Die derde dogter trou ekspedisie
In ‘n skribbel so ‘n entjie terug oor drama wat ek op die lughawe gehad het in Engeland, het ek genoem dat ek nog ‘n hele paar sulkes te vertel het aagesien ou Murphy daarvan hou om op my hakke te trap as ek probeer beweeg na, in of weg van ‘n lughawe. Gesien in die lig dat ek niks nuwe stories het om neer te pen nie, het ek hierdie epiese lughawe verwante drama uit my argiewe gaan opdiep. So here goes…….
Eendag lank gelede
Daar is ek een Vrydag oppad van Potch af Windhoek toe vir die Derde Dogter se troue. Met my jy-moet-vroeg-begin-vir-ingeval-iets-verkeerd-gaan houding en ook die pa se aanmaning om baie vroeër in die pad te val, is ek al 6 uur in Trix oppad OR toe vir my vlug om 12 uur. Potch is nou nie juis landuit van Johannesburg nie, so ek moes ‘n hele paar ‘pliggie’ en ‘skilpad’ grappe aanhoor van die ‘peanut gallery’. As ek maar net geweet het het ek so waar as vet nog vroeër in die pad geval!
Nog nie eers ‘n halfuur gery nie,net duskant Fochville, is die pad toe as gevolg van ‘n ongeluk. Ek was egter min gespin, het salig gesit en radio luister, want ek is mos vroeg weg juis vir dinge soos die. Vat so spotters van vroeg ry!
Na ‘n baie lang wag ry ek aan en kort voor lank is ek by Soweto verby en skielik kom die verkeer weer tot ‘n stilstand om daardie draai. Al die bane staan stil. Slakke kan vinniger beweeg. Letterlik.
In die begin was ek nie te veel gekomkommer nie, maar……toe hou die ‘slow strike’ nie op nie. Smaak my elke halfuur kry mens ‘n meter beweeg. En na die hoeveelste oproep van die kar-parkeer-mense om te hoor waar ek is, het ek al meer begin naels kou.
Ek was veronderstel om 3 ure vooraf by lughawe wees vir my ‘internasionale’ vlug en die kar-oppas-mense sou my tjor tussen 8 en 9 kom haal het. Elke keer wat hulle bel raadpleeg ek toe die GPS, en al wat hy sê is ‘n ‘time of arrival’ lank na my vlug.
Ek kon nie omdraai of uitdraai, en was vasgekeer in hierdie stroom van stilstaande verkeer in die stad. Plattelanders ken nie hierdie dinge nie. My nerwe was op, weg, klaar. Al het ek ‘n GPS het ek geen benul waar ek was nie en na ure se stilstaan en hoop op beweging was ek amper van my trollie af. But wait, there is more! Net soos in daardie irriterende Verimark en kie advertensies. My ou tempramentele tjorrie het ook nie te veel van die stop en meter ryery gehou nie en begin oorverhit. Dit is ‘n ‘more ‘ wat maar kon gebly het.
Ek sien al hoe verpas ek my vlug en hoe ek verbokkom in hierdie son sonder lugversorging en hoe my kar in ‘n bol rook opgaan. (As jy my familie se geluk met voertuie ken, sou jy weet dat hierdie nie buite ‘the realm of possibility’ was nie). Dit help ook glad nie dat hierdie plaasmuis, wat dink spitsvekeer is wanneer twee voertuie op dieselfde tyd op dieselfde grondpad ry, nog nooit self hierdie stuk pad gery het nie.
Uit-verdomp- eindelik weet ek wat aangaan. Wraggies was hier ook ‘n ongeluk, nie eers n groot een nie. (in my kop was daar riots en klipgooiery). Dit was net ‘n lorrie wat loop dwars draai het oor die bane en in die muur vasgery het. Teen hierdie tyd wil ek met my tjor die lorrie uit die wêreld ry, maar daar is nie tyd nie want daar is ‘n stroomversnelling van verkeer en ek kan weer die slak verbysteek.
Eindelik by die lughawe, amper te laat, was ek in so ‘n warrelwind aksie by die kar uit dat ek die helfte van my goed vergeet het. Daarna hardloop ek soos ‘n wafferse ‘Amazing Race’ deelnemer om ‘checkin’ op te spoor. In die haas bly die stoepid wielietjiestas omdop, hy is defbeslis nie gemaak vir Amazing Race tipe sprints nie…my longe ook nie.
Nadat ek eindelik die toonbank opgespoor het, bewe ek soveel dat ek nie die kaartjie vir die vrou kan gee nie. Haas my weer terug om die ingang op te spoor, staan in rye by paspoort konrole en storm na my ‘gate’ toe, 5 minute voordat die die ‘gate’ gaan toemaak!!. Soos iemand wat na dae uit ‘n woestyn in ‘n oase aankom, sak ek neer en probeer my asem, nerwe an varkies terug te kry.
Haal vlug betyds. CHECK! Al was dit ook baie moeiliker gesê as gedaan. ‘n Wen is ‘n wen!
Eindelik oppad… tot die volgende mylpaal kom. Ek kry moeilikheid op die ander lughawe omdat ek nie die regte adres vir die familie het nie, gelukkig laat hulle my deur na vele woordwisselings. Ten minste was ek op Nam bodem, dis nie asof hulle my op die lughawe gaan laat bly tot my terugvlug nie. (hoop ek, ek sal daardie teorie maar nie op ‘n volgende keer toets nie). Ek is nie so seker oor die 2 backpackers wat agter my in die ry was nie, hulle het oor dieselfde addres ding woorde gewissel maar was buite -buitelanders.HIerdie hele doane woordwisselling was ‘n ‘minor detail’. Ek het al erger met die doane op die grens te doen gekry.
