Heuwels, dale en Makalanies

Kunene hike :Kamp Cornie deel 2

Nadat ons vir Cornie ‘invade’ het en dit ons tuiste gemaak het vir ‘n paar dae, was dit ons wegspring plek vir ‘n sirkelroete of 2. Na ‘n eerste nag onder sterre en palmbome was ons dou voor dag, met ons ‘vuurvlieg koppies’ aan tafel vir ontbyt. Elke môre na ontbyt, het die dag diep pienk gebreek. ’n Pienk wat ons elke môre laat stil staan en bewonder het. Elke môre, want dit was net so mooi. En hierdie eerste oggend by kamp Cornie was geen verskil nie. Ongelukkig kon ek dit nie vasvang op ‘film’ nie.

Eerste heen en weer – dag een se wegspring van Cornie

Die lam, siek en amper dooies, het agtergebly by die kamp om hulle kragte op te bou en voete te laat ‘hersool’ vir hopelik die volgende dag se stap. Die res van die dapper stappers het in die pad geval . Dieselfde ‘roller coaster’ pad waarmee ons gister ingery het. Daardie op en af heuwels het omtrent soos ‘n wipwabaan gelyk wanneer mens daaroor uitgekyk het. Op en af, Op en af en draai. Die optes was verskriklik op. Wanneer mens onder gestaan en opgekyk na heuwels , dan het mens noggal gewonder waar mens se hulp vandaan sou kom. Klein en nietig het mens waaragtig gevoel. En soms bietjie pieperig…

heuwels langs die Kunene

My longe en bene het geprotesteer, en dan het ek baie empatie met die bus gehad wat gister met sy hele vrag daar moes uitbeur, al proesend en rokend. Maar met elke kruin wat uitgeklim is, kon mens oor die pragtige landskap kyk, met die rivier wat regs voor kronkel al tussen die palms, met heuwels van Angola net hier neffens ons. Die oggendstond was toe nog stil en koel, en dit was asof mens regtig die spreekwoordelik ‘goud’ kon sien soos wat die son opgekom en ons dit tegemoet geloop het.

Stappers o die heuwels langs die Kunene

Inkopies in die vlak

Die son was al effens hoër, toe ons in die letterlike middel van nêrens op ‘n ‘padstal’ afkom. Hierdie man het vir hom 3 tafeltjies gemaak waarop hy allerhande plaaslik gemaakte armbande, halsnoere en mandjies verkoop. Hierdie dag was ‘n goeie dag verkoopsdag vir hom. Daar op die vlaktes het die stappers die geleentheid gebruik om aandenkings te koop.

Padstal in die middel van nêrens

Met die beursies leër, en die sake voller, het ons verder gestap die dag in, die pad af. So het ons gesels gesels gestap tot waar ons in ‘n droeë rivierloop angekom het. Van daar af het ons die droeë loop gevolg deur dik sand, mooi klipvormasies en oor ‘n gevalle palms. Kort voor lank was ons weer terug was op die oewer van die Kunene.

Hier het ons ‘n rus gevat in die skadu van bome. Daar het ek mooi op ‘n doring gaan sit en gelukkig nie ‘n lelike word laat glip nie. Ek moes die ‘wond’ ‘n bietjie vryf soos wat mens na ‘n inspuiting maar doen. Omdat ek lekker simpel gevoel het, trek ek maar almal se aandag af deur my gedaste vriend op ‘n klip neer te sit. Dit was effens snaaks toe iemand, wat nie gesien het dat ek die dassie op die klip gesit het nie, heel verbaas uitgeroep het, kyk daai mak dassie.

RTD die dassie
Ons ‘fearless leader’

Na ek en die das bietjie die gek geskeer het, het ons aanbeweeg deur bos en boom. Plek- plek het dit gelyk of ons dalk soos in die flieks, ‘n panga sou nodig hê om ons pad oop te kap. Die klitse en wewenaartjes het daar vir ons gewys wie is baas. My skoene en kouse het soos ystervarke gelyk toe ons aan die ander kant uitgekom het. Ons het darm nie die hele terugtog die pad byster geraak nie, en was weer veilig uit slang-wegkruip-wêreld korter as langer.

