Wlotzkas en Volkswagens
Dramas sal daar altyd wees, en ek het al oor ‘n paar geskribbel. Die nuutstes was oor lughawens (Trou ekspedisie & Heathrow en Murphy, en treine (Strike like an Italian, trains splitting in Germany, epiese drama oor die trein na La Spezia) maar drama is niks nuut nie. Hierdie vervoer oepsies kom al my hele lewe lank saam, en aangesien ek niks nuuts om in hierdie gehokte covid tyd het om oor te skribbel nie, het ek in die argiewe ‘n paar historiese en steeds oor gepraatte stories gaan uitsnuffel. Hier volg ‘n hele paar dramas oppad Wlotzkasbaken toe met Volkswagens.
In my gedagtes kan Wlotzkas en Volkswagens nie geskei word nie. Dit was ons enigste vakansie plek en vervoer toe ons nog in die skool was. Die een ry na die ander. Dit klink eenvoudig genoeg, maar as jy my luck ken, sal jy weet dat niks ooit so maklik is nie, en sit vier van ons ongeluksvoëls saam en dan kom daar ure se toe-ons-alweer-langs-die-pad-gestaan-het-stories uit.
See toe met VW 1.0
Die eerste ding van see toe gaan, was die dae lange pakkery en skoonmakery vooraf, ons het immers ons bestaan vir ten minste ‘n maand lank (in die goeie ou dae) verhuis van die een huis na ons pondokkie. Ons ‘oor die muur’ dubbelkajuit Volkswagen (of die ‘Jam’blik soos hy deur familielede herdoop is), het gelyk soos die kamele destyds met die uittog uit Egipte. Daar was net nie hoenderhokke op nie (Ons het wel een jaar ‘n waaierstert meerkat saamgesmokkel, maar nooit hoenders probeer nie).
Na ou kameel se knieë gebewe van die lading, het die groot uittog begin. Dan kon ons maar net kyk hoe vêr ons sou kom, want as ons nou een maal iets geleer het, was dit dat ons iewers met hierdie trek langs die pad sou gaan staan. Dit was ‘n feit soos ‘n koei….of ‘n ‘Jam’blik.😉
Met hierdie ou blik kon enige iets ingee van die ratte tot , groot verrassing (en oogrolle), die radiator. Dan gebeur dit dat ons die lang pad moet aandurf teen 80km ‘n uur. Ek dink die ouers was maar te dankbaar dat die 2 skerminkels veilig agter in die kappie was, sodat hulle ons nie kon hoor kerm ‘hoe vêr nog’ en ‘dis warm’ nie. Dit het hulle ook afgesonder van die onvermybare bakleiery wat iewers sou uitbreek omdat ‘jy lê op my plek’ of ‘dit is myne’. Ek dink ons almal se lewens is te danke aan daardie kappie, anders sou iemand iewers padlangs vermoor geword het wanneer die ‘Jam’blik die ‘fan’ getref het.
VW 1.0 Iewers langs ‘n pad…
Een jaar het Kombi besluit om letterlik in sig van Wlotzka te gaan staan sonder enige ratte, gelukkig het was ons verwag en het ons vinnig hulp gekry. ‘n Ander jaar, darm nie langs die pad nie, het die blik besluit om op ‘n bloedige warm dag in Windhoek te breek. Dit was darm die geluk by die ongeluk, maar ‘Jam’blik is nie mooi aangespreek nie omdat dit voorgekom het asof ons die familie se erf in ‘n skrootwerf omskep het. Met al die ou blik se bloed en derms oral het hierdie ‘pit stop’ in ‘n hele dag se nerwe toets aksie ontaard. maar ons het die see gehaal…..soos al die ander kere.
…….en dan was daar die battery
‘n Pap battery was ‘n chroniese siekte vir ‘old faithfull’, en daar was nie pille vir dit nie. Soms het hy geen krag gekry nie, en na vele oi oi’s van die engine se kant af, moes ons altyd daai swaar seun teen ‘n opdraend in die garage instoot. Die ma het natuurlik glad nie gedink hierdie gestotery is snaaks nie, dit kon ons duidelik hoor uit die brommery en oogrollery! Deur die jare moes ons baie stoot, en nie net met hierdie Wolkswagen nie…….
