Ry om te gaan stap

Om die beplande 150km langs die Kunene te gaan stap, moes ek eers amper 2000km ry. Ek het 3 dae gesien hoe die son in die Weste sak vanuit die sitplek van een of ander voertuig, voordat ek by die eerste kampplek was. 3dae!!.Selfde met die terugkomslag, en as jy al enige van my skribbels gelees het, weet jy dat daar iewers iets gaan gebeur om oor huiste te skryf, veral met so ‘n lang pad. Daar was storms, vermiste bestuurders, kieme en ‘bikers that saved the day’ om maar die ‘hoogte punte’ te noem.

  • Soontoe
    • Storms, Geocaching, vermisde drywers en afdraaie
  • Daar
    • Stof vir Afrika en verlore parte
  • Terug
    • Kieme, grens hopeloosheid en bikers

Soontoe

Dag 1- SA tot Ariamsvlei

Die Kunene sou my sien die Sondag, maar dit was amper ‘n 40 dag en 40 nag se reis vêr. Donderdag middag val ek in die pad nadat ek ‘n bietjie tyd gesteel het by die werk. Alles verloop voor die wind totdat die GPS ‘n ‘wild goose chase’ deur Upington voorstel. En dis dom , want ek ken die pad, maar toe die GPS sê ry reguit, waar ek wou regs draai, het die gans jagtery begin. En as jy sou wonder hoekom ek met die GPS gery het as ek die pad dan ken, kan ek net sê dat ek die ‘arrival’ tyd wou dophou want die oornagplek aanvaar net gaste tot 10 uur. So ek moes heeltyd dophou of ek te veel van ‘n skilpad was en dan meer moes neig na ‘n haas toe sodat ek nie voor dooiemansdeur sou kom nie.

So na ‘n hele sirkel deur Upington kom ek toe nou wraggies weer uit op die kruising waar ek oorspronklik wou regs draai waar die GPS gesê het reguit. (Dis nie die eerste keer wat dit gebeur het nie, altyd wanneer ek moet ‘lughawe’- 3de dogter trou en Murphy op die lughawe)

Terug op die bekende pad, net na die afdraai Nakop toe sien mens ‘n indrukwekkende storm doer vêr voor. Die skemer skyn deur die rollende wolke, tewyl die weerlig elke dan en wan die wêreld verlig. Maar die skuospel bly toe nie op ‘n afstand nie. Ek ry na die storm en storm rol na my toe. Toe ek my oë uitvee, is ek in die middel van emmers gietende water en weerlig wat my armhare laat regop staan het.

Stap

Ek ry asof ek braille gebruik om die pad te voel, en bid dat die weerlig my nie piets nie. Dit was benoude bestuur, en na ‘n voel-voel ryery met skilpad se pas, kom ek pikdonker in die reën by die grens. Wat kan mens sê van grensposte? Altyd iets. En ‘iets’ het langerig gevat, hulle was moeilik oor die engen, die reën en sekuriteit wat ons moes laat uitgaan was sommer net AWAL.

Die Nam kant het baie vinniger gegaan en gelukkig was die oornagplek letterlik net agter die grens met ‘n halfuur om te spaar.

Dag 2 Van heel Suid tot halfpad

Volgende môre, vroeg uit die vere want Windoek is nog wyd, maar daar is ‘n kriewel in die sinuses. Die gras wat ‘n maand tevore so mooi was het in ‘n viesaaklige hooikoors marathon verander. Die dag verloop met Allergex, Halls en baie tissues. (Daar gaan nog baie na hierdie items verwys word want sonder hulle sou die stap misliker gewees het as ‘n vis in die son)

HIerdie was die ‘feature image’ van Namibië na die reën.

Maar tussen dit deur word daar steeds gou Geocache. Hoe dan nou anders? Een in ‘n ou skilpad by Vastrap en die ander een by die Steenbokskeerkring. Laasgenoemde het ek telkemale gesoek, maar nou vir die eerte keer gekry. Ek kan hom nou ter ruste lê. Eindelik! Windoek doem eine ten laaste die middag op en dit is salig om uit die semi- fetus posisie te wees. En toe vroeg in en uit die vere.

