Nasaret

Nasaret, bekend as die plek waar Gabriël vir Maria besoek het en die dorp waar Jesus as kind geleef het, was die tweede stad op my Israel besoek. Met groot afwagting het ek op die bus gesit oppad na hierdie geskiedkundige plek. Ongelukkig, het ek op ‘n slegte tyd daar aangekom, of my gemoed was nie lekker. Iets was nie pluis nie. My eerste gedagte toe ek daar uit die bus klim was: ‘Aggenee, hierdie plek is net soos Napels, en daarna het hierdie vers uit Johannes by my opgekom: ‘Kan daar uit Nasaret iets goeds kom?‘. Die Goeie Nuus kom uit Nasaret, maar verskoon my negatiwiteit, maar vir my het dit gevoel dat dit al goed is wat daaruit kom. Ek en Nasaret het nie ge-jel nie. Hier is my storie……

Van Jerusalem na Nasaret met die bus

Na die ligte bus ‘hickup’ op die Jerusalem stasie, was ek oppad na Nasaret. Ek het dit geniet om by die venster uit te staar en die wêreld te bekyk. Die landskap bly my die hele tyd van my Israel vakansie verbaas. Ek sal defbeslis prentjies daarvan  in my Bybel moet plak om so bietjie my Bybelstories in te kan kleur.

Nog ‘n ding wat my verbaas het was die verkeer. Liewe ouers. Ek het dit nie sien kom nie, en dit het gemaak dat ons, dink ek ‘n uur laat aankom. Ek het elke kort-kort my ‘off-line Geacache‘ kaart bekyk net om te sien waar ek is sodat ek nie my stop mis nie. (Die ander af van lyn kaart wat ek afgelaai het op my foon was ‘n nul op ‘n kontrak).

My stop is veronderstel om die Nasaret Sentrale Busstasie te wees. Ek vra vir medepassasiers of hulle vir my kan beduie wanneer ek daar aankom sodat ek kan uitklim. Hulle verstaan my nie. Dankie tog dat my foon op daardie stadium nog gewerk het, want toe ek op my Cache map sien dat ek is waar ek vroeër gegoogle het ek moet wees, klim ek haastig uit. Die ‘stasie’ is toe glad nie ‘n ‘stasie’ nie. Dis net ‘n straat waar die busse stop-n-go.

Oppad na Nasaret buite jerusalem
Net buite Jerusalem,
Hieronder volg ‘n reeks fotos vanuit die busruit geneem, sommer so in die ry.
Oppad na Nasaret
Oppad na Nasaret
Oppad na Nasaret
Oppad  na nNsaret

Aangekom in Nasaret

Toe die kaart op my foon se kolletjie is waar ek moes uitklim, het ek vinnig uitgespring en my tas onder uit die bus gegryp voordat dit kon wegry met al my besittings. Toe die bus ry kon ek my omgewing bekyk.

My moed het in my skoene, wat enkel diep in vullis was, gesak. Mense loop verby en spoeg op die grond en kyk my aan asof ek ‘n verdagte in iets kan wees. Ek het gegril. Maar ek was daar en dit was nou maar wors. So al wat my te doen gestaan het op daardie oomblik, was om die Hostel te gaan soek. Voor ek Israel toe was het ek al my kaarte gegoogle vanaf die stoppe tot by die blyplekke en dit geprint  (hierdie sou oor 2,3,4 dae my help navigeer nadat my Foon uitgebrand het). So my Google kaart het gesê dat ek beide links en regsom die blok kan stap, maar dat regsom die kortste is.

Kortste, was mos die logiese keuse. So toe stap ek regs om die blok. Toe ek kom by die ‘regs om’ se straat, staan ek voor ‘n bult wat skrik vir niks. Dis ‘n somermiddag, en en ek moet my tas daar opsleep…..met ‘n gebreekte wiel, terwyl daar ‘n stuk vullis aan die ander wiel vashak en weird skuur geluide maak.

Halfpad op teen die bult, bloedrooi gestoei met die stukkende tas in die vuil straat, probeer ek my asem en gemoed vang. Terwyl ek daar staan en my varkies probeer kalmeer dink ek , hierdie plek is net soos Napels, vuil, onvriendelik en ek moes toe ook met my tas oor meer as ‘n kilometer sukkel. ‘n Kilometer is niks, maar sit daarby ‘n ongemaklike klompie kilogramme, ‘n vreemde omgewing wat nie baie aanloklik lyk nie en dan kon dit netsowel 10km gewees het.

