Namibië Geocaching: Ariamsvlei tot Wlotzka

Uit die vorige skribbel weet jy nou wat Geocaching is so hier is my geocaching roete na die Namibie weskus toe. Ek ry deur Upington, so my NAM-Cache roete begin anderkant Ariamsvlei, as jy van die Kaap of Botswana kom sal jou roete effens anders lyk afhangde van watter grenspos jy gebruik.HIer is dan Ariamsvlei tot Wlotzka.

Lonely Stone Tower.

Jy gaan laaaank al deur Ariamsvlei wees voordat jy die ou toring langs die pad kry. Ek’t al miljuisend keer daardie pad gery, maar nog nooit die toring opgelet totdat ek gesien het dat daar iets te soeke daar is nie. Die eerste keer wat ek daar gestop het, het daar ‘n werklike skatkis uitgepop, propvol speelgoed en ander dinge……. En toe kry hy voete daar in die middel van nêrens. Daar is wel weer iets te vinde versteek. Kleiner, minder skatterig. Maar dis ‘n bene rek aksie al is daar nou nie meer ‘n skatkis met speelgoed nie.

Ariamsvlei tot Wlotzka

Namib Quiver

Nie te vêr aan nie is ‘n volgende stop so te sê in Karasburg. Maklik om te kry.

Karasburg 10

Hier was altyd een gewees by die 10km bordjie anderkant die dorp. Ek het hom ‘n hele paar keer gesoek, maar sy ‘gone fishing’ leidraad het nooit vrugte gewerp nie, en nou is hy heel geskrap van die rol ongelukkig.

Net hier duskant by Grunau, is waar die Kapenaars aansluit by hierdie roete, so van hier af an hulle ook hierdie ‘cache’-roete volg. Voor Grunau sal hulle maar self moet gaan kyk op die Geocaching webwerf wat daar op hulle pad te vinde gaan wees.

Trees of Africa

Dan vat jy maar die pad Keetmanshoop toe en daar, tussen nog ‘n niks en nêrens is die ‘Trees of Africa’ stop. En as jy gewonder het, ‘trees’ beteken nie daar is ‘n woud nie. Daar is eintlik net ‘n boom.

Ariamsvlei tot Wlotzka

Keetmanshoop

In en rondom is ‘n paar. Ek het net een van hulle gaan soek waar daar veronderstel is om ‘n kokerboom te wees, maar waar die GPS gestop het was geen dooie (of lewendige) boom nie, so die Keetmans-‘caches’ is nog ‘n nul op my kontrak.

Mariental : fact or fiction

Hierdie een is nie op die pad nie, mens moet ‘n effense ‘detour’ doen deur die dorp na ‘n kerk toe, maar die ‘cache’ is maklik om te kry. Dis ‘n klein houer, maar groot genoeg dat daar ietsie kan wees om te vat, te ruil of sommer net iets te los. Dis ook groot genoeg dat jy dalk ‘n ‘Travel Bug’ daar kan kry, of as jy padlangs een opgetel het om hom daar te los.

Kalkrand: The less famous dessert

Hier is ‘n ‘Earthcache’ wat jy kan log, ek het dit nie gedoen met my vorige uittog nie. Ek is nie die grootste aanhanger van hierdie tipe ‘caches’ nie. Vergelyk met die waar jy iets fisies kan opspoor, is hierdie bietjie vervelig. MAAR, as jy deur die ‘cache’ se inligting lees, leer jy tog baie van die area.

Steenbokskeerkring

Hierdie is die ‘cache’ wat ek al die heel meeste gesoek het. Hierdie is ‘n baie hoë besoekkersarea, so die ‘cache’ word deur baie gesoek, gevind en verloor. Elke keer as ek al daar verby was het ek gestop om te soek, net om wanneer ek weer by die internet uit kom te sien dat hy eers onder ‘maintenance’ is of weg is. My tydsberekening was nog nooit reg met hierdie een nie. Maar eendag sal hy so waar as vet daar wees op dieselfde tyd wat ek daar is.

Ariamsvlei tot Wlotzka

‘Update’. Na letterik jare se soek, het ek eindelik hierdie een gekry. Die bord het langer pale gekry, so niemand gaan net per ongeluk hierdie cache kry nie. Ek moes bo-op die bakkie staan, amper op my tone en ek kon amer die dramatiese fliekmusiek hoor en die spotlight sien lig op die cache toe ek dit uiteindelik gekry het.Hierdie ou heet ek eindelik gekry oppad na die Kunene hike.

ek kon nie bykom hierdie keer nie.
Eindelik, was ek en die Cache op dieslfde tyd daar, en ek was met ‘n bakkie daar sodat ek kon bykom.

Rehoboth : Turtle cache

Hierdie een is by ‘n museum. Vandat hierdie ‘cache’ hier is het ek nog elke keer verbygery want ek was buite openingstye daar deur. Veel van hierdie ou weet ek dus nie.

