Stap en die Cinque Terre

Cinque Terre, die ‘5 lande’. Die 5 lande met ‘n staproete. Son, see, boorde en ou dorpies. Ek was in! Ek sou wandel al langs die kus onder ‘n vriendelike sonnige hemelruim. Sou rus tussen die olyfboorde en uitkyk oor die see terwyl ek piekniek. Die plan was om aan die einde van die dag met rooi wange en moeë bene by die huis te kom met onvergeetlike herinneringe van stap in Italië.

Maar die lewe gebeur, en ou Murphy loop alewig agter my aan , ek het dus onvergeetlike herinneringe, maar nie die wat ek vooraf ‘beplan’ het nie.

(As jy wil sien hoe my dag skeefgeloop het, die storie is hier)

So hier gaat my ‘hoe toe’ 😉 .

Na ek besluit het om nog ‘n stap op my kerfstok aan te bring het ek orals gaan lees hoe en waar en wat. Dit blyk daar is heelwat staproetes, die korteres wat deur die natuurbewaringsgebied gaan waarvoor mens ‘n permit nodig het, en die langer roetes wat heelwat hoër en verder kronkel, maar wat klink my gratis is.

Min of baie treë?

Ek het besluit om die ‘kortste afstand tussen punt A en B’ te doen aangesien ek net 1 dag se tyd gehad het.

Besluit 1. ✔

Dit beteken dat ek toegang moet koop. Gaan ek een -een toegang en buskaartjies koop, of die alles in een Cinque Terre kaart. Na ek my somme gaan doen het besluit ek om die kaart te koop. Die kaarte is by enige van die treinstasies te koop.

Besluit 2. ✔

Cinque Terre Treno kaart is wat ek nodig sou kry. Met die ‘treno’ bygekoop, kan jy klim en ry soos jy wil. Mens weet nooit wanneer dapper en stapper net nie meer wil nie. (of wanneer dit 🐱🐱en 🐶🐶 gaan 🌧 nie ).

Beplannig

In al my oplees en voorlees en watter ander tipe lees daar nog kan wees, kom ek af op hierdie webwerf. Dit gee die stand van die verskillende roetes en hulle dateer die inligting op. Tot my groot spyt is die kortste en bekendste, die Via dell’ Amore, gesluit tot jare na ek daar sou wees. Dis jammer, maar dan stap ek die verder roete verder op (dit was my plan in elkgeval).

Die roete tussen Manarola en Corniglia was ook gesluit, maar volgens die webwerf sou die roete oopmaak die dag wat ek daar sou wees. Geluk is aan my kant vir ‘n slag !! (Maar ou Murphy het weer ingemeng). Die plan was dan om van Manorola te begin stap al die pad deur tot by Monterosso. Al die ander paaie sou oop wees volgens die webwerf.

En toe tref realiteit my

Stapdag word ek wakker met Bak en Terie vir geselskap en emmers reën. Maar stap sou ek stap, veral na al die drama om daar uit te kom.

Ek het my weg gebaan in die reën na die stasie, het my kaartjie gekoop en saam met 100de ander toeriste in die trein gebondel. By Riomagiorre het ek die verpligte kiekies geneem maar het glad nie kans gesien om die lang staproete aan te durf met Bak en Terie wat so lekker aan my gehang het nie.

Riomaggiore
Riomagiorre

Ek klim toe maar weer in die oorvol ‘beeslorie’ na die volgende van die lande. In die tussentyd, vandat ek die stand van sake dopgehou het, het hulle besluit om nie meer die roete oop te maak die dag wat ek daar was nie. Inteendeel, dis nou ook vir die volgende paar jare gelsuit. So aikôna vir die Manorola na Corniglia voetslaan. En aangesien die vêrder roete baie verder is het ek dit ook ‘n mis gegee.

Weereens was ek oppad met te veel ander toeriste. Ingesquash soos ‘n klomp nat beeste. Corneglia doem op buite die treinstasie. OP, is die regte woord, want jy klim trappe al heen en weer op, en dit laat my dink aan die Toring van Babel om een of ander rede. Tussen Coriglia en Vernazza is die eerste oop ‘kort stap pad’. Dit is die kortste oop pad en hom moet ek gaan stap. By die ingang het iemand die eerste keer gevra om na my Cinque Terre kaart te kyk. Wees gewaarsku, hou jou kaart naby op die staproetes anders gaan jy ‘n nuwe een moet koop.

Manarola
Manarola

Singing in the rain

Ok, ek het nie gesing in die reën nie, dit was meer ‘n kreun en steun. Die mooi van stap deur boorde met die see doer neffens het my nie verbygegaan nie al was ek daar in die reën en moes beur teen Bak en sy vriend Terie. (Gelukkig het Mina Moo nie ook saamgekom nie want ek sou waaragtig waar nie haar ook nog kon saamsleep nie 😉)

Dit was regtig mooi, en ek is bly dat ek moed bymekaar geskraap het om daardie 3 km aan te durf. Ja dit was maar ‘n korte 3km, maar ek het hom soos ‘n ou tannie kafgedraf. Ok, daar was geen ‘draf’ by betrokke nie.

