Epupa Valle- einde van die Kunene staptoer
En so na vele blase, loop neuse en ure se sing in die son, breek ons laaste dag aan. Herdie rooi oggend breek met gemengde gevoellens aan. Mens is bly om by die eindpunt, Epupa valle, te kom, want dit was dan die doel na die meer as 120km se stap. Maar ook voel mens spyt dit is verby. Spyt dat mens nie meer onder die sterre hemel en palmbome langs die kabbellende rivier kan gaan slaap nie. En dan ook spyt, want mens weet dat al het mens hegte verhoudings gebou in hierdie noggal intense week van stap, sal mens waarskynlik hierdie nuwe vriende nie weer sien na die einde van hierdie avontuur nie.
Maar maak nou nie saak wat die gevoelens is nie, stap moet ons stap. Al vorentoe soos wat die lewe maar is. Alles word opgepak en ingelaai in die donker, en na ontbyt vat ons ‘trusty steed’ ons na die wegspring plek in ‘n droë rivierloop.
En toe spring ons weg. Hierdie was die eerste oggend wat noggal koud was, maar na ‘n vinnige stappie was dit net nog die ore wat die koue gevoel het. Ek dink hierdie dag se stap was baie stiller as die res. Ek neem aan al die res het ook maar besin oor gemengde gevoelens soos ek.
Ons het heel lekker gestap die oggend op veldpadjies en langs die rivier op en af, maar soos wat die dag al warmer begin word het het my wiele pap geraak. My seer heup het daardie dag besluit om net ook ‘n finale woord in te kry, en ek het al meer ge-agteros.As die jongste mens in die groep is dit noggal vernederend as die klomp ‘grootmense’ vir jou moet wys hoe dit gedoen word.
Soos die son water getrek het, het die voor-osse elke dan en wan onder ‘n boom gewag dat ek darm net weer kan opvang, maar skaars nadat ons weer begin loop het het ek stof geëet. Oi. Ek het toe maar met my ‘kierie’ aangeskuifel en die natuur vir oulaas bewonder. Dit is regtig mooi hier met die makalani bome wat bo alles uittroon
My amper swanesang het angebreek met ‘n rooi bult doer in die verte. Ek het daardie rooi slang sien opkronkel in die heuwel in en amper hardop gebid dat dit nie ons roete sou wees nie. Dit was nie lank na die benoude bekommernis oor die rooi bult nie, wat ek die spikkels daar sien opbeweeg het. Die koeël was deur die kerk en ek sou ook daar moes uit met my ‘houtbeen’. As ek ‘n huiler was sou dit daar die perfekte plek gewees het om te ween in selfbejammering.
Maar ek is toe daar op al skuifel-skuifel met die af heup. En het soos ‘n krap gesystap, agteruit geskuifel, kort kort gerus, en dan gesien einde is dit nog niet. Teen die tyd wat ek bo gekom het was my treë niks meer as die van ‘n 100jarige nie. Gelukkig het almal daar vir my gewag. Eintlik het ek myself dit net vertel. Hulle het ‘n mooi boabab bewonder en ek het gou die kans gekry om ‘n bietjie van my trots terug te kry. ….En dit was darm regtig ‘n mooi boom.
Vir die ‘finall stretch’ as ek vasbeslote om in die bondel te bly. EK het bygebly soos wat ons oor die laaste heuwel en af gestap het. Soos wat mens begin afstap, kan mens die groen streep sien wat deur die rivier gevoed word in hierdie dorre wêreld. Daar was geen twyfel aan waar die rivier sou wees nadat ons dit vroeg oggend laas gesien het nie. hoe meer mens afgestap het tussen die klipperige heuwel deur, hoe meer het die besef gekom dat die einde in sig was.
Toe ons weer op die gelykte is, op ‘n stuk pad, het ons al meer tekens van die ‘beskawing’ begin sien. Daar het elke dan en wan ‘n voertuig verbygery, en mense verbygeloop wat vir ons gewaai en gelag het.Ten spyte van my beste poging om deel van die groep te bly het ek weer uitgesak, en by elke ingang gehoop dat dit die regte een is. En toe my heup brand soos vuur, sien ek die res van my geseskap onder ‘n boom. Hulle het gewag dat almal die maraton saam kon voltooi.
En toe was ons daar. Die reis was verby. Ons kon eindelik die Epupa valle sien van sy ‘stroom-op’ kant af. Ons kon sit op die dek en uitkyk oor die borrelende water hier voor ons. Kon ‘n bietjie besin oor die lewe maar ook tog lighartig wees met hier opwinde eindstreep. Daarna het ons langs ‘n swembad ons laaste middagete geëeet en die skoenseremonie gehou waar ons die dele van die geseskap wat dit nie heeltemal gemaak het nie ‘ter aarde’ gestel het……in ‘n boom.
Voor ons in die pad kon val was ons vuurwa net eers gou nog reggemaak nadat die bumper ‘n paar dae tevore verlore geraak het in die verskriklike driwwe hier langs. And then we were off!! Off, was toe ‘n 5 ure tog aan 180km wat ek al na verwys het met die 7 dae en 7 nagte se reis skribbel
Ek klink seker na ‘n groot sussie as mens so terugkyk na al my skete en kwale, maar dit gee tog so ‘n bietjie kleur aan die storie 😉. Dit was ‘n belewenis en ‘n half wat ek enige tyd weer sal doen. Dit was noggal ‘n ‘bummer’ of weer terug te moes gaan na die sogenaamde beskawing. Na week van lewe in die natuur en nuwe mense leer ken, moes mens skielik weer in die lewe kom, Vir meer as ‘n week het ek nie aan enige nonsens gedink nie, daar was nie loadshedding, moord en doodslag of petrol om te hoor hoe duur dit is nie. Dit was net goeie geselskap, sterre, pragitge sonsopkomste en mooi bome langs ‘n kabbelende natuur.
So fluit fluit. En as mens wil ‘reminisce’ , kan mens gaan lees hoe hoe verdomp lank die busrit was en hoe ons verwaal het, van die goeie geelskap en van hoe lank mens in 38 grade kan loop terwyl alles ‘amper daar’ is. Hieronder is al die Kunene skribbles, van blase tot snotsiekte, van valle tot lope, en dan alles tussenin.
Follow me here