Vakansie in corona tyd. Wat het ons gedink!?
Hoe hou mens vakansie in corona tyd? Die kort antwoord is: jy doen nie. En dit is nie deur gebrek aan probeer nie. Daar was al vele planne om Jan Tuisbly se kar in die pad te lat val soos beesmis. Daar was drome en daar was planne. Daar was gespaar. Maar na 2 en half jaar wat die laaste vakansie was, staan Jan maar steeds tuis met sy stert tussen die bene want as dit nie die een ding was nie was dit ‘n ander….en dan probeer mens maar weer.
2020
My eerste poging na die pô-po laas Maart geslaan is vir ‘n wegbreekiekie was 3 dae in die Kaap in Desember. Ek het 17 ure op ‘n bus gesit van wat die verwarmer aangesit was. Nugter weet vir wat ‘n verwarmer gedurende Desember moet aan wees, en dit op ‘n bus sonder vensters wat kan oopmaak nie te min! Ek het later gevoel hoe smelt my vleise af en inkubeer al die kieme! Lekker ‘petri dish’. Al wat my deurgehaal het was die see aan die einde van die hitsige tonnel.
Ongelukkig, net nadat die vars seebries die bus goggas afgewaai het, laat weet ou Cyril dat daar nie met tone in water mag ingegaan word nie. Dit is soos om ‘n bord welriekende kos voor ‘n honger mens neer te sit en te sê hy mag nie daarvan eet nie.
Met die 17 ure terug, het iemand ‘n klip in die vroeë oggendure deur die ruit gegooi. Ek het my boude afgesrik toe ek uit die slaap geskok is met ‘n horibale slag en goed wat op my val. Toe ek opspring is daar gat in die ruit en ek is vol glas splinters. Die meisie langs my was vol bloed. Die klip wat vir Goliat sou kon kelder, op die vloer. En dan was daar die onsekerheid of die bus verder mag ry met sy voorruit aan skerwe. Maar in regte Mcguyver styl is die ruit sommer met celotape geplak en die bus, of die spreekwoordelike wa, was deur die drif getrek.
So, wat ek onthou van my 3 dae Kaap wegbreek was die 7 dae en 7 nagte reis heen en weer, die kwyl oor ‘n see wat mens net van ‘n afstand af mag aanskou het en ‘n pampoen wat ontplof het (maar daardie is ‘n hele ander storie).
2021
Hierdie jaar moes beter wees. Almal het so gedink. So gehoop. Maar die feit dat die datum verander het, het nie enige iets anders verander nie, behalwe ons ouderdome en hoeveelheid grys hare.
Ek wou graag Nam toe gaan Maart/ April, maar daai ‘ rooi toue’ wat wat die grensposte ‘toegespan het’ het gemaak dat ek alweer 2 weke se verlof op my maag geskryf het. Het maar toe ‘n naweek se wegbreekiekie beplan en was Hartbeespoort toe. Dit was darm ‘n ‘change of scenery’. Maar vy!! Dis darm net te vêr om te ry vir ‘n naweek, en die pad soontoe en terug is nie eers ‘scenic’ nie. Dan probeer mens maar weer die oorspronklike Nam plan…
Namibia Julie 2021
Hier is nou die eintlike storie van hoe mens nie op vakansie gaan nie al is jou tasse gepak…
Soos die jaar aangegaan het het Nam se grense mense makliker laat deurgaan en ek besluit toe dit is nou of nooit. Ek het nog nooit gesien hoe daardie geweste lyk na ‘n goeie reënjaar nie en wou hierdie natuurwonder gaan bewonder. Ek bel die grens, googeleer hulle nuwe reëls en alles is soortvan honkiedorie om deur te gaan. Vinnig boek ek verblyf en reël kuiers by familie en vriende, begin oefen om die kamera se ekstra knoppies te benut want immers gaan daar klomp mooi natuurtonele wees om af te neem. In my kop is die fotos al ge-‘frame’ in die kamera se lens en al wat oorbly is dat ek die knoppie druk wanneer ek daar kom.
Maar nou ja, ek moes seker geweet het…..
Ek het net alles bespreek en betaal, letterlik die dag daarna, toe die eerste domino’s begin val. Letterlik oornag het die reëls verander, en die grens vereis eksta hoepels om deur te spring. Hoepels wat nie in die oorspronklike vakansie begoting was nie. Maar aangesien alles klaar gereël was, was daar nie regtig ‘n keuse nie en ek was steeds hoopvol. Ek was vol van plan om voort te strorm soos Don Quixote.
