Spitzkoppe, die Matterhorn van Afrika

In my lewe het ek seker al meer as 40 keer by hierdie landmerk verby gery. Daar gaan Spitzkoppe regs verby. En dan weer links. Dit was my blewenis van die Matterhorn van Afrika, ‘n vêraf spits oppad see toe, of oppad terug. Toe ek ‘n paar jaar terug  ‘n episode van Amazing Race kyk en sien die klomp buitelanders was daar, kon ek nie help om te wonder hoekom ek nog nooit daar gestop het nie. So die saadjie was geplant, en die eerste kans wat ek kry sou ek gaan.

Die geleentheid doen hom toe Maart voor. Ek soek verblyf, googleer die area en kyk toe ook sommer of daar Geochaches is. Daar is, as iemand gewonder het.:)

Vir die eerste keer ry ek stadiger toe ek die afdraai sien. Sit my flikker aan en draai af. Dadelik skud die sinkplaat my tande los. Ek ry stadig. Dit werk nie. Ek probeer vining. Dit werk effens, maar voel onveilig. Links van die pad. Regs van die pad. Maar die popcorn bly pop.

Vat na so ‘n ruk ‘n foto breek net om bietjie stil te staan,die losgeskudte stemme in my kop stil te maak en dan ook tog om fotos te neem van hieride plek waarby ek nog nooit gestop het nie.

Spitzkoppe
Doer vêr agter vlaktes van gras.
En soos dit ‘n goeie reënjaar betaam, reën dit iewers agter ons
Spitzkoppe
Amper daar

Weer op die pad speel ek met die spoed om die skud te probeer beheer. Ek sien toe ‘n gladde kol en mik daarheen. Dit was ‘n fout want toe sit ons vas. Gelukkig is on sou uitstoters so dit was net ‘n kort probleempie.

En toe is ons aan die Spitzkop se voet

Wat gevoel het na ‘n ewigheid (dit was maar 30km), kom on by die ‘Matterhorn’ aan. Dis pragtig. Ek dink die prag is indie grootheid van hierdie stuk klip. En weer kan ek nie glo dat ek maar net altyd verbygehou het nie. As ‘n bonus, is die veld welig na die goeie reën, so dit is ekstra mooi.

Ons kry ‘n kaart by die ingang en begin die verkennigstog. Ons stop by die eerste kamp/piekniek plek. Toe ek uit die kar klim, tref die reuk van die veld my. Liewe ouers! Soveel verskillende bossies en gras se reuk saam. Dit het so lekker geruik. Die voëls het gekwetter en die koringrieke en sonbesies het geskree. Die son het geskyn. Dit was ‘n perfekte oomblik in tyd.

Spitzkoppe

Hier het ons die kaart bestudeer, maar dis geteken, so nie heeltemal ‘maklik’ nie. Van hier ry ons verder links, en nie vêr nie, ry ons by die rock pool verby. Ek het daar opgeklim om te kyk. Dis nou nie jou tipiese swembad of dam nie. Jy klim ‘n ent op ‘n rots uit en daarbo is ‘n poel water. Dis seker net daar as dit gereën het. Ongelukkig vir my, was daar ‘n groot groep half kaal jong ‘cool’ Duitsers. Ek was nog nooit ‘cool’ nie, so na hulle my aangegluur het, het ek maar afgeklim sonder om die waters te toets.

Vrolike pienk veldblomme

The Bridge

Daarna het ons die bekende bridge gaan soek. Dit is ‘n groot gat in ‘n nog groter stuk rots. Wat my opgeval het by die hele Spitzkoppe, is dat dit eintlik een aanmekaar klip is. Hulle sê dit is dieselfde tipe formasie as daardie groot stuk klip in Australie, die Uluru of Ayers Rock. As jy dit googeleer sal jy presies weet van wat ek praat.

Spitzkoppe Bridge
Spitzkoppe bridge

By die bridge aangekom, het ons parkeer en uitgeklim om op te klouter. Ek het soos ‘n klipspringer daar uitgeklim en in die skadu van die ‘brug’ gaan staan. Wat ‘n ding om te kon sien en voel. Terwyl ek daar staan en die wêreld bekyk, sien ek dat 250m verder is daar ‘n Geocache. Ek dog toe ek klouter gou oor ‘n paar klippe en gaan soek die ding. Dit was dom.

