Cairngorms Park

Cairngorms laat my plek-plek dink an ‘n advertensie baie jare terug. Ek dink hulle het wiskey adverteer. Die ou staan en visvang tussen die spoelklippe en koue water met daai ‘emmer broeke’ aan. Ek verbeel my daar was ‘n visarend. Ek het wel nie ‘n visarend in Cairngorms gehoor nie, maar het lus gevoel om daar te gaan staan en hengel soos in die advertensie. (Klink my as jy hengel vang jy nie vis nie, jy maak net lyn nat). En hierdie is wraggies visvangwêreld. Wanneer jy op die lughawe afklim vra hulle jou om te verklaar as jy iewers anders gaan hengel het sodat jy ne hulle water moet een of ander parasiet besoedel nie.

Cairngorms Nasionale Park

Cairngorms bekruip mens eintlik. Jy gaan sonder groot marakkas die park binne. Dis nie soos ons parke met heinings en hekwagte en betaalpunte nie. Nee wat, as jy weer sien is jy al hoekal in die park.

Die park is die grootste in Britanje en jy gaan ry en ry al op en af op die vele kronkelpaadjies . Jy gaan jou verkyk. Die landskap wissel baie, van plat aarde met vaal maroen bossies (wat my laat dink dat dit die Karoo se Engelse kleinneef is), tot bebosde gebiede waar jy die bome baie hoër as ons kameeldorings staan. Daar is valleie met klippe en riviere en die ou klein dorpies het hulleself deel gemaak van die landskap.

cairngorms

Vierbeniges

Daar was ‘highland cows’!! As ek bestuur het sou ek die kar omgegooi het toe ek daardie wollerig mooeees gesien het.Dit was noggal ‘n belewenis om daardie wollerige ouens in lewende lywe te sien. Mens verwag eintik dat hulle soos in ‘n tekenprentjie moet begin praat. Wat ek nie in lewende lywe gesien het nie was die ‘red squirels’. Hulle was wel volop, maar in die ongelukkige vorm van ‘road kill’. Heeltemal te veel. Arme dierasies. Wat ek uitgemis het in enige vorm was die park se takbokke. Ek sou ‘n voortand gee om vir Rudolph-hulle te kon sien. Hulle loop blykbaar in die ander deel van die park. Daar moet dus ‘n volgende keer wees sodat ek die takbokke kan gaan soek.

Cairngorms
Takbokke en eekhorings, ek het nie een in lewende lywe gesien nie.

Winter in die middel van somer

Die oorspronklike plan was om te gaan stap in hierdie park, maar dit was winter koud. Ek het nog nooit so koud gekry, letterlik in die middel van somer nie. Die mis het laaaag gehang en die snerpende koue druppels was nooit vêr nie. As daar al ooit tyd was om te wil hiberneer dan was dit dan. Maar, ek was nie daar om snoesig onder ‘n bers op te krul nie. Dankie tog vir ‘n huurmotor. want verken sou daar verken word al was dit nie met dapper en stapper nie.

Cairngorms
cairngorms

Vreemde dinge vir my

Ek het ‘n interessante ding hier geleer wat niks met die prys van Cairngorms se eiers uit te waai het nie. Die blyplek se mense het gevra of ‘half 9’ reg sal wees vir ontbyt. Ekt gesê honkiedorie en was gestewel en gespoor toe dit half nege was sodat ek met ‘n vaart die dag kon aandurf nadat die maag se gat gevul is.

Half 9 word 9 uur. 9 uur word kwart oor 9. Dan trippel mens rond, want hierdie tydloosheid is volksvreemderig in die eerste wêreld. Net toe ek die moed bymekaar het om te gaan hoor of ek maar kan eet, kom hulle aan met die piekniek ontbyt. ‘Turns out’ ‘half 9’ beteken eintlik ‘half past 9’ in doerdie geweste. 🤔

En dit het soos genoem niks met die prys van eiers te doen nie, maar dis iets wat vasgesteek het in my brein.

Nog ‘n ding…..haggis in ‘n blik. Die ou omie in sy kilt wil net blikkies haggis met ‘offal’ aan my smous. Behalwe dat ek en ‘offal’ nie om die selfde vuur sit nie, kan ek nie dink dat die doane gaan dink ek is grênd met my blikkieskos as souvenirs nie. En dit was my ‘get out of jail free card’ : Dankie Oom, ek sou baie graag wou, maar doane gaan my vasvat op die lughawe. Toe probeer hy die vegetarieër haggis aan my verkoop. maar is vegetariese haggis steeds haggis?

cairngorms
In die middel van êrens.
Daar moet ‘n foto van Highlander wees want Highlander! En ja, ek weet die winkel doer agter het niks met die storie uit te waai nie 😉
Hierdie was noggal snaaks.

Heidi hut

Die park was besonders, maar die blyplek ook. Ek het gebly waar dit lyk asof Heidi iewers aangejodel moet kom. Die eienaars van hierdie plek bly ook daar. Wat ‘n vooreg om hier te kan bly.

cairngorms
Wie wil nie hier bly nie? Daar onder was ‘n kabbelende stroompie en saligheid.
Cairngorms
Hier is my gunsteling park foto.met al sy kleure en teksture en dieptes, bome en vlaktes en riviere. Hierdie foto is vir my ‘n opsomming van die park.

Follow me here