Frankfurt
Frankfurt, nie die een in die Vrystaat nie, die dorp van Heidi, was laaaaank terug besoek, maar nog nie beskribbel nie. Hoekom nou die storie afstof? Wel, as die vriende daar verbygaan, dan onthou mens skielik allerhande mooi ervaringe en dan wil mens mooi ou koeie uit ‘Main vallei’ haal.
So hier is die skribbel van een en ‘n halwe dag op die oewer van die Main in Frankfurt.
- Euro-teken
- Eiserner steg
- Dom, St Paul & St Katarien
- Römer
- Goethe Haus
- Hauptwache
- Struwwelpeter
- Bulle & Bär
- Eschenheimer Turm
- Alte Oper
- Main Tower
- Hammering Man
Beplanning
Ek het groot geword met Heidi en Stuwwelpeter kasette en boekies, en toe die kans hom voordoen dat ek daar kon gaan rondloop, het ek dit aangegryp. Ek het die ouers saamgesleep om vir Heidi, Struwwelpeter en Johan Wolfgang te gaan soek. Hulle was later nie meer baie lief vir my nie oor al die lopery nie. Die woord ‘Cobblestones’ laat hulle nou nog in koue sweet uitslaan. maar hulle kon bly wees dat ek so ‘n ‘control freak’ beplanner was. Juis omdat hulle sou moes loop het ek alles moontlik gaan googeleer. Waar is al die stoppe, die stappe, die kortste afstand na die meeste besienswaardighede. Daarmee saam hou ek nie daarvan om te verwaal nie, en ek hou daarvan om te weet waar ek is, so teen die tyd dat ons voet aan wal gesit het in die besige stad van Frankfurt was alles haarfyn beplan.
So hier gaat ons…..
5:20 die more, eendag lank lank gelede, kon ons eindelik afklim na ‘n heeltemal te veel sardientjie-sittery op die blou, wit en geel vliegtuig. Ek dink hulle het ‘n baie kort proefgroep gehad toe hulle uitgewerk het hoe groot die spasies moet wees.*
*(Nota vir die Jude:of, hulle het ons span nodig gehad om mense te gaan meet 😉, maar jy sal gemaklik inpas)
Aangesien ek die beplanner en die ‘know-how-to-er’ was het ek voor geloop en die 2 flugvoos ou mense het agterna gepiekel. Op die lughawe het ons het gou ons ‘speel klere’ aangetrek, tande vars gewas en water oor die gesigte gespat voordat ons op ons trein is in is Frankfurt toe.
Net na 7 uur die oggend kom ons by ons blyplek aan. Dit was ongelukkig heeltemal te vroeg om daar te bly, so nadat ons van ons pakdonkie bagasie ontslae geraak het, val ons weer in die pad om die toeriste ding te doen. So vroeg in die oggend is alles nog toe, meeste plekke maak eers 10 uur oop, so ons moes gaan loop waar mens dinge van buite af kon waardeer.
Deel een in die oggend reën
1ste stop is by die Euro-teken. Dis ‘n meerdoelige stop, dis ‘n bekende ‘you were there’ plek om af te neem, en jip. daar was ‘n Geocache. Daar was ook ‘n bankie waar die 2 oues gou hulle voete kon rus.
Van daar af het ons afgeloop na die oewer van die Main* rivier. .Ons het geloop in die rigting van die Eiserner Steg, die voetgangerbrug terwyl die wolke al meer begin uitsak het. Ons somer ‘speel klere’ het al meer ‘n winter pakkie begin nodig kry.
*(Vir die wat gewonder het, dit is hoekom die naam Frankfurt am Main is. Die ander Frankfurt is is langs die Oder rivier en is Frankfurt an der Oder)
By die Eiserner steg, stap ek heen en weer oor die Main en bewonder al die slotte. Slotte vol beloftes, sommige getrou en ander leeg, maar tog verewig op die brug vir almal om te sien.