Elgeval, een aand het ons gery om te gaan bel by die kaarttelefoon (dit was voor selfone en roaming), en tjor het toe besluit tot daar en nie ‘n dooie tree verder nie. Simpel battery. Gelukkig kom ons buurvrou daar verby met haar Jeep en hak ons aan. So in die ry probeer die pa om die tjor weer aan die gang te kry, en wraggies hier halfpad gebeur die wonder!
Hy probeer toe om ons sleeper se aandag te trek deur die ligte te flits en deur die briek te trap,. Elke keer wat hy dit probeer het, was daar ‘n harde ruk aan die tou en het ons soos uit ‘n kettie vorentoe geskiet. By die huis gekom vra die pa hoekom sy nie gestop het nadat hy al sy truuks getrek het nie. Haar antwoord was vir ons skreeusnaaks. Sy sê dat sy gedink het dat die sinkplaatpad gemaak het dat die ligte flits en dat die effense opdraende die ‘briek’ veroorsaak het, en dan het sy maar weer vet gegee. om momentum te behou. Die moontlikheid dat ons stuk blik sommer so vanself weer aan sou kom het glad nie by haar opgekom nie. Sy het immers al telkemale gesien hoe ons die ‘Jam’blik snags ‘in die bed’ moes stoot.
………en die sand
Ons was ook in ‘denial’ oor hoe veel van ‘n 4×4 hierdie Volkswagen dubbelkajuit ‘half loaf’ was, want ons het verseker gegaan ‘where no man has gone before’ met ou ‘Jam’blik. Hierdie was maar ‘n egte ‘you win some you lose some’ storie, want partykeer kon ons gaan waar ons wou, en ander kere het daai swaar ding tot by sy pens in sand vasgesit. ‘But fear not’ ons het genoeg oefening gehad en het oor die jare heen die beste uithalers van voertuie uit sand geword. As jy eers so ou lomp swaar ding uit ‘n poeier of ‘n soutgat uitgekry het, moet jy ‘n diploma of iets kry sodat jy hierdie vaardigheid op jou CV kan sit.
Een keer was daar GP mense met hulle ‘fancy pants’ stadskar wat tot by sy pens vasgegrou was en hulle oê en hare was wild van verskrikking. Mens sou dink dat mense wat in ‘gangsters paradise’ woon meer staal in hulle murg sou hê. Maar soos ‘n wafferse Don Quixote het die steeks -donkie- jam- blik hulle te hulp gesnel (ok, snel is dalk bietjie te veel van ‘n sterk woord, maar ons was oppad), Vir hierdie oomblik is ons deur jare se stoot en trek voorberei. Ons het doelgerig hulle kar omsingel en hulle het gesien ons gaan nie moeilikheid van hulle lig -in- die- broek- blink- kar vat nie en het eenkant gaan staan sodat die meesters kon werk. En voor jy kan sê ‘stadsjapie in ‘n sandgat’ is die kar daar uit.
VW 2.0
En so gebeur dit toe dat ons die ou blik nie meer kon vertrou op die langpad nie, en ons kry ‘n tweedehandse gewone kombi met ‘n Ford engine. ‘Apparently the best of both worlds’ maar ou Henry het seker nie gedink dis snaaks dat ons sy engine in ‘n germaanse verpakking sit nie. En sommer met ons eerste vakansie leer ons dat dinge nie noodwendig gaan rooskleurig wees met ons ‘nuwe’ wiele nie.
Met ‘n ompad see toe
Daardie eerste keer met die nuwe wa ,het ons besluit om op te toer Wlotzka se see toe. Ons het nie veel verder gekom as dag een sonder probleme op die pad nie. ‘Never mind’ nie vêr nie, want 2 ure duskant die huis het die probleme begin. Die kombi het begin warm word, en dit was Desember, so dit het nie gehelp nie. In Upington aangekom ontplof die kar se binnekant in ‘n wolk van stoom, en daar sit ons in die middel van die dag gestrand in Upington in Desember. Need I say more?!
