Jaffa, Jona en ‘n lemoen

Jaffa, of Joppe soos dit geskryf is in die Afrikaanse Bybel, is een van die wêreld se oudste hawens en was een van die belangrikstes in die tyd van die Bybel (Caesarea, ‘n ent Noord was die ander een). Sou mens van hier af die ou handelsroete kon stap, sou mens dan die stad van Jerusalem ingegaan deur die Jaffa hek.

Dit is ook by die hawe in Jaffa waar Jona🐳 probeer vlug het vir sy opdrag om Ninevé toe te gaan, waar die boumateriaal ingekom het vir die bou van die tempel en waar Petrus op die dak in ‘n beeld die doek met al die onrein diere sien neerkom het ter voorbereiding om aan huis te gaan van Kornelius wat toe nog ‘onrein’ was. (Jona 1, 2 Kronieke 2 en Handelinge 10 en 11 vertel die stories)

Ek was gelukkig genoeg om 2 keer deur hierdie historiese plek te stap. Een keer met ‘n ‘free walking tour’ en een keer met vriende. Raai watter een was beter…..

TANSTAAFL- There aint no such thing as a free lunch

My eerste besoek aan Jaffa was met ‘n ‘free‘ staptoer. Want hoekom dan nou nie? Nou weet ek. TANSAATFL en ‘n gewagtery soos om geforseer te word om te kyk hoe gras groei🌿 terwyl jy eerder wil huppel deur die veld.

Ek gaan net kortliks kla en aanbeweeg. Ek moet oogrol🙄 en ‘n sug🤦‍♀️prentjies onder andere inwerk in hierdie stukkie om my frustrasie met hierdie ‘gratis’ toer te wys.

Die toer was net 2 ure lank. Of was dit 2 ure te lank? As iemand wat gewoond daaraan is om te stap soos ek wil, was die stap saam met die groep ding, baie frustrerend. Dit was ‘n ewige gewagery vir almal om op te daag en dan skree die toerleier ‘Is everybody here?, ‘Can you hear me?, ‘You back there, can you hear me?’ En dan sal iemand terugskree: ‘We are still waiting for the guy with the red shirt’ en dan ‘Can you please repeat that? 🙄🙄🤦‍♀️🤦‍♀️

Dit het ons 45 minute gevat om ‘n paar honderd meter te loop. In daardie tyd het ons 3 dinge gesien waarvan 1 die bymekaarkomplek was. Ons het nog nie eers behoorlik weggespring nie toe daar ‘n halfuur se pp en koeldrank breek (Is dit nou nie multitasking nie? Maak leeg en vol op een slag). Terwyl ek trippelend staan en alweer wag vir almal, het ek ernstig oorweeg om van die groep weg te breek. Maar ek het nie (oogrol vir myself hier🙄). Weet nou nog nie hoekom ek het nie het nie. Na die onnodige tydstilstand ‘om te kyk hoe die gras groei🌿’, gaan wys sy ons die hangende lemoen boom, Petrus se huis, en toe die hawe.

Die hawe was die finale stop. Wat? Dit het 2 ure gevat om 6 landmerke te sien en ek weet nie of dit eers 1.5 km se stap was nie. En toe vir die finale, allerbelangrike laaste strooi. Ons word ingelig dat ons elkeen ‘n minimum van 60shekkels (om en by R300) vir die ‘free walking tour‘ moet betaal. Nou wil ek graag stoom uit die ore😤(of in hierdie geval die neus) byvoeg om die storie nog ‘n bietjie meer in te kleur.

Wat het ek geleer? Niks is verniet nie en toergroepe gee my suurkrop.

Nou dat die kla uit die weg is…… Jaffa is pragtig en nie eers suurkrop kry kon dit bederf nie.

Jaffa clock tower
DIe toring net buite Jaffa

Eerste verkenning

Die staptoer spring weg by seker die mees bekende landmerke van Joppe, die toring. Al is dit ‘n ikoniese landmerk is dit relatief ‘nuut’ en net ‘n bietjie ouer as 120jaar. Net af in die pad van daar is daar ‘n oorblyfsel van die oorspronklike ou hek van Joppe. Maar dit is redelik toegebou en as iemand dit nie uitgewys het nie, sou mens dit gemis het.

Van daar af is dit ‘n katspoeg verder na die Abrasha Park met die ‘Gate of faithop ‘n koppie. Dit is ook relatief nuut en simboliseer die trek na die Beloofde Land. In die een pilaar gekerf is Jacob se droom, in die ander pilaar is die storie van Abraham wat vir Isak moes gaan offer, en die dwarsbalk gedeelte is die storie van die val van Jerigo. Mens het ‘n bietjie verbeelding nodig om dit te sien, of my linker brein sien net nie regterbrein dinge lekker raak nie.

