Solitaire, Sesriem en Sossusvlei: April-gek

Oggendstond het goud in die mond, en na die kar opgepak is na die kampery langs Spitzkoppe, val ons opgewonde in die pad na Solitaire, Sesriem en Sossusvlei. Ek sien net al die mooi fotos wat ek gaan kan neem van al die duine en grasvlaktes, en die skemer met sterre nadat ek gelukkig was om dit by Spitzkoppe vas te vang.

Hierdie fotos het ek verlede jaar ingedagte gehad, maar die hele toer het mos op nommer 99 inmekaar geval. Ek kan nou nog nie glo dat soveel dinge verkeerd kon gaan nie. Maar dis nou ‘n nuwe jaar en ons gaan weer probeer. Vooraf toe ek verbyf reël en die vrou van Gondwana sê dat hulle plek het die 1ste April, het ek noggal gespot en gevra of sy ‘n April- gek grappie met my maak. Ek moes liewer net niks gesê het nie…….

Spitzkop kamp
Die dag het so mooi begin

Nou is ons weer terug waar ons die oggend vroeg in die pad val by Spitzkoppe. Alles verloop soos stroop. Tot die pad wat die vorige dag so erg sinkplaat was, is geskraap, so ons ry baie beter. Score! Ons stop gou in Karabib om water en padkos te kry en ons val toe in die pad Suid van daar af. Ek het die kaart op my skoot om seker te maak ons ry reg, want een verkeerde afdraai en mens sit dalk in Timbuktu. Die pad is hier en daar sinkplaaterig, maar dit is beter as wat ek gedink het. Het noggal by die toeriste kantoor en die locals gevra of my Ecosport daar sal kan ry, en almal het gesê solank ons dit net stadig vat sal ons kom waar ons wil wees. So dit was goeie nuus.

Solitaire, Sesriem en Sossusvlei
Gewapen met ‘n kaart en GPS

Maar kort voor lank word ons ontnugter. orals waar ‘n stroom oor die pad geloop het, was die pad weg. Of dit ‘n klein stroom was of ‘n grote, en die groottes het al breeër geword. Wie sou kon raai dat daar so baie strome in die woestyn kan loop. Liewe ouers! Die pad tussen hierdie ‘strome’ was 100% en mens sou so waar as vet daarop kon ry met ‘n gewone voertuig maar die popo slaan die fan daar waar die water geloop het.

Solitaire, Sesriem en Sossusvlei
Alles lyk wel…..

Ons kon deur ‘n paar van hulle kom, maar by een het my tjor tot op sy pens vasgeval. Ons het gesukkel om hier uit te kom. Het eers gaan klippe soek om onder die wiele te sit, en het probeer sand uitkrap. Toe dit nie werk nie begin ons die kar op-jack. Gelukkig kom daar toe twee 4x4s aan.

Die klomp is toe buitelanders wat eers skel omdat ons met ‘n Ecosport ry. Wat hulle met hulle fancy Euro gehuurde voertuie nie weet nie, is dat ons al met al wat ‘n normale voertuig op hierdie paaie gery het, en dat hierdie die eerste keer is wat ons vasval, en dit was as gevolg van die vloede. Ek kry nou nog suurkrop as ek daaraan dink. MAAR hulle het ons darm uitgesleep terwyl hulle ‘n video gemaak het van die dom klomp met hulle simpel Ecosport.

Solitaire, Sesriem en Sossusvlei

Vol sand en verneder, ry ons toe verder. ‘n Paar van die stroom stroke was so wyd, dat ek eers deurgeloop het om te kyk hoe diep en los die sand is. Dan kom ons weer op ‘n die pad en dan ry ons weer soos mense op ‘n missie. En ek wou nog ‘n Geocache padlangs opgetel het. Die GPS het iets soos 8 km gesê tot by die cache toe die moeder van alle verspoelde paaie voor ons opdoem.

Ek het uitgeklim effens ingestap en kon nie die einde sien nie. net daar het ek geweet dat dit die einde van my Sossusvlei uitstappie was. Daar was geen manier om deur te kom nie. As ons sou probeer deurry en dan vassit was ons in tamatiestraat, Ons sou daar in die middel van nêrens vasgeval wees sonder hulp of eers selfoonsein om iemand te bel. Dit was ‘n nare pil om te sluk. Daarmee saam het die 80km wat ons tot op daardie punt gery het het ons 2 ure gevat. Dit in ag genome, al sou ons deurkom, sou ons waarskynlik eers by ons bestemmimg aangekom het nadat die hekke gesluit was. Ek het nie eers ‘n foto geneem van hierdie hindernis nie so telleurgesteld was ek.

Te draai ons maar die Eco se neus om. Wat anders kon ons doen? Die 80km terug het ook net so oor die 2 ure gevat. My kar het op klippe gekap op ‘n kol toe ons deur ‘n drif moes sukkel en het vreemde piep pieps gemaak. Hy het hard geprottesteer en ek vas oortuig dat wanneer ons stop en na skade soek sou daar ‘n poel vloeistof op die pad gelê het saam met een of ander part. Dank Vader dit was nie die geval nie. Maar ons was moedeloos en moeg en ons het toe maar RSA se kant toe gemik sonder om te stop by enige iemand. (Om hierdie vakansise te kon begin, was net so ‘n gesukkel, so die sukkel was maar die ‘bookends’ van ‘n lekker vakansie)

Die hele pad het ek net gedink hoe ek graag wou gaan sien het hoe dit na die reën daar gelyk het. Ek wou so graag met die fancy kamera geoefen het om die mooi van die natuur te neem. Toe ek by die huis kom, het ek gaan kyk watter fotos ek het van die vorige keer wat ek daar was, nog in skooldae. Tot my onsteltenis kom ek toe agter dat al wat ons het is ‘n foto binne die Sesriem Canyon. Nie van die duine nie. Nie van die veld nie. En ook niks van Solitaire nie.

Sesriem
Die enigste foto van daardie geweste, nog op film vasgevang.

Ek onthou dat ons woes verdwaal het om die kampplek by Sesriem te kom. Ek onthou dat ons in die Canyon se ingang was, dat daar die aand een of ander bok iets geloop en kou het langs die kampplek, Dan onthou ek dat daar mossies by Solitaire was en dat die ouers onsteld was deur die hond duur toebroodjies daar. Maar behalwe die foto in die canyon, was daar geen fotografiese bewys dat ek wel al voorheen daar was nie. En hierdie keer, sowel as laas jaar, was ons defbeslis nie daar nie. So lang storie kort, ek het geen kiekies nie. Tensy ek ‘n man opspoor met ‘n 4×4, sien ek nie dat ek hierdie plek in die nabye toekoms gaan besoek nie. Ek het maar ‘n poskaart by Keetmanshoop se garage gekoop van die mooie Sossusvlei

Oppad huistoe. Ons het sommer net aanhou ry toe is die 80km grond teruggery het hoofpad toe. Hierdie is is net buite Windhoek laat die middag van ‘April fools’ dag. Dit kon netsowel Vrydag die 13de gewees het.
Sossusvlei poskaart
Die poskaart wat ek by die garage in Keetmanshoop gekoop het.

Maar, ek het darm die vooruitsig gehad om oor ‘n maand terug te gaan Nam toe vir ‘n staptoer in die noorde waar ek nog nooit was nie. So daar was darm ‘n silwer randjie….

Follow me here