Dankie tog vir medereisigers

Toe ek bo op die bult gekom het het ek geweet dat ek weer links moes draai, ek moet mos immers om die blok geloop het. Maar van daar af was ek verlore, omdat dit nie strate is nie, maar ‘n ou mark/woongebied waar mens eintlik net kan loop deur die doolhof van markie straatjies. Google kon my nie daarmee help nie. Ek draai toe links en hoop om ‘n bordjie te sien wat se ‘you have arrived’. Maar dit sou most te maklik wees. Ek het op en af geloop, al meer hupeloos met elke rondte.

En toe sien ek 2 backpackers en ek storm op hulle af met die hoop dat hulle dalk in dieselfde hostel as ek sou bly of ten minste dit al gesien het. Dit was toe 2 Germane, wat ook opsoek was na hulle blyplek. Hulle was so gaaf om op hulle af van lyn af kaart die naam in te tik. Dit het gelyk asof ons amper langs mekaar bly en dat ek saam met hulle kan loop. Hulle gee my ook hulle app se naam (ek het dit dadelik afgelaai by die Hostel, ongelukkig kon ek nooit kans kry om dit te toests nie.) Al het ons hulle kaart gehad het ons steeds verwdaal in die doolhof van straatjies, maar op die einde het ons my blyplek per ongeluk raakgeloop. Ek sou nooit daar uitgekom het sonder hulle hulp nie.  Dankbaar vir medereisigers.

Fauzi Azar

Eindelik is ek by die Hostel wat die hoogtepunt van Nasaret vir my was. Die gebou is ‘n pragtige baie ou gebou van 1830 wat gerestaureer is. Die vloere, plafonne en mure is iets om te sien. En die mense wat hier werk is baie vriendelik en behulpsaam. Baie meer as by die Jerusalem.(dit is 2 takke van dieselfde groep). Ek dink dit is omdat dit ‘n kleiner opset is met net ‘n paar werkers en gaste op een slag.

Die volgende more vroeg is ek daar toe ontbyt begin. Ek vat ietsie van alles al weet  ek nie wat die helfte van die kos was nie, maar dit was ‘mindblowingly’ lekker.  Daar is ook sulke kleiiiiin koppies koffie. Liewe ouers! Dit was so sterk dat dit ‘n gril rilling deur my lyf gestuur het. Jy moet hare op jou bors en tande hê om daardie ‘jolt’ te hanteer. Na die tyd gaan praat ek met die Arabiese vroutjie wat die kos gemaak het. Ek verduidelik my hele dankbare storie, sy smile en knik haar kop, en toe ek klaar is met my hele relaas, vat sy my aan die arm tot by die vrou by ontvangs. Sy het toe nie ‘n dooie woord verstaan nie, en ek moes my storie weer vertel sodat dit vertaal kon word.

Ek gee volpunte vir die fisiese gebou, die mense en die kos en die diens. Toe my foon hier gebreek het, het hulle my gehelp om hom met verskillende drade te toets en hulle het my gehelp met my wasgoed.

Al waarvoor ek punte wil aftrek is vir hoe moeilik dit was om hulle te kry en die feit dat die Arabiese klas en die stadtoer afgestel was omdat daar te min belangstelling was.

By hierdie Hostel het ek ook ‘n paar wonderlike medereisigers ontmoet, en van hulle sal ek later oor skribbel. Ek wil graag een hele storie skryf oor al die mense wat ek ontmoet het in die Hostels.

Hostel in Nasaret
Hostel in Nasaret
Nasaret hostel
Nasaret hostel

Donderdag in Nasareth

My enigste vol dag was ‘n Donderdag, dit is belangrik om te weet, want die dorp het my so ongemaklik gemaak dat die gedagte dat ek my bus die Vrydagmôre voor Shabbat begin sou mis, het vir my op hol gehad. So die grootste deel van my dag het gegaan om die korrekte busstop te kry, want tipies met my geluk, vertrek die bus wat Tiberias toe gaan, nie van die ‘central busstation’ wat ek weet hoe om te kry nie.

My oggend het begin om weer uit te navigeer tussen die markstraatjies. Ek het later agtergekom, solank as wat ek in die algemene afdraaende rigting stap, sal uitkom waar ek die vorige dag ingekom het.