Geocaching
Waar ek vasgetrap het en ‘n skillie gaan soek het.
Geocaching
Aanhouer wen

Dag 3 op die pad- halfpad tot heel Noord

Ek kry net na 4am ontbyt met die hele toetie: eiers, bröchens, koffie en ‘n appel. Gelukkig het ek nie probleme met vroeg eet nie. Ek is soos ‘n klein voëltjie, as my oë oopgaan kan ek eet. Alles gepak, gesluk en geborsel vir die 5am optel.

Kwart voor 5 by die optel punt, want dit is wat Duitsers doen. Hulle is betyds. Dan doen ander wat hulle gewoonlik doen….en is laat. Ons het baie later gery om die res te gaan optel by punt nommer 2. En op die einde het ons eers 7 uur uit die dorp uitgery. As ons darm geweet het dat ons nog 12ure sou sit……

7 uur val ons soos ‘n blik vol sardientjies in die pad. Almal was nog opgewonde en wakker. Ek was ook opgewonde want ek kon opvang met my lang verlore mater en dit was die eerste keer wat ek daardie pad gery het. Die wêreld lyk anders hier as wat ek ken. Ook sien ek hier die Omatakos (wat blykbaar ‘buttocks’ beteken). Ek het nie eers geweet van hulle bestaan nie. Moet hulle nie bekender lanmerke wees soos Spitzkoppe of die Vingerklip nie?.

Op Otjiwarongo, iewers tussen 10 en 11 stop ons vir diesel en ontbyt. Ontbyt is monster van ‘n maaltyd en kan ‘n klein huishouding voed. Daar sit ons toe buite die bus en eet tydsamig ons kos. En ons gaan badkamer toe. Ons gesels. En ons wonder hoekom ons steeds al hierdie dinge kan doen.

Ons kon alles doen omdat ons drywer MIA was. Al vir meer as ‘n uur. Op ‘n kol spring 2 van die stappers in ‘n meroen taxi om te ry en te kyk of hulle hom iewers in die dorp gewaar. Sukses!! Hulle kry hom waar hy van ‘n bank af terugkom. Hierdie pitstop was die pits.

Ontbyt wat byna midagete geword het

Na die diesel opgevul is val ons weer in die pad……net om die pad letterlik byster te raak anderkant Outjo. Gelukkig het iemand wakker gesit en agtergekom iets is nie reg nie. Ons was oppad Okaukuejo/ Etosha toe, wat ‘n goeie uitstappie sou wees….vir ‘n ander keer. Daar word toe afgetrek, gegoogeleer en vasgestel dat ons die afdraai gemis het. Ons doen ‘n 180, ry terug op ons spoor (maar aan die regte kant van die pad 😉) en 10km later ry ons die afdraai raak.

En toe is ons weer in ons sardienblik oppad. By Kamanjab soek ons soos afkophoenders na die garage waarheen die drywer verduidelik is om te gaan. Die aliens moes dit kom haal het want daar was geen teken van die spesifieke stop nie. En maak nie saak hoeveel keer mens om die blok ry nie, dit gaan nie uit die niet verskyn nie. Maar ons moet piepieplek en diesel kry.

Ons eindig toe op by Oppikoppie rest camp waar ‘n kees ons groet en ons in vrede ‘n draai kon loop. Ons ry daarna nog ‘n draai vir diesel en hoor ons volgende stop is Ruacana. As mens volgende stop hoor, dan klink dit nie vêr nie…

Stap
Kamanjab
Hierdie kees het blykbaar die grasdakke se gras uitgetrek, en om hom ‘n les te leer moet hy nou vir alle ewigheid die gaste by Oppikopie groet

Maar so ry en ry en ry ons. Dis warm en stowwerig. En soos regte sardientjies, is hitte nie te goed vir ons nie. Op ‘n kol toe die son al laag gehang het, moes ons net ‘n ‘greendoor stop‘ doen en bene rek. En nog is dit einde niet. Ons bly wag vir die ‘amper daar’ gedeelte. Die oggend was almal opgewonde en wakker, 11 ure later was almal moeg en onlekker. Eindelik kom ons by die amper daar gedeelte. Die son hang net-net bo die horizon toe ons Wes draai. Dis nog ‘n ent se ry, maar  skielik, hier van ons hoogte af lê en skitter die magtige Kunene doer onder. Die wêreld is bepak met berge (dit het ek nooit verwag nie). En skielik is almal weer wakker en opgewonde. Tweede asems.

