My ‘onheilige’ ervaring in die Beloofde Land.

Voor hierdie skribbel te dramaties en filosofies raak moet ek eers noem dat dit ‘n belewenis was om in Israel te kon wees. Ek is al klaar besig om te beplan hoe ek nog ‘n kuier daar gaan inpas wanneer ek weer iewers heen gaan. Daar is net te veel goed wat ek nog wil gaan sien en beleef. Die natuur is pragtig en die argitektuur indrukwekkend. Daar is ‘n menggelmoes van mense, kulture en tale wat ‘n mens nuuskierig agterna laat kyk. Mens is defbeslis seker daarvan dat jy nie meer naby die huis is nie


MAAR, dit was nie ‘n anderse belewenis as toe ek Ierland of italië toe was nie. Daar is hierdie verwagting dat die ondervinding meer gaan inhou as die tipiese vakansie, dat dit meer ‘heilig’ gaan wees, so amper asof mense Jesus of Paulus of enige ander mense van di Bybel in lewende lywe daar gaan raakloop. Daar is die verwagting oor Israel, ‘n verwagting dat alles daar ‘anders’ gaan wees’

En dit is wat almal by my wil weet. ‘Het jy dit gevoel?; ‘Die atmosfeer moet tasbaar wees nê?’. Of hulle het net gesê: ‘ Mens kan die atmosfeer voel as mens na die fotos kyk’. Toe moes ek hulle almal se bubbels bars. Myne het ook so ‘n bietjie afgeblaas…

Almal neem aan dat daar ‘iets’ moet wees wat mens kan voel wanneer mens in Israel is. And truth be told, ek het ook gedink dat wanneer mens voet aan wal sit mens sommer net gaan weet dat jy in die Beloofde Land is. Mens wil dink Sy teenwoordigheid moet tasbaar hang oor die Israel, amper soos met die wolkkolom van ouds. Die verwagting is dat mens in ‘heiligheid’ moet instap en dat daar geen twyfel moet wees oor waar mens mens bevind nie.

Israel

Ontnugtering

Maar my ontnugtering het sommer al vroeg begin. Sommer nog in die lug. Wanneer mens afdaal om te gaan land, sien jy net wolkekrabbers so vêr as wat die oog kan sien. En ek het geweet Israel is ‘n eerste wêreldse land, maar om dit daar voor jou oë te sien plaas noggal ‘n demper op jou ‘ek gaan die land van die Bybel verken’.


Dan met voete op moeder aarde kom mens agter hoe bot, en borderline ongeskik, enige iemand in ‘n offisiële kapasiteit is. En dan is ek ook nog ‘geroof’ op die lughawe. Ek het meer verwag van mense wat leef daar waar die gebooie ‘lewe’. So ek was nog nie eers uit die lughawe uit nie, toe ek besef, die land is nie meer ‘heilig’ nie.


Dit was net een van my lughawe ondervindings, ek sal nog ‘n baie langdraadige skribbel skribbel oor hoe ek verdink was van terrorisme. Dis ‘n storie wat enige een wat my ken net sal laat kop skud.


Elkgeval. Ek het al op die lughawe gesien dat alles nie hier loop soos stroop soos wat ek gedink het nie. Nadat jy nou deur doane en skerminkels op die lughawe is, kan mens daar weghol opsoek na die dinge wat mens nou eintlik gekom het om te sien.


Maar moenie dink dat jy in Jesus, of enige iemand anders van die Bybel se voetspore gaan volg nie. Niks, behalwe die natuur, is nou soos wat dit was in die tyd van die Bybel nie. En ek het dit geweet vooraf. Ek het geweet oor die jare heen is alles afgebreek en dan weer opgebou. Sommer ‘n paar keer, daar is dus lae en lae kruis en dwars oor alles gebou. Die oorspronklike Jerusalem is nie eers waar die ‘ou stad’ nou staan nie. Maar tog het ek gehoop dat daar iewers iets behoue gebly het en te siene sal wees. Mens kom gou agter dat jare se oorloë en verandering van bewinde permanente ‘skade’ aangerig het en daar is nie regtig iets oorspronkliks oor nie. Die skade en herbouing en alles wat daarmee gepaard gegaan het, het veroorsaak dat meeste plekke net ‘educated guesses’ is van waar iets was of gebeur het. Dan, oral waar iemand dink iets kon gebeur het, het meestal die Katolieke, ‘n kerk gebou.