Tot die volgende domino vir ou Don sy ewewig laat begin verloor het. …
Nam begin dele van die land toemaak, dele waardeur ek moes ry. Met die toemakery, begin van die verblyf my kontak om te sê hulle is bang vir toeriste en wat voorlê en gaan tot verdere kennisgewing alle verblyf kanselleer. Dit was ‘n tammeletjie soos ‘n Wilson toffee. Op hierdie stadium van die geveg was ek nog van plan om al hierdie moeilikhede te omseil met ander planne.
Ek kry ander verblyf en beplan ‘n roete om die afgesperde gebiede te omseil. Maar ek voel onrustig, want met die spoed waarmee dinge eskaleer, weet mens nooit van oomblik tot oomblik wat gaan gebeur nie. My grootste vrees was dat ek op die grens sou aankom en hulle vir my sê dat ek moes omdraai omdat daar net op daardie tyd een of ander wetgewing deurgekom het.
Vandat die beprekings gebeur het, die dominos begin val het en al die extra planne beraam was, was maar ‘n kwessie van 3 of 4 dae. En die Sondag, ‘n week voor die vakansie het ek maar die handdoek ingegooi nadat familie gesê dat ons asseblief nie moet kom nie, en nadat die hond my kaart opgeëet het. Die opgevreete kaart was die laaste strooi op hierdie kameel se rug. Die kaart wat met sorg en opwinding gebêre was tot die tyd wat ek dit eindelik sou kon gebruik. Maar al hierdie dinge was nie die grootste rede hoekom ek nooit deur die grens sou kon kom nie….
Finale kansellasie was die Sondag. Maandag, na ‘n naweek van olikheid, hoor ek ‘via the grapevine’ dat iemand met wie ek die vorige week gepraat het, positief getoets het. Net omdat dit die regte ding is om te doen, het ek maar laat toets, ten volle versekerd dat dit gaan negatief wees. Kry ek die skok van my lewe toe ek in die middel van die nag ‘n boodskap kry wat sê ‘stay where you are, we will contact you’?!
Lang storie kort : Daar was dus geen manier hoe ek Nam sou kon sien na ‘n reënseisoen nie, daar was net heeltemal te veel hekkies in die pad en dan was daar die kiem wat alles briek, soos die muur wat Trump wou bou.
En aangesien mens vir 3 maande aanhou positief toets is die meeste van die oorblywende jaar uit soos koekies in die weeshuis vir ‘n Nam vakansie. Daar was ook groot planne vir ‘n Desember familie seevakansie, maar dit het sy einde vir verskeie ander redes teegekom. Dan praat ek nie eers van die nuwe boek reëls wat ek laas week gesien het mens moet nakom om hierdie keer deur die grens te mag kom nie. Ek het nie eers die geduld gehad om dit deur te lees nie. Ek dink die kort en die lank is ‘julle bly aan julle kant van die grens, en ons bly aan ons kant’. Ek kan dus nie sê of my paspoort voor hy verval weer ‘n Nam stempel sal kan kry nie.
2022
Nou is ek al weer aan die beplan vir die nuwe jaar. Ek het groot planne gehad het vir 2022. Groot planne wat die afgelope week skipbreuk gelei het omdat ek net 1 is, en nugter weet elkgeval wat die nuwe jaar se reëls inhou, so daar is nou nog ‘n vakansie wat ek op my maag kan skryf. Oi! Dit nadat ek al klaar weer gereed was om knoppies op my kamera te druk en ‘n reis te verewig, maar nou is dit asof iemand die kamera oopgemaak het en die film lig gegee het. Ek sal ‘n brug bou.
‘n Brug wat dalk ‘n staptoer in Nam insluit. Dis nou alweer ek en Nam, maar hierdie keer gaan ek niks vir eers bespreek nie. Laat ons nou maar eers sien wat die nuwe jaar inhou.
Jan Tuisbly
Jan se kar het tuisgebly, maar in hierdie geweste van ons is ‘net om die draai’ dalk bietjie verder as jou algemene ‘net om die draai’. Wanneer ek weer tyd of lus kry, watter een ookal eerste kom, noem ek die draaie, een van hulle was….
Follow me here