Die pragtige landskap lê rondom ons en ons kan virewig vêr sien. Almal sien die natuur wat deel van ons bestaan gaan wees vir die volgende week. Daar word opgewonde gesels en verkyk aan die skilder mooi. ’n Beter tyd kon ons nie daar afgery het nie met die sakkende son wat blink oor die waters en die wêreld verkleur in sagte pastelle.

Sonondergang pad langs Kunene
Pragtige sononder na ‘n baie lang sit.

Ons sak stadig af tot onder en ek het gedink ons is nou waar ons moes wees, seespieël gewys. Ek bekyk die wêreld en sien links voor ‘n mal styl grondpad wat weer terug in die berge in kronkel.

Die mens hier neffens my word ge-elmboog en verwys na die ‘death trap’ wat doer uit kronkel. Ons wonder wie gebruik so ‘n gevaarlike pad. Ek sou baie vining uitvind….ons doen. Want toe ons teerpad ophou verander hy in die styl grondpad wat weer bergp kronkel. Dit was benoude boude vir my. Eerstens kan ek nie in vrede opry teen iets nie (soos by Tierberg, dit was die ergste ding waarteen ek ooit uit moes bestuur het) want dit voel die heeltyd of mens agteroor gaan val. En tweedens, met ‘n lomp bus, voel dit heeltyd asof die ding gaan krag verloor en agteruitrol in die dieptes af. Ek wou net uitklim en met my eie bene op loop. Op ‘n kol moes ek maar net my oë toegehou sodat ek nie die ‘hindernis baan’ kon sien nie..

Stap
Pad deur die venster
Die foto laat dit na ‘n rooikappie wandelpad lyk,

Maar ons is daar uit. Hoe, weet ek nie, ek weet net ons kon die engin woes ruik…. en vrees. Vrees ruik blykbaar soos ‘n clutch wat brand.

Na daardie ondervinding was daar nog een klein hindernis, ‘n rivierloop vol water, maar ons is daardeur sonder om vas te sit of te moes stoot, En toe, eindelik, na letterlik 12 ure vandat ons uit Windhoek is, kom ons by die Omunjandi rest camp langs die Kunene aan.

Stap
Meerkatte
Meerkat wag ons in by ons eerste kamp.

Daar

Toe stap ons ‘n week, met ‘n paar busritte tussendeur waar ons ‘n paar naalbyt oomblikke beleef het waar die pad verspoel het en waar die agterkant van die bus vasgehak en afgeruk is. Met ons kort ritte het ons altyd gery met die venster en die dak oop, dan het dit gestof vir Afrika -want dit is mos waar ons was 😊- maar daar was sirkulasie en ‘skoon vensters’ om by fotos uit te neem

Stap
Parte optel padlangs

Terug

En toe moes ons weer terugry, dit was ook ‘n perd van ‘n ander kleur.

Van Noord by Epupa, tot net neffens Noord– Dag 1 van die terugrit

Na die laaste dag se stap val ons 2 uur in die pad vanaf Epupa valle na Opuwu to waar ons sou oornag. Dis net 180 km, so ons reken so 3 en ‘n halwe ure. Maar hellaas, 5 ure later, in die donker kom ons daar aan. Die grondpad was verskriklik sleg en die bus vol siek mense met kieme wat nie hier genoeme sal word nie.

Ons daag by ‘n pragtige kampplek op, en omdat ons so lank gery het met die kom slag, het ons met die organiseerder gereël dat ons vroeg ry die volgende dag. Ongelukkig het hy dit nie gedoen nie, en die mense buig agteroor om ons te akkommodeer. Ons het wel nie so vroeg gery as wat ons oorspronklik wou nie, maar steeds vroeër as wat die lodge se plan was. Hulle was puik, en dan praat ons nie eers van die heerlike fancy kos nie.