Windhoek

Daar is heelwat skatte in die dorp, maar as jy nie daar gaan oorbly nie, gaan die op en af ryerey jou kar se @#-meter die rooi injaag. Dalk is dit net ‘n probleem van die ouer tjorre soos die wat deel uitmaak van my verwysingsraamwerk. 😉

Dit beteken wel nie jy moet die Western Bypass vat en die dorp heel misry nie. As ek een ‘cache’ kan aanbeveel,sal dit die een by die bekendste landmark, die Luterse Kerk wees.

Terwyl jy soontoe ry sal jy ‘n hele paar tipies Windhoekse dinge sien en darm kan sê dat jy daar was. Ongelukkig is die Ruiter nie meer daar nie. Eens op ‘n tyd dink ek was dit naas die kerk die mees bekende ding om te sien. As jy die vrede wil bewaar, noem maar nie die Ruiter wat by die Alte Feste was nie. Dit laat die Germane se bloed kook.

Van hier af is die lang pad aaaaansienlik korter (afhangde nou van waar jy begin het), mens kan al amper die seelug ruik……

……..amper, nog nie heeltemal nie. 😉

Okahandja: RIP

As jy ‘n bietjie van die hoofpad wil afdwaal en die dorp sien, is hier ‘n ou oorlog begraafplaas om te sien, as dit iets is wat jou ‘fancy’ kielie.

Ariamsvlei tot Wlotzka

Op die hond se stert: Stretch your legs

Hierdie outjie vat jou tot by ‘n koppie wat so effens van die pad af is. Daar bo-op is ‘n tipe fort gebou waarvan ek nooit geweet het totdat ek gesien het dat daar ‘n ‘cache’ is nie. Dit het my 2 vakansies gevat om hierdie een te kry. Daar is vrek baie wegsteekplek in hierdie ou forterige ding. As jy hom nie kry nie is die fort en die uitsig van daar bo af sy eie belonging.

Ek dink ook hier is meer as een houer versteek, omdat die fotos op die webwerf verskillend is. Ek reken op ‘n kol het die oorspronklike houer voete gekry en toe het iemand ‘n nuwe een uitgesit, en so aan en so aan…. Kyk maar wat jy kry.

Refill Cross

Dan net ‘n katspoegie verder is daar nog ’n stop. Teen hierrdie tyd is jy seker haastiger as ooit see toe en het nie meer lus om bene te rek nie. Dalk het jy lus vir hierrdie een oppad terug. Dalk sal jy dan hier wil stop om net so ‘n knertsie langer naby die kus te wees.

Net Anderkant Arandis: Regiment Badges laaste stop voor die koue Atlantiese waters

Hierdie is een van daai dinge waarby ek al my hele lewe verbygery het en dit nooit opgelet het nie. Dis nou tot een of ander ‘cacher’ dit raakgelop het en besluit het om iets daar weg te steek sodat mens kan weet van die plek se bestaan.

Daardie ‘badges’ hang al daar uit van 1915! As mens daar staan kan mens nie help om die arme troepe jammer te kry wat al daardie klippe moes soek en pak in die woestyn nie.

En dan is jy aan die kus

Teen hierdie tyd wil jy seker net ry om te kom by die see.

Daar is heelwat ‘caches’ nog te soek langs die kus af, Dit gaan net afhang watter kant toe jy gaan. Aangesien ‘n vorige skribbel oor Wlotzkasbaken gegaan het gaan ek daardie ‘cache’ roete noem En as jy verby Wlotzka Henties toe ry kan jy ook nog saamspeel.

Leuchtturm

Hierdie ‘ligtoring’ is by die ingang van die soutwerke, en hier in die omtrek is ‘n ietsieee bietsieee ‘cache’ weggesteek, en nee jy hoef nie al die klippe om te rol soos ek om te kyk of dit dalk onder weggesteek is nie. Dis iewers duskanter.

Decca Slave SWA 1

Hier was een of ander  ‘hyperbolic radio navigation system’ in neentien voertsek. As jy ‘tech’ verstaan sal die Geocaching website dalk vir jou die lig laat aangaan.

Wlotzka se caches

Die volgende 2 skatte is in die woestyn. Super belangrik. Jy mag nie uit die klaarbestaande spore ry nie. Hier is mens immers in die Dorob Nasionale Park. Om uit jou spore te ry beskadig die lichens en spore wat jy maak gaan vir jare der jare daar agterbly. Elke jaar kla die Namibiers dat die simpel toeriste amok gemaak het in hulle woestyn. Jaag rond en maak doughnuts met hulle 4×4’s en quad bikes en verrig onherroeplike skade. Moenie een van daai peanuts wees nie. Wees ‘n ordentlike gas en respekteer die natuur. As jy ‘n ass gaan wees los hierdie ‘caches’ en die woestyn uit asb.

