No air supply necessary: Beetle deur Botswana
“Die Kalahari kan nie so erg wees as wat julle dit maak nie. Ek ry sommer met my Beetle deur Botswana na Suidwes Afrika toe”
Siegfried Hoebel: 1973
Dit was my windgat woorde op ‘n dag in 1973 in ‘n onder offisiers teekamer te 28 Eskader LMB Waterkloof. Almal het my afgeraai, veral die ”Kalahari kenners”. Nie dat ek enige ondervinding van Kalaharisand gehad het nie. Min het ek geweet wat op my wag.
Onmoontlik met ‘n Beetle, het hulle gesê. Op die kaart was die “Pad” aangegee as ‘n cattle track wat net deur beeste en groot trokke gebruik word. Skertsende wyse het ek genoem dat die Eskader wat op daardie staduim hulle lugvoorsienning opgeknap het, my maar moet kom soek en lugvoorrade afgooi.
Waar soek jy na ‘n blougruis Beetle in daardie geweste? Toe was daar nog nie selfone of ‘n GPS nie.
Aansoek vir paspoort is gedoen, verlof ingedien en ander administrasie afgehandel : deur watter lande reis jy , hoe kom jy daar en hoe kom jy terug. Toe besef my kollegas ek is ernstig. ‘n Gewillige passasier kon ek nie kry nie. Verskonings soos “het nie paspoort, het nie verlof en het liefde, vrou en kinders by die huis was algemeen.
Die Volkswagen Beetle 1500CC het ek self gediens en goed deurgegaan,. Behalwe vir die standaard toerusting , het ek ‘n handpomp, kampeergraaf, sleeptou, dik plank vir die meganiese “jack” en ‘n 4 gallon (20 Liter) parafien blik vir spaar brandstof saamgevat. Padkos het bestaan uit vrugte, soetgoed en water.
Vertrek uit Pretoria was op 29 Junie 1973. Die eerste pitstop was in Zeerust. Daar het ek by vriende oornag, braaivleis geniet en lekker gekuier.
Saterdagoggend is ek met baie goeie wense en padkos aan my lot oorgelaat. Vinnig is ek by die Skilpadhek grenspos, my paspoort gestempel sonder baie vrae. Op die Botswana kant by Pioneer Gate was daar meer vrae en ongeloof dat ek na Windhoek wil ry met my Beetle. Die owerhede beveel eerder aan dat ek via Mafeking en Upington moet ry. Hulle dink toe ek maak ‘n grap en gee my net 2 dae verblyftoestemming.
By Lobatse het ek weer brandstof ingeneem en die 4 gallon blik volgemaak. Die volgende brandsof sou ek eers weer op Ghanzi kon kry. By die vulstasie het die personeel my ook afgeraai en gesê dat dit haas onmoontlik is om met my voertuig op hierdie beespad te ry. Met die vertrek het almal net kop geskud, maar ek was positief.
Tot Kanye was die pad ‘n redelike tipiese grondpad. Nadat ek by die dorpie verby was, het die erns begin. Nog kon ek redelik voorspoedig ry totdat die tweespoor pad begin. Hier begin die wisseling van die linker spoor na die regter spoor om te bepaal waar ek die maklikste sal kan ry. Ratwisseling van hoog na laag om spoed te behou, was meteens my voorland om mobiel te bly. Skielik begin die diksand. Ek besluit toe om wydsbeen oor die spoor te ry. Dit is nie net soseer dik sand nie, maar die spoor raak al dieper. So diep, dat die Beetle se pens begin skuur.
Dit het al moeiliker geword om die stuurwiel vas te hou en dit is heeltyd ‘n springery en afgly van die middelman. Die spoor wissel heeltyd van vlak na diep en elke keer as die spoor weer diep raak, skraap die voorste bumper die sand dat dit met ‘n boog oor die Beetle val. Nie baie lank nie, of ek gly van die middelman af en sit vas in die sand. Toe begin die uitgrawery. Soos ‘n mol grawe ek die sand onder die Beatle uit. Ek werk nogal vinnig, want ek wil nie hê iemand moet my in die penarie sien nie. Nie dat ek die eerste dag enige verkeer gekry het nie.
Met die wegtrek sit ek weer vas en besluit om eerder die Beetle te lig en sand onder die wiele te kry en die spoor ‘n entjie op te vul sodat ek spoed kan opbou om weer tot op die middelman te kom. Die poging het net halfpad geslaag toe ek besef die wiele se druk is te hoog. Die hele proses is weer herhaal en die wiele is pap gemaak tot 13 pond (1 bar). Toe is dit eers die spoor voor en agter vasry. Meteens ry ek maklik uit die spoor tot op die middelman.
‘n Tydjie het ek so gery totdat die spoor weer vaster geraak het. Omdat ek bang was dat die bande op die vellings gaan draai en dalk die valve uitruk van die binneband, het ek die bande weer stywer gepomp.
