Reis oorsee: Beplan jou eie avontuur

Reis oorsee. ‘Hoe is dit moontlik?’ Dis ‘n vraag wat ek baie teëkom, Nee, ek het nie die lotto gewen nie, maar ek kan beplan en prioritiseer en noem my sommer 🐷spaarvarkie. (Hier is iemand anders se verduideliking, mens kort mos altyd ‘n 2de opinie).

Maar voor ek die ‘guts’ gehad het om self verkenning aan te pak, het ek ook maar geglo soos baie ander dat dit onmoontlik is om iets van die wêreld te sien. Veral met Rande en ‘n groen paspoort wat min mense wil hê. Die ys is gebreek toe ek ‘n beurs losgeslaan het om Duitsland toe te gaan. Dit het my laat besef reis is makliker as wat ek gedink het. En dit is beslis nie net vir die rykes nie!

Ek moet noem, dat ek defbeslis nie die moed sou gehad het om so ‘n tog te beplan op my eie as ek nie die eerste keer in ‘n groep gegaan het nie. Dit het my gehelp om te sien hoe dinge daar anderkant werk en gehelp dat ek weet waarvoor om te beplan. Nou gaan ek poog om my hiperbeplanning kortliks hier te probeer verduidelik vir die wat wil weet. In Afrikaans.

Dit is noggal ‘n storie om Afrikaans op ‘n Engelse program te probeer tik, want die ‘ spell checker’ gaan mal en ‘grammarly’ bly sê ‘you have used more unique words than other users’ omdat hy nie verstaan wat ek sê nie!

Reis oorsee in ‘n neutedop

  • Waarheen?
  • Beplanning💭
  • Vlugte✈
  • Alleen reis het ekstra kostes1️⃣
  • Nou het jy ‘n vlug, waarheen dan gehasie?🌏
  • Kostes: goedkoopste vervoer🛵
  • Waar om te bly: Huis, paleis, pandok of varkhok🐷
  • Wat gaan jy eet?
  • Beplanning is koning! Beplan vooruit; Wat is regtig nodig?

Waarheen?

Dit klink seker na ‘n simpel vraag, maar dit is tog die eerste stap. Wat is daai sêding? A journey of a 1000 miles begins with a single step. As ek ‘n eenvoudige voorstel kan maak om’n eerste reis te beplan, kies ‘n land met geen visa, visa on arrival of aanlyn visa. Dit is die minste verbokkereredste opsies. Die Schengen en UK visas het my amper laat weghol, terwyl die Turke en die Iere min gepla is oor ons paspoort, inkomste en eiendom (mens se hare rys as mens die inligting sien wat benodig word vir sekere Visas). So net ‘n tip op grond van my ondervinding: Ierland benodig geen Visa nie (sal sien of Brexit iets hieraan verander) en Turkye kry mens ‘n 5 minuut aanlyn visa. Kosteloos vir Suid Afrikaners..

Beplanning

As ek een woord moet gebruik om te sê hoe ek dit regkry, sal dit ‘beplanning’ moet wees. Dit som alles wat daarmee gepaard gaan op. En ek is ‘n beplanner van formaat wat ‘n plan vir alles wil hê anders voel ek verlore. As ek ‘n tweede woord kan bylas sal dit prioritisering wees (wat ook maar eintlik onder beplanning kan val😉).

Met goeie beplanning is reis glad nie onmoontlik nie. Die vliegkaartjie is seker die grootste uitgawe, maar as jy vlugte elke dan en wan dophou, of deel is van ‘n redery sy ‘mailing list kan jy verseker goedkoper vlugte kry. Na my 2de beurs, het dit 4 jaar se beplanning en spaar gevat om al my eendjies🦆🦆🦆 in ‘n ry te kry om weer oorsee te kon gaan. Maar na so lank se beplanning het ek presies geweet wanneer watter vugte die goedkoopste gaan wees.