Na baie gespook het ons darm die aand Augrabies gehaal, maar die arme kombi was nooit weer dieselfde nie. Ons moes vir die volgende week kort-kort stop om die engine te laat afkoel. Dit was ‘n hele gedoente, want soos ek voorheen gesê het, lyk ons met vakansie asof ons deel is van die uittog uit Egipte. Ons het so baie in die middel van nêrens in – en uit gepak, dat ons daarin ook ‘n diploma kon verwerf het. Maar na ‘n week se spook en groot woorde het ons die see gehaal.
As ons nie geglo het dat moeilikheid vakansies interessant maak nie, sou ons seker elke jaar ge-Jan Tuisbly het. Daarmee saam is die Pa uiters handig (dit help as jy vliegtuig engines ken) en deur die jare heen het die broer ook die ‘tricks of the trade’ geleer, so ons wassiebangie!
Die reguit pad see toe
Die jaar daarna was ons salig oppad, toe ons weereens langs die pad gaan staan, Daardie keer darm al aan die ander kant van die grens maar in die middel van niks en nêrens, met geen boom in sig nie. Weer in die Afrika Desemberson Maar ons ken die dril. Daar word vasgestel dat een van die seëls van een of ander ding gegroet het. Waar gaan ons hulp vandaan kom? Van ‘n tissue boks en vasaline! Net soos MacGyver dit sou doen. Die pa het ‘n seël gesny uit die boks, dit vol van daai vetterige goed gesmeer, en ons het see toe en terug met daai DIY gery!
In die mirrel
Ons het al duskant en anderkant die grens gaan staan, maar het ons al ooit draad gesit? So waar as vet JA! Ek kan nie eers onthou wat daardie keer fout was nie, maar ek onthou die broer, in die skemer op die grens halflyf onder die kombi terwyl een of ander ‘fancy pants’ seun in sy blinkswart sportmotor vir ons lag, revvvvvvv en wegjaag sonder enige inspanning. Al wat ek kan sê is dat die agter skilpad ook in die kraal kom. En ons het, soos elke jaar…..
Met hierdie kombi was ons ook nie kwytgeskeld van stoot nie. Nee meneer. Een oggend in ‘n oorvol Swakop moes ons die kombi uit sy parkeerplek stoot en probeer om ongeduldige vakansiegangers in hulle fêncy voertuie asook die stoters se voete te probeer ‘dodge’ . My stukkende skoen kon getuig dat die ‘dogde’-ery nie heeltemal suksesvol was nie aangesien my voet onderdeur is, maar ons is daar uit.
‘n Ander baie berugte storie was toe die Nig en Neef vir ons kom kuier het en ons die kombi uit die woestyn moes stoot, nie oor hy vasgesit het nie, maar omdat die battery pap was. Ons almal was uitgetrap omdat ons nie gesien het dat die ligte aan was nie (en die ou voertuie het mos nie biep- biep- die- ligte- is -nog- aan alarms gehad nie) en daardie simpel battery gaan mos dood na net ‘n knertsie se gebruik, en raai wat? Dan moes ons werk deur te stoot. Ons 2 nigte en newe praat nou nog oor daaardie simpel stotery.
BeatleJuice
Die 2 kombi’s is nie die enigste Volkswagens wat gekoppel word aan Wlotzkas nie. Daar was ook ons Beatle wat Viskar geheet het, want wel….dit was die kar warmee ons gaan visvang het. Viskar is een jaar herdoop na BeatleJuice toe deur die niggies. Ek het eers jare later gesien wat BeatleJuice was toe ek nie meer in die PG groepie geval het nie en shame. om vir arme onskuldige Viskar te herdoop na daardie skerminkel was nie baie mooi nie, wel kreatief.