Makalani jou lekker ding

So op ons terugtog het ons ook ‘n bietjie opvoeding gekry oor die Makalani bome, die kunene se ‘witblits’. Iewers eendag het iemand agtergekom dat hulle alkohol kan tap uit die bome se toppe (nugter 😉weet hoe dit ontdek is). Daar word takke in die kant gekap, al op soos die sparre van ‘n halwe leer. Dan bo word die blare afgehaal en die holte heel bo word dan met ‘n lap toegemaak sodat daar nie goggas en stof inkom nie. Na ‘n ruk se staan in die bloedige Afrika son, word die holte gevul met een of ander gefermenteerde sap en Ta -Da!! Babbelas. Dan klim een of ander dorse kalant daar op teen daardie ‘non-safety standard ladder’ en gaan tap sy sap.

Daar is blybaar so baie bome op hierdie manier verniel, dat daar nou boetes ingestel word om dit te probeer bekamp. Maar boetes het nie veel van ‘n duik gemaakin die hoeveelheid van hierdie lewendige witblits’ketels’ wat ons gesien het nie.

makalani bome
Makalani, die witblits van die Noorde

Teen middagete loop ons ons bus raak en voor ons nog ons tekkies kon uittrek was ons terug onder die pragtige wildevyeboom vir ‘n salige middagete met die rivier wat die agtergrond musiek verskaf het.

2de heen en weer: Himba village

Die 2de oggend wat ons weggespring het by Kamp Cornie was daar ‘n Himba kraal op ons roete. Ek was opgewonde om die werkings van ‘n traditionele kraal te sien, maar op die einde het dit die wind uit my seile gehaal., Hoe om dit respekvol te verwoord, weet ek nog nie so iewers vorentoe sal ek die Himba besoek hopelik kan neerpen in sy eie skribbel.

Wat ek wel kan noem was die pad soontoe het twee dinge gebeur wat andersins die dag ‘memorable’ gemaak het. Daar was ‘n slang en ‘n val. Gelukkig het alwee nie op dieselfde plek gebeur nie. Dit sou ‘memorable’ na ‘n hele nuwe vlak gevat het.

Daai sêding van ‘as dit ‘n slang was sou dit jou gepik het‘ was nog nooit waarder as op hierdie oggend se stap nie. Terwyl ons nog al kekkelend deur die vlaktes aanstap, vra Exit vir ons of ons die slang geisen het. Niemand het nie. Hy wys toe vir ons ‘daar by die boom‘. Steeds sien hierdie dorpskindertjies nie vir ta nie. Hy loop toe tot teen die boom en wys ‘hier lê die slang‘. Liewe ouers! Toe is dit ‘n pofkapatertjie wat ewe dik opgerol lê in die holte van die boom. En niemand van ons het hom gesien nie. Sjo, Exit se veldinstinkte en oë is skerper as ‘n minora.

Pofaddder

‘n Ent verder, toe almal die gril uit hulle nekhare gestap het, gebeur daar ‘n val. ‘n Val waar ‘n gesig met moeder aarde kennis gemaak het en ‘n ernstige ‘fight face’ tot gevolg gehad het. Dit was dieselfde gesig wat aan die arm en stuitjie behoort wat op dag een se stap in die canyon afgetuimel het.

Die dag het nog nie eers behoorlik water getrek nie, toe het ons al slang se gif en bene se breek vrygespring.

Ons was seker so ‘n uur by die kraal toe ons verder stap. Die son het vir my ekstra geniepsig gevoel hierdie dag. Maar ons het oor heuwels en deur dorrre dale geloop totdat ons weer terug op die oewer van die Kunene was.

Derde wegspring, laaste dag

En toe breek ons laaste dag by die amperse eiland kamp Cornie aan, maar soos met die Himba storie, en omdat ek nou lui is, gaan dit ‘n skribbel wees vir ‘n ander dag

Follow me here