Die stad van David

Aan die einde van my 2de dag in die Beloofde Land, toe die skemer pienk begin daal, het ek deur die ‘nuwe’ Ou Stad na die ‘Ou- Ou ‘ Stad, die Stad van David gestap vir die aand se ligvertoning.

Oppad soontoe is ek deur die ‘nuwe’ Ou stad se Joodse woongebied. Daar het ek my eerste kennismaking met ‘n falafel gehad. Ek verstaan nie regtig die balletjies se ‘appeal’ nie, maar alles wat verder in die pita was was baie lekker. So loop ek toe en eet deur die Ou Stad. Kom weer uit by die Klaagmuur, en gaan deur die Dung Gate na die Stad van David. Op my stadomsirkeling die vorige dag, het ek vining ‘n oog daaroor gegooi.

IDie goue ‘menorah’ in die Joodse woongebied binne die ‘nuwe’ ou stad. Dit is blykbaar regte goud, 45kg s’n
Klaag muur en Doem of the Rock
Voor is die Klaagmuur, dit is altyd oop en bedrywig
Stad van David ingang
Pienk skemer die nag oor Jerusalem

David: דָּוִד

דָּוִד, was een van die eerste woorde wat ek geleer het, so ek was noggal trots bo-op myself dat ek dit darm kon lees toe ek dit sien. Nadat mens letterlik ‘die skrif aan die muur’ sien, kan mens by David se harp inloop na die Stad van David kompleks. So onder die skemering het ek langbeen gesit en die uitsig en die laaste van my kos geniet. Soos dit meer donker geword het, was daar al meer mense. Ek vang toe die oë van ‘n groep laerskool meisies. Ek dink hulle wou net hulle Engels oefen. Maar hulle het my omsingel en almal gelyk gepraat, ek het gelyk soos iemand wat tennis kyk waar hulle met 3 balle gelyk speel.

Ek het die interaksie net so baie geniet soos hulle. Kort-kort deur die loop van die nag het een op my afgestorm, my iets gevra en weer teruggehol na die res met ‘n nuwe Engelse woord of antwoord op ‘n vraag. Hulle vaardigheid in die vreemde taal het my verbaas, gesien in die lig dat dit hulle derde taal moet wees. Hulle het my ook ‘n paar dinge in Hebreuws probeer leer, en hulle was mal beindruk toe ek kon tel (Toe hulle my ouderdom vra). Ek moes toe net keer, want vir hulle beteken dit dan mos mens verstaan die taal.

Stad van David
Stad van David
Die uitsig oos van die Stad van David. Hierdie uitsig sou deur die loop van die aand ‘n besondere verrassing inhou.

Hallelujah Night Show:

‘Parking lot’

Toe dit donker genoeg was kon die ligvertoning begin. Die eerste ‘lig op die onderwerp‘ begin by die uitgrawings oorkant die pad. Ons het aan die rand van die uitgrawings gestaan terwyl hulle met ligte strukture uitgewys het. Hierdie area moes blykbaar ‘n parkeerplek gewees het, maar toe ontdek hulle hierdie eeue oue versteekte deel van die ou stad. Nou is dit ‘n groot argeologies gat in die grond. Hulle kon toe nie ‘paradise pave to put up a parking lot‘ nie.

Stad van David uitgrawings
Ou Jerusalem hier voor, die ‘nuwe’ muur doer agter bo.

Nehemia en die muur

Hierna is ons weer terug na waar ons begin het. Ons het ons sitplekke ingeneem onder die oop sterrehemel voor ‘n gedeelte van die oorspronklike Jerusalem wat die skerm vir die vertonng was.

Die storie wat hier uitgebeeld word is hoe Nehemia die muur herbou het. Een van die dinge wat my altyd sal bybly is die stem was soos Mufasa klink wat vir Ne-Gem-Ja! roep. En elke keer wat נְחֶמְיָה geroep was, het ek net gedink hoe absoluut ‘verkeerd’ ons dit uitspreek in beide Afrikaans en Engels. (En dit is maar een naam, die hele Bybel sal volksvreemd klink vir ons ore)

Die ligbeelde teen die muur was so goed gedoen, en ek het vasgenaal gesit en die storie gevolg van hoe Negemja, teruggekom uit uit ballingskap en die muur herbou het. Dit het my so begeester dat toe ek die aand terug was by die blyplek, ek eers my Bybel uitgekrap het en die storie self gelees het. Om die Bybel in beeld te sien, teen die geboue van doerietyd omring deur dinge van ‘toe’, laat die Bybel werklik 3D word..

