Die ‘Tower of London’ en ‘n paar ander dinge

Gratis is goed, maar tog is daar ‘n paar dinge waarvoor ek my beursie sal uithaal. Ek is ‘n sucker vir hoe geskiedens lyk en daarom was daar twee besienswaardighede waarvoor ek ‘n paar Rande eenkant gehou het. Die oudste een is die Tower of London. Dit is daar waar Dawid die wortels van Londen gegrawe het. Die ander een was die Churchill War Rooms. Sedert ons in standerd 7 geleer het van die Tweede Wêreldoorlog, was dit iets wat my baie interesseer het.

  • Tower of London
  • Churchill War Rooms
  • Kastele en Paleise

Tower of London

Tower of London

HIer is waar alles begin en my tweede dag in die stad begin het. Ek het my kaartjie al gekoop toe ek nog aan hierdie kant van die ewenaar was sodat ek nie hoef te sukkel om plek te kry nie. Ek was dus gereed vir aksie. So ook was ‘n klomp ander toeriste. Moenie dink dat as jy opdaag met oopmaak tyd dat jy rustig by jouself gaan verken nie! Nee meneer! Jy gaan baie maaitjies moet maak.

Voordat ek in is, kon ek nie help om die kontras te sien tussen hierdie, en al die ander besienswaardighede in die omtrek nie. Dis ironies dat hierdie stokou gebou uitstaan soos ‘n seer toon tussen al die moderne geboue. Dit lyk asof dit nie in die omgewing hoort nie. Dit, ten spyte van die feit dat dit laaaaank voor al die fancy blink geboue al daar was. Dis meer ‘Londen’ as enige van die nuwe geboue. So eintlik moet al die moderne geboue uitstaan soos ‘n voet vol seer tone!

Tower of London
Oud tussen die nuut
Tower of London

Het eerste gemik vir die gebou waar die koningin se kroon gebêre word, want soos wat die son water trek word daardie plek noggal ‘n vertrapping het ek gehoor.(And that was no lie). Ek was relatief vinnig daardeur. Alhoewel ek soos ‘n kraai van blink goed hou, was die krone nie vir my besonders mooi nie. Daar is te veel vieterjasies aan. Dit blink mooi, maar is nie mooi nie as dit enigsens sin maak.

Nadat ek die knewel van ‘n Cullinan diamant gesien het, het ek aangesluit by ‘n begeleide toer.

 Yeoman Warder toer

Hierdie manne, ook bekend as die Beefeaters, doen die toere. Hulle is nie sommer net toergidse nie. Almal was in een van die magte, moes ‘n hoë rang beklee het en ten minste 22 jaar se diens gedoen het. Hulle is die bewaarders van die perseel en die Crown Jewels. En hulle mag maar ‘n storie vertel!

Tower of London

Ongelukkig vir my was dit ‘n reënerig dag en het hulle die toer kortgeknip. Ons het dus net vir om en by ‘n halfuur ‘n paar stories in die kappel gehoor. Ons Beefeater het ons vertel van Anne Boleyn and Lady Jane Grey. Was dit nie vir hierdie kennis nie, sou ek nie die volgende dag die baie groot bekende skildery in die Gallery raakgesien het nie. Sedertien het ek heelwat opgelees oor al hierdie mense. Is daarnou baie geskryf en verfilm van hierdie klomp se geskiedenis! Hulle was eintlik maar ‘n baie deurmekaarspul. Mens moet omtrent kophou soos ‘n weeluis om om hulle storie te volg.

Gratis Museums in Londen

Op vrye voet

Na die verkortte toer kan ons op ons eie gaan verken. Ek moet seker net noem dat die ‘Tower’ meer van ‘n fort as ‘n toring is en baie van die plekke reflekteer nie meer wat dit vroeër was nie. Baie plekke is in museums van een of ander iets verander. Daar is die Fusilier Museum wat die verskillende tipe soldate uitbeeld. Dan is daar die deel wat gaan oor die diere wat daar aangehou was. En in my siening was dit barbaars. Daar was ‘n olifant wat in ‘n hok gebly het wat net so groot soos hy was. Diere was vir hulle net ‘n status simbool.

