Moenie die trein mis nie!! Vervoer in die EU

Vervoer in Europa

Na my dag in Venesië moes ek voorwaaarts per trein! Ek het besluit om hier te noem hoe ek in die geheel ge-voorwaarts het op die langpad in die land van die Euro.

In ‘n oogopslag die lande wie se treine ek al beproef het

  • Duitsland : Deutsche Bahn🥨🍻
  • Italië : Trenitalia🍕🍷
  • Ierland: Irish Rail☘🐑
  • Algemene raad

Hieronder sit ek uiteen hoe elkeen werk, waar om die goedkoopste kaartjies te kry, en hoe om boetes te vermy (hulle het geen genade as ons buitelanders nie weet hoe hulle stelsels werk nie en is baie vrygewig met boetes).

Die kortste afstand tussen punt A en punt B is….

Die kort antwoord is …..Ta-Da! Treinevervoer. Hulle blyk die goedkoopste te wees. Ek het al 3 lande se treinstelsels beproef en ek kan nou sê dat ek heel gemaklik met hulle voel. (Dit het ‘n ruk gevat om om by ‘gemak’uit te kom, aagesien ek die eerste paar kere redelike onderonsies gehad het).

Trein
Aankondigings by Milan se stasie

Hier by ons is mens redelik gesnoeker as jy nie jou eie vervoer het nie. In die eerste wêreld is die teendeel waar. Min mense het hulle eie vervoer omdat publieke vervoer volop is, en die wat wel hulle eie wiele het sukkel in die mal verkeer en met te min parkering (Dit is maar een van die redes hoekom kar huur in die stede nie lekker tol nie).

Jy behoort enige plek te kan bereik solank jy by ‘n halte van een of ander geaartheid is. Hoe groter die dorp hoe meer opsies en hoe meer gereeld sal jy daar kan beweeg. Afgeleë plekke is ook binne jou reik, dalk net nie so gereeld nie (en met ‘nie gereeld nie’ bedoel ek dalk een keer elke uur of 2). En jy sal dalk ‘n trein -en busaansluiting moet trotseer.

Begin by die begin

As iemand iets Europa vervoer soek, is Eurorail is the way to go’. Maar ek het my somme gaan doen en vir my doeleindes sou dit BAIE duurder uitgewerk het as om direk by die plaaslike vervoer te koop. Die Eurorail plan was dus amper dadelik geskrap. (Eurorail het intussen ook verander na Eurail). Eurail gee jou egter meer bewegingsvryheid, maar dit pas glad nie my sak nie. Die vraag is dus, soek jy vryheid of Rande? My voorstel is om elke land se eie treinstelsel te gaan opsoek want vervoer is nie  ‘one size fits all’ soos die Euro nie.

Duitsland

Trein deur Duitsland
Pin hom!

In die land van bier en Brezeln🍻🥨

My eerste kennismaking met treine in Europa was met die Deutsche Bahn in Duitsland.

Waar om die kaartjies te kry.

Daar is 3 maniere om kaartjies te koop:

  • Hulle webwerf
  • Kaartjiemasjiene by die stasies
  • En by hulle kaartjie kantore (jy gaan wel ekstra moet opdoek vir hierdie menslike interaksie)
Duitsland Trein

Ek het lank voor die tyd die webwerf gebruik om te kyk wanneer die treine loop, wat die stasies tussen-in is, en hoe die treinverwisseling lyk, en probeer vermy waar ek kon.
Dan het ek, wanneer ek op die stasie gekom het, geweet wat ek wil koop en dit tjop tjop by die masjien gekry.

DB ken nie sitplekke toe nie (behalwe 1ste klas, maar my stêre het nog nooit daar gesit nie) en hulle kontrolleer ook nie kaartjies voordat jy opklim nie. Hulle werk met die ‘honesty system’ maar behoede jou siel as jou kaartjie nie reg is wanneer hulle wel verbykom nie. Siepsop braaiboud!

Duitse treinkaartjies hoef nie ‘n stempel te kry nie omdat die datum klaar op die kaartjie staan (dit is egter nie die geval met Trenitalia nie)(Ook nie met die plaaslike vervoer in Duitsland nie, dan beteken die datum op die kaartjie niks sonder ‘n stempel nie. Praat van dubbel standaarde!!).

