Die Dingle Skiereiland
Ierland en in besonder Dingle jy het my verwagtinge oortref!
So na die ‘husstle & busstle’ van Londen was ek meer as gereed om uit die stad te kom. En toe gebeur Ierland. Meestal platteland. Min stad.
- Tralee 🌹
- Dingle die Skiereiland 🏝
- Inch beach🌊
- Dingle die dorp 🍦☘🐑
- Son See en Star Wars☀🌟
Tralee
Tralee is ‘n pragtige dorpie tusssen die groen net duskant die see. Al was Tralee ons ‘base of operation’ vir daardie paar dae, het ons nie te veel tyd daar spandeer nie. Was meer gepla om die Dingle Skiereiland te verken. Maar daar was darm ‘n draai of 3 deur Tralee. Hulle het die mooiste roostuin met die mooiste standbeeld wat ek al gesien het. Standbeelde is gewoonlik ‘grof’ maar hierdie oom en antie was fyn en ‘lewendig’. Dit het gelyk asof hulle enige oomblik kan begin wals op die ‘Rose of Tralee’,
Maar hier is nou die regte storie: Die Dingle Peninsula
Alles is net mooi vanaf Tralee al die pad oor na die Dingle Skiereiland.. En die weer was uitstekend! Die son het geskyn, die see was blou en daar was verwondering in die hart.
Ons het orals gestop, want mens wil alles sien en verken. En ons kon. Dit is iets wat die toerbus toeriste heeltemal op uitmis.
Ons het die dag begin ry deur groen landery en heuwels. Daar was orals skape. En ek het eers gedink hoekom is daar so baie dooie diere. Want hier by ons, as ‘n skaap, of n bees ‘for that matter’ op sy sy lê, is hy gewoonlik minder lewendig. Na die hoeveelste ‘dooie’ dier kom ek toe eindelik agter, hulle lewe so ‘n luilekker lewe, dat hulle letterlik op hulle sye lê en eet aan die oorgenoeg groen gras wat oral groei. Hulle hoef nie ‘n dooie veer se moeite te doen om by gras uit te kom nie.
Inch beach
En toe ons deur die heuwels breek kom ons af op Inch Beach. Die strand is baie groter as ‘n ‘inch’, so nie seker waar die naam vandaan kon nie. Hier was die skoene uitgeskop in die vroeë oggend ure, en ons het net in vrede al langs die kus afgestap. Dit was so mooi en rustig en skoon. As daar nie nog ‘n hele skiereiland was om te verken nie sou ek heeldag op hierdie mooi rustige strand kon uithang met absolute vrede in my hart.
Dingle die dorp
Die dorpie waar ‘Leap Year’ NIE verfilm is nie 😊. Moet ook liefs nie jou uitstappie volgens die fliek beplan nie. Jy sal nooit kom waar jy wil wees nie. Ek het die fliek gekyk toe ek teruggekom het en was verstom om te sien dat dit nie eers amper lyk of die skrywers enige navorsing oor die land gedoen het nie. Dit het my laat dink aan die boek wat ek iewers gelees het waar die skrywer noem hoe die groot skip gaan dok in die Botswana hawe🤦♀️! Net daar het die skrywer my verloor. G’n wonder die Iere kan die fiek nie uitstaan nie.
Elkgeval, die eerste kennismaking met Dingle was net ‘n deurry. Die werklike verkenning sou eers gebeur op die terugtog, en dan was daar die vooruitsig van die beroemde Murphy’s roomys.
Son, see en Star Wars
Die res van die dag ry- stop-ry-stop ons. Ons stop vir alles en niks. Ons loop om heuwels en sit en staar uit oor die see. Op ‘n kol, op een of ander Star Wars* heuwel, was dit so salig om op die sagte squishy bodem te sit en uit te staar oor die blou see, dat dit moeilik was om weer aan die gang te kom. Dit was regtig net die perfekte dag. En ek kan nie genoeg sê hoe mooi alles was nie. Dit het die heeltyd vir my gevoel asof ek net daar wil sit en die hele ervaring inbrand in my geheue.Die gevoel, die reuk, die klank.
* Ek moet bieg, ek weet ‘next to nothing’ van Star Wars, maar dit lyk na ‘n groot ‘to do’ in hierdie geweste. Al weet ek niks van die flieks af nie, kan ek wel sê ek was waar iets van een of ander gedeelte van die fliek gemaak is. Dalk is daar een of ander ‘fan’ wat dink dis ‘cool’.
See
Toe ek myself eindelik kon oorreed om op te staan en terug te stap kar toe, ‘detour’ ek toe af see toe. Ek dink net dit is total en al verkeerd om by die see te wees en nie jou voete daarin te steek nie. Met hierdie filosofiie het ek al in die middel van die winter my voete by Simonstad in die brandertjies gesteek. Dit was snot koud.
