Mount Herzl & Yad Vashem
Vanaf die Temple Mount, is ek weg van die Ou Stad area na die ander kant van die dorp. Die Ou Stad het ‘ou’ geskiedenis, maar ‘nuwe’ geskiedenis is ook belangrik. Met dit in gedagte het ek Mount Herzl en Yad Vashem gaan soek.
Ek deur die ou stad gestap en buite op die light rail geklim, my Rav Kav vir die eerrste keer geswipe, en gery tot by die Mount Hertzl stop. Daar kyk mens uit oor beboomde heuwels en dale. Na ‘n kort stappie af in die pad is mens daar. Links gaan mens na Yad Vashem. Regs, deur die ‘connecting path‘ na Mount Herzl. Omdat dit nog vroegerig in die dag was het ek besluit om eers die buitelig aan te durf, voor dit te warm sou word. Ek is toe regs.
Die landskap en plantegroei verander verskriklik in ‘n kort afstand. Die heuwels rondom die ou stad het nie regtig bome nie, en hier, ‘n paar minute sy ry weg, staan die heuwels onder ‘n woud. Ek het my verkyk aan die bome wat bo ‘n mens uittroon en kon nie help om te wonder of dit ook so gelyk het in die tyd van die Bybel nie. Nog nooit wanneer ek die Bybel gelees het, het ek woudgebied gesien nie. In my gedagtes is die Bybel stories ‘woestyn’. Dit kom seker maar vanuit die ‘trek deur die woestyn’. Maar die land van melk en heuning kan nie nie bome en plante gehad het nie.
Mount Herzl: Berg van herinnering
Hierdie bergtuin, is een groot gedenk gebied. Dit bring eer aan soldate wat gesterf het, mense wat vermis is en mense wat hulle lewens deur terrorisme verloor het. Die hele gebied is een groot tuin met afskortings vir verskillende gedenke. Die area is vernoem na Theodor Herzl, en sy graf is bo-op die berg in ‘n oopte.
Ek weet dit is ‘n ernstige plek, maar dit is so mooi en rustig dat ek nie kon help om die dink dat dit die ideale piekniek plek is nie. Die bome skiet die hoogte in en voëls sing in hulle toppe. So vêr mens loop ruik mens denne, Jasmyn en laventel tewyl die voëltjies en sonbesie sing.
Die plek is verskriklik groot en ek het agter my ‘App’ aangeloop om die verskillende ‘belangrike’ areas te kry. Maar die plek is so groot dat ek kort voor lank verdwaal het. Eers het ek nie omgegee nie, want dit was so lekker tussen en onder die bome, soveel mooi. Geen haas, ‘n nuwe ding om elke draai. Op ‘n kol verdwaal ek tot bo by Hertzl se graf, en toe ek vol in die son staan, besef ek dat dit eintlik nou warm is en my voete begin al prottesteer.
Ek het probeer om my weg terug te baan na die ‘connecting path‘, maar dit was baie makliker gesê as gedaan.Na ‘n verskriklike gesukkel, het ek eindelik my pad gevind na waar ek ingekom het.
Yad Vashem: Gedenk die slagoffers van die Holocaust
Eindelik weer by die begin gaan ek in deur die Yad Vashem hek. Yad Vashem is ‘n gedenk plek van die Holocaust in Israel alhoewel al die aakligheid in Europa gebeur het.
Die museum of sentrum, noem dit wat jy wil, is gebou soos ‘n reuselang ‘A-frame’ wat se een punt hang oor ‘n heuwel.
Ek was houtgerus oppad daarheen toe ek hoor iemand roep ‘excuse me’. Maar wie sê dis vir my. Ek stap an. Toe roep iemand dringender ‘Sliga’, en toe ek omdraai om te kyk of dit na my rigting geroep word, keer ‘n baie kwaai sekuriteit my voor en sê ek mag eers in nadat ek my sak gaan stoor het.
Ek moes toe terugstap, deur al die mense in die ingang beur, ‘n sleutel kry vir die locker en weer terug. So waar as vet roep hy my weer terug, en al kon hy sien dat ek nou sakloos is, wou hy eers my sleutel sien. Met seer voete na ure se verdwaal en kwaai wagte het ek skielik nie meer lus vir nog geskiedenis nie.