Trein
Want ons moet mos vroeg wees. Die trein hier neffens ons het seker nog ‘n 3/4 uur daar gestaan voordat ons kon ry. Hierdie wagtery was by Frankfurt stasie.

Om vooruit te koop of nie, dit is die vraag.

Dit is nie nodig om vooraf kaartjies te koop nie behalwe in die volgende gevalle reken ek:

• Wanneer jy die vinnige langafstand treine bespreek (ICE, IC, EC). Hoe vroeër hierdie kaartjies gekoop word hoe goedkoper die koste. Ek verstaan dat kaartjies tot 6 maande vooraf gekoop kan word en baie goedkoper gaan wees as naby die vertrekdatum.

• En koop liefs vroegtydig enige kaartjies as jy in die top vakansieseisoene wil reis.
Anders maak jy soos ek en koop die dag van die reis die kaartjie op die stasie.

Die Deutsche Bahn webwerf werk baie maklik en sal vir jou verskeie opsies gee vir tye, oorskakel en prys. Opsies word gegee op grond van die datum en die hoeveelheid persone wat saam reis.

Duitsland vervoer
‘n Paar kaartjies van Duitsland wat nie padlangs met die asdrom kennis gemaak het nie.

Tipe kaartjies

Daar is verskeie opsies om van te kies maar die gunstigste vir jou sak gaan groepkaarjies wees.
Groepreis in Germaaanie is waar mens wen by die Bahn. Groepkaartjies het ‘n basisprys, en vir elke ekstra persoon tot en met die 5de een, betaal mens ‘n hoeveelheid by. Groepe kan dus 2-5 persone wees. ‘The more the merrier’ of in hierdie geval, goedkoper. Hierdie groepkaartjies bind jou nie aan ‘n spesifieke tyd of trein nie solank dit een van die ‘R’ vir ‘regional’  treine is (Die vinnige IC en ICE’ treine, is uit soos koekies in die weeshuis). Hier is die wat ek al suksesvol uitprobeer het:

 

 Duitsland Vervoer Groepkaartjies
(Soos op Nov 2018)

Schönes-Wochenende-Ticket’ vir ‘n mooi naweek.

Soos die naam se is hierdie ‘n kaartjie vir die naweek, dus Saterdag of Sondag.

Bundesland kaartjies

Elke Bundesland het sy eie spesiale kaartjie wat jou toelaat om binne die grense van die provinsie te reis. Elkeen gaan ook sy eie naam hê. Die een wat ek spesifiek gebruik het was die Baden Wurtemberg Ticket en ons kon die treine en busse gebruik het.

Vervoer in Europa
Emmelshausen se stasie

(Die dag van die Baden Wurtemberg Ticket was een wat die nerwe geskaaf het. Ons oorspronklike vervoer het deurgeval en toe is ons vlug terug SA toe is eers gekanselleer. Gelukkig reël die redery vir ons ‘n nuwe vlug op ‘n ander redery, maar die vlug was toe vrooër as die oorspronklike. Ek het ongelukkig nog nie sovêr gekom om hierdie dag neer te pen nie. Maar al hierdie drama het daaroor gegaan om vir Ritter Sport en Mercedes in te pas. Maar dit was die moeite werd. Dubbel en dwars. Hierdie was nou net ‘n bietjie van die punt af. Ek sal iewers vorentoe die genoemde spektakel ‘n punt van sy eie maak.)

Quer-durchs-Land-Ticket

Wanneer jy oor provinsiegrense wil gaan, gaan jy ‘n ‘Quer-durchs-Land-Ticket’ gebruik. Of as julle haastig is kan julle ICE, IC en EC kaartjies koop, maar hulle is heelwat duurder en daar is nie spesiale tarriewe soos met die groepkaartjies wat van die R treine gebruik maak nie.

[Net n kort opmerking: Die plaaslike treine is gewoonlik rooi ( dis baie gerieflik en seker toevallig dat die R-treine Rooi is) en die ‘I’ vir ‘intercity’ treine lyk silwer en meer fancy.]

Italië

Trein deur italië
Pin vir later!

Na die Brezeln het ek pasta en Trenitalia gaan beproef🍷🍕

Hierdie klomp het vir my heelwat minder fieterjasies en opsies. Hulle lyk nie erg oor groepafslag en naweekreis nie. Wat jy sien is meestal, lyk my, wat jy kry (hulle was egter steeds baie goedkoper as die Eurail mense)

Waar kan mens die kaartjies koop?