Die enigste regte egte voetslaan wat ek geslaan het
Voetslaan in die Cinque Terre
Padlngs tussen Corneglia en Vernazza

Vernazza, die 4de

Teen die tyd wat ek by Vernazza aangekom het, was ek op soos ou brood en nat soos ‘n kat. Maar , mens kan ne sê dat jy by die Cinque Terre was as jy net ge-Quattro Terre het nie, niemand gaan dan weet waar jy was nie. So dit was ‘n gedane saak, ek sou nog aangaan tot by die 5de land. maar nie met dapper en stapper nie. Maar met die nat beeste trok😉.

Net gou ‘n systap na die ‘beestrok’. Daar is regtig baie toeriste, en as dit boonop reën wil niemand stap nie, so daar is regtig geen plek vir persoonlike spasie op daardie treine nie.

En toe maak ek dit tot die 5de land, Monterosso. Ek en my ongewensde vriende het die dag oorleef, een stap gestap, en al die ou dorpies gesien. Ek het dus met rooi wange en seer bene by die huis gekom die aand, maar nie as gevolg van ‘n dag in die son en baie staproetes nie.

Monterosso, die enigste van die 5 dorpies met ‘n stand.

Wat vertel ek jou nou eintlik?

Stap

Hou die roetes dop. sodat jy ‘n ander plan kan kry as jy jou ❤ gesit het op ‘n stap al langs die Italianse kus af. Daar is genoeg roetes om mekaar af te los indien een toe is.

Die Weer

Klink my Mei is die reënseisoen. En die grappie is , ek het dit iewers raakgelees, maar gedink as dit lyk soos ons reënseisoen hoef ek nie te komkommer nie. Boonop het ek gedink hulle Mei, wat die laaste ‘Lente’ maand is , moet dan wees soos ons laaste ‘Lente’ maand wat November is. En November is vrek warm hier by ons. Daardie redenasie het vinnig platgeval toe ek daar staan met skoene vol water. Seisoene is dus nie universiëel nie, as julle verstaan wat ek bedoel. So in kort, as jy nie ‘wipers’ en ‘n snorkel wil inpak nie, gaan lees maar op oor hoe die weer veronderstel is om te wees daar waar jy wil wees. En glo maar die ‘locals’.

Gepantser teen die weer met Vernazza in die agtergrond

Kaartjies

Indien jy die roetes wil gaan stap in die bewaringsgebied, kry ‘n Cinque Terre Card. Daar is heelwat opsies om van te kies afhangde van jou behoeftes, ‘n 1 of 2-dag kaartjie,enkel-, familie- of groepkaartjies en daar is die opsie vir met of sonder ‘treno’. Ek het ‘n eendag met ‘treno’ gekoop sodat ek soveel as wat ek wou met die trein kon ry. As die weer egter mooi is en al die roetes oop kan jy dalk wegkom sonder die trein.

En as jy nie gaan voetslaan nie, maar net die dorpies wil verken, het jy niks sulke ekstras nodig nie. Jy het dus nie ‘n kaartjie nodig om die Cinque Terre dorpies te besoek nie (net ‘n treinkaartjie, want dit is al hoe jy daar kan uitkom).

Die kaart, en daarmee saam gee hulle ‘n kaart van die omgewing, en wys jou waar jy nie kan loop nie omdat die paaie toe is. Hulle is dus elke dag op die ball

Verblyf

Waar om te bly? Ek het in La Spezia gebly, ‘n klipgooi van die ‘5 Lande’ af. Ek het om verskeie redes nie in die dorpies van die Cinque Terre gebly nie. Kostes, pakdonkies en stakings.💲🦓🚳

Kostes spreek vir hulle self. Pakdonkies? Wel jy gaan voel soos een as jy moet staan en jou tas vashou op ‘n oorvol trein. Die dag met die reën het ek heelwat toeriste sien beur met hulle tasse op die oorvol treine. As dit jou nie pla nie, wonderlik. Ek voel verbouereerd, dus baie bly dat ek nie nog ‘n plan met bagasie moes maak nie.

La Spezia
La Spezia, waar ek gebly het

En dan stakings. Jip, dit gebeur ook daar. Redelik gereeld klink dit my. Ek het so ‘n staking beleef en was voor my vlug gestrand by Pompeii, maar daardie storie sal nog kom. Stakings by die Cinque Terre gaan jou laat in tamatiestraat🍅. Die treine is die in -en uit, en sonder hulle….. wel dan gaan jy baie verder moet stap as wat jou plan was.

Is dit ‘n ‘moet sien’?

Moet sien is seker maar ‘in the eye of the beholder’. As ek kon teruggaan in tyd sal ek hierdie uitsluit en meer tyd in Rome spandeer. Dit sou minder gejaag en drama afgegee het. Dit was ‘n uitskieter bestemming op my roete wat ek wou gaan stap het en daarom ingewerk het.

Maar dit sal baie makliker inpas in ‘n Noord italië toer, of een wat net langs die Weskus is. Soos ek sê, op my roete was dit heel heen en weer van die pad af. So dit is my 2 sent tot die ‘moet jy’ ‘moet jy nie’ vraag. Eidere man kan beplan soos hy wil.

Ek dink dit is dit vir die ‘hoe toe’ by die 5 dorpies van die Cinque Terre

As daar iets wat jou byval wat ek nie genoem het nie, los ‘n kommentaar. Ek kom terug na jou na jou, En as jy die storie agter die ‘hoe toe’ wil weet, gaan lees dit hier.

As jy beplan om daar vêr te gaan stap, ‘Pin’ een hieronder om te bêre vir wanneer jy daardie wêreld gaan aandurf

Pin my later
Pin vir later
Pin vir later
Follow me here