Daar was so baie Loch Ness Monsters!

Na die geil groen van Ierland☘ was ek op die spoor van die Loch Ness monster. En so waar as vet !! Ek nie een nie, maar honderde Loch Ness monsters gesien.

Tel hierdie👇 , of is dit kroek monsters?

Loch Ness monster

My eerste voet aan wal in die land van Nessies, Highlander en haggis, was in Invernes. Van Inverness was dit Loch toe. Skotland is self ‘n pragtige plek, en dit was te siene lank voordat ons by Nessie se pitstop uitgekom het.

Nessie se pitstop

Die Loch Ness Center was volgende op die lys, want komaan, jy kan nie die land van die Kilt en doedelsak besoek sonder om uit te vind wat die storie van die monster van die Loch is nie.

My eerste oomblikke in die sentrum was noggal benoude boude. Mens stap in ‘n donker kamer wat soos ‘n grot lyk in en wag. Ek het dadelik gedink daar gaan iemand in ‘n monster pakkie uitspring en brul. Elke senupunt was dus gereed om te ‘veg of vlug’‘. Groot was my verbeelding en senuwees se verligting toe niks spring en brul nie, maar eerder projekteer.

Diep in die donker gang…..

Dinge van die sentrum en die meer

Dit begin, tipies genoeg, by millions of years ago. Elke grotkamer vertel ‘n ander aspek van die Loch en van Nessie. Wat mense gesien het, of gedink het hulle gesien het;-dit was enige iets van stompe wat dryf to eende wat swem; hoe ongelooflik baie water daar in daardie gat is, hulle het probeer verduidelik maar ek kon nie my brein kry om dit te snap nie; en ook hoe baie plankton en dinge daar in die Loch is en dat dit nie genoeg sal wees om so ‘n groot monster aan die lewe te hou nie….. tensy hy uitkom en die skape van die wal af steel.

Lawwe soektogte

En dan vertel hulle oor al die ure en geld wat mense vermors het om na hierdie Nessie te soek

Eerstens wil ek net noem dat as ek gedink het dat daar ‘n merske groot monster onder die water wegkruip sal ek vir geen geld in die wêreld in die water dobber of duik om na hom te soek nie. Ek sal die heeltyd ‘haai musiek’ hoor.

Loch Ness Monster
..Hierdie is nou wel ‘n ‘duikboot’, maar hy pas op ‘n sleepwa, so ek reken Nessie sou hom heel kon insluk as hy daar was. En. teen daardie tyd is die duiker seker al mal van engtevrees en sou nie eers gesien het dat die monster hom soos ‘n geel pilletjie afgesluk het nie.
Loch Ness Monster
Ek kan nie eers dink wie so simpel was om in hierdie pret-pakkie na die Loch Ness Monster te gaan soek nie. Wat sou hy gedoen het as ou Nessie skielik voor hom opgedoem het?
Loch Ness Monster

Tweedens, wat ‘n monumentale mors van geld. Geen vrugte is gewerp met al die soektogte nie. Hulle kon net sowel sakke vol geld letterlik in die water gegooi het en iets anders gaan doen het. Dis maar my 2 sente.

Die kort en die lank van die staptog deur die ‘monster grot’ is dat daar nie ‘n regte egte Nessie is of was nie. Sal ek daar gaan swem? Nie ‘n ‘snowball’ se kans nie! As ek will ‘haai musiek’ hoor sal ek gaan Jaws kyk.

Monsters, monsters everywhere

Aan die einde van dwaal deur die ‘donker gang’ is waar jy gaan kry wat jy eintlik gekom het om te sien: Monsters! Net. Waar. Jy. Kyk! Die Nessie wat jy vir jouself in jou geestesoog kan optower, sal jy iewers hier uitsnuffel. Pienk, blou , groen. Groot en klein. It’s soooo fluffy! Ek wonder of ou Nessie sal ‘offence’ vat as hy weet hy word pienk en fluffy voorgestel….onder andere. 😁

Mens moet hier in want die kanse dat jy die ware Jakop gaan sien is maar so skraal soos om ‘n perd met horings raak te loop. Dit is veral belangrik sodat jy kan sê dat jy wel Loch Ness monsters gesien het.

Loch Ness monster
HIer is my Nessie, hy is nou heel uit sy element uit in die droë stowwerige Kalahari

Net af in die pad op die wal van die Loch is Urquart kasteel. Die plan was om daar tussen die ruines te gaan snuffel vir skubbe. Ongelukkig was die blyplek nog ‘n hele ent uit en was daar ‘n inkloktyd, so die kasteel en die ‘scenic route’ was uit soos koekies in die weeshuis. Kon darm die kasteel van ‘n afstand beskou. Dit is maar net nie dieselfde nie.

Urquart Kasteel

Cairngorms

Die hoofpad was egter steeds ‘scenic’. En sonder dat mens agterkom ry jy in die Cairngorms Nasionale Park in. Daar is nie heinings en hekke en wagte soos by ons parke nie. Daar is net ‘n bordjie wat so terloops noem dat jy nou in die park is.

Die park laat my om een of ander rede dink aan die Karoo as dit net natter sou wees…. die Karoo bedoel ek, want Cairncorms was meer as genoeg nat… en koud. Maar hierdie skribbel was eintlik maar net om te sê dat ek vele Nessies gesien het. Die mooiheid van Cairngorms is ‘n skribbel op sy eie.

Die Heidi hut in Cairngorms. Wie sal nie elke môre hier wil wakker word nie?
Follow me here