Wlotskas Desert Rocks

Ons gaan stap al jare lank in hierdie klippe rond, en nooit geweet dat daar ‘n klein skatkissie versteek is net neffens ons gunsteling klippe nie. Nadat die eerste keer van hom gehoor het, het ek al ‘n paar keer gaan kyk of hy nog daar is. Het selfs een keer ‘n nuwe houer gevat aangesien die woestyn hitte nie plastiek se maat is nie. Toe ek teruggaan om ‘n nuwe houer te vat sien ek dat iemand in die logbook geskryf het dat hulle spore in die sand gekry het en dit gevolg het reg tot by die skat. Dit was myne die vorige dag!

Elkgeval. Jy gaan met stop langs die pyplyn en instap na de klipgevulde duin toe.

Ariamsvlei tot Wlotzka
Ariamsvlei tot Wlotzka
Daardie muis is al jare daarbinne

Mount Wlotzka

Hierdie is ‘n bul van ‘n soektog. Jou tjor moet ‘n hoë  grondvrye hoogte hê en jy gaan moet ‘n GPS hê. Ry al langs die pyplyn af tot net nadat die pad kruis met die ander hoofpad. Draai daar regs in die eerste spoor. Volg hom en hou die GPS dop. MOET NIE die straight stripe pad vat wat die GPS wys na die koördinate toe nie. BLY OP DIE SPOOR. Mag al jou wiele pap raak as jy die spoor verlaat en jou eie pad in die woestyn baan en mag Natuurbewaring op daardie tydstip randomly daar opdaag.

Hierdie Cache het ook 2 vakansies geverg. Die eerste keer was die kar te laag en die klomp koördinate het te veel van ‘n deurmekaarsupl veroorsaak. Die 2de vakansie se vervoer se hoogte was reg en kon makliker die koördinate volg vanaf die pyplyn se afdraai.

Ariamsvlei tot Wlotzka

Hierdie was die roete tot by my ‘valley’ van Ariamsvlei se kant af.

My eie Cache 98

Hier is nog ‘n ‘update’ sedert ek hierdie oorspronklik gekribbel het ‘n paar jaar terug. Vandat ek my eerste cache gekry het, het ek gedink om een by Wlotzka op te sit. Dit het ook jare gevat om tot op daardie punt te kom, en nou is hy ‘live’. Dit het my 2 naweke gevat om die miniatuur huisie te bou. Toe is daar ‘n klein gat geboor en ‘n groot een as wegsteekplekke. Die klein een moes nie daar gewees het nie, maar ek was bang dat mense sommer gaan aanneem dat die skat voete gekry het as hulle die leë gat sien, toe kamofleer ek hom as ‘n ‘booby trap’. En dit lyk of die mense die booby, die dorp en my klein huisie baie geniet om te sien. ‘So my work there is done‘. En ek geniet natuurlik om al die kommentare en herkomste van mense te lees soos wat dit inkom.

Aan die beplan en bou

Ander ‘caches’ al langs die kus af

Daar kom elke nou en dan ‘n nuwe ‘cache’ iewers, en ‘n ou een raak weg of word afgehaal van die kaart af oor watter rede ookal. Mens moet dus maar elke dan en wan inlog by Geocaching.com om te sien wie’t gery en wie het gebly. Die Swakop skatte is effens aan die yl kant. Daar was op ’n kol meer. Daar is nou Tate Kulu en 2 by die Kristal Galery oor. Daar is ook een in die Swakop Rivier waarby ek net nog nooit uitgekom het nie.

Tussen Swakop en Walvis pop daar aanmekaar nuwes op en is oues wat ek al gekry het weg.

Duin 7

Mens kan na hierdie geweste kom en nie Duin 7 gaan uitklim nie. Daar is darm ook 2 ‘Caches’ om te sê jy was daar, Iets wat jy gaan moet soek en ‘n ‘earthcache’

Op ‘n stokkie

Hierdie was ‘n paar. Daar sal orals wees, jy moet net op die kaart gaan kyk daar waar jy gaan wees.

Gaan skep ‘n profiel op Geocaching.com, gaan ‘play’ op die webwerf, kry die koördinate en die beskrywing van die skatte wat jy wil gaan soek (of merk hulle op die app as jy nie ‘n GPS het nie) en begin die skattejag. Hierdie is ‘n lekker manier om bietjie padlangs te stop en dinge te sien en te leer van ‘n plek wat jy andersins heeltemal sou gemis het. Of dit nou jou eerste keer in die land van sand en koue water is, of die 20ste keer, skattejag gaan jou defbeslis laat stop ‘to smell the roses’ en jy ervaar die plek net so ‘n knertsie meer.

Follow me here