Van kerke…

Golgotta is ‘n goeie voorbeeld. Daar is 2 plekke wat dit moontlik kan wees, die een binne die ou stad en een buite die ou stad. Die feit dat daar 2 moontlikhede is vat noggal die oemf uit die besoek…..vir party mense. Ander is heeltemal oortuig dat wanneer hulle in hierdie kerk die klipplaat of koesyn vryf en soen, die heiligheid aan hulle sal oordra en hulle die heiligheid so sal kan huistoe vat.


Terug by die kerk. Mens sien nie ‘n heuwel of ‘n bergie van ‘n dag oud nie. Alles is opgevul en toegebou.. Daar is niks wat mens kan sien wat moontlik daarop dui dat hierdie die plek van groot belang is nie. Maar as jy nie kan sien nie, kan jy moontlik vat. Daar is op ‘n plek ‘n gat in die vloer, jy moet gaan buk, jou hand in die gat steek en dan vat jy an Golgotta. Ek het nie my hand in die gat gesteek nie.

Eerstens, ek kom van ‘n plek af waar jy nie eers jou skoene aantrek sonder om dit uit te skud nie, nevermind jou hand of voet daarin steek sonder om te kyk nie. En ja, nadat miljoene pelgrims hulle hande in die gat gesteek het, glo ek nie daar sal iets binne wees wat wil byt nie.Maar steeds. En 2dens, ek sukkel om te sien dat hierdie kerk eintlik op die bekende en berugte plek staan waar die mensedom gered is, dit lyk so onoortuigend met die modern orals te sien, en geen teken van wat oorspronklik daar onder die kerk moes geweet het nie. Hierdie is maar net een van vele kerke wat gebou is waar iets moontlik gebeur het. Hulle dink nou hulle bou iets grênd om iets te vier, maar vir my lyk dit eerder soos ‘n wegsteek aksie.En dan derdens wonder ek maar net hardop, wat as dit regtig die regte plek is, wat gaan dit aan my verander om my hand deur ‘n gat te druk en daaraan te vat? Ek vind dit vreemd.

Israel

….en van mure


Dan het mense gesê ‘As jy by die klaagmuur staan, gaan jy dit voel, jy moet net sien’. Ek verstaan nie hoekom die klaagmuur my iets moes laat voel het nie. Dit het nie. Eerstens, was dit baie kleiner as wat ek gedink het, en 2dens verstaan ek net nie. Ek het daar voor op ‘n stoel gaan sit, gewag vir die ‘gevoel om te kom’ en probeer verstaan hoekom die Jode hier staan en bid en wieg en ween. Dit was vir my meer vreemd as Heilig. Maar ek weet tog dat hierdie eens op ‘n lang gelede tyd die Tempel was. Die ironie van die area is dat die Jode teen hierdie muur staan wat die voet van die Moslem se Temple Mount is, dit is asof 2 gelowe letterlik hier teen mekaar staan en kyk watter een kan die ander een ‘outlast’. Ongelukkig het die Temple Mount die letterlike en spreekwoordelike ‘high ground’ en ek verstaan op hierdie plek* rus die vrede op ‘n mespunt.

Hier is ‘n bietjie van ‘n verduideliking van wat daar angaan

Israel


Ellende by mens…..

En padlangs kom ek agter hoe baie ellende daar in die land is, vir mens en dier. Daar is oral mense wat ‘n blikkie skud. Maar in hulle armoede is hulle steeds super netjies. Dit het my gepla, die klomp arm mense. Ek het verwag dat die mense dit ter harte sal neem om te sorg vir die ‘armes, weduwees en weeskinders’ en vir die ‘least of these’. Maar gesien in die lig van wat ek daar gesien het, word dit nie heeltemal ter harte geneem nie.