Viskar was op sy dag ‘n mooi blou Beetle wat ‘n dakrak en visstokhouers gekry het. Hy het ook, geen verrassing daar, na vis en aas geruik en ook sonbrand room. Daar was altyd ook ‘n slaapsak, kussings, ou Huisgenote en baie sand in hom. Deur die jare heen het ou Vis meer bruin as blou geword, maar hy het steeds gery. Tussen Beetle en Jamblik het ons geleer bestuur in die woestyn. Op ‘n tyd mag ons 2 skerminkels in die middae alleen uitgaan, maar eers wanneer ‘peace time’ verby was want hy het heeltemal te veel geraas.
Die Dakar Vis
Dan het ek en die broer in die soutpanne gaan ry. As ons nou moet eerlik wees…. het ons vir Viskar volspoed getrap, maar ou Vis se volspoed kan glad nie as jaag gesien word nie. Ons was maar steed skilpaaie, net in ‘n ander VW. Dan het een gery terwyl die ander een gemaak het of die toiletrol die aanwysings is, en ons het randomly ge-sharp left of ge- sharp right soos wafferse Dakar jaers. Ons het so een of 2 keer bietjie drooggemaak in gate wat die diep was of hobbels wat te steil was. As mens hulle te vining aandurf, verander die voorkant van jou tjor in ‘n graaf wat sand en poeier oral in die lug opgooi.
Ons 2 was nie die eerstes wat ‘n Beetle maak ry het nie – dit is in ons bloed soos julle hier sal sien. Kliek daarop, ek dare jou…
Die laaste keer wat die Viskar in staat was om vorentoe te beweeg, het ek ‘n redelike benoude boude oomblik gehad. Ons het afgepak na ons groot trek en ek kon die kar gou vir ‘n spin vat om hom op te warm na ‘n jaar se staan in die garage. Ewe rustig begin ek ry, en kom agter die ou Vissie al vinniger ry, en toe ek weer sien is daar ‘n heining voor my en vissiehettiebriekenie!
Ek sien hoe ry ek dwarsdeur die paalheining en deur ons opslaan huis, maar aangesien ek nie ‘n vandaal is nie ruk ek die sleutel uit die aansitter en trek terselfde tyd die handrem. Daar snik die Beatle dood met sy neus teen die paal. Op nadere inspeksie kom ons agter dat kabels en ander dinge afgeroes het en daarom het hierdie ‘joyride’ gebeur. Dit was die laaste jaar van die Beetle. Hy staan nou afgetree, met net nog sy bande wat relatief herkenbaar is, en wag dat ons dit oor ons harte kry om hom ter aarde te bestel.
Storie op ‘n stokkie
Daar is dit, Wlotzkas en Volkswagens. Ou ‘Jam’blik staan na al die jare steeds in die pa se garage, maar hy is nou net blik nie meer tjor nie. Arme Beatle was na die noue ontkoming nooit weer gery nie en dit was seker ook 15 jaar terug. Hy staan baie hartseer in ‘n toe garage langs die see en roes net verder weg. Die half-half kombi is jare terug verkoop so as ons nou see toe gaan ry ons met heeltemal ander voertuie waarmee ons ook , kom ons noem dit ‘avonture’, gehad het.. Ons het steeds tyd om drama (onwillekeurig) in te werk oppad of terug van die see af, met my Opel of met die broer se Isuzu. Eintlik sê dit net vir my dat ons die ‘common denominators’ van al die ‘strandings’ is. 😜
PS Nadat ek na al hierdie jare se drama kyk, kan ek sien hoekom ek al my eie dramas op die treine en vliegtuie oorleef het. Al die drama met die Volkswagens het my voorberei om te ‘just breath, ‘keep calm and carry on’ en om ‘n storie in die drama te soek. Ek moet dan seker sê dankie VW😉👍
Lughawe en trein dramas
- Derde dogter trouekspedisie
- Heathrow en Murphy,
- Strike like an Italian,
- Trains splitting in Germany,
- Epiese drama oor die trein na La Spezia
Ek reken die trou storie en die moeilikheid om by la Spezia uit te kom was my grootste dramas met vervoer ooit, maar die ander moet defbeslis ook eerbare vermelding kry.
Follow me here