Al om die muur van Jerusalem
Wat is ‘n Rampart? Voordat ek begin het met my Israel beplanning, het ek nog nooit van ‘n Rampart gehoor nie. Ek moes dit opsoek. Dit beteken : ‘n muur om ‘n dorp of stad gebou ter verdediging. So daar is dit. Die ‘Ramparts walk‘ is loop om of op die muur.
Die muur van Jerusalem is relatief jonk en is eers in die 1500 s gebou deur die Ottomans. Maar as mens daaraan dink dat dit ouer is as ons 1652 amptelike eerste neergepende geskiedenis, dan is dit oud. Die muur se legte is bietjie meer as 4km. Dit beteken dat die oppervlak van die ou stad baie klein is. Omtrent 1km².Dit is seker die belangsrikste mees dopgehoude vierkante kilometer in die wêreld. Die grootste gelowe in die wêreld se grootste belange is in hierdie klein area vervat. Dit voel vir my asof die hele wêreld hier bymekaar moet kom. En die idee in my gedagtes word eintlik so mooi vervat in hierdie kaart waar Israel die middelpunt van die wêreld is.
Begin by die begin
Nadat ek klaar verken het by die Toring van David kon ek direk na die Ramparts ingaan,
Dit was heeltemal verlate en op ‘n kol was ek nie seker of ek daar mag gewees het nie. Dan was ek ook skrikkerig dat omdat dit Saterdag was hulle die hekke sou toemaak op ‘n sekere tyd en dan sit ek bo op die muur van Jerusalem soos Humptey Dumpty en dit sou ongerieflik en vernederend wees. maar tog ‘n goeie storie…..
Maar na ‘n bietjie wonder het ek deurgedruk en die mooiste uitsig van bo-oor die muur gekry na die gedeeltes buite die ou stad, die binnekant van die ou stad was verbasend stil. Ek het nie vêr gekom nie toe daar ‘n geslote hek voor my opgedoem het en ek moes afklim. Dit was eintlik ‘n verligting want die spookdorpagtigheid van die ou muur het my nie veel aangestaan nie, en dit was vol in die son.
Ek het by die Zion gate weer afgekom aarde toe en besluit om eerder onderlangs om te loop. Dit is lekker om vêr te kan sien, maar mens kan dan nie sommer af loop na waar mens iets interessant sien nie. En ook, Jerusalem se ou stad is op ‘n heuwel, veral aan die Suid en Weste kante, so mens kan elkgeval vêr sien sonder om op iets te klim.
Hekke van die ou stad
Hek klink net nie reg nie, veral nie as mens die plaas tipe ken nie. In hierdie muur se geval klink Gate dalk net beter. En eintlik is dit net ingange, sommige met groot deure. Die hekke om die muur is die Jaffa, waar baie mense by ingaan, dan antikloksgewys om, soos ek geloop het, Zion, Tanner en Dung.
Dung gate word genoem in Nehemia,maar dit was op ‘n ander plek meer Suid gewees. Die naam kom blykbaar daarvan dat al die vullis deur hierdie hek verwyder is. Vandag is dit die hek wat direk ingaan na die Western Wall en die nie-Muslem ingang na die Temple Mount. Dis ook die maklikste landmark om te vind om na die Stad van David te gaan. Dis net ‘n paar 100m Suid van hier. Dan is daar nog die Lion’s , Herod’s, Damascus en New Gate.Die allerbelangrike hek, die Mercy of Golden gate is toegebou.
Ek het ingegaan by die Dung Gate, ‘n bietjie skadu gesoek en gehidreer, en toe is ek weer uit. Weerskante van die pad is argeologiese uitgrawings van die regte Ou Stad, aan die een kant is die Davidson Centre, en aan die ander kant die City of David se uitgrawings. (Ek sal dit later beskribbel)
Berg en dale
Hier tussen die uitgrawings begin mens die Olyfberg sien. Die Olyfberg met die busse soos ‘n lang wurm geparkeer. Maar eintlik is dit vandag bekend vir die duisende Joodse grafte. Wanneer mens om die hoek van die Ou Stad se muur gaan, is daar reg voor mens ‘n Moslem begraafplaas, reg teenaan die stad se muur. Die muur wat die voet is van die Temple Mount se gronde.