Elkgeval, daar is ‘n paar plekke wat hulle probeer uitstal soos dit kon gewees het soos die Medieval Palace doer teen die wal en daar waar hulle die mense opgesluit het. Dit het my noggal laat dink aan ons eie kasteel in die Kaap se Donker Gat. Maar soos met die kasteel in die Kaap, het uitstallings die oorspronklike goed vervang. En dit is wat ek eindelik wou sien. Hoe dit was, al is dit nuutgemaakde goed wat ou goed voorstel, as hierdie gedagtegang van my enigsins sin maak.

Die son het darm uitgekom

Ek het daar rondgedwaal vir amper 5 ure. daar is so baie plekke om by in en op en af te gaan. Maar ek moet ook bieg, ek was nie so lank daar omdat ek slim wou word nie, maar eerder as gevolg van die reën. Elke keer wat dit begin sous het is ek by ‘n museum of uitstalling in en het dan eers aanbeweeg wanneer ek nie meer nat sou word nie. Net voordat ek die toring vaarwel sou toeroep, het die son mooi uitgekom.

Tower of London
Tower Bridge gesien vanuit die Tower of Londen
Tower of London
Tower of London
Die Kappel is regs terwyl die “Warders’ links bly
Tower of London

Churchill War Rooms

Tot my absolute groot spyt, was daar nie tyd om dit te gaan verken nie, ek het wel by die ingang verbygehol. Die groot probleem voel ek in al die dorpe waar ek al was, is dat hulle eers laat aan die gang kom. Hulle het nog nie gehoor dat oggendstond goud in die mond het nie. As hierdie plek al 8 uur oopgemaak het sou ek dit defbeslis kon inpas.

Kastele en Paleise

Dit is iets waaroor ek ook gewik en weeg het, maar het op die einde besluit dat dit vir my bietjie weird is om in iemand se blyplek rond te snuffel en dat ek gelukkig sal wees om die bekende landmerke net van buite af te sien en dan sommer in die buiteblyery ‘n hele paar Rande te spaar. Daarmee saam is hulle nie altyd oop vir besoekers nie, en as ek nou eers moet begin koördineer om geld uit te gee, dan verloor ek heel stoom. En laaste, met baie beperkte tyd het ek nie gevoel dit gaan ‘n lewensveranderende effek op my hê om na iemand se skildery en meubels te gaan kyk nie. Daar is soveel meer om te gaan sien. Gaan Google maar eers die kastele, of paleise…..wat is nou elkgeval eintlik die verskil?

Ander geskiedenis

En daar is baie ander plekke waar mens geskiedenis gratis gaan waardeer soos in die vorige paar skribbels genoem. Mens kan sien dat die mense hier daarvan hou om hulle geskiedenis ‘lewendig’ te maak. Oral is daar groepe skoolkinders wat rondloop in die museums in plaas daarvan om in vervelige geskiedenis boeke vas te kyk. Dit is dus nie net toeriste wat oral rondsnuffel nie. En dan kan ek ook soos talle van daardie skoolkinders sê dat ek tog effens slimmer van die reis af terug gekom.

Na hierdie skribbel is ek amper oppad uit Londen uit. Ek het die mistroostige weer ervaar en my aandeel geëet aan bake beans en tee vir ontbyt (Bone vir ontbyt? Dit was vreemd vir my.). Daar is net nog een ding om te vertel, en dit gaan oor die kaarte vir Londen, die Oyster, London Pass en die Londen Explorer Pass. Ek het baie somme gaan maak en op die einde net een van hulle gebruik. Ek sal in my volgende skribbel probeer my redenasie daaroor en -teen uiteen te sit.

Follow me here