is deel van die reiservaring en dat beskuit van die huis af nie tel nie, maar op hierdie eerste dag in die vêrre was dit nou maar so. Die maag was vol, en my beursie ook. Oja, ek het vergeet dat ek ‘n Fragola en Mango Gelato gekoop het, want dit kon ek nie inpak nie. Ek het begroot vir een elke dag, maar toe die reën eers begin het, het die gelato’s agter gebly. Mens kan nie ‘n sambreel, ‘n kamera en ‘n roomys vashou nie. En as ek soos ‘n nat hond voel is ek nie besonder lus vir nog koue nat goed nie, al is dit soet.

Hierdie kos-ding is nou maar een van daai dwars pienk skaap dinge van my. En die meeste mense sal nie soos ek dit benader nie. En dit is reg so. (ek moet dalk wel noem dat die Turke my die vorige dag vier vol etes laat eet het, so as ek ‘n hibernerende beer was sou ek ‘n paar dae kon hou 😉 )

Vevoer

Ek het net gedapper en stapper, behalwe van die lughawe af. Daardie was ‘n effense draai met ‘n tas. Ek kon gelukkig baie maklike ‘n ATVO buskaartjie koop by die lughawe, dit is die maklikste en goedkoopste manier om in Venesië te kom. Onthou net om jou tas onder uit die bus te haal!Ek het amper vergeet. Dit klink dom, maar my hande was vol,dit het dus gevoel asof ek alles by my het. Of dalk het die amper 2dae se reis iets aan my nugter denke gedoen.

Vervoer na Venesië
Kon baie maklik ‘n kaartjie by die lughawe kry

Gondolas was uit soos koekies in die weeshuis met my begroting. Ek was gelukkig om net die Gondolas te sien, vir my voel dit net asof die kool nie die sous werd is nie. En met daai pryse sal jy na die tyd nie eers kool of sous kan bekostig nie.

Ek het lank gewik en geweeg of ek na die naburige eilande moet gaan, maar het op die einde besluit dit is beter om meer van Venesië self te sien as ‘n bietjie hier en ‘n bietjie daar. As ek dit wel sou doen sou ek die dagkaartjie gekoop het dit want dit werk goedkoper uit as enkel kaartjies (alles voel egter steeds vrek duur as jy eers die maal met 15 ding gedoen het, en ek dink dis nou al ‘n maal met 17 som!).

Verblyf

Verblyf is effens duurder in Venesië self as op Mestre op die vasteland. Ek het oorspronklik oorweeg om daar te bly want dit is net ‘n 10 minute treinrit weg en die treine kom baie gereeld. Op die einde het ek besluit om eerder op die eiland self te bly, en was bly dat ek dit gedoen het vir verskeie redes, maar veral toe ek met die trein daar weg ry, toe lyk Mestre effens ‘dodgy’, maar dit kan seker ook maar net wees omdat ek net die treinspoorgedeelte gesien het.

Ek het my verblyfopsies deeglik oorweeg, en al was daar hostels wat goedkoper was (met baie goeie resensies), het ek besluit om bietjie meer uit te haal vir my eerste 2 aande se verblyf. Grotendeels omdat ek nie na twee dae se reis en boonop na 9uur die aand wou mededeelsaam wees nie. Ek het toe ‘n ekelkamer in iemand se huis my verblyf gemaak vir daardie twee nagte (wat steeds ‘n miljuisend keer goedkoper was as hotelle en BnBs).

Die klein skrif van verblyf

Wanneer jy jou begroting vir verblyf opstel, moenie dadelik ‘n plek boek wat in jou prysklas val nie. Die Italianers het ‘n toerisme belasting wat meestal nie in die geadverteerde prys verskyn nie (dis in die klein skrif, so lees dit!). Elke dorp het sy eie belasting wat per dag bykom by die prys(dis nie dramaties nie maar iets om van kennis te dra).Dan het party plekke admin/booking fooie.Dit het ‘n paar keer gemaak dat ek na nog goedkoper verblyf moes soek sodat wanneer die belasting en extra fooie bykom ek nie oor my begroting gaan nie. As mens nie ‘n oog daaroor hou nie kan jy vinnig jou begrooting kelder.

Daar is net een ander ding wat ek dalk kan noem vir wanneer verblyf gesoek word. Kyk dat dit naby een of ander vervoerstop is. Want daar is vrek baie brue, en as jy jou tasse oor ‘n klomp gaan moet dra gaan dit nie pret wees nie. My blyplek was darm net drie brue weg van die busstop.

Goedkoop Venesië vir wanneer jy jou rande 15 keer moet omdraai. Hier is die wegsprinplek vir jou beplanning.

  • Soek ‘free things to do in…..’ jy sal verbaas wees wat daar alles is. Daar is tot gratis toere, hulle verwag wel dat jy ‘n footjie vir hulle gee aan die einde. Ek het dit oorweeg, maar dit het gevoel of ek te veel tyd gaan mors met dit. Wou vroeg opstaan en dinge doen, nie ‘hurry up and wait’ nie.
    Hier is van die bekende toeriste antreklikhede wat jou niks gaan kos nie waarby ek ook was.
    Rialto, Piazza San Marco, Basilica di San Marco, Santa Maria della Salute & Grand Canal

  • En eitlik is die hele Venesië vir my ‘n toeriste -aantreklikheid.
  • Jy kan orals heen stap, dis nie nodig vir vervoer nie, tensy jy na die naburige einlande wil gaan. Koop daarvoor ‘n dagkaartjie.
  • Supermarkte gaan jou maag meer vul per Rand as die restaurante.
  • Moenie jou hoed vergeet nie!
  • Vir verblyf, lees die fyn skrif en kyk na ligging.

As jy wil sien wat ek alles met my dag in Venesië gedoen het kan jy hier gaan rondkrap.

En heel laaste, as jy al hier was en raad het om goedkoop in Venesië weg te kom, los ‘n boodskap sodat toekomstige toeriste goeie beplanning kan doen.

Follow me here