Aan die einde van die ligvertoning, toe die muur gebou was, was daar ‘n groot hoera met water en vuurwerke. Mens kon letterlik die hitte voel soos die bolle vuur die lug ingeskied het. Dit was ‘n belewenis. (Ek het ook later die ‘Night Spectacular‘  ligvertoning gesien by die Toring van David).

Hieronder 👇is ‘n kort video van die Halleluja lights wat ek op Youtube raakgesoek het.

Volmaan in die Stad van David

Terwyl almal opgewode die trappe opstap om weer uit te gaan, is daar skielik ‘n paar mense wat gaan stilstaan het teen die heining en terugkyk na die rigting waarvandaan ons gekom het. Ewe nuuskierig draai ek toe om en tot my groot genot, is daar ‘n volmaan besig om op te kom.

Ons het net daar in verwondering gestaan en gekyk hoe die maan oor Jerusalem opkom. Dan dink mens, dit is presies dieselfde maan wat oor presies dieselfde stad opgekom het oor die eeue heen

maan kom op oor die Stad van David
Hierdie was sommer met die selfoon gekiek. Dis tye soos die wat mens ‘n fancy kamera en vaardighede nodig het om die oomblik ordentlik vas te vang.
Maan oor die stad van David

En die ‘spectacular’  beeld van die maan moes seker ‘n dramatiese lofsang uitgelok het, maar al wat in my kop opgekom het was ‘n liedjie uit ‘n ou Disney fliek, American Tale met die woorde : somewhere out there beneath the pale moon lght‘ En dan gaan die liedjie verder om te sê almal slaap onder dieselfde hemel En dit is waaraan ek gedink het toe die maan opkom. David het die maan sien opkom, net soos ek op daardie oomblik, net soos die mense by die huis aan die anderkant van die ewenaar.

Nadat ek ‘n paar bewerige fotos geneem het, was ek oppad terug huis toe. Sovêr as wat ek geloop het, het ek heeltyd omgekyk om hierdie spesiale beeld in die Jerusalem hemel te aanskou. Dit was ‘n perfekte aand.

Stad van David ingang

Dag 3, weer by die Stad van David.

Dag 3 word ek wakker om my 7 uur ontbyt te gaan geniet. Ek loer gou deur my dag se beplanning blaai. ‘n Emmer koue water tref my teen die bors. Ek het my Masada uitstappie gemis. Die bus het 3am al gery.

My gedagtegang was heel deurmekaar met die wat hulle naweek op ander dae as ons sin val. En wat ‘Maandag’ moes gewees het was eintlik ‘Dinsdag’ in my kop, so ek was vas oortuig dat die Masada uitstappe eers die volgende dag sou wees en dat ‘Maandag’, of die 2de dag van die week, die dag was vir Die Stad van David verkenning. My gedagtes oor die week is regtig net so deurmekaar soos ek dit hier geskryf het. Ek is ook maar lekker stupid🤦‍♀️

Ek spring toe skielik wakker uit die bed uit, trek aan en storm na die toer kantoor toe, wat baie gerieflik, binne die Hostel is. Hulle maak eers 8 uur oop. Dit dwing my om te gaan eet en te kalmeer. Na ontbyt loer ek om die hoek, en toe ek sien daar stap ‘n mens in storm ek op hulle af soos ‘n mal mens.

Ek verduidelik dat ek my dae omgeruil het en of dit moontlik was dat ek die volgende dag die toer kon meemaak. Hulle krap op hulle stelsel rond, en so waar as vet was daar een plek oop en hulle kon my daar insit. Hulle het nie ‘n boehaai gemaak of gevra dat ek weer betaal nie, hulle het my net gehelp. Wat ‘n verligting. Toe die olifant van my bors af is, kon ek in vrede stap na die Stad van David om my dag se verkenning daar te begin.

Stad van David

Ek was lekker vroeg, so ek het die plek redelik vir myself gehad. Voor die verkenning begin het, kon ek eers ‘n paar vrytjies inwerk met die inwonende kat wat ek ek ook die vorige aand daar gesien het.

My eerste besoek was aan die uitgrawings wat ons die vorige aand ook besoek het. Ek kon toe op my tyd daardeur loop en van bo-af kyk. Ek dink dit sou ‘n heel ander belewens wees as mens tot onder kon loop tussen die mure deur. Al staan mens hoog, moet mens steeds baie vêr opkyk na die muur van die ‘nuwe’ ou stad, wat net weereens wys hoe op- en toegebou hierdie area oor die jare geword het. Alles is net na elke verwoesting platgevee en bo-oor gebou.