Dag 2 van terugry- van kalm na komkommer

Ons ry weer tot by die Kees op Kamanjab se stoep. Ry sonder voorval tot by Otjiwarongo– geen afdraaie of drywers vermis nie- en ons kon die laaste skof Windhoek toe aandurf sonder voorval. Net na 5 kom ons in die hoofstad aan, My dag van ry is egter nog nie verby nie. Ek word ge-chauffeur na my vervoer en teen 6pm val ek weer in die pad in ‘n verdere Suidelike rigting

Teen hierdie stadium van die geveg moet ek net weer terugverwys na die kiemie op die sardientjieblik, want seker na ‘n halfuur se ry uit Windhoek, slaat ‘n kiem my met plank oor die kop. My keel krap, my bors roggel en my stem squeak. Dit as asof iemand ‘n aan knoppie gedruk het. Daarmee saam het dit net kouer geword hoe verder ek ry. Van versengende hitte in die Noorde na roomys habitat hier halfpad Suid.

Stap
Laaste dag

Teen 9pm kom ek in ‘n vriesende koue Mariental aan, by die tented kamp. Dit was nie die beste opsie vir die weer nie, but who knew!? Maar dit was toe nou die minste van my probleme. Die eerste keer wat ek my foon aansit in amper 10 dae is die eerste boodskap wat ek kry ‘ het jy die boodskalp van Mam gesien’ en toe ’ bad news guys, I tested positive’.

En net daar val my wiele af. Ek is siek. Die kiem is by ander geidentifiseer. En ek moet nog deur die grens kom. Ek het geen idee wat gebeur as mens ‘n plus kry op die grens nie en dit gee my letterlik‘n slapelose nag. Wat ‘n komkommernis!

Bikers, boere en be🌩heid

Ek wou nog gepadstal het die volgende oggend, maar besluit toe om maar te begin ry. Ek wou my lot so vining as moontlik weet want die onsekerheid maak my maag hol (En later was dit van verdere voordeel).By Keetmanshoop saam met die vroeë wurms en voëls gaan soek ek ‘n apteek en koop ACC, en Vit C en Halls, enige iets om die symptome te squish, want het ek gereken, die reëls op daardie tydstip was dat as mens geen simptome het nie, mag mens aangaan met die lewe. So my plan was om gesondheid te fake. Ek het dus goed gedrink op elke dorp, baie meer as nodig. Ek het gevoel dit het gewerk, veral die Halls. Dit het my minder soos ‘n gans laat klink direk nadat ek dit gesuig het.

Redelik naby die grens bly daar ‘n motorfiets groep verby ry en dan weer terugval, en ek weet dat as hulle eerste stop, gaan dit ‘n lang gewagery wees. Wonder bo wonder was hulle toe nie eerste daar nie. Maar dit het geen verskil gemaak op die einde van die dag in die ‘greater scheme of things’ nie .Die Nam kant gaan tjop tjop. En vir die 10km in niemandsland suig ek my laaste Halls, ry met die ruit oop dat ek nie rooi wange moet hê nie, en ek voel goed. ‘Fake it till you make it’ sê hulle mos.

Wanneer bikers horings kry

En met die aanry na die ingang van Nakop toe, spring daar ‘n polisieman in die pad en wys stop. Ek verwag’n paar vragies en ‘n ‘show of power’ voor ons mag inry. Maar kry ‘n amper ‘n hartstilstand toe hy sê dat die grens toe is. Ek vra hoe lank lank al. Hy sê 5 minute. Ek vra hoekom. Hy sê hy weet nie. Ek vra tot wanneer. Hy weet ook nie. So wraggies waar is ek toe gestrand in niemandsland– net soos ek gevrees het, maar vir heel ander redes. Ek kan nie terug Nam toe nie, en ook nie vorentoe SA toe nie. Daar staan ek en ,later, ‘n mljuisend ander mense in die son buite die grens met geen verduideliking, vooruitsig of omdraai nie.

Dis nie lank nie, toe daag daar jagters op met vleis. Voeg by ‘n moeilike boer met sy skoonma. ‘n Katspoeg agter hulle kom die motorfietse. Hulle kon toe die raaisel vir ons oplos. Blykbaar het presies dieselfde gebeur ‘n week tevore toe hulle ingegaan het. Daar was nie krag of diesel nie en hulle moes blykbaar 8 ure wag die vorige keer.

