Die leë graf

Ons weet die graf is leeg, maar tog wil mens dit sien. So op my omsirkeling om die muur van Jerusalem, het ek weg van die muur beweeg om die Tuingraf te gaan besoek.

Daar is 2 plekke wat aanspraak maak om die plek van die leê graf te wees, die een is binne die Church of the Holy Sepulchre en die ander een is die Tuingraf. Die 2 plekke is 1km uit mekaar uit. Die een is binne die ou stad en die ander buite. Hulle verskil soos dag en nag.

Church of the holy Sepulchre

Net soos met ‘Ramparts‘ moes ek eers Sepulchre gaan opsoek. Dit is ‘stone room with a stone coffin’ of begraafplek. Al weet ek nou wat dit beteken, kan ek dit steeds nie uitspreek nie. En almal sê dit elkgeval anders, so dalk is daar nie ‘n regte manier nie?

Hierdie kerk is een van die hoof plekke om te besoek wanneer mens Jerusalem toe gaan. Ek het ‘n paar keer hier uitgekom, sommer al op die eerste dag, en daarna weer ‘n paar keer. Dis asof alle paaie na ‘Rome’ gaan.

Hierdie kerk, wat onder andere beheer word deur die Kotolieke, Ortodokse Grieke en Apostole, is volgens hulle die plek waar Golgotta en die leë graf is. Voor dit ‘n kerk was, was dit blykbaar ‘n tempel vir Griekse gode, en toe hulle dit afgebreek het was daar ‘n graf gevind. In die omgewing was daar kruise gevind, so doerietyd het hulle die som gemaak en besluit dat daardie die plek moet wees.

Vandag is die hele oppervlak toegebou deur die kerk. Die een kant van die kerk is gebou op ‘n rots wat hulle glo Golgotta was, en aan die ander kant is waar hulle glo die graf was. Alles is toegebou.

Van buite af lyk die kerk nie juis besonders nie. Mens sal dink dat dit sou lyk soos een van die Europese katedrale. En omdat alles so toegebou is kan mens dit nie van vêr af sien nie. Jy is net skielik daar. Dan sien mens die skare in- en uitgaan en weet dat jy nou iewers is. Soos mens aanstap deur toe, sien en hoor mens net die gedruis van ‘ n menigte.

Graf     Dakke van Ou jeruslem
Die blou koepels is die kerk

Mense loop in en uit en soen die deurkosyne. Dit was my eerste kennismakling met wat vir my, vreemde gedrag is. Net binne die deur is daar ‘n groot plat marmer tipe blad wat lyk soos ‘n plat grafsteen. Mense kniel en lê daarop en vyf items daaroor. Dit is blykbaar die klip waarop Jesus in die graf gelê het. Mense glo dat hulle die items wat hulle daarop vryf heilig maak, en dan so die ‘heiligheid’ kan saamvat wanneer hulle weggaan.

Graf   mosaiek in die kerk
Die mosaiek blink, so al asof dit met goud gemaak kon gewees het.

Net agter die plat klipblad is daar, vir my, ‘n mooi mosaiek teen die muur. Dit is relatief nuut. Wanneer mens regs draai klim mens met trappe op na die plek waar mens aan die Golgotta klip kan vat. Mense het elke keer wat ek daar was in ‘n lang ry gestaan, om te kniel en hulle hande deur die gat in die vloer te steek om aan Golgotta te raak.

Hier teen die muur is nog ‘n mosaiek wat uitbeeld hoe Isak amper geoffer was. Party glo dat Golgotta die plek was waar dit sou gebeur het. Maar ander glo dat dit gebeur het op die heuwel waar Temple Mount staan. HIerdie 2 plekke is 500m uit mekaar. Dit is een van vele plekke wat ,of hier , of daar, kon gewees het.

Graf   mense kniel om aan golgota te vat
Hier is die gat in diie vloer, net groot genoeg vir ‘n arm.
Uitbeelding van hoe Isak amper geoffer was.

Wanneer mens links van die deur ingaan kom mens in ‘n baie groot ‘saal’ met ‘n kamer in die middel, wat die Sepulchre gedeelte uitmaak. Die ‘saal’ laat my baie dink aan die Panteon in Rome. Dit het dieselfde koepel dak met gat daarin om lig te laat inkom. Ongelukkig is dit nie baie lig hierbinne nie. Dit is donker en rokerig. Rokerig want die prieters, of leraars, loop rond en swaai die bakkie rond met ek dink wierook daarin. En dan is daar honderde mens wat in ‘n ry staan om in die geboutjie of die leë graf in te gaan.

Dit was vir my ’n vreemde plek. Mens orals wat strukture soen en vryf. En eintlik al wat ek graag sou wou sien is hoe Golgotta en die graf oorspronklik gelyk het. Nie die Katolieke kerk wat daaroor gebou is nie. Ek was ‘n paar keer daar, per ongelik en aspris, maar nie een keer het ek in verwondering gestaan nie. Miskien omdat alles toegebou is en omdat die mense allerhande vreemde dinge hier doen. Ek kon net nie die Bybestorie vereenselwig met hierdie kerk nie. Met respek gesê, dit laat my dink aan daardie ‘colour conflict charts*’, waar die kleur en die kleur van die woord verskil en mens dit vinnig moet probeer lees.

*Ek sal heeeeeeel onder ‘n voorbeeld sit van so ‘n kleirkaart

Graf

Die Tuingraf

Dit bring my terug na dag 2 in Jerusalem, die dag wat ek om die muur geloop het.