Die Hostel is ‘n klipgooi van die Church of the Annunciation (die Kerk van die Aankondiging). Toe ek daar aankom, sien ek dat as ek die vorige dag eerder links om gestap het, so ek nie so ‘n berg moes uitklim nie. So die kortste pad was defnitief nie die beste pad in hierdie geval nie.

Hieronder is ‘n paar strate rondom die Hostel. Ek het toevallig ‘n bord gekry wat wys waar die Hostel se algemene rigting is, en ook waar ‘n winkel behoort te wees, maar ek kon net nie die winkel kry waarna die rooi bordjies orals na verwys nie, so ek moes maar vir altwee aandetes my ingepakte snackers van PicknPay eet.

Die Kerk van die Aankondiging.

Vroegmôre is daar al heelwat mense, en hier aan die voorkant van die kerk is die straat mooi geplavei, dis skoon, so mense wat met ‘n toerbus daar afgelaai word, sal nie ‘n idee hê van waarvan ek praat as ek sê die dorp is vuil nie.

Elkgeval, ek was in by die kerkgronde. Die mure van de heining is vol portrette van Maria en Jesus wat geskenk is van reg oor die wêreld. Dit was baie interessant om te sien hoe verskillende nasies hulle uitbeeld.

Na die kunswerkbeskouing het ek in die kerk ingegaan. Geen verrassing, dit was ook ‘n Katolieke kerk. Mens klim af in die vloer in na waar die plek waar Gabriel blykbaar verskyn het toegemaak is met diefwering. Dit is bietjie ironies. En dan kan mens opklim na die boonste gedeelte na waar die kerkdienste gebeur. Vir my was daar nou nie veel om te sien binne die kerk nie. Wat wel opvallend was, was dat orals bordjies op is wat vra dat mense moet stil wees, maar dat niemand hulle daaraan steur nie. So by so dat iemand van die kerk die heeltyd moet loop en mense stil maak. Wat sê dit vir ‘n mens van mense?

Nasaret Church of Anunciation
Die een kant van die kerk….
….en die voorkant. Dit lyk nie eers asof dit bymekaar hoort nie
Merske deure van die kerk
Die gedeelte waarin mens afstap na daar waar Gabriël blykbaar gestaan het.
En dan hier is die onderkant van die vloer waarop die boonste verdieping se kerk is. Hierdie koepel lyk tipies na baie ander sulke kerke se koepels.

St. Joseph’s Church & Mary’s well

Buite die Kerk van die Aankondiging is daar ‘n klein kerkie of’n kapel. As ek reg verstaan, was dit veronderstel om Josef se houtwerk plek te gewees het. Dit is ingekerf in die klip onder die kapel.

Dit was ‘n baie kort besoek, want buiten al die skilderye teen die muur, en die diefgeweerde Gabriel verskeining, is daar nie veel te sien nie.

Net af in die pad, waar die ‘bus stasie is’ is daar Mary’s Well. Daar is nie meer ‘n ‘well’ nie, net ‘n landmerk waar moontlik ook Gabriel aan Maria verskyn het.

Hieronder is ‘n standbeeld wat staan net buite Josef se werkplek. Dit lyk asof Gabriël vir Maria gaan slaan, maar dit is nie hoekom ek dit afgeneem het nie. Ek het dit afgeneem want dit kom hier uit ons geweste uit. dit was ‘n skenking uit Namibië

Hierdie was ook buite Josef se werkplek, dalk is dit hy wie se knee so blink gevryf is.
Nasaret, Mary's well
Mary’s Well, die ander plek waar moontlik Gabriël kon verskein het. Dit is sommer in die straat, mens kan dit in die verbygaan sien.

Busstop soektog

‘n Meisie wat in my hostel kamer gebly het, het vir my verduidelik dat die bus wat Tiberias toe gaan van ‘n ander plek af ry as waar al die ander busse vanaf ry. Sy het my op haar voor gewys, en ek het dit op my ‘makeshift’ kaart ingeskryf. My enigste doel was om daardie stop te gaan kry sodat ek nie die volgende oggend hoef te soek tewyl ek moet skilpad met al my bagasie nie.

Op hierdie soektog was ek vir die eerste keer ‘versigtig’ . In Jerusalem het ek nie een keer onveilig gevoel nie, maar hier in ‘n random straat in Nasaret het ek benoud gekry. Dit het gevoel asof ek in Kuruman in die strate loop.