En soos wat die mense ophoop hoor ons dis ‘n gereelde ding. Klomp van die mense het in die vorige weke dieselfde ding oorgekom. Almal is bevoeterd, moedeloos en in die steek gelaat.

Jip, daardie is mense wat lê in die skadu van hulle bakkie.

Gelukkig was die bikers daar, met ‘n kwaai antie. Sy het iewers iemand hoog-op se nommer gekry en vir hulle die Leviete voorgelees in allerhande kleure. Die man wat sy skoonma by die lughawe moes kry het in nog meer ‘kleurvolle’ tale bygevoeg wat hy gedink het. Mense was moeilik. Ek was bevrees dat hierdie befoeterdheid gaan maak dat die grens mense ons sou wou wys wie is baas en langer laat wag as wat nodig was.

Die bikers en van die kwaai boere, skoonseun ingesluit, het gewonder of hulle nie maar net in massa kan deurry nie, want wat gaan die grens nou eintlik kan doen. Hierdie vraag is later beantwoord en het niks gedoen om die gemoedere te kalmeer nie.

Dit het nie goed afgegaan toe die Nam grens mense met ‘n bussie oorgery gekom het en sout in die wonde te vryf nie. Hulle sê ons moet maar solank braai en hulle gaan kuier. Een van die wagtedes sê toe noggal vir die Nam grens mense ons almal moet sommer in massa deurry, Sal die Nam ou nie vir almal sê dat hulle geskiet sal word sou hulle probeer nie. As jy nog nie stoom uit ore sien kom het nie, sou jy dit daar gesien het.

RTD die dassie, sal nooit weer so ‘n geleentheid kry nie

Elgeval, na ‘n paar ure gaan daar ‘n gedruis op komende van die bikers, hulle het ‘n dieseltrok gewaar. ’n Hele trok, nie net ‘n kan nie. Danksy die biker antie se Leviete het iemand hoog-op ‘n trok gestuur en iemand laer-af die ranglys se een oor was hopelik bloedrooi. Dit vat hulle egter steeds om en by nog ‘n ¾ uur om die grens oop te maak. En toe is dit ‘n ‘free for all’.

Almal storm en beur deur na die kantore toe. Orals was motorfietse, mense en trokke. Alhoewel ek eerste aangekom het op die grens, kon ek nie eerste deurkom nie. Na die ‘toets’ wat ek moes slaag , en waar die kaartmasjien nie gewerk het nie, bevind ek my in ‘n elle lange ry by doane. Ek mag in daardie ry gestaan het, want ek het die ‘toets geslaag’. Ek was verbaas, maar ek moes nie wees nie, want my vriende het my deurgebid. Tussen an die drama deur het ek ‘n wonder daar op die grens gekry.

Terug in die ry, sien ek dat Skoonseun eerste deur die opeenhoping gekom het. Hoe weet ek nie. Teen daardie stadium van die geveg het hy ‘n halfuur gehad om by die lughawe  te kom ‘n 130 km verder. Ek wonder hoe daardie storie geeindig het.

Letterlik ure nadat ek net 15 minute op die grens moes wees, kon ek daar deurkom. Ek was een van die gelukkiges, want aan byde kante van die grens het daar kilometers voertuie gestaan wat gewag het vir hulle beurt in die chaos. Dit breek noggal mens se spoed en gemoed, maar die blink kant is dat ek nie eers ‘n halfuur later by die grens  aangekom het nie, want dan sou ek wraggies nog baie ure daar gewees het. Slapelose nagte het soms ‘n silwer rand.

Die aand 10 uur (nadat ek al 2 dae terug 2 uur die middag begin ry het, kom ek moeg, honger vuil en siek by die huis aan, net betyds om in die tuig te val die volgende dag.

Die ryerey was net so ‘n ‘avontuur’ soos die stap, maar ek sal wraggies waar eerder weer 7 dae stap voordat ek weer amper 7 dae lank moet ry. Soos wat die tyd my toelaat, sal meer Kuene skribbels volg.

Stap
Nakop gras
Rebbels om die tyd om te kry op die grens

En as jy solank na die inleiding van die Kunene stap wil gaan kyk, kan jy druk op die ‘knoppies’👇 hieronder

PS And there is a ‘translate’ button for my English friends, so you can have a laugh at the ‘stellar’ translations.

Follow me here