Kunene stap: Dag 1
Na baie drama en kilometers was ek gereed vir die Kunene stap al langs die oewer. Die oewer wat ons aangesê is om 4m weg te wees van ten alle tye vir ‘krokkodil veiligheid’. Krokkodil schmokkodil, ons het nooit gesien nie. Dalk is 4m te vêr.🤔
Doer op die oewer van die Kunene, met ons voete stewig geanker in Nam, kon ons heeltyd vir Angola dophou en ons eerste smaak kry van die stap wat sou volg.
Oggenstond het goud in die mond
Dag een breek donker aan. Die plan van die tent van die dassie, was om gou op te spring 20 voor 6 sodat ons 6uur kon aansit vir ontbyt. Maar dit was nie almal se plan nie. Net hier by 5 uur hoor ons hoe tente oop en weer toegerits word. Oop en toe. Hierdie kant en daardie kant. Teen half 6 voel ek so skuldig dat ek nog lê dat ek maar opstaan. Ek het voel-voel in die donker begin aantrek asof ek braiile lees en toe self die tent se zip, met ‘n groot gesukkel, ‘n paar keer laat ziiirrrrr.
Buite het mens net gesien hoe kopligte soos vuurvliegies in die donker heen en weer sweef soos wat almal klaargemaak het vir die dag se opwinding.
6 uur sit ons aan vir ‘n ontbyt wat murg in ons pype gesit het terwyl daar die mooiste diep pienk onder die donker hemel uitgeklim. Hier by ons in die Kalahari breek die dag oranje, maar doer was dit die diepste, mooiste pienk wat ek nog in die lug gesien het. En daardie skouspel het ons elke oggend begroet. Na ontbyt en hemelbewondering, klim ons toe in die bus wat ons die paar kilometer sou vat na die Oiva waar ons ons stap sou begin.
Eerste tree
Die son was nog nie eers uit nie, en die lug het nog ‘n effense byt ingehad, toe het ons al klaar ons eerste kiekie by die begin van ons stap avontuur geneem. Die kamera se ‘kiek’ was soos ‘n afsitter se pistool, want net daarna was almal soos pyle uit boë die vallei in.
Al kronkellend vorentoe tussendeur bome en plante en voelgesang. Ons stap op en weer ‘n bietjie af en elke nou en dan bevind ons ons op die rand van ‘n krans waar mens nie graag by sal wil skeef trap nie. Van doer bo af kon ons kyk oor die rivier na die oorkantste kranse en grotte waarlangs ons later by sou verbykom met ons terugtog.
Na ‘n wyle se stap begin ons afklouter na die rivier se kant toe waar ons ons eerste stop van die dag sou hê. Daar aangekom, moet ons soos ‘n klomp klou-apies om ‘n rots klouter oor ‘n ‘dam’. Die ‘veiligheidsmaatreëls’ was vir my skreeusnaaks. So ‘n dun ou blou en wit toutjie wat aan nog ‘n dunner boompie vasgemaak was, en vasgehou word om die draai aan die ander punt deur iemand met babelas. Ek dink nie enige iemand het van hierdie veiligheidsmaatrieël gebruik gemaak nie. Die ergste wat tog sou kon gebeur is dat jy sou moes swem sou jy nie jou draai om die rotse kry nie.
‘n Dun blou tou om nog ‘n dunner boompie Die roete van die blou tou
Waterval en kranse
Ons is om daardie klip hindernis en kon aan die ander kant uitspan vir teetyd. ‘Tee’ was geneem op ‘n rotsbank langs ‘n poel en waterval. Al was dit koel omdat die son se strale nog nie oor die kranse se rante gebreek het nie, het party stappers die geleentheid gebruik om swemmers te word. Ek is egter te allergies vir koue water en het my voete an wal gehou.
MAAR, as hierdie selfde poel iewers oor die volgende paar dae sy verskyning gemaak het sou ek waarskynlik ook pens en pooitjies daarin gewees. Die son sou genadeloos neergebak gedurende die res van die stappery.
Na ‘n goeie breek moes ons weer terug na die lewensbelangrike blou tou sodat ons kon terugstap in die vallei. Dis met hierdie terugkom slag wat my knie ‘n onsmaaklike kennismaking gehad het met die rots onder die blou toutjie. Maar ek is daar uit en oor en dapper en stapper het weer in die pad geval al het die knie soos Rudolp se neus geyk.
Eerste benoude oomblik
Nadat almal weer die blou tou nie gebruik het nie, het ons teruggeloop in die rigting waaruit ons gekom het, met die verskil dat ons onder en oorkant sou loop. Dus nie op dieselfde roete terug nie. Ons is deur ‘n rots gat en teen ’n baie steil hellng af. Fotos kan dit nie regtig weergee nie.