Een middag terwyl ek soek na kos, sien ek ‘n baie netjiese ortodoksie omie wat eet. Hy was so ineengekrimp weg van die wêreld af en het gelyk soos iemand wat alles veloor het en moedeloos en eensaam agtergebly het. Hy het my nooit sien staar nie, want hy het nooit sy kop opgelig nie, so asof hy die lewe nie meer in die oë kan kyk nie. Die omie het by my gespook. Ek het ‘n paar gebedjies vir hom gesê en probeer van hom vergeet. Maar so waar as vet, my laaste dag in Jerusalem, kry ek hom weer. Hy sit toe, weer so ineengekrimp, steeds super netjies, en skud sy blikkie. Hy is toe ‘n bedelaar, uit sy voorkoms, klere gewys, sou ek dit nooit kon raai nie, maar uit sy gedrag… dit het skielik sin gemaak. Mens kan nie so ‘n moedeloosheid naboots nie. Ek draai toe terug en gaan gooi al my laaste kleingeld vir hom in. Wens ek kon iets beter vir hom doen.


…….en dier

En dan was daar al die katte. My hart was seer

Die miljoene katte (en ek oordryf nie gaan lees bietjie hier) kan terug gespeur word tot bydie Britte. Dit voel vir my hulle staan aan die oorsprong van te veel verskillende probleme oor die eeue heen net soos met hierdie arme gediertes. Toe die Britte hier hulle septer wou kom swaai, het hulle die slim plan gehad om katte in te voer om die muis- en rotplaag te beheer. In hulle slimheid het hulle nooit geding dat 1 + 1 miljoene kan word nie. So daar is letterlik miljoene katte. Hulle is orals. Daar is nie meer muise of rotte nie.

Die arme gediertes lyk oes en is nou ‘n plaag op hulle eie (Dieselfde ding op Marion Eiland gebeur). Daar is wel mense wat vir katte kos en water buite hulle winkeltjies sit, maar daar is te veel katte en te min kos. Die gevolg is dat die meerderheid katte, maer, siek en stukkend baklei is.

En ek het mos nou ‘n sag plek vir diere, en ‘n ekstra sagte plek vir ‘n kieter. So ek het met elke dierasie wat oor my pad kom gesels. Die wat versorg was het, tipies kat, nie ‘n dooie veer omgegee vir die aandag wat ek hulle wou gee nie. Maar die siekes…. Die siek en stukkendes het almal terug gepraat asof hulle vra vir hulp. Dan wou my hart breek want ek kan niks vir hulle doen nie. Ek onthou die klein katjie wat se hele gesiggie geel was van die goed wat uit sy oë uitloop en so gehuil het by my, dat ek daar weggehol het want my hart kon dit nie hou nie. Ek dink aan die swart ma kat wat se speentjies blink gesuig is terwyl haar pensie al klaar weer bol staan terwyl die res van haar lyf brandmaer, vuil en oogloos was.Toe huil sy om hulp. So ook die kat met die vrot voet.en al die ander honger en vuil katte wat mypad gekruis het. Ek voel sommer getraumatiseer wanneer ek daaraan terugdink.

Die kat wat my op die ou einde gebreek het was in Nasaret. Nasaret is die vêrste van ‘heilig’ af van al die geskiedkundige plekke wat ek besoek het. Dit is ongelooflik vuil en verwaarloos. Die laaste keer wat ek so grillerig was vir ‘n plek was toe ek in Napels was. (ek wonder of dit ‘n “N’ ding is🤔) So my gemoed was klaar nie lekker in Nasret nie.

Net om die draai van die hostel, het ek aanmekaar klein katjies gesien, en op ‘n keer het ek by een van de klein klitse gaan sit, en met hom praat. Toe staan hy mos op en al wat ek sien is vel en been. As mens kan sien dat kat maer is deur al sy hare, dan moet jy weet hy is honger. En as daai dan nog ‘n baba is wie se ma se melk hom ‘n spekvet pompom moet maak, dan is my gemoed kas toe. Daai was die laaste strooi. Ek het opgestaan vining die hasepad gekies en ‘n bietjie gaan huil. Eerstens vir hierdie arme klein katjie wat nie ‘n kat se kans het in die lewe nie, toe vir al die ander katte wat ek gesien het, en toe onthou ek weer die ou oom in Jerusalem…..en al die ander moedelose weggegooide mense.