Nadat ek by die Damaskus hek aangekom en ek gerus en ge-‘people watch‘. Hier het ek weggebreek van my Ou Jerusalem omsirkeling en die paar honderd meter weggeloop het van die Ou Stad na die Tuingraf toe. Dit was al aan die later kant van die dag, so dit was redelik stil toe ek daar aangekom het. Dadelik, het ek gevoel dis rustig. Dis asof al die ‘hustle en bustle‘ van die Damaskus hek en omliggende areas net stil word. Die tuin is ‘n 180 grade verskil van die Sepulchre in amper alle opsigte. En nie net wat omdat daar minder skares is nie. Dis oop, dit is ‘lewendig’ van al die plante en dit is lig, want die hemel lê oop bo-oor die tuin.

Die tuin is relatief nuut vergelyk met die kerk. Mense het bevraagteken hoekom Golgota binne die mure van Jerusalem was, maar die mure en dorp wat nou daar is, sou nie daardie tyd daar gewees het nie. Net buite die ‘nuwe’ Ou Stad het iemand eendag ‘n heuwel gesien wat lyk soos ‘n skedel. Dit het hulle dadelik laat dink aan ‘die plek wat Kopbeen genoem word‘. Hulle het daar begin soek en so waar as vet ‘n graf daar gekry. Dit is nou waar die Tuingraf vandag is. Ongelukkig blyk dit dat die graf dalk nie oud genoeg kon gewees het om die regte een te kon wees nie. Nietemin….

graf
Tuingraf tuin
Tuingraf tuin
Graf tuingraf
Ek verstaan mens is veronderstel om die kopbeen hier te sien, maar dit is pragtig toegegroei.

Die tuin was pragtig. Mooi groen, met blomme en bankies oral. Ek het afgestap in die paadjies en my net verkyk aan die mooi tuin. En toe kom ek by die tuingraf. Dit lyk net soos wat mens dit in mens se kop sien, of ten minste myne. Ek het ingegaan, die graf bekyk, uitgekom en ‘n klip gesien soos wat mens sou dink dit sou lyk. Ek het na die oorkant geloop omgedraai, en terwyl ek na die graf kyk, het dit gevoel of iets my vol teen die bors tref, ek het letterlik amper begin huil.

Daar sit ek toe buite die Tuingraf en byt my bewende lip vas. Ek onthou ek wou iets sê, maar al wat ek kon sê was, :”Ek het geen woorde nie”. En toe gaan ek weer in die graf in en het met ander oë na die binnekant daarvan gekyk. Ek kon net nie die knop in my keel en die bewe lippie stop nie. Al wat sou help was om te loop. So ek het.

Graf
Graf
Graf

Ek het eers weer beheer oor my lip gekry toe ek terug was by die Damakus gate. Ek het weer daar gaan sit en my gedagtes agtemekaar probeer kry. Die gedagte was dat ek hoop dat daardie ‘awe’ wat ek daar gevoel het my altyd sal bybly. Geen hoeveelheid kere se Bybel lees het al so ‘n reaksie ontlok nie en ek het gehoop dat dit my sal bybly. Maar soos die lewe maar is het dit gevoel hoe verder ek wegloop, hoe langer ek weg is, die ‘awe’ maar net weer verval in iets gewoon. Is dit nie eintlik die hartseerte ding nie.

Die ‘Gevoel’

Ek het in my eerste skribbel oor my ‘onheilige ervaring’ genoem dat ek die ‘gevoel’ wat almal soek heeltemal gemis het behalwe by die Tuingraf en die Tuin van Getsemane. Let op dat beide plekke in ‘n ‘tuin’ was. Dit was buite in die natuur, en al die res van my gunsteling oomblike was ook buite in die natuur gewees.

Daar is baie heen en weer oor waar die graf regtig was. Maar op die einde maak dit nie regtig saak nie. Die graf is leeg. Maar om daar te staan, in die tuin, het my hart aangeraak. In teenstelling het die kerk my ongelukkig koud gelaat. Die kerk is donker en bedruk.. Die tuin is kleurvol en lewendig en helder. Dit kos nie veel om die boodskap van lewe hier te sien nie.

Dan ‘n laaste gedagte. Dalk is mens nie veronderstel om te weet waar die regte graf was nie, juis om te keer dat mense ‘n plek moet verafgod. Maar vir my part, gaan hierdie tuiin die die beeld was wat ek in my gedagtes sien wanneer ek weer die storie lees, en nie die toegeboude heuwel nie wat in die Ou Stad is nie.


‘Hoe toe’ vir die leë graf

Hierdie allerbelangrike plekke is maklik te vinde. Die Kerk kry mens maklik wanneer mens by die Jaffa hek ingaan. Dit is in ‘n algemene ‘Links’ rigting daarvandaan. Daar is orals bordjies en al verwaal mens in daardie doolhof, lei die paaie maar soontoe. Hulle is oop klink my van 5:00 tot 21:00. Hier is ‘n skakel na ‘n kort video van ‘n vrou wat ek daar ontmoet het. Ek gaan nog baie van haar skakels plaas, want sy was oral waar ek was en meer.

Die Tuingraf,is ook maklik te vinde. Van die Damascus hek gaan mens weg van die muur en Ou Stad. Hulle is Sondae en Maandae toe. Die res van die week is hulle oop 8:30 tot 5:00

En dan soos altyd is hieronder👇 skakels na ou skribbels waarin hierbo verwys word, Rome, die muur van Jerusalem, my ‘onheilige’ ervaring en dan ook net ‘n voorbeeld van die kleurkaart want ek dink nie mens kan dit lekker verduidelik sonder om te sien nie.

Mens doen hierdie onder tyddruk kyk hoeveel woorde of kleure reg gesê kan word. BV Hierdie een sal gaan: groen, rooi, geel, dis noggal moeilik want mens se brein wil heeltyd die woord lees en nie die kleur nie
Follow me here