Giant’s Causeway, Finn se voetpad
A picture is worth a thousand words. En daarom gaan ek minder woorde vir hierdie skribbel gebruik en meer kiekies. Hier is die kort en die lank van die Giant’s Causeway.
Finn McCool
Finn (Fionn mac Cumhaill) was ‘n baie cool ou. Hy het klippe in die see gegooi om ‘n voetpad oor te bou na Skotland toe. Dit klink soos iets wat ou Chuck Norris sou doen💪. En ta-da!! daar was die Giant’s Causeway. Net ingeval jy dit gemis het…….Finn was die reus. 😉
Die pad na Finn se voetpad
Was dit nou ‘n storie om daar uit te kom! Wanneer mens googeleer hoe vêr die Causeway van Belfast is dan sien mens 96.9km. Dan dink jy…. dis so vêr soos van daar na Potch, of van hier na daar in SA. Tjop tjop. Dis mos net om die draai. 🤦♀️
Dit is wat mens dink. In realiteit is afstande woes misleidend in daardie geweste. (OK,nie die afstande so seer as die tyd wat dit vat om daardie afstande af te lë nie.) Dalk omdat mens stadiger ry, omdat daar meer dorpe is, meer kronkels en baie smaller paaie. Dalk ook omdat mens soms verdwaal. Maar moet glad nie dat afstand tussen plekke jou mislei nie. Al is daar baie kronkels, is niks net ‘om die draai ‘ nie.
Dit was ‘n pyn om daar te kom met eie vervoer, maar nog erger as mens die publieke vervoer gebruik, dit vat letterlik ure en ure om die 90 km af te lë. (Vy! en dan moet mens nog terug gaan ook!) Daar is ook baie op en afklimmery op die verskillende busse en dinge. As ek net een stukkie raad kan gee as jy wil gaan kyk waar Finn die wortels begrawe het: bly nader daaraan as Belfast. Dan kan jy in rus en vrede gaan verken en hoef jy nie jou verkenning kort te knip om terug te gaan nie. Oi!! So leer mens maar op die harde manier.
Finn is free
Om die Giant’s Causeway te besoek is gratis, net soos die Cliffs of Moher is. Die Visitor Centre, skep egter die indruk aan die hordes toeriste dat mens moet betaal om die Causeway te mag sien. Betaling is eintlik om die Visitor Centre (net soos by die Cliffs of Moher) te mag besoek en nie die natuurwonder homself nie. Niemand lees hierdie fynskrif raak nie, en hulle is ook maar gelukkig om nie die toeriste oor hierdie tegniese feit in te lig nie. Hulle het nie gereken dat iemand wat met Rande reis gaan ‘loopholes’ soek om die rande te laat rek nie.
Elkgeval, die Visitor Centre, soos ek kan aflei is ook eerder vir oningeligdes of aanhangers van ‘milions of years’ wat ek nie is nie. Daar was blykbaar ‘n stukkie in die sentrum afgestaan om te sê wat ‘creationists’ se teorie is, maar hulle het so baie moeilikheid gekry dat iemand durf anders dink oor die Skepping dat hulle dit noodgedwonge moes verwyder.
‘Side note’
Ek voel ek moet net gou afdwaal …..Hierdie het niks met die prys van hierdie spesifieke eiers uit te waai nie, maar dis om redes soos hierdie dat min mense weet van die Skepping. Kerke praat nie daaroor nie, en ‘wetenskap’ vertel vir jou ‘milions and milions of years’ en dan weet niemand ooit waar die Bybel in hierdie ‘bewysde’ teorie inpas nie. en of dit dan daaroor hoegenaamd waar kan wees. Ek was op universiteit toe iemand dit die eerste keer vir my verduidelik het. En nou weet ek van beter.
Dit is net nou vir my meer onstellend dat mens nie eers mag weet dat daar ‘n ander moontlikheid anders as evolusie is nie.’By all means’, hou die evolusie goed daar, maar gee die ander inligting ook, Elkeen kan lees en self besluit wat hy wil glo. Maar ja, dit is heel van die punt af, Dit was my 2 sente.
Giant’s Causeway.
Ons het sommer met ons oranje gogga langs die pad parkeer en ingestap. Dis noggal ‘n entjie se stap om by ou Finn se voetpad uit te kom. Daar gekom was ons net verwonder deur natuur en hoe mooi die omgewing is. HIer is heelwat staproetes, en as ons nader aan hier gebly het, sou ek defbeslis ‘n daguitstappie van kranse en kus wou gemaak het. Omdat ons egter heen en weer moes ry Belfast toe, was daar nie veel tyd vir ander dinge nie. Dit was wel nie net ‘n woerts warts besoek nie. Ons het op daardie hoekige klippe gesit en net gestaar oor die kus en klippe in stilte.
As die geleentheid om weer Noord Ierland toe te kan gaan oor my pad kom, sal ek net een dag in Belfast bly. Dan sal ek die dinge wat ek gemis het gaan sien. Daarna sal ek ‘n kar huur en al langs die Causeway Coastal Route opry en ‘n hele dag daarvoor uitsit. Ek sal iewers naby die Causeway bly. Dan sal ek ‘n dag uitsit om die staproetes daar te verken. En die dag daarna sal ek weer ‘n daguitstappie maak om terug te ry Belfast toe op allerhande agterpaaie. Die land is net so mooi en daar is so baie om te verken.
Dit was dit. Dit het toe heelwat meer woorde geword as wat ek gedink het, dis toe nou nie net die kiekies wat ‘worth a thousand words’ is nie. 😉
Ek was op soos ou brood na hierdie dag, en ek moes nog my tas se wiel regmaak voordat Skotland en Nessie aangedurf kon word.
Follow me here