Hier is mens redelik hoog en mens kyk af in die vallei en dan weer op met die Olyfberg. Hierdie vallei, die Kidron Vallei is blykbaar ook die berugte ‘Valley of the Shadow of death’. Ek was noggal verbaas om uit te vind dat die Vallei van die doodskadu ‘n regte plek is, en was en nie net ‘n metaforiese beskrywing nie. Hier is waar die ge-oferde diere weggegooi is, en net om die hoek in die Himnomvalley wat Suid van die nuwe-ou muur loop was waar kinders ge-offer was. So daar was baie dood, in hierdie vallei, nie net die skadu daarvaan nie. Dit is ook blykbaar hoekom daar steeds vandag niemand in bly nie. Oral rondom is bebou, maar hierdie stuk het relatief onaangeraak gebly.
Terwyl ek alfkyk in die vallei, en weer opkyk oor al die duisende grafte op die Olyfberg, vang my oog nog iets interassants. Onder in de vallei, waar die Olyfberg en grafte eindig, is daar 2 grafte of monumente. Dit hang af wie jy vra wat dit is. Maar ek het gehoor dat dit die monument is wat Absalon vir himself gebou het (ander sê dit is ter ere van Absalon gebou jare later) en net af in die vallei is moontlik Sagaria se graf.
Ek besluit om af te stap in die vallei na waar die 2 monumete in die kliprand ingebou is. Maak nie saak wie die kapper was nie, dit bly indrukwekkend veral as mens dink watter gereedskap tot toentertyd se mense se beskikking was.
Van hier onder in die vallei kan mens opkyk na die majestieuse muur aan die een kant en die Olyfberg aan die ander. Ek kan noggals dink dat wanneer mens in hierdie vallei gestaan het, mens letterlik net kon ‘opkyk na die berge’
Van hier onder af het ek net ‘n entjie opgestap na die besoeker sentrum, grotendeels om in skadu te kom en my water vol te maak. Ek het nie heeltemal teen die Olyfberg opgestap nie, want dan sou my moed in die hitte van die dag dit dalk nie gehou het nie. Ek het wel na ‘n paar van die Joodse grafte gaan kyk.
Blykbaar is die ongelooflik duur om hier begrawe te wees want daar word geglo hoe nader mense aan die “Mercy of Golden Gate’ begrawe is hoe vinniger gaan mens opstaan uit die dood met die Wederkoms. So hoe nader aan die muur en die hek, hoe duurder die graf.
The show must go on, en ek moes weer op klim na die muur se kant.
Die op, was baie moeiliker as die af, net omdat dit gevoel het asof die son my van bo-af afdruk. Op ‘n kol het ek teen die kant gaan staan vir ‘n druppel skadu. Ek was skaars teen die muur toe iets op my val en my hart ‘n klop gemis het. Eerste wat ek dink is dat iemand van bo-af my met iets gegooi het. Maar toe ek tot verhaal kom sien ek 2 dinosorusse wat op my geval het. Hulle het seker geskrik, en my op my beurt amper weer ‘n hartaanval gegee. Soos ‘n vrou later gesê het ‘these are healthy looking lizards’ .
Toe ek weer bo-kom, kon ek my roete om die muur voortsit. Om dit te doen moes ek deur die Moslem grafte stap. Daar word gespekuleer dat die grafte hier Oos van die muur, aan die voet van die Temple Mount die opgestanes van die Joodse kant moet keer om hierdeur te loop na die Mercy of Golden gate toe met die finale oordeel.
Maar dit is nie net die grafte voor die muur wat die moet keerwerk moet doen nie, maar ook die toegeboude Gate of Mercy of Golden Gate. Hierdie is die allerbelangrike plek wat in al 3 gelowe te make het met die laaste oordeel. Die mense wat hierdie hek toegebou het, het seker nog nie die storie van Jerigo se mure onder andere gelees nie.
Terwyl ek hier langs die muur loop, hoor ek die geskal van die minarette aan die ander kant van die muur vanaf die Temple Mount af, asook van laer af in die valley waar daar ook ‘n nedersetting is. Dit is noggal ‘n belewenis om hier te loop en oor die Joodse grafte uit te kyk terwyl die klank van Moslem minarette van agteraf oor mens spoel. Maar dit is hoe dit oral in Jerusalem is. Die grootste voorbeeld is aan die ander kant van die Temple Mount waar net die Moslems mag in, maar waar die Jode teen die Klaagmuur staan en bid.
Elkgeval, in die loop deur die Moslem begraafplaas onder begelyding van die Minarete geskal, kom ek by die volgende hek, die Lion’s Gate aan, Ek draai hier in en begin loop, maar met die geskal van minarette is ek skrikkerig om te verken. Dit voel vir my asof iemand enige oomblik op my gaan skree. Ek draai toe om om my verkenningstog om die muur Voort te sit.
