‘n Vinnige Milan uitstappie: Hoe om dit te doen vanaf die stasie.

Dit is baie maklik om ‘n vinnige Milan uitstappie te doen na die groot besienswaardighede terwyl jy wag op die stasie. Alles is bymekaar, die Duomo, die Galleria Vittorio Emanuele, die
Teatro alla Scala en Da Vinci hang ook daar rond. En om daar uit te te kom is tjop-tjop met die Metro. Hier onder volg die ‘how 2’, en hier kan die hele storie gelees word. En ‘n ekstra metro rit weg is Die Laaste Afondmaal. My tyd was egter te kort om daarheen te gaan.


Goedbaai merraai Venesië

Na die waterstrate van Venisië was ek oppad na die groot water van die Como Meer. Daardie was ‘n dag vol treine en busse, en ek was effens benoud oor dit alles. Ek het besluit om nie ‘n kaartjie van Venesië na Como te koop nie. Omdat ek in Milan moes stop voordat ek na Como kon gaan, het ek besluit om langer daar rond te hang en ‘n ordentlike stop in te werk. Ek was immers daar. Wie weet of ek weer ‘n geleentheid sou kry. Carpe Diem.

Dus het ek besluit om afsonderlike kaartjie na Milan en daarna na Como te koop sodat ek ‘n uitstappie in Milan kan hê. Die langafstand kaartjie van Venesië na Milan het ek 3 maande voor die tyd gekoop om sodoende die kaartjie goedkoop te kon kry. Omdat die kortafstand kaartjies tussen Milan en Como altyd dieselfde kos, het ek besluit om my nie aan ‘n tyd te koppel nie en ‘n kaartjie op die stasie te koop wanneer ek klaar verken het in Milan.

Milan Uitstappie
Al my kaartjies vir die dag.Trein, Metro en bus. Tot my ‘jy is 703de in die ry’- kaartjie.


‘Left luggage’ oppie stasie


Op die Milan stasie moes ek deur ‘n miernes van mense systap en koes en soos ‘n mol afgaan tot onder na die bagasie stoorplek (Left Luggage @ Ki-point)(‘Left luggage’ klink vir my eerder soos verlore bagasie, maar nou ja dit beteken eintlik ‘luggage storage’ en ek sou dit eerder so wou genoem het). En solank jy vir minder as 5 ure stoor betaal jy die kleinste hoeelheid (alhoewel ek steeds dink dis ‘n bietjie uitspattig. Dit was egter ‘n ‘one-time thing’ so het nie te veel daaroor getob nie, dit was immers in die begroting). Dis noggal bietjie benoud daaronder vir my, maar gelukkig was dit nie my bestemming vir die middag nie. My bestemming was die Duomo. Ek wou baie graag daar opklouter soos die Hunchback doen in Parys.

Dan begin die Milan uitstappie met die Geel Metro

Ek het my weg gebaan agter die metro bordjies aan. Daar gekom wag ek ‘n wyle in ‘n ry om by die masjien ‘n enkel kaartjie (1.5 €, 90min geldig in een rigting) te koop. Ek het op die geel Metro baan (M3) geklim in die rigting van die Duomo. Gelukkig dui hulle dit aan vir die toeriste. By die Duomo stop het ek afgeklim en oombliklik toe ek uitkim kyk ek in die katedraal vas. Ek verwag gewoonlik om te moet soek vir ‘n plek, en dit is altyd ‘n super aangename verrassing om onmiddel-dadelik te sien wat jy soek. En elke keer wat dit nog gebeur het, het dit op ‘n goeie manier die wind uit my seile gehaal.. Dieselfde het gebeur by die treinstasie in Köln, en die metro by die Koloseum.

Milan uitstappie
Hierdie was my kaart wat ek vooraf geprint en saamgevat het. Ek wil weet waarheen ek gaan want ek haat dit om te verdawaal. Slegte aanwysings het al ‘n paar maal gemaak dat ek amper vriende onterf het.

