☘The luck of the Irish☘
As jy al ‘n paar van my stories* gelees het, sou jy sien dat ek maar nie te veel ‘luck’ het nie. As daar iets kan skeefloop, dan sal dit iewers, MAAR toe kom ek in Ierland, en so waar as vet ervaar ek ook so ‘n bietjie van die ‘luck of the Irish’. Bygesê, die ‘Irish luck’ het eers ingeskop na die ‘plain straight forward bad luck’ my probeer pooitjie het.
Laaaank gelede, het ek geskribbel oor dans in Dublin, Hierdie is nou die dag daarna…..
Ons was weer aangewese op publieke vervoer en ons het treinkaartjies gehad na Belfast in Noord Ierland. Om hierdie kaartjies te kon kry was ‘n storie en ‘n half, maar uiteindelik was hulle ons s’n (nadat iemand terug in SA, dit vir ons moes koop omdat ons nie self kon nie). Wat ek eintlik wil sê met ‘n lang draai, is dat ons op ‘n sekere tyd op die stasie moes wees anders was ons gesnoeker.
Op en wakker
Iewers het ek wakker geword en gesien dat dit al lig was. Lig genoeg om te dink dis al ‘go-time’. Ek spring met ‘n vaart uit die bed omdat ek gedink het dat ek verslaap het en die trein gaan mis. Toe nou nie, want toe ek my foon uitruk om te kyk hoe vining ek my varkies op hok moet kry sien ek dit is net duskant 4 uur die oggend!
As mens eers met hartkloppings en paniek uit slaap uitgespring het, kom mens nie regtig weer aan die slaap nie, veral nie as dit die son al begin skyn nie. ‘Needless to say’ , was ek al lank voor die tyd klaar en kon ek rustig aan my baie ‘fancy pants’ ontbyt gaan eet het, soveel ek wou. (Ek het asseblief gevra dat hulle nie vir my ‘black pudding’ in my bord sit nie, al is dit hoe ‘tipies’. Afval tipe kos val nie vir my in die ‘fancy pants’ kategorie nie. Come to think of it, my ‘pants’ was nou ook nie eintlik ‘fancy’ genoeg om daar in te pas nie. Anyway….)
☘☘☘
En toe val ons in die pad. Seker nie 5 minute verder nie is my tas skielik haaks. Ek draai toe om en sien doer eenkant lê sy wiel. Hierdie ongeluk is waar die geluk ingekom het, vir 2 redes:
💲Net voor ek by die blyplek uit is het ek my laaste 4 Euros uit my beurse gehaal omdat ek dit nie in Noord Ierland sou kon gebruik nie en sodat ek nie in my sak hoef te gekrap oppad stasie toe nie om watookal te koop. ‘n Souvenir, ‘n koeldrank, enige iets. Ek stap toe af in die pad met 4 Euros vasgeknyp tussen my duim en wysvinger.
☘Raai waar breek my wiel. Reg voor ‘n hardeware winkel…..wat al oop is. Ek sleep toe die tas daarin en vra die Ier of hy ‘n plan het vir my tas. Hy sê superglue en gee my die pakkie. Dit kos ‘n knertsie meer as 4 Euro. Ek dink dit was 4:30 of iets. Ek begin krap in my sakke om te kyk of daar nog verdwaalde sente iewers is. Die ou sê toe: It is fine, that is near enough’ en hy vat die geld wat ek gehad het. Trifecta! Hardeware winkel-1 ,geld in hand- 2, empatiese Ier – 3
Luck (and friendliness) of the Irish I tell you!
Swaar dra al aan die een kant….en dan die ander kant
Met die gom en die wielmegafter in my sak, moes ek die tas egter steeds tot by die stasie dra wat seker nog so 10 minute se stap was. My tas was lig, want ek het geweet ek gaan hom baie moet op en af, maar dit was steeds vrek ongemaklik om met hom oor die weg te kom. Maar het in goeie tyd by die stasie uitgekom, en ander kant af. Dit was wel nie grappies om die backpackers te kry met ‘n tas in die hand nie. My gesig was rooi en my bene was letterlik blou.
Die aand voor die vlug Skotland toe, is dit operasie ‘puncture repair’. Ek en my tas het amper die hele sitkamer oorgeneem. Ek het die wiel geplak en vasgedruk tot hy droog was en agtergekom dat ek my vingers ook so bietjie geplak het. Terwyl hierdie petalje aan die gang was, het ‘n meisie van Korea daar kom sit en gesels. Sy was noggal bekommerd oor my stukkende tas.
Superglue jou lekker ding!
Die volgende môre was ek te bang om die tas te sleep uit vrees dat die wiel weer gaan afbreek. Ek het seker so ‘n kilometer die tas gedra voordat ek opgegee en besluit het om maar die ‘fix’ op die proef te stel.En wraggies waar!! Bo alle verwagtinge hou die wiel tot by die busstop, tot by die vliegtuig, al die pad deur Skotland tot ek hom die laaste keer sien by ‘bagage drop’ by die lughawe oppad terug. Dit was ook ongelukkig die laaste sien van wiel, want by OR het my tas uitgekom met net een been. Gelukkig was daar trollies, so ek het lig daarvan afgekom.
Voor ek hierdie ‘lucky’ storie afsluit wil ek net nog ‘n wiel verwante iets noem. Na Belfast, was ons 2 dae in Cairngorms en toe Edinburgh toe. Die 2de dag daar het ons Arthur’s Seat gaan uitklim. En wie is daar? Die meisie van Korea van Belfast! Toe sy my sien was haar eerste vraag aan my: What happened to your suitcase? Met groot tevredenheid kon ek haar vertel dat superglue die beste ding Suid van Saigon is.
*As jy nog nie die ander sy van my ‘Irish Luck aka Murphy’s Law’ raakgelees het nie, hier is ‘n paar skakels waar jy net jou kop sal wil skud en sê: Nee wragtig!!
- Eerste is seker die gesukkel om ‘n treinkaartjie na Belfast te koop (net omdat dit eintlik maar deel is van hierdie skribbel.
- Stakings in Italie,
- Siekte en reên op ‘n staptog
- Vespa drama
- Die moeilikste reisdag wat ek nog ooit gehad het
- Treine wat split in 2
- Travel trauma – Duitsers wat jou op jou plek sit sonder dat jy weet wat aangaan
- En dan nie vergeet van die vele drama op lughawens nie. (en heride is net een van my ‘on’gelukke, op lughawens. Eendag sal ek nog die res neerpen.