Eers later hoor ek dat die sekuriteirt my sou gekeer het as ek sou wou verken, want hier links gaan mens Temple Mount toe en net Moslems mag daar in.
Net gou terug by die Lion’s Gate– so genoem na die moontlike 2 luiperde op die muur- Hier kan mens weer afloop na die vallei en dan op na die Tuin van Getsemane. Of as mens ingaan en reguit hou loop mens na die Via Dolorossa aan. Dit is dan ook hierdie pad wat die Monnike en hulle geselskap elke Vrydag volg.
Van hier af is dit nie vêr tot by die hoek van die Ou Stad nie. ‘n Skerp draai na links en ek is oppad Wes en skielik weer in die moderne wêreld in. Met die muur, en die rots waarop hy gebou is aan mens se linker kant sien mens regs net verkeer en mense en geboue. Wanneer mens hier om die draai kom voel dit amper asof mens ‘n kultuurskok kry na die lang stil omsirkeling tot op daardie punt.
Hier loop ek aan tot by Herod’s Gate. Daar was ek in, want daar was een of ander bouery aan die gang buite en as ek wou om loop sou ek oor die pad moes gaan. Ek besluit toe om ‘n hopelik kort ‘de-tour’ aan die binnekant te doen.
Binne was dit baie stil, en ek het net bly loop in die rigting wat ek gevoel het na die volgende ‘gate ‘ sou gaan, so ek het heeltyd probeer regs hou, regs hou, regs hou, maar dit is noggal moeilik in hierdie doolhoof.
Dit is in hierdie stil area van die Ou Stad waar ek my eerste erge kennismaking met ‘n kieter gehad het. Die outjie was nog klein en sy hele gesiggie was geel van goed wat uit sy oë uitgeloop het, en toe ek met hom praat begin hy mos skreeu agter my aan. So al asof hy vir hulp gevra het. Daar het ‘n paar seuns verbygekom en vir my en die kat gelag. Ek weet dis wat hulle gedoen het, want hulle het iets smalend aan my probeer sê in gebroke Engels van ‘your cat’. Ek wou hulle sommer met ‘n skoen gooi. As ek daar woonagtig was, sou hierdie die eerste kat gewees het wat ek huistoe sou gevat het om te gaan dokter. Dit het my hart en gewete bloots gery toe ek my rug om die kieter en sy gemiaau moes draai.
Ek het aangeloop en probeer kophou om nie te verwaal nie. Net toe ek dink ek gaan moet teruggaan op my spoor, bars ek skielik uit in versameling en verdrukking van mense. Na die hele dag se ‘solo’ is vreemd om weer skouer teen skouer met ‘n klomp vreemde mense te staan. Dit wil vir my voorkom asof hierdie gedeelte van die mark oop is. Wanneer mens die gedruis volg, kom mens uit by die Damaskus hek. Die Damaskus hek is so genoem omdat, ‘no brainer‘, dit die hek was van die pad wat na Damaksus gegaan het. Dit is op daardie pad waar Paulus die ‘road to Damascus experience’ gehad het.
Ek het deur die mense en die hek gevleg en buite nog hordes gekry. Hierdie was loshande die besigste ‘gate’ van almal waar ek was, tot besiger as Jaffa. Hier buite staan orals mense rond en verkoop goed. Op die trappe buite sit ‘n klomp mense en rus hulle bene. Ander loop rond met luidsprekers probeer evangeliseer terwyl Moslems, en Jode verbystap sonder om ‘n oog te knip. Ek neem aan hulle is gewoond daaraan. Ek het ‘n rukkie hier gesit en die mense en bedrywighede bekyk.
Van hier af is ek weg van die Ou Stad na die Tuingraf en toe weer terug. Ek het weer ‘n rukkie gesit, die mense en bedrywighede bekyk en aangestap. Ek was amper om die Ou Jerusalem.
Die laaste kort stukkie was tot by die ‘New Gate’. Die nuwe hek is maar net ‘n nuwe ingang tot die stad. Duskant die nuwe hek is daar ‘n lekker groot stuk gras en ‘n paar bome. Ek het onder ‘n boom gesit en my skoene uitgetrek en ‘n piekenienie Piekniek gehou. Toe my voete weer koel gevoel het, het ek opgesaal en tot op die hoek gestap van die stad. In plaas van links draai terug na die Jaffa hek toe, het ek regs gedraai Hostel toe, want dit was tyd vir rus,’n draai loop en gesig was en koffie.