Vlugte

Ek het elke dan en wan gaan kyk wat vlugte kos op sekere dae asook na en van verskillende lughawens. Die ‘sweet spot’, volgens dit wat ek alles waargeneem het, is op ‘n Woensdag so 7-9 maande voor die tyd (maar hierdie is nie ‘set in stone‘ nie. Ek het al genoeg vlugte dopgehou om te weet om nie te wed op vlugte nie).Van die lugrederye het ook soms spesiale aanbiedings wat regtig ‘spesiaal’ is, maar dit is gewoonlik op ‘n korter kennisgewing, en ek kon ongelukkig nog nie daarvan gebruik maak nie.

Reis oorsee
Eva Darron on Unsplash

Kyk ook na ‘multi destination’ vlugte. Dis goedkoper as om vervoer te kry al die pad terug na die lughawe waar jy ingekom het, en dit spaar ook baie tyd, wat jy kan gebruik vir verkenning. Dis wen-wen.

Bespreek direk by die lugredery! Gebruik enige soekenjin of ‘app‘ (soos Skyscanner of Hopper) maar moenie deur hulle bespreek nie. Sny die middelman uit. Die middelman se diens is gewoonlik nie so goed soos die lugredery self nie. Die middelman is ook gewoonlik ‘n ‘middel -rekenaar’ en nie ‘n mens nie, so as jou vlug gekanselleer word byvoorbeeld, soos meer as 1 keer al gebeur het met my, kry jy baie beter en vinniger ‘n oplossing. Maar stories van lughawens en gekanselleerde vlugte is iets vir ‘n ander keer.

As die vlugte eers afgehandel is, is die res an die vakansie om en by prys van jou 2 weke Margate vakansie (ok, nie as jy ‘n kamper is en van worsbroodjies lewe vir daardie tyd nie, dis meer die see-uitsig-woonstel tipe kostes).

Selfies is duurder

In my ondervinding gaan 2 mense wat saam reis die goedkoopste daarvan afkom (en dan hoef niemand vervlakste selfies te neem nie!). Enkel persone betaal die meeste vir alles, en elke keer wat ek dit sien wil ek die hare uit my kop trek. Ek kon ongelukkig nie ‘n maatjie vir my Italië reis kry nie, en ‘single supplement’ was dus aan die orde van die dag. Maar ek is ‘n beplanner van formaat en het probeer wangle dat die enkel ding my nie te veel ekstra uit die sak jaag nie. Hier is hoe ek te werk gegaan het om die land van Pizza te verken.

Die res van die beplanning wat volg sal ek aan die hand van my italiê reis doen, maar in werklikheid is hoe ek daarvoor beplan het toepaslik op waarheenokal jy wil gaan.

Waarheen gehasie?

Ek het ‘n Italie kaart nader getrek en gekyk na watter dorpe en besienswaardighede ek wou gaan, en wat die kortste afstand tussen A en B gaan wees. Die antwoord hier is nie ‘n reguit lyn soos ons in wiskunde geleer het nie. Die roete was maklik genoeg, maar om te besluit watter besienswaardighede om in te pas was ‘n ander storie. Daar is baie. Eintlik te veel. Elke plek het onmoontlik baie goed om te gaan beleef.

Reis oorsee
Gehasie beplan

Ek is te veel van ‘n pleb om kuns te waardeer, dus het ek nie eers twee keer gekyk na all die ‘moet sien’ gallerye nie. Die geskiedkundige landmerke aan die ander kant het baie hoër op my lys van dinge om te sien gestaan. Ek het maar geskat hoeveel tyd ek by elke dorp gaan wees op grond van die besienswaardighede wat ek wou sien.

Wat die kies van besienswaardighede aangaan, kan ek die volgende sê: Gaan kyk wat is die ‘free things to do in…’, daar is noggal baie. Van die groot besienswaardighede het dae waarop hulle gratis toegang het. Dit is gewoonlik op die eerste of die laaste Sondag van ‘n maand. Wees selektief en maak vrede daarmee dat jy nie alles gaan kan sien nie. Jy hoef nie iets gaan sien net omdat dit daar is nie.