Die Stad van David is die regte Ou Stad, en dit is geheel en al buite die mure van die ‘nuwe’ ou stad. Hierdie area is omtrent maar eers 170 jaar terug gevind en sedertdien is hulle steeds besig met uitgrawings. Hoekom hulle vermoed dat hierdie die regte Ou Stad is is as gevolg van die items wat hier uitgehaal is. Daar is seëls gevind met die name op van die mense wat vir Jeremia in die tronk  gegooi het (Jer 37-38).

Dan is dit ook waar hulle die Gihon fontein gekry het waar Salomo (1 koning 1:38-39) gesalf is tot koning. Daarmee saam is Hiskia se tonnel (2 kronieke:20:20 & 32:30) hier gevind. Dan  dateer klomp van die fondse terug na die bybelse tyd. Hulle kan dus met baie sekerheid sê dat hierdie die regte Ou stad is. Hulle soek egter nog bewyse dat David se paleis hier was. Daar dele wat hulle glo dele is van die muur wat Nehemia hulle opgebou het. Soveel geskiedenis in so klein area. Die Bybel word net nog meer 3D.

Stad van David uitgrawings
Aktiewe argeologiese gebied
Stad van David uitgrawings
Hier diep onder is die uitgrawings, en doer bo agter is die nuwe ou stad se mure
Ek verstaan hierdie is die stad se bekendste landmerk. Dit is ook waarop die ‘lightshow’ gewys word.

Donker dieptes

Van hier af om die draai gaan mens in na waar die tonnels is. Ek het ‘n problem met nou spasies, maar mens kan nie hierheen kom en nie ingaan nie, Gelukkig is daar ‘n kroek vir ‘pansies‘ soos ek.

Toe ek aangestap kom, gaan die laaste toeris van ‘n Duitse toergroep deur die draaihek. En ek is toe vasgeker agter hulle, want mens kan nie weer teruggaan nie. Die draaihek is soos ‘n ‘non-return valve‘ Gelukkig kon ek saam luister soos hulle gids aangegaan het. Maar ek het al meer benoud geraak met die gedagte dat ek in ‘n nou tonnel vasgekeer kan wees met ‘n klomp ander mense.’n Klein spasie is en ding, ‘n klein spasie vol mense is ‘n heel ander storie…….

Daar was geen keuse nie en ek moes toe maar agter hulle aan. Ek het stadiger as hulle geloop net om bietjie spasie tussen my en hulle te los dat ek nie al my varkies verloor nie. Daar was liedjis in my kop want anders sou ek dink aan die berg bo en die soliedie klipgang rondom my.

Op ‘n kol maak die gang ‘n groot vertrek en dit is waar die Gihon stroom is en waar Salomo gesalf was. Terwyl die Duiters se toergids hulle weer hier dinge verduidelik het, het ek my kans aangegryp en by hulle verbygehol na waar die 2 tonnels vurk.

Hiskia en Kaanan

Die een tonnel, wat ek glad nie myself kon dwing om te probeer deurstap nie was die tonnel wat Hiskia sy mense laat grawe het. Hulle het dit gebou om water in die stad te kry sodat hulle beleërings kon weerstaan. Ek kry sommer hartkloppings as ek dink dat daardie mense duisende jare terug in daardie donker dieptes moes inkruip en ‘n tonnel grawe. Vandag vermoed die slim mense dat hulle die tonnel van 2 kante af gegrawe het en geluister het na mense wat van bo af kap sodat hulle ‘n lyn van rigting kon hoor. En hulle het sowaar as vet in die middel bymekaar uitgekom.

As mens vandag daar wil ingaan, gaan jy deur heuphoogte water in ‘n pikdonker super smal tonnel loop. Dit vat blykbaar so ¾ uur. Ek is nie so nuuskierig of avontuurlustig nie. ‘n Vrou wat ek in Israel ontmoet het het gesê dat sy glad nie benoud raak in klein spasies nie, maar dat hierdie tonnel haar bekend gestel het aan die wëreld van claustrophobia

Direk links van Hiskia se tonnel is die droeë of ‘Cananite tunnel’. Hier loop mens deur op droê grond, dit is belig en dit lyk vir my effens breer as die ander tonnel. . Ek weet nie of dit 5 minute was nie, toe is ek uit en in die son. So dit is defbelis doenbaar vir benoudes. Maar ek glo dit sou steeds my varkies laat hol het as ek daar moes deur saam met die Germane.

Die Siloambad

Die ander verkil met die tonnels is dat die droeë tonnel, vroeg uitkom en mens ‘n hele entjie moet stap na die ‘Siloam Pool. Dappperes wat die Hiskia tonnel aangedurf het, kom so te sê direk by Siloam uit.

