Staptoer nabetragting

Ek het pas van ‘n staptoer langs die Kunene teruggekom.

HIerdie stap sal seer sekerlik onthou word vir die dag wat ons 29km in die bloedige son🌞 geloop het wat eintlik 25km moes wees, die ‘dis net oor daardie heuwel‘🏞 wat dit toe nooit was nie, en die kiem 🤒, wat nie genoem sal word nie, wat amper die hele groep platgetrek het. O ja, en die immer afwesige krokodille 🐊waarvoor ons 4m van die wal af moes wees ten alle tye?! Ek glo die Lochness monster het meer ‘sightings’ gehad as hierdie klomp skimme. Dit sal ook onthou word vir die Makalani bome 🌴 en die chaos wat geheers het omdat ons ‘proef konyne‘🐰 was.

En dan kom ek by myself…

‘Teraardebestelling’*

Elke keer by so ‘n fisiese uitdaging word ek ge-‘humble*’ soos die Engelse sê (en net so tussen ons, ek dink altyd hulle gebruik dit verkeerd wanneer hulle sê ‘ this award has humbled me’, bol man!). In die oomblik van ‘n fisiese uitdaging, word ek altyd gewys daarop dat ek nie so ‘n ‘tough cookie’ is as wat ek dink nie. En dit is elke keer ‘humbling’ in die ware sin van die woord. Elke keer besef ek dat ek nie so fiks of fluks is as wat nodig was nie.

Humble klink net beter as die korrekte Afrikaanse ‘verneder’, want mens is nie noodwendig verneder soveel as wat mens terug aarde toe gebring word nie, en daarom maar teraardebestelling, dis nou nie eintlik wat die woord beteken nie, maar dit maak die punt.😉

En moenie dink dat my ‘jonkheid’ my goed gehelp het nie. Deel van die ‘humbling’ het daaruit gekom dat ek, as die jongste in die groep, elke dag ore aangesit is deur baie ouer mense. Ek het gesteun en gekreun soos ‘n ou tannie, terwyl die werlike ou tannie (71), met ‘n huppel in haar stap by my verby gewals het. Elke dag!! As dit nie ‘n mens terug aarde toe bring nie……

Ek het glad nie gehuppel nie. Het my knie gestamp sommer op dag een wat ‘n hele ketting reaksie veroorsaak het, met die gevolg dat ek gevoel het om my heup af te draai soos ‘n ou Barbie en dan ‘n nuwe een in te skroef. En die opdraandes was die ergste vir daai oumens heup. Dan het ek geloop en voete sleep terwyl al die res net spikkeltjies doer vêr voor was.

Dan was my skoen se sool ook los na dag een en moes ek met ducktape omgedraai loop. Dit het ook nie huppel of wals aangemoedig nie. Die skoene het darm die stof by Epupa gevoel en het daar hulle laasste rusplek gevind. Vry soos ‘n voël in ‘n boom.

Stap
Pleister vir ‘n skoen

Ek het meer as een keer gewonder wat ek daar soek, veral toe die Afrika son my verskroei, my voete gebrand het, die ongeoliede heup geskreeu het soos ‘n ou skarnier sonder olie en terwyl niemand in sig was nie (terwyl ek die agteros was). Daardie was die oomblikke wat ek gedink het ‘Jou idioot!”

So sal ek weer gaan stap? Verseker!Gee my net eers ‘n oomblik of 7 om al my varkies, en skoene, weer op hok te kry.

En as jy sou vra hoekom ek myself weer vir selfgeskepde ‘pyniging’ sal laat aanmeld sal ek ‘n paar dinge noem.

Sintuig oorrompeling

Wel, vir een ding, sien en ervaar jy ‘n plek soos jy nooit as te nimmer sou kon vanuit jou kar nie. Jy sal nie die voëls of goggas hoor skree nie. Jy sal nie die veld kan ruik of die stilte kan hoor nie. Vir daardie oomblik is jy deel van daardie geskape natuur. Jy is nie ‘n buitestaander wat sy gesig teen die vistenk druk om in te sien nie, jy is die vis in die water. Daar is net iets anders daaraan om deur die natuur te stap en deel te wees van die dag soos wat die son opkom en die skaduwees aanskuif.

Dapper stappers

Tweedens is daar die mense. Mense maak of breek ‘n ervaring en in hierdie geval het die mense en die geselskap die stappery gemaak. Ek is nie eers amper ‘n ekstrovert nie, maar ‘no man is an island’, en waar ek bly moet ek ‘n eiland wees. So om deel van geselskap te wees is noggal ‘n hoogtepunt. En wat maak hierdie geselskap ‘hoog‘?

Wel, eerstens, mense wat van hierdie tipe ding hou, het noggal dieselfde tipe uitkyk. daarom, sommer uit die staanspoor al het mens ‘n aanknopings punt met hierdie eens vreemde mense wat saam met jou, stok en hoed, aanland.

Tweedens, veral op afgesonderde plekke soos waar ons was, is mens saam geisoleer en doen mens alles saam van eet tot stort (soos by die een horibale ablusie gerief waar ons was).

Derdens, mense is afhanklik van mekaar veral doer in die grammadoelas, en hierdie groep het met ‘n kollektiewe glimlag mekaar gehelp. Dit was veral nodig toe kieme en blase die groep die een n die ander pooitjie. Toe word daar medisyne, tissues en pleisters oor en weer uitgedeel. En die hoeveelheid Med Lemon wat orals uitgepeul het was verstommend. Verder het almal oor en weer gehelp met watookal se vaardighede hulle gehad het. Die verpleegster het voete verpleeg terwyl die apteker raad en meds vir die siekes gegee het. Die Bio het kniee ge-‘strap’ en die gids, skoene. Daar was skoene en ‘tape’ uitgeruil en almal het heeltyd gehoor of die siekes en kreupeles hulp nodig het. Wat ‘n heerlike ervaring met al hierdie eens vreemde mense. As die hele samelewing darm mekaar se laste kon dra soos hierdie groep. …

En dan was daar nog die ‘bonding’ wat gebeur wanneer mens moeilike dinge saam deurgaan. In hierdie geval was dit die 29km in die bloedige son, die vermiste bagasie en die muf badkamers na die genoemde 29km.

Niks bestaan nie

En dan is daar hierdie heerlike gewaarwording. Niks bestaan nie. Nie die petrolprys, korrupsie of corona nie. Ek het dit eers besef oppad terug. Gedurende die stap, het ek nie aan enige van die daaglikse komkommerrnisse ‘n druppel se aandag gegee nie. Mens was so besig om die ander te leer ken, die natuur te beleef en om net een voet voor die ander te sit, dat niks buite die ‘bubble’ waarin ons was bestaan het nie. Wat ‘n plus! Geen nuus is inderdaad goeie nuus!

Die Kunene stap in ‘n neutedop

So hierdie was in ‘n neutetdop my stap langs die Kunene. Wanneer my neus en heup weer hulle ou self is, en wanneer ek meer fluks voel as nou sal ek meer detail skribbel, want daar is baaaaiiiie.

Tot tyd en wyl is daar solank ander skribbels oor stappe waar ek ook baie vinnig terug aarde toe geruk is. Die Vis en die Cinque Terre. By die Vis was ek ook agteros en by die 5lande was ek ook siek. 🤦‍♀️ Ek wonder of dit nou maar is wat my stap lot is…..🤔

Follow me here