UK en Ierland : Winter in die Somer

Iemand moet tog vir die Britte verduidelik wat somer is. Somer is nie winterbaadjies en boots nie. O my word, en as jy Kalahari somers ken, dan is hierdie vêr Noord in die UK en Ierland se ‘somer’ eintlik winter.

Hierdie was my eerste besoek aan ‘n land waar ek nie afhanklik was van handgebare nie. Wat wel vir my volksvreemd was was die koue.

Ontnugtering

Met die landslag vertel die kaptein vir ons ‘there is a little rain on the ground’. ‘n Little rain in die oggend behoort mos soos die dag aanloop ‘leeg te loop’. Ek baan my weg deur ou Heathrow oppad na die trein wat Londen toe gaan. Daar sit ek toe in my T-hemp op die Picadilly Line, en kyk hoe daar by elke stop net meer Britte in wintersklere opklim (dis wat ons aan hierdie kant van die ewenaar winterklere noem). Ek moes seker uitgestaan het soos ‘n seer toon, of die ‘oi tourist!’ wat ek was.

Ek het wel nog nie regtig die koue gevoel of die behoefte gehad om ‘n baadjie uit my bagasie op te diep nie. En toe stap ek na die uitgang van die Underground….. Daar tref ‘n snerpende nat wind my vol in die gesig. My eerste gedagte was ‘flip, ek het nie klere vir hierdie koue ingepak nie!’. En die 2de ding was: ‘ Ek het nou verniet die kort broek in my handbagasie saamgepiekel’. Ek het ‘n rukkie gestaan en moed bymekaar gemaak om die winter aan te durf tot by my blyplek.

‘n Sambreel en ‘n reenjas

UK en Ierland

Daar kon ek darm my bagasie los tot inklok tyd, maar dit was nog vêêêêr. Ek moes noodgedwonge die koue nat stad besigtig, in my vliegklere (klere wat ek aangetrek het in die Afrika winter wat warmer was as die UK* somer). Voor ek daar uit is het ek eers my sambreel en reenjas uit my netjies gepakte tas gegrawe.

*UK is in goeie taal mos eintlik Verenigde Koninkryk, maar wie weet nou wie die VK is?

En toe begin London. Die reën en koue was die hele dag daar. My tande het geklapper en my katkouse het gehuil (my skoene was so nat vir so lank dat my katkouse se kleur begin loop het en dit gelyk het asof hulle huil…..soos ek ook ‘n bietjie wou). Ek het voortgebeur, verwaal, teruggedraai, een voet voor die ander gesit, my arme sambreel se arms telkens teruggedraai nadat dit alweer omgedop het as daai snerpende wind dit so wou hê.

UK en Ierland
Kouse wat huil

Ontdooi

Teen inklok tyd was ek deurat en potblou. Eindelik in ‘n kamer het ek alles wat nat is uitgetrek en pens en pootjies onder die douvet en komberse ingeklim in die fetusposisie totdat ek ontdooi het. Jy sien daar staan kombers en douvet? Elke plek waar ek geslaap het het dit gehad. Dis ‘standard issue’. By ons is die somer wil mens nie eers onder ‘n laken lê nie!

Na 2 koppies koffie onder die bers toe die blou begin wyk, is ek weer uit. Die keer met 2 langbroeke, nuwe kouse, droeë tekkies, nog ‘n baadjie en ‘n mussie aan. Verken gaan ek verken al sou dit begin sneeu (Been there done that). Hierdie baadjie was my grootste spyt. Dit is een van daardie 2 in een reën/fleese baadjies. Met die inpakslag toe dink ek dat die baadjie heeltemal te warm en dik gaan wees en toe los ek mos die fleese laag by die huis. Moenie dit doen nie!! Daaroor was ek spyt. Die reënjas deel van my baadjie wat ek wel ingepak het, het ek so te sê elke dag aagehad. In die somer! Dis effens belaglik vir somer dink ek.

Ek is nou nie so mal oor kiekies van myself opsit nie, maar daai baadjie is al wat gekeer het dat ek opkrul en self blou word. Hy verdien spesiale vermelding!👏👏

Reën en koue was elke dag iewers

Dit was so te sê elke dag nat en koud. Ierland se eerste dag en Skotland se laaste dag was egter mooi sonnig en ‘warm’. Die koudste 2 dae was London se eerste dag en die dag in die Cairngorms Nasionale Park. Al wat ek wou doen was om te hiberneer in die oulike houthutjie.En dan te kyk hoe die wolke en mis lag oor die heuwels rol.

Die koue was nie net in my kop nie

Koue is maar ‘n algemene vriend van die somer in hierdie geweste. Mens sien dit orals.(Soos klaar genoem is die beddens gekombers en -douvet). By ons sal jy nooit, nie eers in lente, wintergoed in die winkels kry nie. Maar hier is orals handskoene, serpe en mussies. Seker vir die arme dom toeriste wat nie weet dat somer eintlik ook winter is nie.

’n Vriendin het gesê hulle somer is soos ons lente, so mens dra maar ‘light layers’. Dis nie waar nie! Tensy jy al aan daardie weer geaklimatiseer is. Wat ek defbeslis nie was nie.. Maar ek moet ook bysê, oral het die mense gesê dat hierdie koue en baie reën nie heeltemal normaal vir Junie is nie. So dit was nou maar net my luck.

Daardie ewige reën sorg wel vir die mooiste groenste landskappe waar skape en beeste op hulle sye lê en eet! Ek het met eerste oogopslag gedink die velde is vol siek diere, tot ek gesien het daai ouens is so lui en lekker op hulle sye.

Hierdie lui lekker vee is ook aangepas vir koue (dis net soos die winkels wat handskoene en dinge verkoop), hulle is baie meer harig en wollerig as ons s’n. Dit alles wys einlik net dat die koue nie net in my kop was nie, dit is maar een van daai dinge.

UK en Ierland Highland Cows
Highland cows in Skotland..

Eerste indrukke op ‘n stokkie

So ja, my eerste gedagte as ek aan daardie geweste dink is nat en koud. Ek kan my nie indink hoe hulle winters moet wees as somers is soos dit nou was nie. Nou die dag lees ek Fanie se blog waar hy sê dat as hulle gelukkig was het hulle een somersdag op ‘n Saterdag geval. 😂. Ek voel sy pyn! Welldonit vir die Afrikaners wat soontoe geeimigreer het en nie na een winter daar, teruggetrek het nie.

Dit was darm nie doom & gloom nie. Ek het baie gesien en beleef. Dis pragtig daar. Veral in die platteland. Ek het mos nou maar ‘n baie sagter plekke vir die vlaktes as vir beton. En as ek een moet kies tussen die UK en Ierland, kies ek sonder twyfel die land van die ‘wooly jumpers’🐑 en ”shamrocks’ ☘. Dit is so mooi. En die mense is so vriendelik en behulpsaam. Jy lyk net ‘n bietjie verdwaal dan kom vra iemand of hulle jou kan help. En jy lyk net ‘n bietjie geinteresseerd in hulle volksdanse dan nooi hulle jou saam.💃 Dit was ‘n lewenshoogtepunt! Maar all in good time. Hou hierdie spasie dop!

Follow me here