Die Cliffs of Moher
Na ‘n pragtige lang dag op die skiereiland van Dingle, het die volgende avontuur gewag. ‘A walk on the wild side’. ’n Stappie op die rand. Die rand van die Cliffs of Moher.
Reën en veerbote
Ons trek los vanuit Tralee in ‘n effense druppery. Die weer is nie so vrolik soos die vorige dag nie en dit is effens koel en nat. Dit was maar ‘tough cookies’. Ons het al te heerlik gery tussendeur die mooi landskappe tot by die veerbootoorgang. Daar is ons en die rooi wa oor na die oorkanste wal. En toe kry ek koud.
Liewe ouers dit was koud daar op die water! Ek was baie bly om aan die einde weer in die kar te kon klim. Van daar af was dit nie honderde jare se ry tot by die plaashuis waar ons die kar kon los nie.
Cliffs of Moher
Ek wou nie by die hoofingang ingaan waar jy ‘n arm en ‘n been betaal om saam met duisende ander mense te staan ek kyk na die afgrond nie. Ekt gegoogeleer vir ‘n alternatief en een gekry. Ons het die kar by die plaashuis gestop en al te heerlik gewandel in die rigting van die kus op ‘n ou plaaspad tussendeur lui beeste.
En dan skielik tref die uitsig mens. Duisligwekkende hoê kranse. Dis groen en blou met wit spikkels wat heen en weer vlieg. Daar is die geluid van duisende seevoëls wat doer vêr vlieg en die gevoel van ‘n koue seebries wat teen jou waai. Dit is werklik iets wat mens nie kan beskryf nie al probeer jy. En fotos is maar net nie ‘n ware weergawe van wat mens sien nie.
Daar op die krans se rand voel mens net so groot soos die seevoëls wat een en weer vlieg. Nie baie groot nie. En mens wens so bietjie dat jy wel kon vlieg…..want dit is vrek hoog en steil, Daarmee saam het die voëls die beste belewenis van die kranse.
Mens voel dit is vanselfsprekend dat mens nie op die rand gaan staan en selfies nie nie. As jy daar gly is dit good bey merraai. Maar tog is daar oral borde op wat mense vra om weg te bly van die kant met fotos van stoeeeepid mense wat wel seker nie ‘n bang haar, of common sense het nie.
Al het ek nie hoogtevrees nie, is ek maar effens bang vir val, want ek weet defbeslis hoe om dit te doen. Daarom bly ek en my ‘common sense’ vêr genoeg weg van daar waar die ‘horror’ musiek gaan begin speel.
Puffins
Dit is ‘n goeie paar kilometers se dapper en stapper tot halfpad waar al die ander mense rondhang. Waar ons begin het is dit redelik stil wat voete aanbetref, maar hoe nader mens aan die middel kom, hoe meer raak die mense.
Dit was lekker stap al die pad. So nou en dan het my ore gepyn van die wind, dan het ek my kop bekappie en bebuff en dan weer aangegaan tot dit weer warm was, wat amper elke 5 minute was. Dit was heeltyd aan uit aan uit.
Naby aan die ‘Visitor Centre‘ is daar teleskope om na die Puffins in die kranse te kyk. Ek kan sê dat ek ‘n puffin gesien het, maar dit was so op ‘n afstand, dit kon netsowel ‘n pikkewyn gewees het.
Troues en Pieknieks
Teen hierdie tyd is dit al goed koud, donker en winderig, en ons besluit om nie na die ander helfte van die kranse te stap nie, want iewers gaan ons ysig natreen. Ons draai toe terug kar se kant toe. Oppad terug is daar ‘n paartjie wat troufotos neem. Die vrou het kortmoue aan en staan in die ysige koue op die krans. Ek hoop ‘Photoshop’ kan hoendervleis uithaal.
Na ‘n paar kilometers, toe die reën ons nog nie ingehaal het nie besluit ons om te piekniek. Daar sit en eet ons toebroodjies op die rand van die Cliffs of Moher. Dit was my mooiste ete uitsig ooit! Daar het ons in salige stilte gesit en eet tot ons skielik die reën kon hoor aankom. Ons het net gegryp en in die hol verder geeët.
Ons het dit redelik droog gemaak tot by die kar, en was daar windbeskerming toe heerlik.
Rigting Dublin
Na hierdie onvergeetlike uitsig en belewenis mik ons na Dublin se kant toe. Maar eers moet ons nog heelwat smal paaie trotseer het. En as ek sê smal is dit wat dit is. Ons moes skielik briek aandraai toe ‘n bus op ‘n smal draai stop. Hoekom? Wel, daar het ‘n bus van vooraf gekom in die smal draai. Die pad was te smal vir altwee en nie een van hulle kon, die een berg op en die ander een berg af agteruit ry tot iewers waar hulle kon uitdraai nie.
Die busse was darm oulik. Ek neem aan dis ‘n daaglikse verskynsel vir hulle. Hulle was koel en kalm, het altwee net genoeg ge-tru dat die ander verkeer deur hulle kon kronkel. Wat daarna gebeur het sal ek nie weet nie want ons kon darm ook verbykom en verder ry.
Eindelik kon ons die hoofpad Dublin toe kry. Ons het nie al die pad tot daar gery nie. Ons sou kon, maar verblyf daar was verskriklik duur en ons wou nie hoef te gejaag het om inklok tye te maak nie, toe bly ons in die klein dorpie Kilbeggan., net so ‘n uur se ry buite Dublin. daar het ons opgewarm met koffie en jip, ek het gaan skattejag. Wat anders kon ek doen 😉
Een van my beste belewenisse ooit sal volg in die volgende skribbel.
Follow me here