Lughawens en Murphy

Die van julle wat my ken sal weet dat, wat verkeerd kan gaan sal verkeerd gaan. As jy my Klaagliedere die afgelope 2 weke moes aanhoor, sal jy net jou oê kan rol en sug vir my part. En as jy my nie glo nie gaan lees die drama oppad La Spezia toe. (en alles wat hier gaan volg👇) Dit was om van te huil. Elkgeval hoekom sal dinge nou anders wees op lughawens? Ek dink die drama daar is net so titseltje erger vir verskeie redes.

Ek moet eintlik nou al weet dat wanneer ek na ‘n lughawe gaan iets gaan gebeur, of oppad soontoe, of op die lughawe en sommer vir ‘good measure’ na die tyd. Eintlik moet ek sommer ‘n reeks lughawe komedies skryf met al my ‘mishaps’ daar.

OR tot Heathrow

En die vakansie in die UK was geen uitsondering nie. Die drama het sommer ‘n maand voor die tyd begin toe ek ‘n e-pos kry wat sê dat my vlug gekanselleer is. Maar die geluk kanselleer die ongeluk uit, want ek kry toe die laaste oop sitplek op ‘n vlug die dag voor die oorspronklike tyd, so eintlik het ek gewen. … vir daardie oomblik.

Toe breek die dag van die vlug aan. Ek bly omtrent ‘n dagreis vêr van ou OR so ek het dus al laaaaank voor die vlug in die pad geval sodat as iets verkeerd gaan (soos die keer wat ek op die vakansiedag van 2 Januarie vir 4 ure langs die pad in die somerson gestaan en wag het in ‘n gebreekte kar ook oppad lughawe toe) ek darm nog’n plan sal kan maak.

En toe gebeur Gangsters paradise. Dank Vader sonder die gangsters

Alles het wel geloop. Ek kon nog ‘n kuier in Potch inwerk voordat ek die laaste skof Johannesburg toe sou aandurf. Ek het my pad ge-googeler en geprint en ‘n GPS saamgepiekel. Min gespin ry ek die gramadoelas van die stad in. En toe sê meneer GPS vir my dat ek moet links hou. Wie is ek nou om met die GPS te stry?

Plaas het ek want toe hy sê ‘arriving at destination on left’ toe ruik ek die rot. Daar staan ek iewers in Johannesburg, bang ek word ge-highjack, verdwaald soos 10 en my foon kan nie eers ‘n ‘location’ bepaal nie.

Ek is later op histerie se voorstoep omdat dit skemer raak en die moontlikheid heeltemal bestaan dat ek my vlug kan mis. Gelukkig het ek ‘n kalm vriendin wat my ‘off the ledge’ praat en my kom optel by ‘n winkelsentrum.

Sy het my toe by die lughawe gaan aflaai maar ek moes dadelik inboek. Toe ek by die ‘gate’ neersak was ek ‘n bol bewende senuwees. (Ek moet tog iewers neerskribbel van die keer wat ek na Windoek toe moes vlieg vir ‘n troue, toe het ek 10 minute voor ‘gate’ toemaak tyd daar aangekom, toe het ek gebewe en brein pyn gehad!)

*Ek sien goeie Afrikaans vir ‘gate’ is instaphek! Niemand gaan weet wat dit is nie, so ‘gate’ sal dit bly.

Londen na Ierland ☘🐑

Hier is nou waar waar die vorige skribbel klaargemaak het. Na die Skygarden besoek was Engeland klaar en was die volgende stop Ierland. Klink maklik nê. Teoreties, maar dis daardie verdomde fynskrif wat die planne in die wiele ry!

Nie op die vlug nie😱😱

Daar daag ons toe met ‘time to spare’ by die London Luton lughawe aan. Stap ewe rustig en soek na waar ons bagasie moet in. En daar gebeur dit toe. Ons kry ‘n vrek ongeskikte ou Tannie wat sê dat ons nie op die vlug is nie, Sy kan ons blykbaar nie help nie en sê dat ons iemand anders moet gaan vra om ons te help. Dit is nie iets wat mens op die lughawe wil hoor nie, net soos wat mens nie ‘oeps’ in die hospitaal wil hoor nie.

Daar loop ons toe verward deur die lughawe en soek ‘n ‘info’ . Ons loop van die een toonbank na die ander. Niemand kan ons help nie. By die ontvangs toonbank hak ons vas totdat die ou daar besluit om tog te help. Hy bel rond en vind uit na watter toonbank ons moes gaan.

Dit is toe die toonbank direk oorkant die mislike tannie. As sy ons dit van die begin af gesê het……

Boetes na lang toue vir Suid Afrikaners wat nie mag in’check’ nie 🤦‍♀️

Ons loop toe weer al die pad terug net om ‘n lang tou te kry , soos dit maar sal wees wanneer ek haastig is. En daarmee saam was daar mos net een mens aan diens. Oi!! Daar staan ons vir vrek lank in ‘n nimmer eindigende tou terwyl die vlugvertrektyd al nader kom.

Dit het gevoel asof ek my vingers kan afkou! Ons keer ‘n lughawe vrou voor en vra solank vir haar of daar ‘n rede kan wees hoekom ons nie op die vlug geregistreer is nie. Na ‘n paar vrae sê sy sy dink dit is omdat ons Suid Afrikaners is! WAT!!?? Teen hierdie tyd is ek gereed om soos ‘n stout kind ‘n vloermoer te gooi.