Na die brug bewandel was, het was die lug nie net toegetrek nie, dit het ook begin reën. Ons mik toe vir ‘n oop en droë besienswaardigheid. So vroeg in die oggend was al wat aan hierdie vereiste voldoen het die Frankfurter Dom. In daardie grote kerk het ons herberg gesoek en in die stilte van die môre gewag totdat dit bietjie droeër was buite. Ons het gesit in die bankies en geluister na gesang terwyl dit alles terug eggo van die hoë mure en plafon. Mens hoef nie ‘n katoliek te wees om die gebou te bewonder of die klanke daarbinne te ‘voel’ nie. Buiten die bewondering en herberg, het die reën gemaak dat die die 2 oues gou hulle bene kon rus en hulle heupe kon olie.
.
Toe Noag se ark nie meer nodig was nie het ons rondgedwaal rondom die Römer, want as jy nie daar was nie, kan jy nie sê dat jy in Frankfurt was nie. Die Römer gebou, al is dit ‘n ikoniese Frankfurt am Main gebou, is ongelukkig nie heeltemal oorspronklik nie omdat dit gedurende die oorlog erg beskadig was en daarna herbou was. Hierdie was ongelukkig ook die lot van vele ander historiese gebou regoor Duitsland. Maar vir ons buitelanders, is dit steeds iets besonders om te aanskou en die spreekwoordelike T-shirt van te kry.Die Römer is ‘n deel van die Altstadt, en ons het in hierdie klein plein rondgewaal totdat dinge begin oopmaak net hier voor 10 uur se kant. Die vroeë hoender kry die wurm, want dit was nog nie eers 10 uur nie, en ons kon al ‘n paar ‘wurms’ van ons Frankfurt lys afmerk.
Van die ou stad wandel ons meer Wes in die rigting van waar Johan Wolfgang gebly het en loop verby die bekende St Paul kerk, waar daar ook allerhande vervoer bymekaarkom, so as ons nie sou wou loop nie, sou ons maklik kon ry.
Toe die allerbelangrike 10 uur aanbreek was die Goethe Haus eerste op my wenslysie. By die PUK het ek te doen gehad met ou Goethe, so ek wou baie graag gaan sien waar die seun vandaan gekom het. En sy huis het nie telleurgestel nie. Die plek is baie goed herstel en instand gehou. Daar is ‘n ou horlosie daar wat ons almal eerste sal onthou wanneer ons terugdink aan daardie huis. Dit is so groot en lyk gekompliseerd, maar dit het al daardie jare terug gewerk, en dit werk steeds.
Ek was al te veel kere by ander ‘historiese geboue’ telleurgesteld. Hulle vul baie kere die leë dop van ‘n gebou met allerhande ander dinge wat nie daar hoort nie. Hierdie was nie een van daardie plekke nie. Dis goed bewaar en herstel. Dit lyk amper asof die huismense netnou nog gaan terugkom.
Hierna val ons in die pad en ek kom agter my baie goed deurdagte en gemerkte kaart is misplaas, so toe loop ons in ‘n paar sirkels en sien ‘n paar dinge voordat ons by die Hauptwache area kon uitkom. Hierdie was eens op ‘n tyd ‘n ‘polisie’ stasie en tronk, maar vervul nou ‘n baie vriendeliker doel, dis nou ‘n kaffee van waar mens die wêreld en die ander landmerk, die Katarina kerk, kan bespied.
Rondom die Hauptwache is heelwat goed om te sien (hier kom ook baie publieke vervoer verby….onder die grond natuurlik). Wat my die meeste geintereseer het, was die Struwwelpeter fontein. Ons het grootgeword met hierdie deurmekaar seun se stories, en ‘wreed’* soos hulle mag wees, was ek kinderlik opgewonde om die fontein, en dan ook die museum, te besoek. Die fontein was noggal telleurstellend want daar was dan nie ‘n dooie druppel water in nie, en die tyd het te vining uitgehardloop om die museum te kon besoek. Hopelik, kom ek eendag daar uit….