Van hierdie koppie af kan mens dan ook uitkyk oor die moderne stad van Tel Aviv net daar neffens. Na almal klaar kiekies geneem het stap ons oor die Wensbrug. Oral op die brug is sterretekens aangebring en die storie loop dat wanneer jy jou teken sien moet jy dit vryf en wens. Ek het dit ‘n mis gegee. Elkgeval, tot en met die brug was mens redelik buite die heel ou deel van die stad, wanneer mens oor die brug is, loop mens meer in ou voetspore.

Jaffa en Tel Aviv
Tel Aviv vanf die tuine by Jaffa

In die hartjie van Jaffa

Hier is waar mens graag wil verken. Mens kan maklik hier wegraak in ‘n verbeeldingsvlug na die verlede. Die straatjies is nou maar vrolik geverf. Ek was nog nie in Griekeland nie, maar die nou straatjies met die blou vensters en deure is hoe ek daardie eilande in my kop sien. Dalk sal ek eendag nog ‘n vergelyking kan doen.

Vanselfsprekend, is dit nie nou hoe dit doerietyd was nie. Alles is oorgedoen nadat daar ‘n ernstige tyd van verval was soos wat almal gestroom het na die nuwe ‘uitbreiding’, Tel Aviv. Blykbaar het die owerhede aangebied dat mense goedkoop daar besighede kan begin om mense terug te lok, en toe is ‘Bob your uncle‘ want vandag is dit van die duurste einendome in Israel en ‘n groot toeriste aantreklikheid.

Jaffa
jaffa
jaffa
Jaffa
Ek wonder wat die ‘going rate‘ vir ‘ancient history‘ is
Jaffa
Jaffa

Iewers tussen die ou-ou tyd en nuwe tyd, was hierdie area bekend vir sy Jaffa lemoene, maar met die opbou van die stad het hulle plantgrond ingeruil vir boupersele en is die bekende Jaffa lemoene (waarvan ek nog nooit voorheen gehoor het nie), nie meer nie. Nou is daar ter herinnering en vir kunsdoeleindes (die meeste van die ou-ou stad is nou gallerye en oudhedehandelaars) ‘n hangende Jaffa lemoenboom aangebring. Dit is noggal indrukwekkend en anders. Ek kan nie help om te dink hoe swaar daardie bedryf moet wees nie.

jaffa lemoenboom

Jaffa se belangrikste landmerk…..afhangde van wie jy vra

Van die hangende lemoen, loop ons op ons spore terug in die rigting van die huis waar Petrus tuisgegaan het. Dit is baie ‘underwhelming‘. Dit is ‘n toe deur waarop terloops staan ‘House of Simon the tanner‘. En soos baie ander plekke is daar nie sekerheid of dit wel die werklike plek is nie. Daarmee saam is dit privaat eiendom, mens kan dus nie ingaan nie. Mens kan maar net verbyloop en ‘n kiekie neem. Die see is aan die ander kant, so al is dit nie die regte huis nie, kan mens mens maklik indink wat sy uitsig moes gewees het terwyl hy daar op die dak gesit het. So dit kleur defbeslis die Bybelstorie in wanneer mens dit weer gaan lees.

Jaffa petrus se deur

Die hawe

Net om die draai van Petrus se huis staan mens in die hawe van Jaffa. Die eindpunt van die 2ure ‘free’ staptoer.

Na die nare ontnugtering van die ‘gratis’ uitstappie, was ek weer hawe toe saam met vriende. Hierdie keer het ek die hawe geniet. Ons het varsuitgedrukte lemoensap gekry, want komaan, Jaffa Oranges, en op die klippe gesit en uittuur oor die hawe. Dit was salig met seebries teen my gesig, die reuk van die see en die smaak van die vitamien C. Dan was daar die geluid van die breek van klein branders teen die rotse. Daardie salige paar oomblike was ‘n fees vir al die sintuie, en om dit te kroon was daar goeie geselskap saam met my daar.

Jaffa hawe
Die Jaffa hawe na die een kant
…..en na die ander kant
Soos ‘n dassie op ‘n klip

Rondte 2, Jaffa op eie stoom

Die sapdrinkery in die hawe was aan die einde van ons Jaffa verkenning. Hierdie uitstappie met vriende het begin op die promonade van Tel Aviv. Ons het mekaar die oggend daar gekry en al langs die kus afgestap Jaffa toe. Dit was ‘n pragtige dag om te stap,die bries en son te voel en te sien hoe Jaffa net al groter word op die horison.