So in kort, as jy jouself ken en waarvan jy hou, het jy al klaar ‘n goeie duik in jou beplanning gemaak.

Gehasie soek die beste prys vir vervoer

Na ek besluit het watter dinge om te sien en hoeveel dae om per plek te spandeer, het ek my roete weer nadergehark en na die trein- en prysskedules gaan kyk. Weereens help vroeë beplanning baie. Mens kan sien watter pryse bly dieselfde (dis gewoonlik die ‘regional’ treine) en watter vinnig duurder word (dit is die lang afstand treine). Die wat duurder word gaan 3 maande vooraf oop en is dan op hulle heel goedkoopste. Hulle kan tot 3 keer duurder wees as jy nie betyds bespreek nie. Ek het ook die tye van die goedkoopste kaartjies gebruik om te help met verblyf beplanning.(Onthou, hierdie verwys net na die italië reis, as jy ander treine soek kan jy hier gaan loer. Vir verdere beplanning gaan lees die ‘hoe toe‘ van elke dorp waar ek was).

Ander vervoer

Wat ander vervoer aanbetref gaan soek elke dorp se publieke vervoer op en oorweeg die verskillende vervoeropsies. Afhanggende van waar mens mens bevind, kan mens dag of dae kaartjies koop, naweek of groep vervoer. Die beste goep vervoer wat ek nog raakgeloop het was in Duitsland. Hoe meer mense in jou groep hoe goedkoper die kaartjies (tot met 5 mense). Daar is werklik ‘n dramatiese verskil met groep kaartjies wat die prys per persoon aangaan. Weereens help dit om maatjies saam te vat (dit was al tentertyd belangrik in die ark).

Reis oorsee
Ed 259 on Unsplash

Huis, paleis, pandok, varkhok

‘In watter hotelle het jy gebly?’ Funny bunnies! 🐰 Ek het wel by ‘n paar hotelle verby gestap, as dit tel. Hierdie mens het ‘cheap’ gebly en om dit gedoen te kry was ook noggal ‘n storie.

Kaarte van dorpe is gegoogeleer om te weet waar die stasie, stoppe en die besienswaardigede is. Dit help om relatief goed geleëde areas te sien. Jy gaan baie loop, dit is ‘n feit soos ‘n koei. Mens moet maar net besluit hoe vêr jy bereid gaan wees om te dapper en stapper. Verreweg was Napels se stap die ergste. Google het gewys dis ‘n kilo se stap. En kommaan, wat is ‘n kilo nou? Wel dis ‘n riller as die ‘cobble stones’ so rof is dat jy voel hoe jou tas se as knak terwyl al jou besittings bokspring soos ‘n lam voor die reën. En dit het gereën! Ek het maar my tas gedra so al aan die een kant hinkepink. So daai beplanning was ‘n mors van tyd. Napels het dit nie vir my gedoen nie.🤦‍♀️

Vroeër het ek genoem dat ek treinskedules gebruik het om verblyf te soek. Ek het die goedkoopste treinkaartjies gekoop, dit was dit. Die verblyf se intrek en uittrek tye moes daarby inpas sovêr as moontlik of hulle moes ‘luggage starage’ gehad het sodat mens nie hoef te betaal om bagasie iewers te stoor nie. Ek dink bagasie stoor betaling (soos op stasies) is ‘n onnodige uitgawe, en ek het dit net een keer gedoen in Milan omdat ek nie daar oorgebly het nie.

Beplan Milan
Net in Milan het ek bagasie gaan stoor

Darm nie ‘n varkhok nie

Mens moet ook kyk waarmee jy kan saamleef wat slaapplek aangaan. Op party plekke kon ek net die hostels bekostig (die korrekte vertaling hiervoor blyk koshuis te wees, maar dit tol nie lekker hier nie. Koshuis is te bordkryt-erig). En ek het berus daarby aangesien mens eintlik net ‘n bed nodig het. As mens heeldag sou inbly was dit ‘n ander storie. Ek het net hostels gekies wat baie goeie verwysings gekry het, want mense wat in hostels bly is met min tevrede, en as hulle kla oor iets dan moet daar regtig fout wees. En aan die einde van die dag was ek glad nie spyt daaroor nie. My eerste hostel-kennismaking was in Menaggio aan die Como Meer, en die uitsig alleen was die moeite werd.