Tot Siembamba was wreed want jy trap hom dan dood, just saying…
.
Hierna loop ons meer Noord na die laaste stop waar ons weer op een of ander Vervoer kon klim om beddens te gaan soek, want al is my bene nog jonk, was my oë op soos ou brood. Oppad na die Bahn loop ons verby die bul en die beer. Frankfurt is waar die ‘aandelebeurs is en die bul en die beer is die simbole daarvan. So dit is seker ook van die moet sien dinge? En al is dit nie, het ek gedink dis ‘n noemenswaardige ondervinding om te stoei met die bul en te druk met die beer.
Laaste, maar nie die minste nie was die toring waar dit lyk of die Tangled meisie gaan uithang en sing, die Eschenheimer Turm. Hierdie toring het niks met Raponsie uit te waai nie, maar was blykbaar waar die hek was in die muur om die stad baie laaaaank gelede. Ek het ook verstaan dat hierdie een van die geboue is wat die oudste en mees behoue deur al die drama van tyd deurgekom het. Vandag is dit ook ‘n kaffee. Hierdie stop was net ‘n ‘kyk met die oë’ ding want toe was almal ‘n bietjie te moeg en die Bahn was net daar om ons na ons beddens te vat.
Ons is redelik sleepvoet terug en was baie dankbaar toe ons vroeër ‘n kamer kon beset. Daar dop elkeen toe om op ‘n bed. Ek weet hoe lekker slaap is en kan wees, so ek het ‘n wekker gestel sodat ‘n middagslapie nie in ‘n koma ontaard nie.
Deel 2, tweede asem
Die 2de helfte van die dag het ons aangepak na ‘n klein uiltjie geknip en ‘n koffie opwekking gedoen is. Ons klim weer op die publieke vervoer en pak toe die pad na die Joodse begraafplaas aan. Daar kon ons ongelukkig nie inkom nie, maar het al om die gedenkmuur gestap en ontdek dat daar Jode onder die Hoebels was. Ons het dit nooit geweet nie. Dit was ‘n interessante dog hartseer ontdekking. ‘n Hele muur vol Joodse ‘dashes’- dood sonder dat iemand weet waar of wanneer.
Van daar af is ons per Vervoer na die alte Oper, ons wou maar net sien hoe die bekende gebou gelyk het voordat ons die uitsig oor die stad wou gaan sien vanaf die Main tower. Ek hou mos van op goed staan om vêr te kan sien. Ongelukkig was daar weerlig iewers in die lug, en dan moet mens maar onder bly. Ons het darna besluit ‘to call it a day’.en om te gaan kos soek.
Ons het sommer soos boemelaars op die treinstasie gesit en eet waarna ons weer terug is kamer toe. Dit was nog lig tot hier by 10 uur se kant. Dit was vreemd. My eerste laaaaang dag. (ek sou 2 jaar later op die langste dag in Ierland wees, en dit was vir my ‘n belwenis en ‘n half, nou moet ek nog net eendag die middernagson gaan soek).
Deel 3 vir 3
Na ‘n kort nagrus het oggendstond goud in sy vroeë mond. Ons was skoon en met vol mae en durf is ons weer Franfurt in voordat ons die middag ons trein Boppard toe sou gaan vang. Daar was so baie planne, maar met die dat alles eers 10 uur oopmaak, was daar net soveel goed om te gaan sien. Gelukkig was dit , anders die vorige dag, ‘n pragtige sonskyndag wat lig op al die onderwerpe geskyn het.
Ons het maar net gewandel tot 10 uur, en moes toe vir mevrou hoogtevrees saamsleep, sy het die blitsvinnige, oorvol hysbak saamgery, maar nie uitgekom om die wêreld van daar bo af te bespied nie. Hoogte maak darm ‘n dramatiese verskil van hoe mens ‘n plek sien. Ek het al om die platvorm geloop en gekyk watter landmerke ek kon uitmaak, en hoe verskriklik groot Frankfurt is, Dit lyk amper soos Simba se koningkryk- everything the light touches.