Ontsnap die lughawe en sien die 3de Dogter CHECK
Die naweek gaan lekker maar vinnig verby en toe ek weer sien was dit tyd vir die terugtog. Ek het gehoop dat Murpy daar gaan agterbly, maar ek moes van beter geweet het ter ‘mental’ voorbereiding.
Die vlug wat ek bespreek het ek ek spesifiek gekies sodat ek nie in die donker op die Johannesburgpad terug Potch toe hoef te ry nie. Dit was die plan in elkgeval. Ons terugvlug was toe bietjie meer as ‘n uur vertraag omdat ‘n ander lugredery se vliegtuig stukkend of vertraag was. Vertraag is die regte woord en nie in die stadige sin nie. Daardie vlug se passasiers moes toe saam met ons duimgooi terug SA toe, en al daardie ekstra duime het nie gesê ‘Sharp’ nie. Maak nou nie saak nie, op die einde was ons tog oppad OR toe.
By OR aangekom is dit al skemer, maar alles gaan mos OK wees…….Maar toe kom die bagasie nie uit nie! Die vervoerband is gebreek en die bagasie is iewers onder die gebou gestrand. Na seker ‘n uur se hanna-hanna skiet die bagasie soos pyle uit boë uit die dieptes van die lughawe uit. Ek neem aan dit was op ekstra spoed gestel om tyd op te maak. Die projektiele land met onseremoniële harde slae op die vervoerband en ek sien net hoe 2 groot bottels knoffel in my sak breek (Ja ja, ek het knoffel in my kleretas gehad). Dit was gelukkig die enigste ding wat op hierdie dag nie verkeerd geloop het nie!
Kom darm terug in SA met bagasie al is dit laat. Check
Teen hierdie stadium van die geveg is dit nou al ure later as wat ek oorspronklik beplan het om Potch toe te ry en ek is haastig om in die pad te val. Ek moet net my tjor kry en ry. Dit klink so maklik, maar kommaan, dis ek! En as jy tot hier gelees het en gewonder het of daar nog moontlik ‘n ‘wait there is more!’ kan wees…. Wel daar was!
Ek gaan na die ‘drop off zone om my kar te kry, maar daar staan geen Noord-Kaap Opel nie. Ek loop die hele voorkant van die gebou op en af en kry flashbacks van daardie Sondagaand wat my tjorrie by die kerk gesteel was. Probeer kalm bly en die kar parkeer mense bel. Uitfreak is net om die draai toe nie een van hulle nommers werk nie. Nie een keer wat ek bel nie. Al wat ek hoor is daardie pooop pooop poop klank van ‘n foon wat nie werk nie. Al wat ek in my gedagtes sien is SCAM! Ek het geval vir een.
Bel in ‘n flatspin ‘n vriend om op hulle website te kyk of daar nog ‘n ander nommer of iets is. Terwyl ek wag, loop en soek ek iemand met oranje, want dit is hulle univorms se kleur. Kry een, maar toe ek hom vra of hy van die kar maatskappy is, sê hy net nee. Flatspin se moses. Ek daar staan ek toe in die donker op die lughawe se voorstoep in Gangsters Paradise soos iemand wat geen brein het nie, met geen plan en geen aksie nie. Lot se vrou.
Na so ‘n rukkie kom meneer oranje na my aangestap, nou is ek al versigtig want die mense hier buite sien eks alleen al vir die afgelope beter gedeelte van ‘n uur. Na alles wat gebeur het sal dit my nie eers amper verbaas as iemand my sou probeer beroof nie. Maar helaas, dis goeie nuus. Hy dink hy kan my help en bel iemand, en tarra, 15 minute later verskein Trix die Opel uit die niet. Liewe ouers, die oranje mannetjie kon mos nou al hoekal vir my gehelp het!
Kry my kar terug CHECK. Naas ‘haal die lughawe betyds’ was hierdie die belangrikste om af te merk van my lys. Dit sou waaragtig die toppunt van hierdie naweek gewees het as my kar voete gekry het omdat ek ‘n ‘fake’ karparkeer besigheid gebruik het.
Teen daardie tyd is dit al hoekal donkernag en ek val in die pad. Teen hierdie tyd glad nie meer haastig nie want al daardie skepe het al geseil. Ek was wel ‘n bietjie verskrik toe die GPS geen sein kry vir die eerste 10 minute nie. Gelukkig skielik…calculating… en eindelik kan ek huistoe. Reg? Verkeerd!
Dit is donker, en ek ken nie hierdie paaie nie, so as die GPS sê ‘keep right’ al is die Kimberley bord links, dan ‘keep’ ek ‘right’. Toe ek weer sien skyn my ligte op een of ander bord wat iets van ‘n Soweto skool sê. Bomverskrik mik ek terug na die hoofpad se ligte en daar is ek weer oppad terug Johannesburg toe. Die eerste afdraai wat ek kry vat ek en probeer weer terug op die Potchpad kom terwyl die GPS histeries ‘recaculate’ omdat ek nie meer ry waar sy sê nie. Ek het toe haar bek stil gemaak en nie weer agter haar kokai aanwysings gery nie, net agter die Kimberley bordjies aan…… tot ek ou nag by die huis gekom het.
Kom terug in Potch. Heel, ek en my kar. CHECK
Follow me here