‘n Dag langs die see van Galilea en in die warm waters van Hamat
Dit was ‘n Saterdag. ‘n Stil dag. Stapdag. Op ‘n sonnige Saterdag in Junie slaan ons voet al langs die See van Galilea na die Hamat Hotsprings en die gratis strand net oorkant die pad. Daar is geen publieke vervoer op Saterdae nie, so stap of trap is al hoe dinge gaan gebeur. Die bestemming was so 2.7km weg van die hostel. Die soontoe was nie ‘n probleem nie, die terug in die hitte van die dag was egter ‘n ander storie.
Die Hamat park
Dit was ‘n salige stap met die water elke nou en dan tussen die geboue deur aan die een kant en die heuwels aan die ander kant. En toe ons weer sien was die Hamat Nationale Park met sy warm water skielik daar.
Al is ons en hulle parke se embleem en kleur baie dieselfde, is dit tot ‘n groot mate waar die ooreenkomste stop. Die Hamat ‘park’ is seker so groot soos ‘n plot hier by ons. Mens kan letterlik ‘n klip gooi van die een kant na die ander (as jy ‘n olimpiese gewigstoter is bygesê.) Baie van hulle besienswardighede is omhein en tot ‘n park verklaar al is dit piepklein.
Ons is in, en het eers ‘n draai deur die park gestap. Behalwe die eeue oue waterbron is daar ‘n baie ou mosaiek vloerwerk wat behoue gebly het deur die jare heen. Die vloerwerk was van een van die vroegste ontekte Sinagoges.
Die vloerwerk het grotendeels behoue gebly en ‘n groot deel beeld die 4 seisoene uit. Israel hou van hulle ‘light shows’ en hier is die nie anders nie. Helder oordag, druk mens ‘n knoppie, al die vensters word toegemaak en die ligskouspel begin bo-op die mosaiek.
Waters wat warm is
Na die ligspel , is ons in by die Hamam of die ‘Turkish Bath‘. Hierdie ‘bad’ was deur die Turke gebou om die warm water bronne te benut. Oor al die jare heen het, en steeds, glo mense in die helende eienskappe van die mineraalversadigde warm water..
Ons volgende stop was toe ook om die helende waters te beproef. Daar is verskillende ‘baddens’ gebou. Ek noem dit maar ‘n bad want dit is eintlik te klein om ‘n swembad genoem te word, en die water is te warm om te swem. Daar is n ‘koel’, medium en warm bad.
Die koel een was ‘lou’ en gemaklik. Die medium warm een was soos ‘n baie warm bad. En die heel warm bad was vir my net te warm. Ek het probeer inklim, maar kon net my voete en my skene inkry en ook nie vir lank nie. Dit voel soos kreef kook water. Groot was my verbasing toe ek ‘n man daarin sien dryf soos ‘n lyk – ‘face down‘, heeltemal onder die kreefkook warm water. Behalwe dat hy ernstige hitte tolleransie gehad het, het hy boonop ‘n bitter lang asem.
Ek was in en uit by die koel en matige waters. ‘N vrou wat ook daar was sê dat sy al jare kom om die in die helende mineraal water te sit. Ek kan nie getuig van helend nie, maar Anne, wat saam met my daar was het ‘n toonnael probleem gehad en sy sê dit was na die ‘hot springs‘ baie beter.
‘n Piepklein strand langs die See van Galilea
Na die baddery, is ons oorkant die pad na een van die klein stukkies oop waar mens tot by die See van Galilea kan kom en jou tone in die water kan steek. Meeste plekke is toeggebou en is privaat strande. Dit is noggal hartseer. Maar nietemin. Ons was tot teen die rand van die water. Mens mag nie eintlik daar swem nie, maar die water was so lekker en helder dat ek half en half op die ‘fyn lyn‘ gettrippel het. Tegnies gesproke het ek nie geswem nie. Ek was egter tot by my skouers in die water terwyl ek op die klippertjies gesit het.