Hierna wou ek nog ‘n museum of tuin aandurf, maar, as jy met ‘n Duitser reis, in Duitsland vir die eerste keer moet jy weet daar gaan ongeduld wees. Terwyl die ou mense die tasse gaan kry het, het ek gou afgehol in die pad om die Hammering man en DM te gaan soek. Maar ek moes hol, want bogenoemde Duitser wou hê dat ons moes wag vir meer as ‘n uur langs ‘n leë treinspoor vir ingeval. Ingeval wat, weet ek nou nog nie. Maar nou ja, aan die blink kant, ons het nie die trein gemis nie.
Ek reken ons het goed gedoen vir ‘n dag en ‘n half se tyd. Ons het heelwat van die ‘moet sien‘ Frankfurt dinge gesien.As daar meer tyd was sou ek defbeslis na een van hulle tuine gegaan het asook na ‘n paar museums:die Struwwelpeter Joodse en Historiese. Hopelik is daar ‘n volgende keer.
——————————————————————————————————————————-
Die hoe toe van ons Frankfurt
Die belangrikste ding dink ek is om te gaan kyk wat daar is om te sien wat in jou belangstelling val.
Dan was ‘n kaart my beste vriend. Ek hou daarvan om te weet wat waar is en ek haat dit om te verwaal. Ek het gaan kyk watter besienswaaardighede is naby mekaar en oppad na mekaar sodat mens nie heen en weer hoef te loop nie. Dan het ek gaan kyk watter publike vervoer is naby watter besienswaardighede want ek was nie van plan om die ‘kroek’ opsie van die allerbekende rooi busse te benut nie.
Eerstens pas dit nie my sak nie. Tweedens, jy kan op al dieselfde plekke uitkom waar die bus uitkom terwyl jy ry soos ‘n boorling. Plus, ek hou van die publieke vervoer en mens word nie as ‘n simpel toeris* aangekyk nie. Al gebruik jy die rooi bus of publike vervoer, jy gaan baie loop. En dis eintlik die ding om te doen, want dan sien mens allerhande dinge raak wat jy anders sou gemis het.
*kommaan, mense weet waarvan ek praat, ons almal rol ons oë wanneer ‘n buitelander iets vreemd doen
DAN. Die belangrikste ding wat ek dink mens moet kry is die Frankfurt Card. Baie groot stede het so ‘n tipe kaart, maar hierdie was die eerste een wat vir my goedkoper uitgewerk het as die alternatiewe. Ons groep kaartjie vir 2 dae, het homself klaar betaal in die vervoer van die eerste dag, eintlik al met die treinrit van die lughawe dorp toe..
Met daardie kaart kan mens al die publieke vervoer gebruik, en mens kry afslag by baie toeriste aantreklikhede. Meer as wat mens gaan kan besoek.
So as jy net een ding van my raad gebruik, gebruik hierdie een: Koop ‘n Frankfurt Card! Hou dit net by jou, want alhoewel hulle op die ‘honesty system’ werk, gaan jy ‘n stink boete kry as iemand iewers op ‘n bus of ‘n tram kom inspeksie doen en jy het dit nie by jou nie. Ek het iets soortgelyks* oorgekom nog langer terug in Dusseldorf, en dit het my amper my sakke laat pak om terug te kom. Kaartjie checkers is ongeskik en hardekwas en neem aan dat almal wat die sisteem nie verstaan nie, eintlik net ‘n klomp lae skerminkels is wat ‘n ‘free ride’ soek.
*(Meanies on the U-Bahn, ‘n ou storie oor allerhande drama wat ek al in Duitsland op treine en busse gehad het. Ten spyte van dit, hou ek steeds van hulle publieke vervoer…net nie die kaartjie checkers nie)
Skakels vir ry raad👇
Sommer net ander dorpe se skribbels in Germaaaanie👇
Tuebingen Dusseldorf 1 and 2