Tel Aviv
Tel Aviv, of ‘lente heuwel‘ as ek reg verstaan. het bietjie hierdie plaasmuis se voete onder haar uitgeslaan. Dit was die een plek wat ek bietjie te lui was om voor die tyd voor te beplan. Ek sou dit mos doen die aand voor ek daar sou aankom. Min het ek geweet my foon sou kalf en ek soos die ‘three blind mice’ op en af loop sonder om iewers te kom.
My , soos ‘n blinde muis rondhollery’ probleem het begin toe ek na raad geluister het om eerder by die Hashalom stasie af te klim omdat dit toeriste minder bang maak as die HaHagana stasie, dit terwyl ek geen manier het om enige iets te googeleer nie. lekker stupid.
Kom ek doen dit maar elkgeval. Amper was dit my ‘famous last words‘
Toe klim ek mos daar af. Die eerste ding wat ek sien toe ek uit die stasie kom is wolkekrabbers, mense en verkeersknope. Ek het effens verskrik gestaan en die stad se ‘stadheid’ probeer verwerk.
Daar kom toe ‘n ou op my afgestorm en ek sê sommer al uit die staanspoor ‘nee dankie’. Maar terwyl ek staan en sukkel om te besluit wat ek moet doen kom hy terug. Hy is blykbaar aangestel om vir toeriste te verduidelik dat een van die busstoppe toe is vir bouwerk…..en dat hulle ‘n ander busstop moet gebruik.
Hy verduidelik toe vir my anderkant die anderkant van die pad en ‘n kruising moet ek wag vir ‘n bus wat Allenby straat toe gaan.
Allenby was een van die min dinge wat ek kon onthou naby my blykplek was. So dis waarheen ek gemik het. Ek ploeter toe met my pakkaas in die warm spitsverkeermiddag na die oorkant van die oorkant na ‘n busstop toe. Omdat dit spitsverkeer is, is daar mense en karre vir Afrika. Almal wil eerste orals wees, met die gevolg dat toe die bus eindelik kom, ek nie vining genoeg kon inklim nie en die bus vol was voor ek nog oor die drumpel van die bus kon trap.
Terwyl ek wag vir die volgende bus verkyk ek my aan die wolkekrabbers en die moderniteit van hierdie stad. Ek het dit glad nie verwag nie. Eindelik kom ‘n volgende bus en ek maak die keer seker dat ek ‘n plek kry. Ek hoop maar dat ek aan die regte kant van die pad gestaan het. Ek was heeltemal gedisoriënteer.
Allenby
Toe die skerm in die bus wys ‘Allenby’ toe spring ek uit. Ek gryp my goed ewe selfvoldaan dat ek dit gemaak het sonder enige drama. Ek was ook net selfvoldaan totdat ek regopgekom het en op-en af gekyk het in Allenby. Dis ‘n baie laaaang straat. Ek het nie ‘n idee gehad watter kant toe nie. Gelukkig is dit ‘n mooi boombegroeide straat, alhoewel op daardie oomblik ek nie veel daaraan aandag gegee het nie.
Ek het bietjie op en af geloop en geonthou dat Rothchild ook naby was waar ek moes wees. Maar ek kom dit nie teë nie. Ek was redelik benoud want ek het nie ‘n idee gehad waarheen nie, en die op en af lopery was nie goed vir my gemoed nie. Teen daardie tyd het ek al gesien hoe slaap ek iewers op straat.
Maar straatslapery was ‘n nagmerrie wat ek nog nie reg was om op te gesaal het nie en besluit toe dat ek hulp sal moet vra. Die vraag was net wie om te nader. Die eerste mense wat ‘veilig’ lyk is ‘n ou oom en tannie wat by ‘n busstop sit en wag. Maar ek en hulle verstaan mekaar letterlik nie, ek ‘smile & wave‘ toe maar en beweeg aan. Toe begin ek ek net rond en bond vir mense vra. Meestal jonger mense want 1) ek reken hulle en ek sal mekaar dalk beter tegemoed kan kom met die Brits, en 2) hulle het almal fone voor hulle.
En was ek aangenaam verras deur almal se hulp. Almal wat ek gevra het het op hulle foon gou gegoogeleer en vir my beduie loop hier aan, of loop daar terug. Op die manier, en met ‘n vreeslike gespook met my afwiel tas het ek eindelik by die address uitgekom. By die ‘x -wat -die- plek- merk ‘ vind dat die address aan die agterkant van die gebou is en ek om die blok moes loop tot by die ingang. En toe sien ek so waar as vet dat ek op ‘n kol daar verbygeloop het.