Forever young, al is dit net hoe jy voel

Die Menaggio Youth Hostel (moenie dat ‘youth’ jou ‘n rat voor die oë draai nie, daar was baie mense baie ouer as ek daar) het die beste uitsig gehad vir ‘n appel en ‘n ei. Ek sou nie eers in SA so goedkoop kon bly nie, en dan was 2 etes daarmee saam. Dis ‘n wonder dat hulle nie duurder is omdat hulle die beste uitsig het nie. Die hostel in La Spezia het wel nie ‘n uitsig gehad nie, maar was puik verby. So, elke mens moet self besluit waarmee hulle kan saamleef. Opdok en fancy slaap? Of soek jy net ‘n skoon slaapplek waar jy jou oë gaan gaan rus?

Ek soek al my verblyf op Booking.com en AirBnB. Booking.com werk vir my die beste want jy kry ‘n presiese addres en ‘n kaart en die allerbelangrike ‘luggage storage‘ kan mens daar sien. Die blyplekke wat daarop adverteer is ook geneig om beter in- en uitklok tye te hê as wat mense se persoonlike spasies soos op AirBnB het. En Booking het ‘free cancellation‘, dit is nie heeltemal so ‘free’ op AirBnB nie en ek hou daarvan om die opsie te hê. Ek het nog nooit Couch Surfing probeer nie en het ‘n paar keer sommer direk by plekke bespreek. Gaan loer op hulle webwerf, soms het mens ‘n ekstra voordeel of 2 deur direkte by hulle te bespreek..

Vul die gat

Dis hoe ek die hele ding beplan het, oorweeg wat regtig nodig is. Wat gaan ‘n herinnering maak en wat nie. So gepraat van wat regtig nodig is, ‘n maag wat grom gebeur ook in eerste wêreld lande. Kos is noggal nodig so mens moet beplan vir dit. Ek het verblyf gesoek wat onbyt insluit, want ekt geweet as ek eers begin, gaan ek nie stop om kos te soek nie. Dit was ‘n goeie plan in teorie. Prakties? Nie altyd nie, het ek agtergekom. As jou dag vroeg begin, gaan jy noggal gesnoeker wees wat ontbyt aanbetref (ek het glad nie daaraan gedink vooraf nie). Ek moes ‘n paar oggende my dag se belangrikste ete mis omdat my aktiwiteit te vroeg begin het. Het my dae vroeg begin om soveel as moonlik in te pas. En oggendstond het mos goud in die mond.

Meer lus as honger

Uiteet sal mens bankrot maak! Ek het ‘n paar restaurante se spyskaarte gaan googeleer en my in ‘n ander bloedgroep in geskrik. Gaan koop eerder by ‘n supermark. Dit voel amper vir my asof hulle superrmark produkte goedkoper as hier by ons is (behalwe vleis), en dis defbeslis goedkoper as om uit te eet. Die probleem is net om hulle opgespoor te kry. Daar is miljuisend apteke in Italië, maar waar almal hulle kos koop is noggal ‘n raaisel vir my.
Streetfood’ is ook ‘n opsie dis baie goedkoper as restaunte en mens kry ook ‘n idee van die plaaslike kos. In Duitsland vul die Dönner Kebab (wat ironies genoeg Turks is, maar as tipies Duits gesien word) die gat, sowel as die all die ‘pommies’ en wors plekkies. By die Italjaners was daar oral pizza in-die-verby-loop plekke en wegneem pasta in ‘n boks. Hoe cool is weegneem pasta!?

