Namibië na die reën: eens in ‘n leeftyd
Land van droogte en woestyn. Land van son wat genadeloos neerbrand. Die Suide was nog altyd ‘n hartseer plek om deur te ry. Doodgebrande grond en klip sovêr as wat die oog kon sien. Hier en daar ‘n arme dierasie wie se ribbes mens sien uithang. Arme ding. Waar kom jy vandaan? Waar gaan jy heen?
En toe kom die reën.
Almal stuur fotos van reën, riviere wat loop en velde wat groei. Damvlakke word deurgegee. En toe die Neckartal dam vol is, toe weet mens daar is nou water in Nam.
HIerdie dam laat my dink aan die ark. Gebou sonder water in sig. Die dam is in die middel van die dorre woestyn opgerig, met skynbaar geen anderd doel as om die belastingbetaler verkeerd op te vryf nie. En toe wraggies gebeur dit. Dit sous honde en katte en daardie middel van die woestyn dam loop oor. Ek dink nie enige iemand het dit verwag nie.
Met die kennis van ‘n oorvloedige reënseisoen beplan ek mos ‘n toer deur die Suide om te gaan sien hoe dit lyk na die reën, maar toe steek 2021 mos dubbel en dwars ‘n stokkie daarvoor. Ek was baie telleurgesteld dat ek nie hierdie eens in ‘n leeftyd gebeurtenis kon sien nie. Maar wat ek toe nie geweet het nie, is dat die reën nog nie verby was nie.
2022 het weer goeie reën gebring en ek maak weer planne. Ek het half en half verwag dat daar weer niks van gaan kom nie, maar op die einde was ek daar. Dit was moeiliker om ‘n stempel in my paspoort te kry as voor al die drama met kieme, maar ek is deur Ariamsvlei en kon my oë laat uitkyk op hierdie handomgekeerde land wat ek ken.
Ek is so dankbaar dat ek kon gaan. Net van duskant Upington af staan die gras so vêr as die oog kan sien. In Niemandsland staan die velde geil. En dit het net nie opgehou nie al die pad Noord en later ook Wes. My mond het oopgehang.
Daar waar daar voorheen net doodgebrande aarde was staan gras welig heuphoogte.
Daar waar die son gewoonlik genadeloos hang en skyn, was daar nou wolke en plek plek reên.
In my hele lewe se op- en af ryery, het ek nog nooit hier gras gesien nie. Ek het ne eers geweet daar is saadjies wat die genadelose droogte en son kon oorleef nie nie. Ek het ook nog nooit hier onder wolkbedekking of deur ‘n volstoomse donderbui gery nie. Dit lyk soos ‘n heel ander plek as wat ek ken. As jy my daar sou aflaai sonder om vir my te së waar ek was, en my dan sou vra, sou ek nooit as te nimmer Namibie geraai het nie.
Ek het my verkyk aan die landskap en wolke en het fotos van dit alles geneem asof dit uit die mode gaan. Wanneer mens uitklim in die veld het dit so lekker geruik. Dit was die reuk van ‘groen’ en ‘lewe’ met die belofte van nog reën in die lug. As mens darm daardie reuke kon bottel vir die maer jare…. En dan wou ek natuurlik deur die gras loop met my hande wat oor die toppe vryf soos August Rush en die Gladiator terwyl ek my verbeel dat musiek in die agtergrond speel.
In die Bybel staan daar dat die natuur getuig van die Skepper, en dat daarom geen mens op sy einde sal kan sê dat hy nie geweet het nie. En as ek so oor die gras vlaktes kyk, kan ek nie anders as om daaraan te dink nie. Hier was niks. Alles was doodgebrand, verdor. En dan kom die reën, en ‘niks’ word getransformeer in hierdie pragtige landskap van lewe. Ek was sommer bewoeë.
En net so diep as wat dit my raak, het hierdie pragtige landskap dalk nie dieselfde uitwerking op iemand wat nog nooit hier was of nie hier bly nie. Iemand wat nie weet hoe die ‘normaal’ is nie, sal moontlik nie die absolute prag van hierdie wonder na die reën kan waardeer nie. Maar ek waardeer dit. Ek kon net dankie sê sovêr as wat ek gery het. Dankie vir die reën,hoe pragtig die veld lyk, en dan dankie dat ek dit kon sien. Hopelik is dit nie net ‘n eens in ‘n leeftyd gesig nie.
Ek voel ek moet ook ‘n ‘ongelukkige’ nasrif bylas. Met groot oorvloed ,kom groot oorvloed. ‘n Plaag springkane soos klink my die Egiptenare mens van sal kan vertel, het die velde ingevaar en is besig om die land te vreet dat hy lyk soos voor die goeie reën.
Follow me here