Duomo Milano

Ek pyl dadelik op die Duomo af en sien ‘n elle lange tou al om die plein span vir mense wat wil ingaan. Dis effens ironies om te sien hoe baie mense by ‘n kerk wil ingaan, maar nie wil ingaan vir kerk nie.

Toue na nêrens

Elkgeval, die beste plan van aksie volgens my, was om die heelwat korter ry te gaan staan om die trappe te gaan klim na die terras bo-op die kerk. Ek moet seker bok-bloed in my hê wnt ek hou van klim. Na so 10 minute se aanskuiffel kom ek langs ‘n bordjie te staan wat sê dat waar ek op daardie oomblik gestaan het, is ‘n wagtydperk van ‘n uur en n half (jip, en dit was in die baie korter ry as die een om in te gaan. Die tou is seker so lank omdat dit gratis is om in die Duomo in te gaan). Na nog so 10 minute se slakkepas vorentoe, kom ek by ‘n bordjie wat sê, dat as mens hier staan moet jy reeds ‘n kaartjie hê.


Wat?! Ek het gedink dit is die kaartjie en klim ry. Flipsels! Ek loop toe af in die ry en vra die ander mense waar het hulle hulle kaartjies gekry. Wragtig sal hulle vir my sê dat hulle nie weet nie. Waarvan ek net nie seker is nie is of hulle nie geweet het wat ek vra nie, of nie geweet het waar die kaartjies is nie.

Ek hol toe soos ‘n afkophoender rond en soek die plek. Heeltemal aan die ander kant van die Duomo en aan die ander kant van die pad is ‘n kaartjie kantoor. En daarbinne is chaos.

Bondels an na nêrens


Daar is nie toue nie net bondels. En dan loop mense rond en deel kaarties met nommers uit Myne was 702! Het so 10 minute daar rondgehang en gekyk wat gebeur. Maar almal bondel net voort en ek kon nie agterkom dat nommers geroep word nie. Ek het toe besluit om nie ure hier te mors nie. Ek sou elkgeval daarna weer moes in die tou val om op te klim. Om eindelik op te kon gaan sou ure se toustaan gekos het. Het nie kans gesien vir so ‘n vermorsing van tyd nie en al het ek nog nie ‘n kaartjie Como toe gekoop nie, moes ek steeds die tyd dophou met die Como bus ingedagte.


Wat ek sal aanbeveel is een van 2 dinge. Koop vooraf jou kaartjies. En as jy dit nie gaan doen nie daag so vroeg as moontlik op (8uur vir die binnekant van die Duomo en 9uur vir die opklim aksie) en mik eerste vir die kaartjiekantoor doer regs.

Milan uitstappie
Ek het hierdie nuttige blaadjie eers gekry toe ek al oppad terug was na die stasie. Dit wys die kaartjiekantoor voor regs. Hulle moet dit eintlik uitstal waar mens by die Metro uitkom.Maar nu weet ek darm vir ingeval daar ‘n volgende keer gaan wees.

Milan van buite


Dit was glad nie die einde vn die wêreld om nie in of op die Duomo te kon gaan nie. Dit bly steeds vrek indrukwekkend al kan mens net buite staan. Na ‘n paar kiekies het ek net oor die plein gestap na die Galleria Vittorio Emanuele II. Dis ‘n winkelsentrum met ‘n gekoepelde dak waar net die mense wat in Euros, Ponde en Dollars verdien kan koop. Dis die naaste wat ek aan supper ryk sal kom, om in die super rykes se ‘windows’ te ‘shop’.

Ek het nie eers by enige winkel ingeloop nie. Het gedink hierdie tipe kommin van my sou sekuriteir soos vlieë na mis toe aantrek. En ek was nie lus om in n vreemde taal gesê te word dat hulle tipe winkels net vir ‘n sekere ‘smaak’ is nie. Al sou ek hulle nie verstaan het nie, glo ek sou ek presies geweet het wat hulle vir my sou sê. Dit laat my dink aan die Pretty Women waar hulle vir haar gesê het hulle dink nie hierdie is die plek waar sy sou wou koop nie. Beter kan ek nie verduidelik hoe die ‘fancy pants’ winkel is nie..