Ek het geloop en soek in strate wat nie sypaadjies het nie, en toe word die straat weer ‘n berg wat ek moet uitklim. Ek was baie negatief. Al wat ek dink tewyl die ‘berg’ uitstap is hoe lank dit my gaan vat om hierdie 2-3km te ‘wangle‘ met al my bagasie wat nie eers heel is nie. Eindelik bo kry ek die stop. Dit is so half verlate en ek kan nie seker wees dat hier wel iets gaan stop nie. Maar ek neem toe fotos van die stop om vir die mense by die hostel te vra of dit die regte stop is, en dan ook natuurlik aan watter kant van die pad ek moet staan. Want anders ry ek dalk net in die verkeerde rigting.

Dit is hoekom mens vir hulp moet vra.
Nasaret
Hierdie lyk nou nie veel na ‘n bult nie, maar fotos is bedrieglik.Die hostel is daar heel links bo.

Ek loop toe brom brom terug hostel toe. Nie lus vir enige iets anders nie, maar met ‘n bietjie spoed, want ek wou betyds wees vir die stadtoer wat die hostel elke dag aanbied. Daar aangekom hoor ek dat daar nie ‘n toer sou wees nie weens gebrek aan belangstelling🤦‍♀️. Ek haal toe maar my kamera uit om vir die vrou by ontvangs te vra of ek die regte busstop gekry het, net om agter te kom dat my kamera nie meer werk nie. Een of ander virus, op my splinter nuwe ‘memory card’, het al my fotos tussen Nasaret en Masda opgevreet.

Toe is my gemoed kas toe. My foon is stukkend so ek kan nie ‘n kaart of tye googeleer nie. My kamera is stukkend en het klomp fotos uitgvee. En ek moet die volgende môre my bagasie teen ‘n berg uitsleep.

Gelukkig kry ek vir Anne, die vrou wat my beduie het na die busstop in die hande, en sy beduie my na ‘n ander stop op dieselfde busroete, dis omtrent net so vêr maar dis op ‘n meer gelyk helling en daar is sypaadjies (meeste van die pad).

Ek besluit toe dat ek eers my wasgoed gaan was en leeglê terwyl ek daarvoor wag, en dan die nuwe stop te gaan soek. Met skoon wasgoed op my bed en ‘n nuwe busplan, voel my gemoed sommer klaar beter. My gemoed klaar nog ‘n bietjie op toe ek sonder te veel sukkel die nuwe busstop kry. Dis steeds vêr, maar baie makliker doenbaar met my bagasie.

2de aand in die Fauzi Azar

Nadat ek my busstop, wat effens in die middel van nêrens was, gekry het, baan ek weer my weg terug. Al wat ek wou doen was om weer te gaan fotos neem omdat my oggend se fotos weg was en dan in die fetusposie te gaan lê, my laaste ingepakte snacker te eet en te gaan slaap.

Maar vrede sou my nie daardie dag kry nie. Oppad terug kry ek weer die klein kat wat ek die hele dag sien rondhang in daardie deurmekaar strate. Hierdie keer sit die outjie in die middel van die pad. Ek gaan sit toe langs hom om hom te vryf. Kieter staan op en al wat ek sien is geraamtes. Daardie was die laaste strooi wat my gemoed kon hanteer.

HIerdie outjie en sy boetie of sussie wat die helfte van sy grootte was wat agter daai plank teen die muur weggekruip het, het my hart gebreek. Ek dink nie hulle het dit gemaak nie tot vandag nie. Ek het bietjie gaan oplees oor die Israel katte, en klink my 70% haal nie volwassenheid nie.Having said that, is daar steeds miljoene katte. Die getalle is angswekkend.

Ek het die kamer ingestorm en wel in die fetusposies gaan lê en bietjie gehuil. Daardie kat was die laaste swaarkry vir dierasies wat my hart kon vat. Die kathartseer het my oorweldig. Dis om elke hoek en draai en die mense wat daar bly sien dit nie eers meer raak nie. Vir my was dit net te ‘in your face’.