Na die laasgenoemde rus, was ek weer terug ou stad toe, deur die Jaffa hek, van binne af na die Zion gate, en weer uit. Van daar af was ek na die Upper Room’ en David se Graf, en ek het groot planne gehad om na Schindler se graf te gaan soek, maar my seer voete, en die dalende donker het my skielik op soos ou brood laat voel.
Dit was ‘n ondervinding om om die ou stad te loop. Om die muur en die uitgrawings te sien. Om in die vallei af te stap en daar te staan waar David heel waarskynlik ook gestaan het toe hy ‘opgekyk het na die berge’ en ‘deur die vallei van doodskadu nie gevrees’ het nie. Ek dink ‘n groot deel van die ondervinding was om redelik alleen daar te wees.mens hoef nie met ander mense mee te ding om iets te sien of te hoor nie.
As mens die tyd het, en dan die vermoeë om dit te doen, sal ek die roete om die stad hoogs aanbeveel. Want alles wat mens kan sien is nie binne die mure nie.
Hoe Toe: Om die muur van Jerusalem
Ramparts walk, ja of nee. Ek gaan sê nee, vir die ‘bo-op’ gedeelte. Eerstens, mens kan nie heel om loop nie, en as mens af is kan mens net op sekere plekke weer opgaan. En tweedens, as mens iets van bo van die muur af sien, kan mens nie net sommer oorloop en gaan kyk nie. Ek sal defbeslis op die basis van die muur omloop, en elkgeval as mens Suid en Oos loop, kan mens baie vêr sien omdat daardie gefeelte op ‘n heuwel isMaar ek het net op ‘n klein gedeelte geloop,ek dink dalk sal die Noordelike Rampart walk mens baie dinge binne die Ou Stad laat sien..
Ek stel ook voor dat hierdie app van Oren op jou foon gelaai word. Dan het jy jou eie toergids. Jy hoef nie saam met mense te bondel nie, en jy is 100% op jou eie tyd. Die foon vibreer wanneer mens by iets belangriks verbyloop, dan is daar ‘n video met inligting. Ek het voor ek gegaan het en nadat ek gegaan het die videos gekyk. Daar is ‘n paar tere op, waarvan dei Ramparts een is
Wanneer mens om die muur loop en nie op hom nie, kan mens ook maklik mens se weg baan na ander besienswaardighede. Byvoorbeeld by die Zion gate kan mens maklik die Upper Room, David se graf en die Holocaust museum kry (ongelukkig is dit net sekere tye oop). Schinder se graf is ook in daardie rigting.
Dan van die Dung gate kan mens maklik na die Western Wall/Klaagmuur gaan en wanneer mens uitgaan by daardei hek, is mens so te sê by die Stad van David.
Van die Lions gate stap men suit na die Tuin van Getsemane, en mens kan ook van hier af na die Olyfberg en die Absalon graf gaan.(Mens kan daar uitkom van 2 kante af, ek het van die ander kant af gekom). Ook van hier kan mens in die Ou Stad gaan en die lydensweg volg.
By die Damaskus hek loop mens weg van die Ou Stad na die Tuingraf.
En By die Jaffa Gate kan mens ingaan na die Toring van David
My stap het begin, Jaffa, Tower of David, bo op die muur tot by Zion en toe af. toe buite om tot by Dung, Van Dung is ek verby City of David en Davidson centre, onder verby die Al Aksa Moskee. Op die hoek van die muur is ek af met ‘n pad tot onder in die vallei en weer op. Deur die Moslem grafte tot by die Lions gate. Van daar af om die hoek, in by Herod’s gate. Regs.Regs. Regs….soortvan tot by Damaskus. Daar is ek uit na die tuingraf en weer terug Damaskus toe, en van daar het ek net om geloop tot waar ek die oggend begin het. Dit het my die hele dag besig gehou. Ek was 9 uur by dei Toring van David en het seker eers 4 uur by die blyplek weer uitgekom..
HIer is ‘n video van ‘n vrou wat ek daar ontmoet het. Sy het al om die stad geloop en die hele roete afgeneem Soos wat sy loop noem sy ook beseinswaardighede wat in die Bybel genoem word. En hierdie video is gemaak deur die toergids wie se App ek gebruik het..
En dan is hieronder👇 my vorige Jeruslem Skribbels om op te ‘click’