Plaas het ek maar uitgebly. My gestel is nie gemaak om sulke geskiedenis prontop te loop nie. Dit is n baie groot gebou waarin mense heen en weer gelei word deur die uitstallings in die ‘A- Frame’ struktuur. Daar is allerhande items wat gevind is en ou videos wat orals speel. Dit is baie goed gedoen en as mens kan, sal mens ure hier kan spandeer om alles te bekyk, te lees en te sien. Maar nadat ek die eerste video met uitgehongerde vernielde mens sien, het ek klaar my tolleransievlak bereik. Toe beur ek net al zig zaggend voort deur al die mense. Hoe verder ek loop hoe meer bewe my lip en hoe meer wil ek net aan die voorkant uitkom. Elke keer wat ek hierdie geskidenis te siene kry, kan ek nie glo wat een mens aan ‘n ander mens kan doen nie.
Dit het my teruggevat na Berlyn toe. Daar is ‘n museum ‘Topographie des Terrors‘.
Detour na Berlyn: Feb 2013
Dit was ‘n winternag in Februarie. Hierdie Kalahari kind het amper 2 maande laas son gesien, so die gemoed was al klaar nie heel lekker nie. Na ‘n dag se verkenning in Berlyn het ek verbygeloop by die Topographie des Terrors. En ek is daar in. Ek is mos nou daar om geskiedenis te leer. Dit was nie 3 draaie nie, toe wil ek ook net daar uitstorm. Dit is so ontstellend om te sien. Ek onthou foto nommer 1 in die uitstalling is waar die ‘Terror’ begin het. Foto nommer 1 was Hitler. Die foto uitstalling het die verloop van tyd uitgebeeld. Dit het net al erger geword. Vernielde, verhongerde vernederde mense.
Die foto wat my die meeste ontstel het was die foto van ‘n klomp jong mense wat vrolik verkeer iewers in n bebosde gebied. Die onderskrif lees “taking a break from mass murder’. Naby die strafkampe was daar ‘retreats’ waarna die kamp’werkers’ kon gaan om te rus. Ek het al baie boeke gelees oor daardie gbeure. Die ergste een was seker 5 Chimneys. So om te weet wat die ‘werkers’ by die kampe gedoen het, en om ‘n foto te sien van hoe hulle vrolik baljaar asof hulle die onskuld self is, het die wind uit my seile gehaal. Mens kan seker ure lange gesprekke oor dit voer…..
Terug in Jerusalem.
Ek dink Yad Vashem is baie ‘erger’ as die Topographie des Terrors. As my gestel dit kon hanteer sou ek ure hier kon spandeer, want dis regtig ‘n goeie uitstalling, ongelukkig is die ‘subject matter‘ nie iets wat ek in groot dosisse kan hanteer nie. Dat die mensdom sulke goed kon aanvang, oor en oor en oor. Een of ander bekende het gesê dat as mens nie geskiedenis ken nie, sal mens dit net herhaal. Maar ten speite daarvan dat die wêreld geskiedenis ken, bly sulke horibale goed hulleself herhaal oor die eeue heen.
Daar was buite ook nog heelwat goed om te sien. Maar ek wou nog na die Israel museum ook gaan, en ek het genoeg ‘trauma’ beleef. Uit by die hek moes ek uitfigure hoe om by die museum te kom, en dan moes ek nog betyds wees vir die Light Show by die City of David.
Hoe toe: Mount Herzl & Yad Vashem
As jy ekstra tyd het, gaan hierheen. As jy van geskiedens hou, gaan beslis hierheen. En as jy net op ‘n heuwel will staan tussen natuur en uitkyk oor die stad van Jerualem, kom defbeslis hier verby.
Dit is ‘n bietjie weg van waar al die ‘aksie’ is, maar dit is glad nie moeilik om daar uit te kom nie. Klim op die light rail en klim af by die Mount Herzl stasie. Dit is die laaste stop, so dit sal op die trem staan, dan weet jy jy is op die regte rigting. jy kan dit ook nie eintlik mis nie, want hierdie groot rooi gedoente is die ‘x’ wat die ‘spot mark’
Van die stasie af stap mens oor die pad in die rigting van die ingang van Yad Vashem en die ‘connecting path‘ wat lei na Mount Herzl. Daar is blykbaar ‘n ‘shuttle’ maar ek het nie geweet wanneer hy kom, en of hy kom nie, so dit was net vinninger om die kilo of wat te stap.
Ek het my Jerusalem App gebruik by die Mount Herzl gedenk area om te weet watter plekke die ‘moet sien’ gedenktekens is.
Die Mount Herrzl gronde wil vir my voorkom asof hulle eike dag oop is tussen 8:00-16:45. Behalwe Vrydae, dan maak hulle 2 uur toe
Yad Vashem is oop 8:30-17:00 Sondae tot Donderdae, Vrydae halfdag, en glad nie Saterdae nie. Mens moet ook vooraf bespreek maar toegang is gratis. Ek het nie geweet dat mens moet bespreek nie, en niemand het my ook vir my bespreking gevra nie.