Dit was absoluut salig. Die water was heerlike lou en die branders laat mens heeltyd op en af ‘dobber’ soos dit teen mens spoel. Dan was daar die sproei van water oor jou gesig wanneer ‘n brander onverwags groter was as die res. Mens kyk dan uit oor die vêr blou waters en heuwels oorkant. En dink dan diep. Wat sou hierdie meer alles kon sê as dit kon praat. Die See van Galilea was immers ooggetuie van baie wonders en gebeure.
Na ‘n baie lang ruk, uit vrees vir sonbrand is ons to maar terug na die ‘warm baddens’ van die Hamat Nasionale Park aan die ander kant van die pad. Twee van baddens het darm dakkies oor, so mens kon in die warm water sit uit die son uit en steeds oor die See van Galilea uitkyk.
Die son trek water
Maar mens kan ook net so lank in warm water sit, Dit was namiddag en ons moes moed bymekaar skraap vir die 2.7km terug terwyl die son bo ons sy hande vryf met die vooruitsig om ons te klits. Ek het my sarong natgmaak soos wat ek vir Mam sien doen het toe ons die Kunene gaan stap het, en dit oor my kop en lyf gegooi. Dit het briljant gewerk…….vir ‘n paar minute. In die hitte het dit heeltemal te vinnig kurkdroog geword het. Dit het darm nog as skaduwee getel*
*In een van Anne se Youtube videos het sy vertel van hoe ek probeer loop het in die hitte met ‘n nat lap oor my, maar die plan kom van 9 keer se Visstap veteraan, Mam.:)
Terug by die hostel het ek gaan sit in die venstebank sitplek wat oor die strate en die see uitkyk totdat die middag meer afgekoel was. Toe die hitte meer aanvaarbaar was, is ek weer daar uit om bietjie rond te loop in die strate. Ek was weer na die promenade toe waar ek ‘n hond moes keer om ‘n kat op te vreet. Het kliphard in Afrikaans vr hom geskreeu, en hy moes seker my toon verstaan het, want gelukkig het die 2 kieters vry van die aanval afgekom.
Ek het hier ‘n paar strate op en af gestap. Het my boude afgeskrik toe in een van die verlate plekke skielik iets op my afstorm. Toe my veg en vlug oorwaai sien ek dis ‘n kat wat my bestorm het, en agter haar ‘n swetterjoel keintjies. Ek was seker te naby toe besluit ma maar om ‘n ‘pre-emptive strike’ te loods.
Ek het geloop tot by die karhuur plek om die draai van die hostel…. aan die ‘verkeerde’ kant van die pad. Daar deur die parkeerarea en uit. Gekyk waar ek moet uitkom en afdraai. Die hele oefening was om die ‘verkeerde’ kant van die pad die ‘regte kant’ van die pad te maak vir die volgende dag se ry. Ek het tot ‘n video gekry van die pad an Tiberias tot by die Mount of Beatitudes om die pad te sien en die pad te ‘leer ken’ sodat ek meer gemaklik sou kon ry……..dit alles was toe ‘n mors an my tyd en geld sou k die volgende dag uitvind……..
Hieronder is net ‘n klomp fotos van dinge wat ek raakgesien het op my wandeling in die omgewing van die promonade
Hoe toe
Daar is nie veel te verduidelik nie.
Hier is hulle parke se embleem vir wat dit werd is. Dit lyk baie soos ons s’n. En hier is die skakel na hulle webwerf toe. Dit het 14 Shekkels gekos om in te gaan en ons kon in en uit met ons kaartjie. Die nasionale parke is darm elke dag oop, mens moet net vooraf seker maak van di tye aangesien dit verskil tussen seisoene en of dit Sabbat is of nie. Daar is busstoppe op die pad, maar ons het geloop, dis geen issue nie.
Letterlik net oorkant die pad van Hamat is die gratis strand waarby ons ook was. Hier is 2 videos en van die Turkish bath en die Sinagoge se mosaiek (as jy bitter vinnig kyk gaan jy my sien wanneer die kamera inkom)
En dan hier is my deel een van Tiberias, Galilea en een van my Kunene Hike kribbels omdat ek by Mam gesien het hoe mens koel kan word met ‘n nat sarong in somerson.👇