Wat my terugbring na die afstap strand toe in Ierland en voete in die branders steek. Dit was koud! Kouer as die middel van die winter in die kaapse water. Kouer as snot koud. Dit was loshande die koudste water waarin enige deel van my al ooit was. Dit het gevoel asof ek ysblokkies in die water gaan sien as ek diep genoeg kyk. En ja, die hele dag langs al die verskillende strande was daar peunuts wat in daardie ‘ys’ geswem het. My hart sal seker gaan staan wanneer ek daar in die branders in sou duik. Maar aangesien ek redelik allergies is vir koue water kan julle weet dat ek nie vrywillig daardie duik sal doen nie.
Oja, ek wil net noem dat hierdie water so ysig was in die middel van die somer. Letterlik. Ons was hier op die langste dag. As ek reg onthou het die son eers 10:03 gesak daai aand. Ek ys, ‘pun intended‘, om te dink aan hierdie water in die winter.
Nog iets van Star Wars
By nog ‘n Star Wars stop, stop ons maar terwyl al die res van die aanhangers probeer uit pluis watter deel van watter fliek waar gemaak is kies ek koers na links. Weer see se kant toe vir ‘n bietjie ‘boulder dashing’ met die vars seebries van voor.
Die res van die dag ry ons oor al wat paadjie is al die pad terug Dingle toe.
Dingle
Die son sit nog hoog teen die tyd wat ons weer terug is in Dingle, maar dit was al ‘laat’. Ons kry eindelik parkeerplek in ‘n parkeer area, maar verstaan nie lekker hoe dit werk nie, want daar is nie booms wat oop en toe maak soos hier by ons parkeerplek nie. jy ry net in….of so het ons gedink.
Groot moeilikheid!
Ons was net uit die kar uit badkamer toe voordat ons die dorp sou verken. Toe ons weer by die kar kom wapper daar iets aan die ruitveer. ‘n 40 euro boete! Nugter weet waar die boete vandaangekom het of waar hy betaal moes word. En nog is dit einde van probleme niet. Met dié ontdek ons toe dat ‘n kredietkaart vermis geraak het. Dit moes gebeur het oppad na die badkamer toe. Met boete in die hand ‘backtrack’ ons, ‘retrack’ ons , moedverloor ons.
Na ‘n epiese soektog en ‘n beklemming op die mooi dag, sien ons ‘n toeriste kantoor en dink toe maar om te hoor of hulle dalk ‘n ‘lost & found’ het. So waar as vet! Terwyl ons daar binne staan kom iemand daar in en sê dat hulle ‘n kredietkaart opgetel het en dit daar wil kom afgee vir ingeval iemand dit kom soek. Waar in die wêreld!!!?? In ierland ‘apparently’! Die Iere is dus nie net vriendelik nie, maar ook eerlik. Nog ‘browny’ punte vir hulle. Nie vir die Boetebessie nie.
Weet nou nog nie waar dit vandaangekom het nie. Hoe ons dit kon vermy het nie. Of waar om dit te betaal het nie. Al die ‘amptelike’ kantore was al hoekal toe al het dit nog super vroeg gelyk. Die lang dae is verskrklik vreemd, en mens bly misgis jou met hoe laat dit is. Ons het meer as een keer die winkels toe gekry omdat ons gedink het dat dit nog vroeg was. Dan het ons maar ‘granola bars’ geëet en ‘n verwaalde watookal wat oorgebly het van die dag se kos.
Kleurvolle Dingle
Terug by kleurvolle Dingle. Dis so bont en ‘gelukkig’. Hier doen ons die tipiese toeriste ding en loop in en uit by al die winkeltjies wat ons teëkom. Hier is ook my kennismaking met die eerste van vele souvenir winkels. As ek dink aan Ierland en souvenirs sien ek net groen en room. Groen vir al die klawers en ‘leprechauns’ . ☘ En room vir al die skape.🐑 Ek sal nooit aan Ierland kan terugdink en nie ‘n skaap sien nie. En daar is altyd gelukkige musiek in hierdie winkels. So by so dat ek later vir my ‘n CD van hierdie musiek gaan soek het om saam te bring Afrika toe
En met hande vol persentjies en na vele kiekies van die strate, is dit tyd vir die legendariese Murphy’s roomys. My keuse was die Arán Donn of die Irish Brown Bread. Ek weet, bruin brood en roomys klink bietjie koekoe, maar dit was heerlik, en as niemand gesê het dat dit iets met brood uit te waai gehad het nie, sou ek dit nie geweet het nie. Net jammer daar was nie nog Murphy’s iewers padlangs in Ierland nie, want ek sou defbeslis nog ‘n skeppie van iets vreemds wou probeer.
Einde se kant toe
Teen die tyd wat ons daar klaar was, was dit al pik donker aan die ander kant van die ewenaar, maar nie daar nie. Nee meneer! Die son was steeds hoog genoeg dat ons nog heelwat kon verken al die pad terug Tralee toe. Die son het immers eers na 10 gesak.
Wat ‘n dag! Goed vir my siel en was ‘n groter hoogtepunt as al 5 vorige dae in Londen saam. Die Cliffs of Moher was volgende op die lys, en het self nie telleurgestel nie. Maar wees gewaarsku, dis nie vir mense met hoogtevrees nie.
Follow me here