Dit is hoe die ryk mense inkopies doen. In styl.

Da Vinci by die opera


Ek het reguit deurgeloop, anderkant uit. Verby die Da Vinci standbeeld, oor die pad na die Scala operahuis. Ek het al baie van dit gehoor, maar die buitekant is super onindrukwekkend. As mens nie spesifiek daarvoor sou gaan soek nie, sal mens heel verby loop. Ek glo wel dat dit wat binne gebeur seker ‘n perd van ‘n hele ander indrukwekkende kleur is.

Die Scala operahuis

Terug stasie toe

Hierna wandel ek toe terug na die Duomo metro stop, koop weer ‘n enkel kaartjie en gaan na die Milano Centrale. Die metro stop area is egter so groot, met soveel uitgange dat ek myself buite die stasie bevind het aan die ander kant van die pad. Dit was egter nie ‘n krisis nie en ek kan die astronomies stasie van buite af waardeer. Binne koop ek ‘n kaartjie na Como San Giovanni. Daarna het ek my tas by die Ki-point gaan haal en my weg gebaan deur al die mense na my trein toe want my Milan uitstappie was verby.

Die appel val nie vêr van die stasie nie 😉

Como, hier kom die Kalahari


Na nie super lank nie, kom ek in Como aan. Daar het ek net nog ‘n buskaartjie nodig gehad vir die C 10 bus wat na Menaggio toe gaan. Diè het ek gekoop by die Tabacchi op die stasie.
Hier is die C10 se skedule en stoppe.

Gelukkig het ek vir die Saterdag wat ek daar was ‘n skedule met die stoppe uitgeprint anders sou ek nooiit geweet het waar ek was nie. Daar is geen afkondigings op die bus nie, jy moet dus bordjies dophou en afmerk soos wat jy gaan. Die bus stop ook nie orals nie, net as iemand op die bus die ‘stop knoppie’ druk, of as daar mense by ‘n stop staan. So, as jy nie volg nie kan jy jou stop heel mis ry.

Die uitsig terwyl ek vir C10 gewag het

Na hierdie dag het ek gevoel soos ‘n yster. Ek het my eerste en 2de treinrit gemaak. Het
Milan verken. Het ‘n bus gevang en uitgefigue waar ek moes afklim. En ek het in ‘n backpackers ingeboek en met vreemde mense gesels. Al kon ek nie vir Milan van bo-af sien nie was dit steeds ‘n baie suksesvolle dag in my boeke.

‘n Laaste bietjie raad

Dit is baie maklik om by hierdie genoemde besienswaardighede uit te kom. As mens regtig op ‘n woerts warts aksie is, behoort ‘n uur en ‘n half genoeg te wees. (Neem ook in ag toustaan by die bagasie plek en by die kaartjie masjiene). Dit sal egter baie fyn sny wees en jy sal nêrens kan ingaan nie. Ek was om en by 2 en ‘n half ure daar en het redelik rustig verken behalwe toe ek afkop hoender gespeel het vir kaartjies, Ek was rustig nadat ek besluit het om die kaartjies ‘n mis te gee. As jy egter wil in- en op gaan, sal heelwat meer tyd uitgesit moet word.

Ek was daar, al was dit net buite.

PS, daar is net een ding waaroor ek lank vooraf gewik en weeg het, en dit was of ek die Laaste Avondmaal wou gaan sien. Hierdie MOET maande vooraf al geboek gewees het en dit kos ‘n ekstra Metro-rit iewers heen. My Milan uitstappie was al klaar vol genoeg en het dus teen die ekstra rondhollery besluit. Ek is elkgeval nie so ‘n groot kunsliefhebber om dit ten volle te wardeer nie. Dalk as ek in Milan oorgebly het en rustiger kon verken sou ek daar uitgeval het.

Follow me here