Die ‘pool of Siloam‘ was ‘n reiniginsbad of ‘mikveh‘, dit is ook hier waar Jesus ‘n blinde man laat sien het (Joh 9:1-8).

Na ‘n ent se stap was ek daar. Daar is nie meer water of ‘n ‘pool’ nie en hulle is ook daar besig met uitgrawings. Dit is ‘n ent se stap -heen en weer- vir nie veel om te sien nie.

Toe ek uitkom was daar ‘n baie styl pad en ‘n meer gelyk pad. Ek besluit toe daar is geen manier dat ek daardie styl bult gaan uitstap nie want ek het nie lus om ‘berg te klim’ nie en dit lyk dan nie soos die pad wat ek ingekpm het nie. Plaas het ek opgelet in die klas. Ek het toe die ‘plat pad’ gevat en het al meer deur ‘n residentiële gebied stap en ek kon dit defbeslis nie onthou nie. Noodgedwonge moes ek toe terugdraai. Met ‘n sug het ek voor die ‘berg’ pad gestaan en moed bymekaarmaak. Dit was toe al die tyd die regte pad terug.

Net buite van waar mens uit die tonnel kom, het ek hierdie kieter onder ‘n mooi boom gekry.
Steeds oppad na die bad, met uitgrawings sovêr mens loop
Amper terug by die ingang van die Stad van David.

Terug by die stad het ek my nog verkyk aan ‘n paar dinge. Die Moslem gebied net langs die stad. Die Nuwe Ou Stad se muur, en die Kidron vallei. Ek is weer uit die stad in die rigting van die Kidron Vallei, Tuin van Getsemane en die Leidensweg.

Ek is nie die beste panorama afnemer nie, want ek bewe te veel, maar staan ek in die Stad van David met die muur van die nuwe ou Stad voor en links en die Kidron Vallei hier regs.As mens met die pad in die vallei stap, loop mens by Absalon se monument verby, kan mens gaan na die Lion’s gate en die Tuin van Getsemane onder andere. In die stadomsirkeling skribbel ek hieroor. In die Muur waar die bome uitsteek is die Dung gate en heeltemal links van dit is die Zion Gate.

Hoe toe :Stad van David

As jy ‘n gewigstoter is, sal jy die bal kan gooi van die ‘Dung Gate’ tot by die Stad van David. Dit is net-net buite die muur van die nuwe ou stad. Dit is hoe naby dit aan mekaar is.

Ek wou ten minste die ligvertoning bespreek op hulle webwerf. maar het my as afgesukkel. Die webwerf wou glad nie my kaart aanvaar nie en dit was ook vir my baie ‘user unfriendly‘. Ek het hulle ‘n paar keer geepos. Hulle het toe vir my ‘n skakel gestuur wat gewerk het. Ek kon egter steeds nie my gewone kaart gebruik nie en het op die einde reggekom met ‘n ander kaart. Ek het net so gesukkel by die Tower of David se webwerf en by 2 van die blyplekke waar ek was.

Vir die dagbesoek het ek sommer by die ingang ‘n kaartjie gekoop. Dit was die maklikste. Daar is verskillende kaartjies vir verskillende roetes (wat ook nie duidelik op die webblad is nie) .Ek het ‘n geel kaartjie gekoop vir die droë tonnel en nie die blou Hiskia tonnel kaartjie nie. en daar is ook ‘n kaartjie vir die wat vanaf die Siloombad ‘n ander ondergrondse roete wil terugvat wat uitkom by die Davidson Centre teenaan die nuwe ou stad.

Ek het ook hier die app gebruik wat ek in vorige skribbels genoem het om om te weet wat waar is.Dit is baie gerieflik om mens se eie gids te hê, en jy kan om ‘replay’ of ‘skip’ soos jy will.

HIer is ‘n ‘n paar videos wat ek vooraf gekyk het 1 & 2. Dan is daar ‘n kort video van ‘n vriendin wat deur Hiskia se tonnel gegan het. Almal waarsku orals dat dit nie die tonnel is om te besoek as engte en donkerte nie jou speelmaats is nie.

‘n Laaste punt, die Toring van David en die Stad van David is nie dieselfde plek nie. By elkeen het daar mense aangekom wat kaartjies by die ander plek bespreek het. Die Toring van David is by die Jaffa hek, en die Stad van David is buite die Dung Gate.

HIer is die tye en kostes

HIeronder👇 is vorige skribbels se skakels van dinge wat ek al om die muur gesien het.

Follow me here