Ek het ook 3 maniere gevind om kaartjies te koop:

  • Hulle webwerf
  • Kaartjiemasjiene by die stasies
  • En by hulle kaartjie kantore
Italië Trein

Vooruitkoop of nie?

Ja! Koop vooruit!, veral die langafstandkaartjies. Hulle maak 3 maande voor die tyd kaartjies oop vir koop en dan is hulle op hulle heel goedkoopste. Mens moet dan spring want hulle verkoop noggal vinnig uit.

Hierdie lagafstand kaartjies is ongelukkig vas vir ‘n spesifieke tyd en sitplek. Met my ‘geluk’ het ek die ongelukkige ondervinding gehad dat die Italianse vervoer nie so honkie dorie is as wat mens sou verwag ‘n eerste wêreldland se vervoer moet wees nie. Die gevolg was dat die een na die ander plaaslike vervoer laat was, en veroorsaak het dat ek my trein gemis het. ‘n Kaartjie wat ek dus maande vooruit gekoop het wat my oorspronklik €9 gekos het, het my op die einde ‘n ekstra €30 uit die sak gejaag.

[‘n ‘side note’:Hulle vinnige langafstandtreine is is die Frecce treine].

Trein
Buite Milan se stasie

Die plaaslike/kortafstandtreinkaartjie aan die ander kant lyk my bly dieselfde prys maak nie saak wanneer mens hulle koop nie. Ek het dus besluit om hulle op die stasies te koop net om ‘n bietjie meer vryheid te hê. (die ewige ‘beware of pickpockets’ wat elke keer kliphard weergalm wanneer mens ‘n kaartjie wil koop, wou my wel later teen die mure uitdryf).

So gepraat van mal maak. Wanneer jy by ‘n kaartjiemasjien staan, kyk eers watter tipe betaling die masjien vat. Soms vat dit net geld en soms net kredietkaarte. Dit staan darm buite op die masjien, maar ek het ‘n paar keer in my haas vergeet om te kyk, net om te wil otters kraam as ek klaar alles gekies het en die masjien jou dan vir die betaling vra wat jy nie in jou hand het nie. Dan moet jy noodgedwonge in ‘n ander ry inval en weer na die irriteerende ‘pick pocket speech’ luister.

Tipe kaartjies.

Dit wil vir my voorkom dat Trenitalia nie so baie opsies het soos die Bahn nie. Hulle het 1 opsie op ‘n Saterdag (2×1 Special Offer) waar 2 mense ry maar net 1 betaal. Hulle groepkaartjies begin eers by 10 mense (Ordinary Groups offer). Daar is ook n familie kaartjie (Famiglia offer) maar dan moet daar ten minste een kind saamreis.
Aangesien ek op eie houtjie in Italië getrein het, kan ek my nie eintlik uitlaat oor hulle kaartjies wat nie ‘enkel’ is nie.

Italië vervoer
Van die vele vervoermiddels wat ek in Italiê gebruik het.

VALADATE!!

Kaartjies wat mens op die stasie koop moet ‘n tyd en datum stempel opkry VOORDAT jy op die trein klim. Doen jy dit nie kan jy ‘n yslike boete kry waarmee jy verskeie kaartjies sou kon gekoop het. Oral op die stasie sal mens die ‘valadating’ masjiene sien. Druk jou kaartjie daarin net voor jy op die trein klim om ‘n boete te vermy. (By die Duitsers is dit weer nie nodig om ‘n treinkaartjie te stempel vooraf nie, maar hulle soek wel stempels vir busse en trams- go figure!).
Kaartjies wat vanaf die internet gekoop is hoef nie gestempel te word nie, MAAR jy moet dit by jou hê, hetsy uitgeprint of op jou foon.

Die Ierlande

Pin my!

Na die Duits en Italiaans is dit tyd vir Engels in Ierland☘🐑

Die Irish Rail werk so effens anders as die ander treine wat ek al gery het, tot so ‘n mate dat ek amper my trein gemis het. Oor heel onverwagse redes.

Waar om die kaartjie te kry

‘Bear with me’ vir ‘n wyle dat ek net eers gou kan verduidelik wat hier gebeur het.