HIerdie outjie het my hart gebreek. As ek daar gebly het het ek net daar die outjie huistoe gevat.

En dit terwyl ek in die dorp is waar die Goeie Nuus eerste verkondig was deur ou Gabriël. Dit was so ‘n teleurstelling dat die Goeie Nuus nou enkel diep in vullis is en dat die ‘least of these’ net ‘n verpesting blyk te wees vir die inwoners. Ek kon nie vining genoeg die stof van Nasaret van my voete afskud nie. Die stof kon afskud wees, maar ek sal nie daai maergat kat ooit kan afskud nie. Ek wonder of die arme drommelpie die laaste 2 weke oorleef het.


Goed vir die siel

Ek het op 2 plekke ‘n double take gedoen, dit was by die Tuingraf en by die tuin van Getsemane, maar ek sal daarby uitkom met ‘n latere skribbel. Verder was my gunsteling oomblike in die natuur, en nie in enige van die mensgeboude plekke nie. Die volmaan wat opkom oor Jerusalem en die die sonopkoms van Masada af oor die Jordaangebergtes en die Dooie see, die watervalle in die Ein Gedi reservaat, die dryf in die Dooie see, die swem in die Jordaan, die sit in die Kineret, die voetslaan van Berg Karmel af en my voete in die Meditereense see terwyl die son sak. Dit was die dinge wat tot my hart gespreek het.


Sielkundige berading


Ek het noggal gewroeg met die ontnugtering so tussendeur al die mooi wat ek gesien het. Ek het bly skuldig voel . Wanneer ek iets geniet het, het my agterkop bly terughardloop na al die seer en verniel wat ek my rug op moes draai. ‘n Koshuis vriendin wat ‘n sielkundige is vir my so ‘n gepasde antwoord gegee. Sy het eerstens genoem, dat ek nie die eerste een is wat so ‘n ontnugtering in die Beloofde Land beleef het nie. ‘n Kollega van haar het dieselfde beleef. Dit het my minder soos ‘n verlorene laat voel omdat ek nie ‘iets’ voel nie.

En toe tweedens noem sy hierdie: Ons het soveel verwagting dat die Beloofde Land nog die belofte daar het, maar die belofte het nie daar gebly nie, die belofte is nou oral, op enige plek. Dit het my diep laat dink, en dit het ook my gemoed gestil. Die Belofte is nie meer net daar nie , die wolkkolom ook nie (nie dat ek gedink het daar een gaan wees nie, meer die simboliek daarvan). Die Belofte is oralheen versprei. Dit haal bietjie die verwagting of druk af van ‘jy moet iets gaan voel’ en maak jou oë oop vir wat daar om jou is. Dit hoef nie ‘n ‘heilige’ ervaring te wees nie. Wees net daar en moenie ‘woorde lê’ in die mond van die land nie.

Dit beteken wel nie dat ek glo Israel is nie die gekose nasie nie, al is die Belofte die wêreld in, was dit eerste hulle s’n. Ek het afgekom op hierdie mooi lied wat geskryf is spesifiek vir Israel se mense, wanneer ek na dit luister voel dit asof dit my hart ook terugtrek israel toe.