Iewers by hierdie afte, hoor ek die gluid van seerkry. ‘n Glyery het gebeur en iemand het soos ‘n sak aartappels in ‘n hopie aan die onderkant geëindig. Vir daardie ‘slow motion’ oomblik wat soos ‘n leeftyd mos voel, het sy nie beweeg nie, en al wat in my kop was, was dat ons in die middel van nêrens was en dat my noodhulp en spalk kennis is bietjie verroes was. Maar soos dit gaan met daardie ‘slow motion’ oomblike, was dit seker nie regtig so lank wat niks gebeur het nie, want toe ek weer sien is daar iemand byderhand en kon die skade bepaal word.
Ek weet nie wie was meer bly toe daar nie enige iets behalwe nerwe af en seer was nie. In so ‘n oomblik besef mens eers hoe weerloos ‘n mens in die afgesonderde natuur kan wees.
Die ‘tonnel’ Die dak van die ‘tonnel’. Lyk soos brooddeeg wat reis.
Feetjie grot
Na die kort oomblik wat lank gevoel het, was ons weer almal in die pad, en nie lank daarna nie is ons by die feetjie grotte wat ons vroeër van die ander kant van bo af gesien het. In daardie grot groei mos en verkeur die grot in iets noggal skildergtig.
Ons het wel raas gekry omdat ons op stalagmiete blykbaar getrap het, maar vir my was dit net ‘n rotsrif, en ek het die ‘miete’ gemis. Ons het ook hier silwerskoon water gedrink. Dis seker hoe die ‘fountain of youth’ sou lyk.
Hierdie grot area was ook ons laaste koelte vir die dag. Van daar af verder het die son redelik skerp van reg bo af geskyn. Hier het ek vir die eerste keer besef dat ek nog baie warm gaan kry al was dit al Mei.
Ruacana valle
Ons het stuk stuk weer hoër opgeklouter totdat ons weer uit die vallei was en ons oor die vlaktes aangestap het na waar die bus ons sou optel. Van daar af sou ons na die Ruacan valle toe gaan.
Ruacana was ‘n telleurstelling, want eerstens, waar is die ‘Val’, en tweedens, die infrastrtuktuur is in ‘n haaglike toestand. Die trappe is lewensgevaarlik, dit het ingesink en plek plek op sy sys gelê. Ek is daar af tot waar die geroeste handreling op die lendelam trappe gelê het. Dit was waar my dobbelspel met die trap tot ‘n einde gekom het. . Daar het ek gaan sit op ‘n stuk van die trap wat nog oor was, ‘n kiekie geneem van die poel modderige water waar ek eintlik ‘n waterval verwag het, en gewag vir die dapperes en flukses om weer terug te kom van onder.
Dit was wild warm teen die tyd wat ons weer by ons bus was. Ons het die dak gelig en die mal styl grondpad van die vorige aand weer aangegdurf tewyl die warm lug binne met stof sirkuleer het.
Nog redelik bo, langs die pyplyn. En heel links bo is die styl pad wat my broek laat bewe het. ‘n Geroesde handreling hier links en ‘n poel modder en afgrond regs
Terug by die kampplek
Dit was dag een se stap. Die afstand was maar ‘n knertsie meer as 10km- sonder die miljuisend trappe by Ruacana. Ons het baie geklim en geklouter, dit sou die mees ‘tegniese’ dag wees. Die ander dae was meer net ‘straight forward’ loop. En loop en loop.
Teen die einde van hierdie eerste dag het ons klaar ‘n paar beserings gehad, ‘but it comes with the territory’.’n Paar skoene het begin wys dat hulle nie van staal gemaak is nie en ons het ‘n begrip begin kry van die hitte wat sou volg. Daar het ook ‘n ongewensde kiem begin begin kop uitsteek….
Laat middag, was daar ‘n paar uiltjie knippers en ‘n paar swemmers. Ons het ook die sonsak gaan waardeer op die houtdek wat oor die rivier uithang. Almal het hard gesoek na die berugte krokkodille waarteen ons gewaarsku was, maar hulle was so skimagtig soos die lochness monster. Maar die sononder was pragtig en het opgemaak vir die afwesigheid van die berugde krokkowane.
Ons tente Ander tente
Die aand word daar weer lekker geëet en gesels voor die groot stap die volgende môre sou begin. Ek het maar weer my stapklere reg gesit vir die volgende dag se donker aantrek en het bo-op my slaapsak gaan lê en uitgeclutch tot die eerste rits gerits het 5 uur die volgende oggend.
Hieronder is solank skakels vir van die ander stap stories