Ek het vir ‘n lang ruk die pyse dopgehou van Dublin na Belfast, Na maande het dit voorgekom asof die pryse dieselfde bly. Hulle word nie duurder soos wat die tyd naderkom nie. Dit het my laat besluit om nie vooraf ‘n kaartjie te koop nie om sodoene meer vryheid te hê op die dag van vertrek. Dalk sou Dublin so hipnotiserend wees dat ek nog ‘n rukkie sou wou verken en eers op ‘n latere trein klim.

In teorie was dit alles goed en wel. Die dag voor die treinrit, sit ek af na die stasie wat net ‘n klipgooi van die blyplek is om ‘n kaartjie te gaan koop. Die masjiene verkoop net kaartjies vir die huidige dag. Jy kan nie datums of tye insit nie. Hy gee jou net wat op daardie oomblik beskikbaar is en dit is heelwat duurder as die prys op die internet (waar jy wel ‘ tyd, sitplek en datum kan kies). Die man by die kaartjiekantoor sê dat kaartjies wat by hom gekoop word baie meer is as die kaartjies op die internet (die kaartjie was dubbeld!!).

OK fine! Ek sal die internetkaartjie van my foon af probeer koop. Ha Ha! Dis toe glad nie so maklik nie. Die enigste betalingsopsie is per kredietkaart. Dis goed en wel totdat jy ‘n boodskap kry wat sê OTP nommer seblief. Die grappie van die saak is dat ‘n mens nie die OTP boodskap in die buiteland kan kry nie. Dalk as jou foon op roaming is. Toe word daar gesoek op bank apps of mens die manier van OTP stuur kan verander van SMS na e-pos. Maar nee, daar is nie so ‘n opsie nie.

Op hierdie stadium van die geveg moet ek dalk noem dat ek darm ‘n medereisiger gehad het. Ons moes toe probeer om iemand in SA te kry wat ‘n kredietkaart het wat bereid sal wees om die kaartjies te koop. Ons het oral rondgevra en teen die volgende oggend met opstaantyd, het ons darm kaartjies gehad. By die stasie aangekom, spoeg die halstarrige masjien van die vorige dag ewe gemaklik ons kaartjes uit (Jy kry n verwysingsnommer na bespreking en jy kan dan die kaartjies by die huis uitdruk of op by die stasie optel by ‘n masjien. Dis aansienlik makliker om ‘n klaar gekoopte kaartjie by die masjien te kry as om van die begin af ‘n kaartjie by die masjen te koop).

Hulle sê dat hulle betroubaar is

Daar is dus ook 3 maniere om kaartjies te koop, maar beplan mooi

  • Hulle webwerf : kaartjies is hier die goedkoopste, maar koop dit waar jy nog jou ‘one time pin‘ per SMS kan ontvang, of reël met jou bank om dit per e-pos te stuur indien daar so ‘n opsie is.
  • Kaartjiemasjiene by die stasies : dit werk net vir ‘op die dag’ en jy kan nie tye kies nie en dit is heelwat duurder
  • By hulle kaartjie kantore: die kaartjies by hulle was dubbeld die prys op die internet.

Om vooruit te koop of nie

Die pryse verander nie so jy kan dus so na as moontlik an die tyd kaartjies op die internet koop. Onthou net, kaartjies word per kredietkaart gekoop en hulle gaan ‘n OTP versoek, so as jy nie roaming op jou foon het of jou OTP per e-pos kan kry nie koop vooraf jou kaartjies.

Tipe kaartjies

Wanner mens jou roete intik kom daar 4 opsies vir ‘n kaartjie voor: Low fare; Semi Flexable; Flexable & First Class. Daar is nie ‘n baie groot prysverskil tussen die eerste 3 nie. Verder wil dit nie voorkom of hulle naweek of groepkaartjies het nie. In hierdie verband wil ek sê is die Deutsche Bahn koning.🏆

Hou jou kaartjies of kry ‘n boete

Jou kaartjie maak die hekkie oop sodat jy na die trein kan gaan, maar moet nog nie die kaartjie weggooi nie. Hulle sê dit nêrens wat ek kon sien nie, maar voor jy by die volgende stasie mag ingaan kyk hulle na kaartjies. So, as jy joune in die trein se asdrommetjie gegooi het, gaan jy ‘n groot boete met die afklimslag kry. ( €100 plus die koste van jou kaartjie, nog erger, as jy jou teësit kan jy hof toe gaan, ‘n €1000 boete kry plus die regskostes😱😱). So hou jou kaartjie styf vas tot jy by jou bestemming afklim.