Steeds die ervaring van ‘n leeftyd


Wat ek alles hierbo geskryf het is glad nie ‘n aanduiding dat ek die slegste tyd van my lewe gehad het nie, inteendeel. Dit was ‘n wonderlike ervaring, veral as mens die verwagting van ‘jy moet die Here daar gaan ontmoet’ bietjie kalmeer. Ek het pragtige dinge gesien en ervaar, en al is niks meer soos dit was in die tyd van die Bybel nie, gaan ek defbeslis my Bybel met nuwe ywer lees, want die Gihon spring is nie meer net ‘n abstrakte plek waar iets gebeur het nie, die heuwels om die see van Galilea het ek uitgeklim, ek het die sonbesies en voeltjies hoor sing in die veld, die son voel skyn op my skouers (skyn is bietjie ‘n sagte beskrywing😊), ek het die sagte vriendelike seebries gevoel en geruik met die voetslaan vanaf die Karmel berg en langs die strand by Ceasarea. Die stories in die Bybel gaan nie meer ‘plat’ wees nie want ek het dinge gesien, gevoel en gehoor wat ek kan inpas saam met die woorde in die boek. So, al was my ervaring nie ‘heilig’ nie was dit vrugtevol…. En ook vreugdevol.

‘n Laaste woord, ‘n laaste wonder.


Al het ek die ‘onheiligheid’ aanvaar, kon ek nie help om te wonder hoekom ander terugkom met ‘n huppel in hulle geestelike stap. Ek het daaroor geredineer, en tot een gevolgtrekking gekom: Amper al die ander reisigers gaan in ‘n groep. En ek dink daarin lê die verskil in ‘gevoel ervarings’ al dan nie opgesluit.

Eerstens, groepe is gewoonlik in kerkverband. So jy is die heeltyd ‘in die kerk’, die dominee is saam, daar word waarskynlik geopen met skriflesing en gebed. Daar word gesing. En sing wakker iets in mens, al is jy in jou kerk in Koffiefontein. Sing laat mens voel waaroookal jy is. Ek dink dus die singery so saam met die toergroepe (en orals het toergroepe gesing), dra dalk by tot die ‘ek het iets gevoel’ gevoel. En elkgeval ‘daar waar meer as 2 byeen is’….So defbeslis moet die groep ervaring tog iets bydrae tot ervaring.

Tweedens dink ek bly mens in jou kerk/toer bubble. Jy is heeltyd omring met mense wat dink en doen soos jy. ‘n Toergroep is maar ook ‘n produksielyn en mense loop flink agter die toerleier aan so ek glo nie daar is veel tyd vir op jou eie verken of afdwaal en wonder nie. Ek het glad nie ‘n bubble gehad nie, dit was ek, dapper en stapper en die wye wêreld. Daar was vir my baie tyd om te verken, te wonder en die nie-blink kant te sien. Ek dink nie toermense gaan verken op hulle eie nie, so ek dink hulle is redelik beskut van die ‘regte’ ondervinding.

Derdens, groepe se vervoer is die bus. Jy klim op by die bus by die blyplek, en klim af by die besienswaardigheid waar alles vir die toeriste mooi gemaak word, so weereens dink ek nie die ‘regte’ plek word gesien nie. Maar as jy moet voetslaan van punt a na punt b,soos ek en myself, sien jy alles en nogwat. Ek wens ek kan party goed ‘un-see’. Daar is ‘n gedig wat ons in die skool gelees het wat eindig ‘…. Maar dit wat ek wou vergeet is verewig gebalsem in my’, ek dink nou daaraan.

Ten einde laaste


So dit klink seker verskriklik, al hierdie gedagtes van my, maar as ek eers begin wonder oor ‘n ding, dan kan ek hom diep gaan soek, en ek wou net my gedagtes agtermekaar probeer kry (ek dink nie ek het heeltemal daarin geslaag nie) voor die lewe weer gebeur, en dit ‘n jaar later is. Op ‘n ligter noot, ek het baie om oor te skribbel, baie dinge. As iemand vir my vra hoe was dit, dan vra ek hulle om spesifiek te vra anders weet ek nie waar om te begin nie.(dan vra hulle gewoonlik oor die ‘gevoel’. Oi!). Waar ek wel weet om te begin is alweer op die lughawe. Ek moet sê, hierdie was die toppunt van enige van die lughawe dramas wat ek al in die verlede gehad het. So wanneer die tyd en die lus daar is sal ek daar begin, en dan vertel van al die dinge wat ek vasgeknoop het in my geheue en kamera (want my foon het na ‘n paar dae gebreek en toe is ek clueless in ‘n vreemde land)

Hier is solank my nuutste drama op die lughawe👇

security
Follow me here