Verdomp uiteindelik is ons voor. Die vrou daar sê dis omdat ons nie vooraf inge-check het nie (ons het die vorige aand as iemand wou weet). Ons vra of dit waar is dat dit is omdat ons Suid Afrikaners is. Sy sê net sy weet niks. Sy kan ons nie daarmee help nie en dat ons self die lugredery moet kontak. Intussentyd kan sy ons help as elkeen van ons ‘n ‘ boete’ van 50 Pond betaal!! 50 Pond is nie eers amper R50 nie, maar met die vlug wat so te sê vertrek het ons nie ‘n keuse gehad nie.

Terug in die oorspronklike ry

Ons betaal, swaai om om weer in die oorspronklike ry gaan staan en hoop die tou loop nie weer uit by die ongeskikte antie nie. Gelukkig word ons darm nie so getart nie en die opening vir bagasie afgee is by die vrou langsaan die moeilike tannie.

Die bagasie en die passasiers gaan nie by die selfde ingang in nie, so daar moet ons omdraai en op ‘n drafstap na die ander kant van die lughawe gaan sodat ons ook kan ingaan.

En wat gebeur by die deurgang? Die alarm gaan vir ons altwee af! Na ons ge-scan is, en ‘veilig’ verklaar word, word een van die sakke ook afgekeer vir ‘n deursoektog. Daar in die ry waar jy net mag dankie sê as iemand jou wil deursoek was daar seker iets soos 15 minute oor. Praat van vingers afkou!

Eindelik word ons ‘vrygelaat’ en moes toe hol om die ‘gate’ betyds te vang. Maar alles wel aan die einde. Was betyds daar en nou kan ons lag daaroor. Op daardie oomblik is sulke goed nooit snaaks nie, maar dit is die tipe dinge wat tog aan die einde ‘n ondervinding maak, en daardie ekstra ‘oemf’ aan ‘n herinnering gee.😀

Ek sal op ‘n latere skribbel meer oor die lugredery self vertel, want hierdie ouens sal ek nie aanbeveel nie..

Ierland na Skotland 🐉

Hiervoor is niks te vertel nie. Na ons onderonsies met die vorige redery was hierdie die spreekwoordelike ‘breeze.’

lughawens

Maar nog is einde niet

Daar was nog 2 vlugte oor. Van Skotland terug Heathrow toe en dan die laaste skof terug OR toe. Ons het weer in baie goeie tyd by die Edinburgh lughawe aangekom, net om lank te moet wag vir die vlug. Daar was blykbaar te veel lugverkeer oor Heathrow, dus moes sekere vlugte bietjie vertraag word. ‘n Bietjie vertraging is nie regtig iets om oor huistoe te skryf nie……

…..tot die bietjie vertraging ‘n nippertjie ding word. Ons het laat gevlieg, en was boonop noggal lank in die vliegtuig voor ons kon uitklim steeds as gevolg van die verkeer op Heathrow. Eindelik toe ons uitklim was daar alweer ‘n baie lang tou met net een ou wat Paspoorte ‘scan’. En asof dit nie genoeg was nie, was daar een ou wat so bitter was met al die verrtragings dat hy een of ander onderonsie met die enigste paspoort sekermaker mens gehad het.

Almal staan en wag en raak net meer geïrriteerd. ‘n Vrou en haar familie kom druk in en sê dat hulle hulle vlug SA toe gaan mis as hulle nie nou deurgaan nie. Dieselfde vlug as ons. Na vele woordwisselings kom ons eindelik deur. Hol by die roltrap op om die bord te soek wat sê waarheen volgende ons moet hol.

There is a problem with the plane’s phalange

Ons hoef toe nêrens heen te hol nie want die bord wys ‘delayed’. OK great. Ons kan ons asems terugkry en kalmeer. En ons wag……. en wag…….. Na ‘n redelike lang tyd van staar na die bord, kondig hulle ons ‘gate’ aan met ‘n nuwe vlugtyd en daar gaat ons toe. By die ‘gate’ aangekom hoor ek net iets oor die interkom van ‘ the jet of the plane’. Kom toe agter dis die ‘jet’ van ons ‘plane’. Die vlug was dus nog verder vertraag.

Maar in alle eerlikheid. Ek gee nie om hoe lank ons moes wag nie solank hulle net die vliegtuig ordentlik regkry. Eerder laat as dood. Kan nie glo mense het daar gesit en kla nie. Ek wil net aankondig dat hulle asb hulle tyd moet vat. Om een of ander rede was dit vir my effens snaaks toe die kaptein eindelik aankondig ‘the jet is now again attached to the plane’. Daar is geen rede dat dit snaaks moet wees nie. Na die ‘attachment’ was dit seker nog ‘n 3/4 uur voor ons kon opklim.

lughawens

Dit was dit vir my lughawe dramas…..hierdie keer

Toe die vlug eers vertrek was al die drama darm verby en het alles verder volgens plan verloop, behalwe vir slaap. Dit wil nooit saamspeel nie.

Ek moet tog iewers tyd inruim vir die ander luhawe stories. Ek dink die Tertia trou ekspedisie en die Stuttgart ‘mishap‘ moet ook vorente iewers spesiale vermelding kry.

Maar aangesien ek nou in die middel van die UK vakansie is sal ek maar eers daarby hou.

Volgende skribbel sal gaan oor Ierland. Dit was by verre my gunsteling plek. As iemand vir my ‘n vliegkaartjie gee, gaan ek nou. Alhoewel, dalk is die winter ook eers iets om te beleef voordat ek daardie besluit neem. Maar as die besluit gaan oor ‘n mooi land en vriendelike mense is die koeël klaar halfpad deur die kerk.

Oja, en as jy wil weet van die lugredery se ‘klein skrif‘, kan jy op hierdie skakel kliek.

Follow me here