Maar ek was daar en die straat slapery was darm nie meer in my toekoms nie, so alles was wel.
Tel Aviv
Tel Aviv was die eerste plek wat ek gesien het toe ek in Israel aangekom het deur die vliegtuig se venster. Ek het al in die lug verbaas gestaan oor hoe die stad lyk. Tel Aviv was nie vereenselwigbaar met die Bybelprentjies in my kop nie. Soos ek deur die loop van my besoek ook bevind het van baie ander plekke.
Tel Aviv was die ‘bookends’ van my besoek, eerste plek wat ek gesien het die laaste plek wat ek verken het. ‘Truth be told‘, die enigste rede hoekom ek in Tel Aviv was, was om Jaffa (of Joppe soos dit ons Bybel staan) en Caesarea te besoek. Maar van dit wat ek gesien het het Tel Aviv sy eie besoek nodig al gaan dit jou niks wyser maak oor die Bybel nie.
Die area waar ek was het my baie laat dink aan die Bult by Potch met sy akkerlaning waarvan die takke en blare ‘n afdadak oor die pad maak, so dit het my effens laat tuis voel in hierdi stad aan die anderkant van die ewenaar. Dis soos Potch, net op steroiede. Orals is mense, meestal jonk wat ry op fietse en staan scooters. Dit is besig, maar dit lyk na georganiseerde chaos.
Hierdie stad aan die kus van Israel is omtrent ‘n 180 grade omkeer van Jerusalem. mens kan nie glo dat die 2 grootste stede wat ‘n klipgooi van mekaar af is so baie kan verskil nie.
Jerusalem se kern is oud, so gemaak en so gelaat staan, en baie konservatief met al die gelowe wat daar saamvloei. In teenstelling daarmee is Tel Aviv modern en ‘anything goes’, en mense dra nie hulle gelowe op hulle moue nie…..tensy dit ‘n reënboog is. En ek het nie een kat hier gesien nie. Ek as so dankbaar daarvoor, my hart was seer genoeg oor die res van die land se arme drommels wat oral maar oral te sien was en gemeeuw het vir kos en aandag.
Ceasarea en Jaffa
My laaste dae in die Beloofde Land het ek Joppe en Ceasarea veken vanaf Tel Aviv. Met die terugkomslag een middag vanaf Ceasarea is ek na die Hahagana stasie. Ek was nie van plan om weer te sukkel soos die vorige dag nie en toe ek uit die stasie kom tref ‘n donderstorm die stad. Dis blykbaar heel ongehoord in die somer aangesien hulle ‘n winterreënval gebied is. Daar staan ek toe op ‘n stomende warm sypaadjie saam met ‘n klomp ander mense en wag vir ‘n bus, enige bus, sommer die eerste een wat kom. Almal en hulle nat lywe beur toe in die bus in.
Ek hang toe soos ‘n vink aan die bus se binnekant tot by ‘n busstop wat ek herken en hol toe na die Hostel toe.Ek het daar gebly totdat dit begin lyk het of dit ooptrek. Ek was vasbeslote om ‘n sonondergangfoto op die strand te neem.
Sononder oor die Mediterreense See
Ek gryp my goed en ‘n kaart en zig sag al met die paaie af wat vir my voel na die algemene rigting van die kus. Oppad loop ek verby Rothchild wat ek die vorige dag so gesoek het en maak baie knope in my oor om my pad terug te vind nadat ek my afspraak met die son nagekom het.
En toe breek die oopte tussen al die hoë geboue deur en doer voor uitgestrek, lê die see en rol rustig vorentoe en agtertoe soos wat skemer begin daal. Dit is al wat rustig was. Daar is ‘n promonade gebou al langs die strand af sovêr as wat mens kan sien en daar is oral mense wat stap met hulle honde, fietsry of draf.
Ek gaan kry ‘n sitplek op ‘n klip en sit in verwondering oor die see en uitkyk terwyl die son sy kop uitsteek onder die donderstorm van vroeër. Dit was vir my een van my gunsteling oomblike. Om daar te sit en oor die see uit te kyk. Die vriendelik seebries oor my gesig te voel waai terwyl die lug in allerhande pragtige skakerings van pienk en oranje verkleur.
Ek moes teen my sin later opstaan en loop omdat ek nie graag in die donker strate wou verdwaal as ek nie al die knope in my ore kon ontsyfer nie.
Carmel Mark , die laaste pitstop
Na my oggendbesoek aan Jaffa, is ek terug Tel Aviv toe om nog 2 dinge van my lyse te kon aftrek.
