Ierland

Eindelose groen lande waar die skape heuphoogte groei. Vriendelike mense. Nog ‘n tikkie groen ‘for good measure’. Ierse danse. Nog vriendelike mense. En nog groen en nog skape en nog pragtige uitsigte. Daar is net nog, nog, nog. Ek raak sommer liries oor Ierland. Dit het al my verrwagtinge oortref.

Ek het baie meer van die natuur van die 2 Ierlande en Skotland beleef as in Italië omdat ek nie afhanklik van publieke vervoer was nie. Mens kon orals ry en stop en snuffel. Dit voel my mens sien soveel meer. Net jammer die tyd was so kort. Mens sal maklik ‘n hele vakansie net in hierdie klein groen eiland kan deurbring.

Laas nog…

Die laaste skribbel was waar ek amper die vlug van Londen af Ierland toe gemis het oor drama op die lughawe. Gelukkig het alles op die einde saamgewerk want Ierland moet nie gemis word nie. Daar is net te veel hoogtepunte in my boeke.

Ierland begin al op die vlug

Dis wat ek gesien het na ek uit die vliegtuig geklim het.

Ek is ‘n skribbelaar, soos julle nou al seker weet, en dis wat ek toe op die vlug doen. Ek sit langs ‘n ou omie wat dit later nie meer kan hou om my te vra wat ek doen nie. En toe hy eers my aandag het toe laat waai die oom met sy glimlag en sy baie sterk Ierse aksent. Hy is baie lief vir sy land en wil net hê dat toeriste ook so voel. Ons gesels dik stukke en toe ons land wys hy by die venster uit met ‘n groot glimlag en wys vir my dat die son skyn. Hy en sy vrou het nie saamgesit nie, en toe sy verbystap stel hy ons eers aan mekaar voor en wens hulle my mooi weer en verkenning toe.

Die vriendelikste mense is in Ierland

Dit was my eerste ervaring met Iere, en die res was almal net so vriendelik. Uit de vliegtuig is ek en my ‘sidekick’ herenig en in by die lughawe geboutjie. Die mense wat daar werk is self baie vriendelik. Niks drama nie. Hulle stempel en verwelkom. (Defbeslis ‘n ander ervaring as die lughawe van ‘n paar ure tevore)

Selfde by die karhuur plek. Hulle gesels ‘n hond uit ‘n bos uit asof hulle mens ken. Watter goeie eerste indruk van die mense van Ierland. En so was dit oral verder van die vrou wat ons gehelp het toe ons verwaal het in Tralee, tot die oulike mense by die AirBnB en hulle bure wat gesien het ons soek ‘n plek en gestop en gevra het of ons die O.Briens soek.

Emerald Isle☘☘

Die oomblik wat jy voet aan die spreekwoordelike wal sit, sien jy net groen. Geen wonder hulle verwys na die eiland van smarag nie. Alles is groen,daar is orals wooly jumpers, skape vir Afrika, of in hierdie geval skape vir Ierand🐑😉! Dan was daar die Dingle Peninsula, die Cliffs of Moher en die pragtige landskappe oral tussendeur. As ek aan Ierland dink sal ek dink aan groen alhoewel dit defbeslis nie die stad se indruk was nie.Stad schmad. Die platteland is die plek om te wees. behalwe vir musiek, dan moet jy maar die groen agterlaat.

Ierland
Iewers op die Peninsula
Inch Beach
As ek reg onthou is hierdie die strand oppad Dunmore Head toe. Die koudse seewater waarin my voete al ooit was, en ek ken van die koue Benguela, hy is nog mak vergelyk met hierdie ys.

Dans in Dublin

Die platteland en die landskappe is onbeskryflik mooi, ‘but having said that’, was ‘n lewenshoogtepunt in Dublin, vêr weg van die pragtige natuur. Die een aand wat ons daar was het ons in ‘n pub gaan eet waar daar later die aand ‘live music’ sou wees. Ek het baie staaaadig geëet sodat ons nog daar kon wees wanneer die kitaar en trekklavier sou begin sing. Asof die vooruitsig van gelukkige musiek nie genoeg opwinding was nie, was dit daardie aand ook ‘volkdancing’ aand.

O my word!!! Wat ‘n belewenis. Die musiek en danse! En so tussen die danse deur het die dansers by ons tafel aangesit. Die een oom sê hy sal my die steps wys. Ek snap dit noggal vinnig, en toe ek weer sien dans ek saam met die volksdansers. Lewens hoogtepunt! Om te volksdans op tradisionele musiek in ‘n Ierse pub!! Dit was die beste ding van Dublin. ‘Dare I say’ van Ierland.

Ierland, hopelik kom ek weer

Hierdie is net ‘n kort opsomming van die hoogtepunt wat Ierland was. Ek sal dit opvolg met meer skribbels oor elke deel op sy eie. Die fotos alleen spreek ‘n duisend woorde, ek sal dus nie te veel hoev te skribbel nie.

Ierland
Op die voorruit van die huurmotor geplak. ‘n Paar regs ryers het seker drooggemaak meer as wat nodig was. Nou weet almal ten minste LINKS is REG-s

As jy ooit gewonder het waarheen om jou eerste oor die water uitstappie te beplan, gaan Ierland toe want….

  • Engels.
  • Hulle ry soos ons aan die regte kant van die pad . Jy kan maklik self ry in Ierland. Makliker as in Europa wat aan die verkeerde kant van die pad ry. Die kant van die stuurwiel en pad maak ‘n groot verskil, mens se brein kliek nie lekker die agterstevoorom ryery nie, veral nie by ‘n sirkel nie, dan voel jy stroomop soos ‘n salm.
  • Die vriendelikste behulpsaamste mense wat jy al ooit raakgeloop het
  • Pragtige natuur. dit slaan jou asem weg
  • Gelukkige musiek en as jy gelukkig genoeg is kan jy ‘n dans vang.
  • En die beste van alles vir ons uit Afrika: geen visa*! Vir een of ander rede aanvaar hulle ons met oop arms, anders as die res van die eerste wêreld.
  • Star Wars. Ek weet niks van dit nie, maar ek het gesien orals is daar Star Wars verwysings van waar die flieks gemaak is. So as jy hou van oorloê tussen die sterre is Ierland die plek vir jou.

* Jy moet wel net inligting beskikbaar hê sou hulle wou weet. Dinge soos jou retoer vliegkaartjie, dat jy genoeg geld en verblyf het ens. Ek het dit elektronies gehad, maar niemand wou iets sien nie).

Ierland
Ierland is die ‘Star’ waar die ‘Wars’ gebeur.
Ierland
Hulle praat nie net Engels daar nie.
Follow me here