In die Belfast omgewing was ek nog ‘n paar keer op kortafstand treine. By sommige stasies is daar kaartjieverkopers, en by ander nie.. Dan sal daar is dan ‘n kaartjieverkoper op die trein wees, gaan soek hom net. En dan wag hulle maar weer waar jy jou bestemming bereik dat jy jou kaartjie wys. By hulle het ek geen ‘valadating’ masjiene gesien nie nie.

Die verskil met die lang afstand en die ‘regional treine is dat jy nie kan inkom by die langafstand trein sonder ‘n kaartjie om die hek oop te maak nie, terwyl die plaaslike treine redelike vry toegang het, die uitgang is net nie so vry nie, so onthou jou kaartjie.

Jou naam verskyn elektronies bo jou sitplek, en as daar niemand sit nie is die liggie groen.

Paspoorte

Onthou dat Ierland en Noord Ierland 2 verskillende lande is. Ons het nie visas nodig vir Ierland nie, maar wel vir Noord Ierland wat deel is van die Verenigde Koninkryk. Teoreties moet daar ‘n paspoort en visa sekermaker persoon iewers wees. Maar niemand het ons niks gevra nie.

Algemee raad oor vir ry met enige trein

Stasies

Wanneer jy stasies intik, hetsy oor die internet of by die kaartjiemasjiene op die stasie, al kies jy die Britse vlaggie, moet jy steeds die plaaslike naam van die dorp of stasie intik. Florence en Munich beteken niks vir die blikbrein nie, maar Firenze en Munchen gaan jou iewers uitbring.

Aansluitings en oorklim

En voor jy die allerbelangrike kaartjie koop, kyk of daar ‘n trein-oorklimmery gaan wees en hoe lank indien wel (hierdie word die beste vooraf op die internet gesien). 5 minute gaan moeilik werk as jy met jou 26kg bagasie moet uitklim, die nuwe platvorm moet gaan soek en weer moet opklim. (Die probleem gaan net nog ‘n taaier toffee wees as die lugredery vir jou 2 ‘check in’ tasse, ‘n laptop en handbagasie toegelaat het. Dit help nie jy mag vlieg met baie bagasie, maar jy kan nie die trein haal nie 😉).

Trein

Bagasie

En op die noot van bagasie: Dit is elkgeval nie al te maklik om klomp bagasie op ‘n trein te kan vat nie. Almal storm vir die oop bagasie areas, en as jy nie vining uit die blokke was nie gaan jy, of die tas op jou skoot moet hou, of jou 30 kg tas moet oplig en in die oorhoofse rak indruk. As dit gaan pas bygesê. Eenkeer was my redery gaaf en sê pak maar 30 kg. Ek het net ‘jey’ gesê totdat ek daai stuk ding moes oplig bo my kop. En toe ek dit moes aftel, val die verdomde ding op my gesig en het amper kontaklense van my bril gemaak.

2 kan makliker wees as een

Dit was my 2 sente oor bagasie. Nou is ek weer terug by die oorklimmery. DB het ‘n opsie om langer ‘transfer’ tye te kies, maar lyk my nie TI en IR het nie. Ek het dus waar ek kon, eerder 2 afsonderlike kaartjies gekoop sodat ek self die tyd van die oorskakeling kon bepaal. (Vb Venesië na Como. Hier het ek net ‘n langafstand-kaartjie gekoop vanaf Venesië na Milan sodat ek nie moes hol vir ‘n 5 minute aansluiting na Como nie. Dit het my ook die geleentheid gegee om my bagasie te stoor en Milan te verken. Daarna het ek sommer die kortafstand-kaartjie op die stasie gekoop toe ek reg was om aan te gaan).

Europa Trein
Buite La Spezia se stasie

Orde red my varkies

En as jy wil weet waar jy is en gaan wees soos ek, stel ek ernstig voor dat jy voor die tyd op die internet die stasievolgorde opsoek. Mens verstaan nie aldag wat die aankondigings is nie en dit laat my net beter voel om iets te hê om te volg sodat ek kan weet waar ek is.

Dit was die vêr ryery sovêr.

Ek sal in die ‘ hoe toe’, al die plekke waar ek was se dag tot dag vervoer weergee. Aangesien elke dorp so anders werk, help dit nie nie te veel om ‘n ‘one size fits all’ vervoer resep hier weer te gee nie.

Follow me here