Die Carmel Mark was een. Ek het baie van die mark gehoor en ook gehoor dit is die beste plek om ‘souvenirs‘ te kry, veral die kruie en spesery waarvoor Israel bekend is. Dit was maklik te kry aangesien ek net kon afloop met die nou al bekende Allenby straat.
Die mark is in ‘n dunnerige gang met stalletjies weerskante, en honderde mense tussenin. Daar heers noggal ‘n feesstelike atmosfeer en daar is iets van alles. Ek loop al deur en kyk wat ek wil saambring en tel dit met my terugtog op. Ek koop by ‘n ou omie n sak vol Za’atar en Shakshouka spice en ‘n licorice takkie. (My tas en klere het vir n week later nog daarna geruik. En nou nog, wanneer ek die bottels oopmaak voel ek die son, ruik die mark en hoor die gedruis van mense wat koop en verkoop. Dit is nou wat mens herinneringe in ‘n bottel noem)
Shakshouka
Dar was 2 dinge wat ek graag wou eet in die beloofde land. Knaffe, wat ek by die Mechane Yehuda mark in Jerusalem gekry het en Shakshouka wat ek tot my groot telleurstelling by geen van my blyplekke gekry het nie. Een van my kamermaats in die hostel het vir my verduidelik dat ek Shakshouka kan kry by Benedict in Rothchild straat waar mens heeldag ontbyt kan kry.
Benedict was my laaste stop op daardie dag. Ek het daar ingestorm en dadelik bestel. Mens kry baie brood en greenpeppers daarmee saam, met goeie rede Dit was verskriklik warm, en omdat ek relatief haastig was kon ek nie stadig eet en die brand geleidelik blus nie. Ek het in sweet uitgeslaan en my maag het weird geluide gemaak. Dis al wat ek daarvan onthou, dat dit baie ‘spicey’ en duur was. Maar dis gedoen, en met my eie spesery mengsel vars van die mark af, sou ek ‘n matiger resep by die huis kon uitprobeer.
Dan is dit, dit vir deel 1 van Tel Aviv. deel 2 het ek saam met vriende verken en dit verander bietjie die ervaring. Behalwe nog verkenning in die stad, moet Jaffa en Ceasarea ook nog beskribbel word.
Hoe toe
Ek was nie lank genoeg daar om te veel sente te gee oor die stad nie. Daar is oral publike vervoer, so dit is maklik om te gaan waar mens wil wees…… as jy weet waar jy met wees bygesê. Daar is ook RAV Kav top-up masjiene, maar nie so volop soos in Haifa en Jerusalem nie, en hulle lyk heel anders. Ek het 2 dagkaartjies gekoop, een wat die trein insluit sodat ek na Ceassarea kon gaan en in die stad ry, en vir die 2de dag sodat ek in die stad kon ry en wat die trein ingesluit het lughawe toe. Dis is goedkoper as om per rit te betaal.
Ek het veilig gevoel om te loop, iets wat ek nie noodwendig in een van ons stede sal wil doen nie.
Verblyf was in nog ‘n Abraham hostel tak. Diè was die grootse een van die 3. Van daar af is dit relatief maklik om te loop of met n bus te ry strand of Jaffa toe.
Die Carmel Mark of die Shuk HaCarmel, soos die locals dit noem is net af in die pad van Allenby* straat.
*Net ‘n nota: Allenby was vir my ‘n groot ‘landmerk’ maar sedert hierdie besoek is Allenby opgegrawe vir die bou van nog ondergrondse treine. mens kan nog daarlangs stap, maar die busse ry nie meer daar nie. Dit gaan vir die volgende paar jare so wees as ek reg verstaan.
HIer is ‘n ‘screenshot’ van ‘n aflaaibare kaart op die internet om te wys waar ek was, Hier is die skakel tot die kaart. Die sirkel regs is die HaHagana stasie waar ek moes afklim die eerste dag en nie het nie. Die ander stasie is heelwat meer Noord, so die ander kere het ek by hierdie een op- en afgeklim want dis heelwat nader. (en ek kon nie sien wat by hierdie stasie toeriste bangmaak nie) .Dan halfpad by die klein huisie (wat nie ‘n toilet is nie), is waar die Abraham Hostel is, net duskant Allenby en Rothchild. Die groot huis bo in Rothchild is die Carmel Mark, en regs onder is Jaffa.
En dan net ‘n paar ou skribbels, oor Haifa, my vorige stop, die Mechane Yehuda in Jerusalem en eerste indrukke van Israel. aangesien Tel Aviv die laaste stop was moet mens seker terugkyk na die begin, en ook nog ‘n paa oor Jaffa, Caesarea en Tel Aviv deel 2.