Jaffa vanaf die Tel aviv promonade
Die promonade reg langs die see met Jaffa doer voor
Jaffa word al nader. Later sien ons hierdie van die ander kant af.

Die oggend begin weer by die kloktoring en beweeg deur die nou straatjies met klein winkels en markies. Ek dink mens behoort enige iets hier uit te snuffel as mens diep genoeg krap en genoeg geduld en tyd het. Ons het ons verkyk aan al die interessante dinge en ‘n paar shekkels het hande geruil. Een van die indrukwekkendste fondse was ‘n bottervliegie hangertjie. Wanneer al die magnetiese skoenlappers aanmekaar ‘plak’, vorm dit ‘n Dawidster. (volg die skakel,want dit maak meer sin om dit te sien). Die doel van die skoenlappers was om die ster weg te gesteek het in die tyd van die 2de wêreldoorlog as ek reg onthou.

Na ‘n paar kronkelpadjies deur die markte, kom ons hogerig langs die kus uit. Hier sit ons vir ‘n wyle en uitkyk oor die see en al die bedrywighede van die stad langsaan.

Jaffa uitsig oor Tel Aviv
HIer het ons gesit en uitkyk oor die see en die bedrywighede van die stad en waarvandaan ons die oggend gekom het.

Na die uitkykery oor die see, drentel ons verder tot by Jona se Walvis. Hy is noggal ‘n vriendelike dog ‘dopy’ kreatuur, soos die dwergie. Die Walvis en die dassie neem so ‘n paar kiekies saam voor dat die res van ons gaan koffie soek het.

Die koffie is van daardie Tukse tipe wat jou borshare laat groei en jou ‘n rilling deur die rug stuur. Ek kon nie, nie na my ontnugtering met daai teer in Nasaret nie. Die ‘next best thing’ was oatmilk koffie. Ek weet nie waar mens die oats melk nie, maar toe ek weer sien staan dit daar.

Gif kom in klein koppies. Hierdie moet die koffie wees wat Chuck Norris drink

Na koffie gaan wys ek die ander waar die hangende lemoenboom is voordat ons koers kies na die hawe toe. Oppad hawe toe loop ons oor ‘n afstand wyser, wat wys hoe vêr al die groot stede van Jaffa af is. Alles is eintlik redelik naby. Dit het nie nodig om die afstand see toe te wys nie, want dit is net daar teeenaan.

Die hawe is vol bootjies en bote, maar leeg aan mense vir een of ander rede. Ons loop en steek ons koppe by elke deur in in ons soektog na die beroemde lemoene se sap. Maar ek het al genoem dat ons die Vitamien C kon proe, so dit is sinneloos om te sê dat ons soektog suksesvol was.

Na die dubbele dosis van ‘Vitamin Sea’, stap ons weer op met die promonade in die rigting van die wolkekrabbers. Oppad stap ons verby honderde mense wat intussen met hulle honde uitgekom het om te speel. Daar word gereken dat daar een hond vir elke 17 mense in Tel Aviv is,en daar is om en by 4.4 miljoen mense…..dis baie honde. En op daardie stertswaaiende noot, is Jaffa se storie op ‘n stokkie

Honde, honde orals

Hoe toe van Joppe

Daar is baie busstoppe oral om Jaffa, so dit is maklik genoeg om daar uit te kom met ‘n bus, maar myns insiens is die beste manier om daar te kom om langs die kus af te stap. Jaffa is ook klein genoeg dat jy net kan opdaag en stap. Iewers om ‘n draai sal jy iets te siene kry, en jy kan nie eintlik verdwaal nie. Hieronder is skakels met inligting van Jaffa en Petrus se huis,’n blog en ‘n vlog (van ander mense). Daar is baie gallereie, so as jy hou van kuns en ‘n spaarvarkie saam het sal jy om die meeste draaie iets kry waaran jy hou.

En dan is hier ‘n kaart van waar ek was. Die oorspronklike kaart kan afgelaai word in PDF vorm by hierdie skakel van Tel Aviv Map 360, ek het net op hom geskribbel.

HIerdie was die kaart van Tel Aviv 360 waarop ek gekrap het, met Jaffa doer onder links
En hier is dieselfde kaart met Jaffa vergroot waar ek die ‘Gate’, brug, lemoen, walvis en Petrus se huis aangebring het.

Ter laaste woord, hieronder is Tel Aviv, Nasaret met die koffie wat jou borshare laat groei, en Jerusalem met die Jaffa hek se skribbels se skakels.

Follow me here