Gadgets vir ‘n stapsak: Murphy s’n
Moet-hê items in ‘n skerminkel se stapsak
- bobbejaan spanner
- hammer
- koevoet
- knip-knipper
- flits
- waaier
- beitel (die hammer is darm al klaar daar)
- dassie
Hierdie afgelope Kunene stap het ek geleer die bogenoemde is wat dinge wat ou Murph in sy stapsak het. Die skelm skerminkel laai sy sak vol twak en piekel dan oral agter my aan en kyk waar hy my kan kan pootjie. En dit is nie net in my kop nie want….
Toe ek 6 uur die môre in die donker my lang verlore 3de dogter sien, was haar eerste woorde aan my: Jy is hier! So asof sy my nie daar verwag het nie. Ek sê toe :Hoe bedoel jy, ek het mos gesê ek gaan hier wees?’
Sy noem toe dat met hoeveel kere my sake skeefloop, sy half en half verwag het dat ek nie daar gaan uitkom nie.(heel onder is ‘n paar skakels na dramas met Murph).
So, dit is nie in my kop nie 😊 Ek is nie heeltemal mal nie, alhoewel ek baie met myself praat. Ek het dit nooit agter gekom nie totdat een of 2 mense dit begin noem het vir my. ‘What can I say! As mens iets te sê het moet jy seker maar jou eie oor hê om te luister. Maar nou is ek besig om die pad byster te raak. Eintlik is almal hier om te sien wat is alles in daai skerminkel se stapsak.
Warmwaterpyp afraaier
Na ons dagreis, was ons net betyds om amper te laat te gewees het. Almal het gestorm na die 3 storte om gou die stof af te spoel voor ete. Ek wag geduldig my beurt af en was baie opgewonde om die stof van my lyf af te spoel met ‘n lawende warm stort. Murphy het ander planne gehad. Toe ek in my b-day pakkie onder die stortkop staan en die kraan oopdraai, kom die kraan in my hand uit die pyp uit. Kokende water spuit in ‘n stroom op my uit. Ek probeer soos ‘n mal loodgieter die kraan terugkry, maar daai donkie se water brand 7 soorte wit waks uit my uit. Op die einde was al wat ek kon doen hardloop met klere en sand wat aan my geplak het om te gaan hulp soek. En toe is ek nog vuiler as voor die stort aksie.
‘n Knie kraker
Die eerste ding wat uit sy ‘moet-hê’ stapsak gekom het was ‘n knie kraker. Hy het dit uitgehaal sommer al vroeg in die eerste dag. Ons moes klim en klouter en swaai, en met een opwaartse ontploffing van krag, het ek my knie ‘head on’ teen ‘n rots gestamp. Hierdie was die ‘gift that kept on giving’, want soos die dag aangeloop het was hy al meer krokkerig. Maar die eintlike ‘giving’ het deur die loop van die volgende dag se 30km mars ingeskop. Iewers deur daai dag 2, het my knie begin voel soos eens lank lank gelede. En ek het weer begin loop soos ‘n dronk seerower met ‘n houtbeen, Wonder bo wonder hat ek daardie nag die kniepyn weggeslaap, MAAR……….
‘n Lies breker
Op dag 3 besluit daai Murph, om ‘n koevoet uit sy sak te voorskyn te bring en my lies van my lyf los te maak . So, die dronk matroos waggelry van my die vorige dag oor duisende kilometers (ok, ek weet ek oordryf, maar in the ‘heat of the moment’ het dit so gevoel), het my teenoorgestelde lies ‘gebreek’. Een van die spiere wat mens se heup buig was kas toe, en opdraende was die ergste want dan was hy veronderstel om meer te werk. Veronderstel is die regte woord, want hy wou nie. Al wat hy wou doen was om my been te laat sleep. En ek reken ek het gelyk soos ‘roadkill’ wat agteraan ‘n trok gesleep word, veral met opdraende. En veral met daai berugte rooi opdraend daardie laaste dag.
Dit wil vir my voorkom dat ek al klaar ‘n ou tannie is wat sal kan baat vind by ‘n bietjie Q20 en dalk pienk pilletjies.
‘n Rugsak band afknip knipper
Die skerminkel het een of ander ding ingepak om my stapsak se band wat voor vasmaak, te breek. (sommer op dag 1 al). Vir my het daardie band 2 doele gehad: gewigverspreiding en kamera vashouer. Daarvoor het ek probeer om die band nog te gebruik en het dit geknoop. Die knopery was egter ‘n flop, want dit het al stywer geword hoe langer ek gestap het. Dan met rustyd was ek verstrengel aan my sak en moes ‘n paar keer iemand kry om my letterlik uit my sak te help. Na ‘n paar reddingsmissies om my te bevry uit die knopery het ek maar opgegee en die bande laat wapper in die wind. Ek het elkgeval ‘n dag later ook nie meer ‘n kameravashouer nodig gehad nie……
‘n Film verligter
Al het ek nie ‘n flim kamera gebruik nie, was die uiteinde dieselfde as lig op film. Nul fotos. Vir een of ander rede het my kamera net ophou werk die oggend van die 2de dag. Daar was een of ander ‘error’ wat geen hoeveelheid van oop en toemaak, battery en kaart insit en uithaal kon regmaak nie. Lyk my nie ‘n kiekmasjien het ‘n ‘fix all restart’ knoppie nie.