So lang storie kort = Beplanning is koning

Beplan vêr vooruit
Maak ‘n lys van moontlike uitgawes (kyk wat kos vlugte, vervoer, verblyf, besienswaardighede)( en ongelukkig is die Rand ons nie gustig nie, so werk kostes teen ‘n swakker wisselkooers uit om seker te maak jy kom nie kort teen die tyd wat jy jou tasse wil pak nie).
Werk ‘n begroting daarvoor uit, dit gaan bepaal hoe lank jy sal moet spaar (ek het een keer 4 jaar lank gespaar en beplan).

Reis oorsee
Ruthie Unsplash

En wat besienswaardighede aangaan, daar is baie gratis toere en dinge om te sien.
En as jy nie lank wil spaar nie, kyk bietjie wat jy regtig nodig het in jou dag tot dag lewe.Hier is waar mens kan begin prioritiseer. Het jy regtig vol betaal kanaal TV nodig? Gaan jy eendag in die ouetehuis sit en dink, ‘Sjoe ek is bly dat ek 100 kanale gehad het toe ek jonk was“; “Man, ek is bly ek het nie ophou rook nie’. Deur net dit uit te skakel en daardie geld te spaar kan jy in minder as ‘n jaar ‘n vliegkaartjie betaal. Selfde met al die ander ‘luukshede’. Hoe meer ‘luukshede’ jy kan uitsluit, hoe vinniger kom die oorsese reis nader.

Wat is regtig nodig?

Dit is hoe ek my spaarplan benader. Wat is regtig nodig? Ek sal regtig graag ‘n nuwe kar wil hê (nuwe kar is bietjie ‘n sterk beskrywing want dit sal nooit gebeur nie, eerder ‘n ‘nuwe’ tweedehandse tjor 😉). Maar ou tjorrie ry nog. En op die einde van die dag is dit sy doel. Om te ry. Alles ekstra is ‘n luukse.

Ek het elkgeval somme gaan maak en tot die slorsom gekom dat om te spaar vir ‘n lewensondervinding, baie goedkoper is as om ‘n ‘nuwe’ kar te koop. Op my oudag sal ek eerder wil terugdink aan die ondervindinge wat ek gehad het en deur my albums blaai. Vir my is dit ‘n ‘no-brainer’ besluit.

No-Brainers

Elkeen moet maar sy eie ‘no-brainers’ bepaal. En gaan maak ‘n plan. Dit is regtig die moeite werd om iets van die wêreld te sien, en dit laat jou jou eie plek waardeer. Glo dit of nie, maar ek was elke keer bly om terug te kom. As mens nuus kyk wil mens net koers kies, maar wanneer mens weg was (veral na 2 donker wintermaande in die ander halfrond), voel jy bly om terug te wees. Ek wou die doeane beampte om die nek val toe sy sê ‘welcome back’. Reis is ‘n leerskool van sy eie, en baie van die goed wat mens leer is heel onverwags.

brain comic -google images - tools - labelled for reuse

PS

NS Ek het gelees dat mense daarvan hou om die ‘PS’-e te lees, so ek probeer dit dus uit 😊.
Ek gaan die ‘how 2’ of ‘hoe toe‘ soos ek dit gedoop het, van elke plek waarby ek was hier plaas soos wat die tyd aangaan.

Nog ‘n NS. Soms is die beste wat mens kan doen om van die huis af te reis. Ek moes vir jare met dit tevrede wees. As jy op die oombik net ‘n Jan Tuisblyer kan wees, gaan krap bietjie rond by Travelpotatoez. of kliek op hierdie skakel om ‘n paar idees oor Reis van die huis te kry.

Nou rek ek dit net uit 😉 Ek is nie die enigste een wat vind dat reis makliker geword het nie. Reis is nou al so toeganklik dat dit ‘n ‘pes’ is vir inwoners. Gaan lees hier. En as dit van enige raad is, gaan so gou as moontlik van hoe langer jy wag, hoe groter die vertrapping en hoe minder die ervaring.

Follow me here