Dassie

Dit was dom want dit was in die middel van die dag, tussen rotse wat al heel dag staan en bak, en die GPS se kop het geraas. Ek het opgegee toe ek begin voel ek gaan omdop. Daar was daar wraggies ‘n kampplek naby en dan ook ‘n pad. So ek het nie nodig gehad om dom dinge aan te gevang het nie.

Ek wou graag teruggaan, want RTD die dassie het ‘n fotogeleentheid gehad naby waar die skat was. So klim ek toe terug oor die rots, buig onder deur bosse vol koringkrieke en kom toe soos rooi soos ‘n tamatie by die kar terug. Daar aagekom val ek die water aan soos  iemand wat na dae uit die woestyn strompel in ‘n oase in, Toe ek terug by my verhaal kom, kon ek die agterom pad gaan soek.

RTD het sy foto gekry en ek die skat.

Ons het nog draaie gery deur hierdie onbeskryflik geleurde groot koppe. Die veld bekyk met al die gras en veldblomme. Dit was ‘n fees vir die oog. Ek weet dat ons baie gelukkig was om dit so te kon sien want gewoonlik is dit droog.

Grafte, murasies en tekeninge

Ons het elke afdraai gevat en uitgeklim waar ons kon- wat orals was. Daar was tot ‘n plek waar daar ou grafte was. Daar is ongelukkig niks opgeskryf nie, so mens kon nie die spoor vat van wie hier lê of wat hulle storie was nie. Daar is blykbaar ook ‘n ou fort se murasies, maar ons kon dit nie sien nie.

Mens kan ook as mens vooraf reel ‘n gids kry en dan gaan wys hulle mens die rotstekeninge. Maar ons het nie bespreek nie, en teen daardie tyd van die dag sou ons moes plan maak om na die kampplek langsaan te gaan

Daar was baie voëls en koringkrieke en ander gogs wat geskree het. Heelwat akkedis dierasies, maar min diere. Daar was gou 2 bokkies wat ons sien hol het doer vêr, maar dit was dit. Nie eers ‘n meerkat gesien nie. Nie seker of die gebied baie diere het nie, veral gesien in die lig dat dit normaalweg baie droog is. Maar aan die ander kant het ek al in die woestyn zeebras en springbokke gesien, so ek sal diere nie uitsluit net omdat dit droog is nie.

Van die lewende wesens wat daar was. Die koringkrieke het soos ryp vrugte aan al wat ‘n ding is gehang

Daar was nog ‘n paar geocaches wat ek wou gaan soek het, maar hulle het klouter en ‘n bietjie tyd nodig gehad, en my tyd was min en ek was warm, so dit het ongelukkig nie gebeur nie.

Spitzkoppe het my verwagtinge oortref. Het nie geweeet dat daar so baie is om te sien, en om op te klim en klouter en af te neem nie. Het gedink ons gaan net om die Koppe ry en dan is dit klaar. Maar daar is oral afraaipaadjies en stopplekke. Ek sou graag daar wou geslaap het, maar daarvoor moet mens al wat ‘n kamp ding is saamry, tot water. Ek kan net dink hoe mooi dit sal wees om sononder en sonop hier die wêreld te kan aanskou en om in die koelte te kan rondloop. En dan dink ek aan die mooi sterrehemel  wat mens dan sommer so onder die bridge deur kan sien. Dalk ‘n volgende keer. Hierdie keer was my tjorrie te klein vir kampgoed en vol soos ‘n koshuis bussie na langnaweek.

Met ‘n swaar hart, omdat ons nog dinge sou wou sien, maar opgewonde om met koue koeldrank om ‘n kampvuur te sit, is ons daar uit.

Spitzkoppe het nie veel woorde nodig nie, ek hoop dat die fotos die praatwerk gedoen het.

Een slegte ding vir my was wanneer mens uit kom, al die klein kindertjies. Hulle ouers laat hulle buite die terryn staan om goetertjies te verkoop. En hulle is so klein. Klein soos in kleuterskool klein. Dalk nog jonger. En dan storm hulle op jou af. En vir wie gee jy nou of by wie koop jy nou. Hulle is te veel.

Ek het nie geweet van hierdie kindertjies nie anders sou ek graag vir hulle iets wou saamvat. So as jy eendag jouself kry om Spitzkoppe toe te gaan, vat seblief vir die kindertjies iets saam. Vrugte en iets te drinke dink ek sal hulle dag maak.

Follow me here