Die stukkende kamera was noggal ‘n bummer, want ek het soveel fotos in my kop gehad om af te neem. Maar dit was ‘n verskuilde goeie ding vir 2 redes. Rede een was my reedsgenoemde stukkende kamera vashouer band. En vir die kort rukkie wat die kamera nog gewerk het nadat die band gebreek het, was dit ‘n verskriklike storie op’n kiekie te maak.
Sak afhaal. Neersit. Oopmaak. Uithaal. Mik. Druk. Terugsit. Toezip. Optel. Wie het lus vir dit?! Geen band. Geen kamera. probleem opgelos sou ek sê.
Maar rede nommer 2 was eintlik die onverwagse voordeel. Vryheid. Ek kon net loop. Ek het nie heeltyd gevoel dat ek moet stop en fotos van alles neem nie. So dit was defbeslis bevrydend. Stap soos in die ou dae.
MAAR, daar was nie niks fotos nie, want dan sou ek defbeslis bedroef gewees het. Ek het een keer ‘n dag my foon aangesit en vinnig ‘n paar fotos geneem en die foon weer afgesit sodat die battery kon hou. En dan was almal gaaf genoeg om hulle fotos te deel. Daar is dus kiekies ‘galore’ vir wanneer die nostalgie mens beetkry.
Terwyl ons nou by die flitslig is….Die skerminkel het almal se ligte uit hulle tente gesteel, sy sak volgeprop en daarmee weggehol. Waarskynlik na die fietsryers toe. Almal moes toe snags en smôrrens aantrek en regmaak asof hulle braiille gelees het. Ek wonder of hy my ‘film verlig’ het met die ligte wat hy gesteel het.🤔
Hooikoorsverspreider
Murph het ‘n hele handvol hooikoors saamgevat en dit geblaas oor my soos perdeblomsaad (en vir die wat nie weet nie-dis ‘n dandelion) 😊. En die varknek het my Allergex en tissues gesteel. Al ooit gewonder of dit aaklig kan wees om hooikoors sonder tissues te hê? Wonder niet meer. Gelukkig, en dis hier waar ou Murph nie heel in sy doel geslaag het nie, was daar soveel voorbereides wat tissues en Allerex (en amper enige ander ding waaraan mens kon dink) gebring het. Anders het ek dalk nou nog iewers daar tussen niks en nêrens gelê, uitgedroog soos ‘n rosyntjie met net ‘n rooi Rudolph neus wat uitsteek en snuif.
Die skoen ontsoler
Hierdie was ‘n groot grap. Wie wil nou hond vêr oor rowwe gloeiende terryn stap met goed versoolde skoene? Blykbaar nie ek nie. So in plaas om my te pootjie het Murphy my skoene se sole so stuk vir stuk laat gaap. Met elke tree het daai beitel net so bietjie meer hond haaraf gemaak.
Sommer aan die einde van dag een het ek gesien daar is ‘n skroef los by my een skoen. Gelukkig vir my was daar ‘duct tape’ en ‘n paar tekkies wat ek kon afwissel. Maar hellaas, teen die einde an die pad wou stukkende skoene nie meer nie, en het hulle ‘n stille dog ‘glorious’ einde teegekom.
Dassie
Hierdie was nie in ou Murph se sak nie, maar in myne. Dalk as hy ook’n dassie in sy stapsak gehad het sou hy minder van ‘n suurknol gewees het. So, ‘n moet-hê item in sy sak, of dan nou enige ander iemand s’n, moet ‘n vriendelike dierasie van een of ander geaartheid wees.
Daar het jy dit. Die moet-hê dinge wat Murphy hierdie keer in sy stapsak saamgesleep het,
Naskrif
Ek grap nou maar hier, en in baie ander skribbels, want ek sien altyd hoe om ‘drama’ in iets lighartigs te ontskep anders sal my stories maar saai wees. MAAR daar was ‘n paar mense wat regtig ‘n moeilike tyd gehad het soos met blase wat voete onloopbaar gemaak het, kieme wat mense neergetrek het en ‘n paar valle wat ek dankbaar was nie ernstige gevolge gehad het nie. So cheers op al die ander mense wie se voete, knieë, elmboë en stuitjies in die gedrang was, wie gestap het met koors en keelseer, en wie se skoene hulle voete opgeeet het. Julle is die tipe mense met wie mens weer so ‘n tog saam met ou Murp sal aansurf.
En nou is die agtergrond ingeleur. Daar was ‘n nabetragting (voor ‘n betragting 😉), daar was die mense, en die epiese heen en weer tog en die Murphy stapsak drama. Al wat nou oorbly is die stap. So, dag een, die dag van die knie kraker is volgende aan die beurt.
In die tussentyd is hieronder 👇 die skakels vir die ‘inkleuring’ van die staptog prentjie, sowel as ‘n paar kere wat Murphy my al vorige kere gepootjie het.👇👇