En toe kom daar die ‘cherrie‘ op die koek aan, ‘n nuwe resiger. Ek het in vrede op my bed gesit en my skoon klere gevou en ingepak toe die nuwe vrou hard en dwars daar instorm. Op daardie tyd was ek die enigste inwoner en daar was 4 beddens oop. Sy loop toe van bed tot bed en besluit om die een reg langs my te vat. Sy gooi haar goed daar neer en sê vir my ek moet my bed skuif sodat sy meer plek kan hê.

Ek het amper ontplof, want eerstens, die bedddens staan waar die hostel hulle gesit het, tweedens sy kon enige ander bed gekies het, maar sy wou DAARDiE een hê, derdens ek was voor haar daar, en vierdens, sy was net plein ongeskik (te veel redes, hoe kan een mens in ‘n minuut soveel stoom uitlok?). Ek het my bed n volle 5 cm gekuif en gesê dit is dit. Sy het daar uitgestorm en ek het haar nie weer gesien voor die volgende môre nie. Waar partikuleer mens in Nasret tot in die oggend? Ek vra maar net.

Daar het darm later die aand ‘n Franse meisie aangekom met wie ek lekker kon gesels die res van die aand al het ek met rukke baie geskukkel om haar te verstaan met haar swaar aksent.

Go time!

Die volgende oggend vroeg was ek uit die vere, gepak en gereed vir ontbyt. Dit was ‘n skade dat ek daardie heerlike ontbyt so moes afsluk, maar ek wou nie kanse met die busse vat voordat hulle ophou loop vir die naweek nie. Ek het geskat dit sou ‘n uur se stap vat om by die stop te kom net om veilig te wees.

Ek is daar uit op soveel van ‘n drafstap as wat mens met bagasie kan gaan. Oja, ek moes ook nog eers my Rav Kav op-top sodat ek op die bus kon klim. Die masjiene is nie in Nasaret orals soos in Jerusalem nie, en ek kon dit nie aanlyn betaal nie want my kredietkaart word nie deur Rav Kav aanvaar nie. Ag flip.

Een goeie ding is dat my foon die oggend ‘n 2de asem gekry het, ek kon dus die aanlyn ding probeer. Elkgeval ek het so ge-‘obsess‘ oor waar die busstop gaan wees, dat ek heel vergeet het om ‘n Rav Kav masjien te soek.

Ek hoop om een te kry by die ‘bus stasie’, maar ‘no such luck’. Ek staan toe daar met ‘n probleem, of ek strompel rond en soek ‘n masjien en mis die bus, of ek klim sonder ‘n kaartjie op die bus en hoop vir die beste. Dit is nie asof ek nie probeer het om een te koop nie.Ek kon nie met die Rav Rav app of met die Moovit app my kredietkaart gebruik nie, en ek kon nie ‘n masjien kry nie. ‘I tried’. Die keuse was maar om sonder ‘n kaartjie op te klim en te hoop vir die beste.

Ek was baie verbaas toe ek in baie minder tyd by die busstop aankom as wat ek geskat het. Die busstop is egter in die middel van nêrens so ek kan nie net vir iemand vra vir ‘n kaartjie of ‘n bustyd of enige iets nie. So ek sit toe kiertsregop en hou die verkeer met ‘n valkoog dop. As ek n bus sien spring ek op om sy nommer te kyk. Ek dink my bus moes 9 uur kom, maar al wat kom is die bus. Maar ek gaan nie beweeg nie. Seker ‘n halfuur laat sien ek die bus. Ek slaak ‘n sug van verligting, spring op met my bagasie en gaan staan op die rand van die sypaadjie.

Die bus kom en kom en kom……., slack nie eers af nie en ry verby. Ek piepie my amper nat? Wat het nounet gebeur? Is hierdie dan nie die stop nie. As ek die hele naweek gaan moet bly in Nasaret gaan ek in ‘n gemoed bevoetering verval wat die hele vakansie gaan kelder. En weerens omdat die stop nie naby iets is nie, kan ek nie loop en hulp vra nie. So al wat ek kan doen is wag vir nog ‘n uur tot die volgende geskeduleerde bus en hoop en letterlik bid vir die beste. En ek het.

Toe na meer as ‘n uur, sien ek weer die nommer bus, en ek spring toe amper voor hom in die pad en swaai my arms soos ‘n spiedkop sodat hy nie anders kan as om te stop nie. Groot verligting toe hy stop (en ook dat hy nie oor my voet gery het nie). Ek het sommer gevoel hoe die verligting versprei.

But wait, there is more (Am I even surprised?????)