So het dit oor die 2 dae gagaan. Teen die einde van die 2de dag het ek 7 keer deur die proses van uitgrawe, spooropvul, wiele papmaak, heen en weer ry in die spoor tot die spoor vas is, uitry en later weer wiele pomp. Ek kla nie, want met elke kilometer het dit my nader aan my bestemming gebring.
Teen skemer was ek al halfpad na Ghanzi . Ek trek toe van die spoor af vir ‘n welverdiende nagrus. ‘n Groot kampvuur het gesorg dat ek veilig buite in ‘n slaapsak kon slaap. Die nag was nogal baie koud. Laat daardie nag het die eerste groot beeslorrie vanaf Ghanzi op die spore by my verbygekom. Hy het nogal toeter geblaas toe hy die kampvuur sien. Die volgende oggend, die son was al hoog, het ek weer in die spoor geval.
Met die voorrit inspeksie kon ek darm die oliedipstick kry, die res van die engine was redelik toe onder die sand. Die nommerplaat voor was blink geskuur en die uitlaatbox met pype was blink geskuur en plat. Een pyp was halfpad afgebreek.
Dit het niks beter gegaan as die vorige dag nie en dit was weer ‘n springery van die een spoor na die ander spoor. Meteens kry ek ‘n snaakse petrol reuk. My eerste gedagte was dat ‘n pyp afgeruk het. Met nadere ondersoek besef ek dat die 4 gallon blik se boom gebars het. Vinnig is hy op die neus van die Beetle gesit en ek kon vinnig die meeste petrol in die tenk tap.
Laatmiddag bereik ek Ghanzi en het daar weer die petroltenk volmaak. Weereens kon die mense nie glo ek kom van Skilpad hek af nie. Nou was dit nog net oor die 200 km na die Suidwesgrens, Mamuno en Buitepos grensposte. Laatmiddag weer op ‘n soort vaste pad, ry ek in ‘n sandgat en hoor ‘n harde slag. Ek stop onmiddelik en soek na die oorsaak. In die sandgat was ‘n klip so groot soos ‘n sokkerbal, die enigste klip in die omgewing en ek moes hom raakry.
Eers met die wegtrek kom ek die skade agter toe ek ‘n doef-doef geluid hoor met die wisseling van ratte. Aangesien dit laatmiddag was, het ek weer uit die spoor gery en voorberei vir ‘n welkome nagrus. Met die ondersoek na die doef-doef kom ek agter dat die gearbox mounting afgebreek het. Daar was geen opsies behalwe om maar met die doef-doef na Windhoek te ry of om te wag dat iemand my sal kan help. Na die nagrus en geen hulp, val ek in die pad met doef-doef en al.
Net sowat 60 km voor die grenspos, kry ek die eerste voertuig, ‘n bakkie met canopy, vasgeval in die sand. Aangesien daar 4 mans by die voertuig was, het ek nie eers moeite gedoen om hulp te verleen nie. Hulle het maar net gewaai en ongelowig koppe geskud.
By die Mamuno grenspos was die verbasing die grootste, veral toe hulle my moes glo en my paspoort my storie bewys. Hulle wou van my weet of ek ‘n voertuig , wat die vorige middag deur is na die RSA, gesien het. Hulle lag toe lekker toe ek hulle vertel waar ek die voertuig gesien het.
Vinnig is ek deur die grensposte en die volgende stop was Gobabis. In Gobabis was ek eers by die poskantoor aan om vir die Eskader ‘n telegram te stuur wat as volg gelees het: “Arrived safely, no air supply necessary”. Aankoms in Windhoek was laatmiddag op die 2 de Julie. My familie was nie bewus van my manewales nie en was verbaas om my te sien. Aangesien ek nie ñ gearbox mounting in Windhoek kon kry nie, moes ek ‘n tydelike reparasie doen met pyp, boute en moere om die ratkas bo te hou. Met die tydelike kontrepsie kon ek tot in Pretoria terugry op die teerpad.
Na ‘n paar dae wou die Beetle ook nie meer start nie. Met nadere ondersoek stel ek vas dat die battery gekraak en leeg geloop het. Die Beatle se vloerpan was erg na bo gebuig.
‘n Week later terugby LMB Waterkloof , het my telegram op die kennisgewingbord gepryk.
Die reisondervinding sal ek nooit vergeet nie. Ek glo met vandag se teerpad deur Botswana, is dit n vervelige stuk pad.
Siegfried
Ek het nooit hierdie dapper Beetle ontmoet nie, maar wel sy opvolger ou Viskar. Viskar was so ‘n bloue wat na aas en see geruik het en ons het hom ook maar op plekke gery waar hy dalk nie gemoes het nie. Ou Viskar kan jy hier gaan ‘ontmoet‘.
Follow me here