Ek het nog nie eers gesit nie, toe klim die kaartjiechecker op. Regtig!? Al wat ek kon dink om te doen was om die QRcode af te neem soos wat al die ander mense doen (die verskil is, hulle betaal dan, myne was net ‘n foto). Toe ek vir die ou die foto wys toe aanvaar hy dit. Of hy gee nie om vir sy werk nie, of hy het gesien hierdie toeris is ‘n idiot so ‘he will let it slide’. (ek dink dit was die laasgenoemde).

Hy was wel baie behulpsaam toe die bus ruk en ek amper uit my sitplek val, hy het die handlening afgeslaan en hy het my ook gerussgestel dat ek op die regte bus is. Hy was die beste kaartjieopchecker wat ek al ooit raakgeloop het. Dan dink ek terug aan daardie horibale vroumens in Duitsland met die Jack Wolfskin baadjie, my hard pomp na al die jare steeds uit gelid uit wanneer ek haar onthou.

Die eerste ding wat ek op die Tiberias busstasie gekoop het was ‘n kaartjie vir die busrit wat verby was, toe is my skuldgevoel en skelmstreke agter my.

Die qR code wat my bas gered het op die bus.

Nasaret op ‘n stokkie.

Dan hier aan die einde kom ek terug na my ‘wonder’ van die begin. Daar kom Goed uit Nasaret. Die ‘obvious’  Goeie Nuus wat ons ken en in my eie geval nuwe vriende.van wie ek nog sal vertel. Die res, oi……ek was telleurgesteld. Maar mens kry mos maar dae waar alles wat kan verkeerd gaan verkeerd gaan, en dalk ter verdediging van Nasaret, was dit net slegte geluk aan my kant. maar vy, ek kan nie dink dat ek weer soontoe sal wil gaan nie.

Maar as die geleentheid hom voordoen sal ek weer in die Hostel gaan slaap vir die ontbyt en die mooi gebou en om na die uitkykpunte te gaan wat oor die stad uitkyk. Ek het nie kans gesien om dit te gaan soek met hierdie uitstappie na, Sou ek weer Israel te gaan will ek eerder heel Suid en heel Noord gaan, daar is nog ongelooflik baie dinge om eerder te gaan sien.

Hoe toe

Ek sal eerder sê gaan iewers anders heen. Hier is nie regtig iets om te sien nie behawe ‘n klomp kerke wat gebou is waar moontlik iets kon gebeur het. En dan is daar die uitkykpunte wat ek nie by uitgekom het nie.. Maar as mens wil sê mens was in die dorp waar Gabriël die nuus van die koms van Jesus aan Maria gedeel het, dan gaan maak ‘n draai daar

Maar ek glo, dat as jy met ‘n toergroep gaan, sal hulle jou aflaai by al die mooi plekke, Defbeslis sal hulle mense vat na die Kerk van die Aankondiging en na die Nazareth Village, wat ‘n uitbeelding is van die dorp van doerietyd..

As jy sonder ‘n torgroep gaan, gaan bly in die Fauzi Azar Abraham Hostel om die argitektuur en ontbyt te waardeer. Die sentrale bus stop/straat is net ‘n klipgooi weg soos die kraai vlieg. Maak net seker van waar mens kom en waarheen jy gaan, want soos ek die harde les geleer het, al die busse stop nie daar nie. En onthou om voor die tyd kaartjies te koop, want hier gaan jy soek na ‘n plek wat dit doen.

Hier is ‘n paar videos wat Anne geneem het van Nasaret. Sy was vir 2 weke daar en was by al die kerke en landmerke in. Ek weet eerlikwaar nie hoe sy 2 weke daar spandeer het nie.

Josef se werkswinkel , Nazareth old village tour en die Mount Tabor en die Mount Precipice uitkykpunte


Hieronder is ‘n paar ander skakels van dae waar alles ook verkeerd gegaan het terwyl ek in Duitsland en Italië was, Daar was ek beboet terwyl ek ‘n kaartje gehad het, het gewag op ‘n winternag vir ‘n bus wat nooit sou kom nie, en het die een na die ander bus of trein gemis terwyl ek my bes probeer he om na La Spezia te gaan. En dan moes ek net ook dei napels storie hier insit. Oja, en dan was daar vele lughawe dramas waarvan die een Windhoek toe seker die meeste drama gehad het..

Follow me here